Tuesday, May 10, 2016

Korinte.



10 Mei 2016. Dinsdag.

Daskalio tot Korinte

Wel, wil jy nou meer. Die boek praat van die probleen as ’n jellievis in jou toilet beland en ek lag my ’n papie. Hoe kan ’n jellievis in die toilet kom!? So ablusieer ek vroegoggend en toe ek die toilet wil trek (pomp), weier hy volstrek. Hy staan stokstyf in die lug. Daai pomp wil nie herwaarts of derwaarts nie. Ek doen toe wat dit ’n eerste offisier betaam om te doen en roep die kaptein. Pomp wil hy nie pomp nie.

Die kaptein doen wat mans goed kan doen en dit is om die pomp te forseer. En wraggies, stukkies gebakte eier jellievis kom by die gaatjies uit. ’n Jellievis in ons toilet. Nou gril en glo ek dit. Dit het nog heelparty pompe gekos om die arme skepsel geheel en al uit die toiletsisteem te kry.

Die hele see wemel van klein jellievisse. Verskeie soorte en kleure en stadiums van ontwikkeling. Hulle moet net nie in die waterverkoelingssisteem van die motor beland nie.

Na die oggend opwinding is ons op pad. Dis 16.6 myl na Korinte, 37°56.472 N, 22°56.126 O. Dis nou nie eintlik ons gunsteling plek nie, want daar is muise en gewoonlik nie plek vir ’n muis nie.

Ons sien weer dolfyne, maar daar doer in die verte. Ons gaan om die hoek wat bewaak word deur ’n groot ligtoring en daar voor is Korinte. ’n Vragskip vaar verby ons en die kaptein beloer ons eers met sy verkyker en dan waai hy vriendelik. Hy gaan voor ons verby en ek sit agter die helm. Toe ek deur sy “wake” ry, sê Maja se dieptemeter:” Piep-piep-piep!” Shallow! 0.8m ! Ek sal vir jou sê mens skrik jou koud as jy in 90 m diep water skielik nie eers 1 m water onder jou kiel het nie. Ons dink die vragskip se “wake” is vol borrels of iets, dan kan die meter nie diep sien nie. 



Om die hoek


Ons kom nader aan Korinte en wonder of ons plek gaan kry. Ons meer vas by dieselfde benoude spasie (ja Deon, benoude spasie) as verlede jaar. Dis vlak en die dieptemeter piep heeltyd. Net 20 cm water onder die kiel! En hierdie keer is dit nie sy verbeelding nie! Archie klim in Dinkie en meet hoe diep is twee sementblokke wat onder die water lê. Die uitslag - 2 m. Ons kiel is 1.65 m onder die waterlyn, so ons kan môre veilig daaroor vaar.

Diepte meester


Daar is water op die kaai en Archie was die boot en ek was klere. Toe gaan ons dorp toe. En n visser-oom en sy visser-tannie vat hulle vissersbootjie uit vir die dag, of nag se vangs. Hoe verskillend is die lewe!


Boot was
Ons gaan dorp toe
Vissers


Monday, May 9, 2016

Daskalio. My Daskalio.



9 Mei 2016. Maandag.

Isidoro tot Daskalio

Dis vir my lekker hier in Griekeland. Gus is die vriendelikheid vanself.  Wel yskoud as hy liggies van die sneeuberge se kant waai!

Op pad

Vandag is ons bestemming Daskalio. Mý Daskalio! Daar is iets aan die plek wat aan my hartsnare pluk. Dis 28.7 myl na Daskalio, 38°07.090 N, 22°59.221 O. Alweer ’n lang pad op die stille waters van die Golf van Korinte.
Ons gooi foutloos anker op verlede jaar se plek. Ek en ou Archie besluit dis nou tyd om Maja te verlaat, ons haal vir Dinkie af en roei land toe. Dit voel so bekend. So asof ons hier hoort. Die uitsigte stel nie teleur nie en ek verloor my hart weereens. Daar onder in die baai lê Maja byna roerloos. Draai met stadige statige grasie net-net.

Sit voet aan wal
Daar onder in die baai lê Maja


Ons sien ander spesies jellievisse en ook baba gebakte eier jellievissies van naderby. Archie monteer een die die gediertes op Dinkie en jellievis se kind poseer vir ’n foto. Ons stap heerlik en bekyk alles wat bekyk kan word. Die ou verlate klooster staan nog steeds en die geroeste bakkie het nog nêrens heen gery nie. Ons stap terug na Dinkie en roei terug na Maja.


Jellievis
Baba gebakte eier jellievisssie
Daskalio Baai
Verlate klooster
Maja

Vandag voel amper soos vakansie ...

Sunday, May 8, 2016

Isidoro Baai.

8 Mei 2016. Sondag.

Gelukkige Moedersdag aan al die moeders.


