17 September 2015. Donderdag.
 |
My kaptein en ek |
Ons loop hierdie eiland plat. Vandag
stap ons die 1 400m roete na ‘n antieke toring toe. Dis hoër as gister se
roete. Die kontras tussen die vars groen van die bome en die blou van die see
is verfrissend mooi. Harmonie sit verskuil in die kontras. Oorkant lê die
dorpies, kleiner as gister. Sulke popspeel huisies.
 |
Loop eiland plat |
 |
Popspeelhuisies |
Die oorblyfsels van die antieke toring
is nêrens te sien nie, maar ons gee nie om nie. Die stap, die vêrgesigte, die
grysgroen olyfbome is vir ons genoeg. Die sintuiglike ervarings van sien, hoor,
ruik hier in Trizonia, waar ons vasgevang is, is voedsel vir my siel. Ek sal
aansoek doen om hier vasgevang te word.
 |
Grysgroen olyfbome |
 |
Uitsig |
Ons stap terug en gaan sit en sweet op
Maja. Hemel, die hitte wil nie weggaan nie. Trizonia se onklaar marina is
vandag stampvol, hier is nie plek vir ’n muis nie.
Archie raak verveeld. Toe haal hy die stoof uit. Sy oonddeur wil mos nie mooi toemaak nie. Al die skroefies en moertjies word met sorg en soms met moeite uitgehaal. Die oonddeur se veer is toe die sondebok en Archie maak korte mette met die ou probleempie. Dis sommer ook nog een ratel minder as Maja skommel. Soos die Grieke sou se: "Bravo, Archie!" Ons sien hoe vuil is daai stoof en maak dit deeglik skoon. Nou hou dit nie meer 'n gesondheidsgevaar vir ons in nie.
 |
Maak stoof reg |
Archie neem my vanaand uit vir ete. Dis
nou al my derde jaar hier in Griekeland en ek het nog nooit hier mousaka geëet
nie. Wel, vanaand is die aand. Ons klim ewe opgedress van Maja af en stap so
half in gelid met Switsers na die
taverna
toe. Ons raak aan die gesels en eindig saam met hulle aan dieselfde tafel en
luister na al hulle seilplanne. Hulle is op pad na Gibraltar en daarna die
Kanariese Eilande om die Atlantiese Oseaan te kruis. Ek kan sien Archie se oë
blink. Hy wil dit ook eendag doen, maar ek stel glad nie belang om dit te doen
nie.
Ons neem afskeid van hulle om hulle
nooit weer te sien nie. Ek is nou al gewoond aan koebaai se.
Archie sê ek maak lekkerder mousaka as
die taverna.