Friday, June 24, 2016

Skala Loutron. Lesvos Eiland.



24 Junie 2016. Vrydag.

Plomari tot Skala Loutron

Die wind draai in die nag … En in watter rigting? Hy waai nou vanuit die suide, reguit in die hawe. Nou staan sake so – Gus se rukwinde waai vanuit drie verskillende windrigtings en as hulle ons klaar geruk het, waai hy sieklik weer suid. Maja se anker is voor in die water en sy is vasgemaak met die twee vasmeertoue en twee ekstra “ springlines” aan die kaai. Nou word sy heen en weer geruk deur Gus en die golwe spoel by die hawe opening in en dan word ons heen en weer geslinger deur die golwe.

Natuurlik maak ek nie ’n oog toe nie en die kaptein? Slaap soos ’n flippen baba! Gus hou so teen 3:00 op waai en toe spoel daai golwe net groter in. Ek hou maar wag en kyk wat gebeur, dat ons nie teen die kaai vas gewaai word nie, want die anker is heeltyd onder spanning deur die wind en golwe. Iets na drie sluimer ek in en is weer 4:30 wakker.

Die Franse langs ons het genoeg gehad en vertrek en ek sê vir Archie ek bly nie vir nog ’n dag al hoppende hier nie. My hart is seer oor die Griekse aand wat ek gaan misloop en ons het nog nie eers die dorp verken nie.

Ons vertrek na Skala Loutron, 39°02.702 N, 26°31.688 O, 13.8 myl. Iewers het wind gewaai, want die deinings is groot. O, ek is moeg vir wind!

Die eiland is groen en baie mooi. Om omseil al die klippe in die see en kom by Golf van Yeras aan. Dis weer klippe en rotse en vlak water omseil en toe is ons by Skala Loutron. Daar staan drie ander bote op anker. Ons gooi en die anker byt goed. Ons moet reg wees vir die Fors 5 winde wat vanmiddag kom. En hulle het gekom!

Isidoro net oos van Plomari
Mooi berge en kranse
Omseil die klippe
Gevaarbaken
Skala Loutron

By die kaai staan ’n groot boot van YWAM – Youth with a mission. Hulle help met die Siriese vlugtelinge. Dis seker hulle af dag, want hulle baljaar op daai boot. Vrolike gelag klink in die baai op.

YWAM

Dis baie lekker op anker, want dit is beslis nou somer in Griekeland. So elke nou en dan koel ons in die see af.

Ons eet heerlike avokadopeer broodjies. Salig op die tong, soos engelpippie!

Heerlik


No comments:

Post a Comment