Panormou Baai tot Isidoro Baai
Ou Gus het toe gou-gou gaan lê en ek het soos 'n klip geslaap. Die kaptein bring oudergewoonte vir my vroegoggend-koffie in die bed. Dit is mos Moedersdag! Maar ou Arch sê dis elke dag Moedersdag! Ons kry als gereed en vertrek na Isidoro Baai, 38°21.713 N, 22°37.244 O, 28.7 myl.

Dis koud en ek het twee warmtops aan en twee langbroeke. As die wind van die sneeuberge se kant af waai, bibber ons. Tot Archie gaan trek 'n sweetpakbroek en 'n windbaadjie aan. Gepanser teen die kou, staan ons lekker op Maja se dek in die sonnetjie. Gus waai net liggies en van seile span is daar geen sprake nie. 


Koud en sonnig
Ons vaar

Dis eintlik maar 'n vervelige dag, maar ek kla nie daaroor nie. Ons is mos op pad na die Kanaal van Korinte om so gou as moontlik by die Saronic See te kom. Ons sien wel dolfyne wat besig is met hul noenmaal en die see wemel van klein jellievissies. Vermoedelik die babas van die ou grotes wat ons aan die einde van verlede seisoen hier gesien het. 


Groot dolfyn
Jellievissie

Ons gaan kyk hoe lyk dit by Antikyron, maar daar is nie plek vir 'n muis by die pier nie. Dis 'n klein dorpie en ons sou graag die plekkie wou verken. Ons draai toe maar in ons waterspore om en Isidoro Baai, hier kom ons! Dis 'n pragtige baai en ons anker op amper dieselfde plek as verlede jaar.


Antikyron
Isidoro Baai


Saturday, May 7, 2016

Panormou Baai.



7 Mei 2016. Saterdag.

Patra tot Panormou Baai

Ek kan vanaand glad nie konsentreer op die blog skryf nie. Ons het vandag so vreeslik heerlik gevaar, 29.6 myl. Heerlike stil see. Baie verder gevaar as wat ons beplan het. En nou dit! Die blerrie Gus en sy maters speel wegkruipertjie met Maja en haar mense. Hulle jaag mekaar van anderkant die berg, hardloop berg-af, oor Maja en laat al haar toue klap en sy tol in die rondte, dan is hulle weer skoonveld. Dan net sodra ek my weer verlustig in die windstil stilte, kom hulle weer en die weer dieselfde ding oor. Dit raas en tol en weg is hulle weer. Wat het ek nou gedoen om dit te verdien? A, nou is dit weer salige stilte! Daar kom hulle weer!
***
Teen 08:30 is al die toue losgemaak, die motor prrr, alles is reg en Benito groet en waai en daar trek ons op ons 2016-avontuur. Ons vaar uit die beskerming van die marina en pak die see aan. Dis stil en rustig met die vier skimme van die Rio Andirrion Brug voor ons. Ons vra die nodige toestemming om onderdeur die brug te vaar en Patra verdwyn al hoe vêrder in die agtergrond. Word deel van die verlede. Van verlede jaar se hede.
Rio Andirrion Brug

Ons wil vandag na Trizonia gaan, 20,4 myl. Dis waar ons verlede jaar vir vier heerlike dae gebly het. Die eiland kom bekend nader. Ons vaar so lekker, dat ons daar en dan besluit ons wil vêrder gaan. Maja verander van koers. Ons is bietjie haastig om by die Saronic See te kom.


Trizonia Eiland

Ons bekyk die opsies by Eratini, maar alhoewel dit ’n oulike dorpie is, is die ankerplek te diep tot te naby die strand. Ons besluit om nie daar te anker nie en vaar verder. Panormou Baai, 38°21.495 N, 22°14.653 O, 29.6 myl, is net om die hoek en dit is ons voorland. Dis bekende terrein die, want ons het al twee keer hier geanker.
Eratini se berge
Eratini

Dis ’n salige stil anker en ek geniet dit terdeë. Langbeen op die dek met ’n koppie lekker warm koffie. Dis koud hier, want daar is nog sneeu in die berge. Toe begin Gus met sy streke, waai nie regtig sterk nie, maar net sterk genoeg om my te irriteer. Verstoor my rus. Beproef my. Tot hy moeg word en gaan lê. 
Sneeu op die berge

Welkom in Griekeland!

Patras Marina. Amper gereed.





6 Mei 2016. Vrydag.



Archie skarrel rond. Dan peuter hy hier en dan daar. Dan stap hy met groot spoed dorp toe, koop ’n ding en kom terug en installeer dit. Dan is dit die kajuitligte, die “voltage sensitive relay” (g’n mens weet wat dit is nie!). Die vlae moet gehys word, die toue moet weer op hulle plekke teruggesit word. Dan is hy weer doenig in die enjin. Dié kaptein se werk is nooit klaar nie.
Kaptein se werk is nooit klaar nie



Uiteindelik is alles klopdisselboom en ons is gereed om môre te vertrek. Ons kyk vir oulaas hoe die son al die wolke aanraak, verkleur en dan in die see verdwyn.
Maja is gereed
Die son verdwyn