Friday, September 4, 2015

Daskalio



4 September 2015. Vrydag.

En my wens is bewaarheid. Dit is ’n heerlike sonnige dag. Die water is helder blou, met net hier en daar ’n jellievis. So ons swem maar met oop oë.

Vandag gaan ons op die eilande rondstap. Ons klim in Dinkie en gaan eers na Zoodhochos Eiland toe. Ons het so paar dae gelede daar geanker. Dis tussen die steekbos op boontoe. Die uitsigte is pragtig. Maja lê so te sê roerloos in die windstilte. Dit voel of ons die enigste mense op die planeet aarde is.

Blou
Maja in Daskalio Baai
O verre berge


Ons gaan ondersoek die verlate klooster en kyk na die grasgroen motorwrak. Af stap ons terug na Dinkie en roei terug na Maja. 

Wrakkie


Later gaan roei ons na Daskalio Eiland toe en ek kyk in vervoering na die blou, stil baai waar Maja nou ’n buurvrou gekry het. Ons is toe nie die enigste mense op planeet aarde nie. Daar is ’n snorkelaar en nog ’n klein vissersbootjie. 

Ons en Maja
Maja


Dis so warm hier dat ons elke nou in dan ons lywe in die see dompel net om bietjie af te koel. Zané sou die ankerplek vreeslik geniet het.

Daskalio, my Daskalio.


3 September 2015. Donderdag.

Mavrolimnis tot Daskalio


Francois, my oudste seun verjaar vandag. Baie geluk, Francois. 
 
Na ’n bietjie stoei met die talle toue reg rondom ons, wat ons nie wil hê moet in Maja se propeller kom nie, vetrek ons uit die stille waters van Mavrolimnis. Ons gaan vir twee dae anker by Daskalio, 37°07.102 N, 22°59.217 O, 8 myl, Die see is kalm en Gus waai net sterk genoeg dat ons kan seil en op is die genoa. Ons seil rustig na die eiland. Glad geen haas nie, want ons het nie vêr om te gaan nie.

Daskalio was verlede jaar een van my gunsteling ankerplekke. Ek kan nie wag om daar te kom nie. Hierdie jaar lyk dit heel anders, want dis bewolk. Weg is die blou-blou water en die mooi berge lê daar vêr in die mistigheid. 

Daskalio Baai


Ons neem vir Dinkie en gaan land toe, maar die teleurstelling is groot. My Daskalio is nie wat hy was nie. 

Daskalio uitsig


Miskien skyn die son môre.

Wednesday, September 2, 2015

Mavrolimnis. Stapdag.



2 September 2015. Woensdag.

Ons staproete
  
Vandag is stapdag. Ons is lus vir stap. Nadat ons pannekoek geëet het, vat ons die pad, berg-op. Dis ’n motorpad en lekker steil op. Tussen die dennebome met hulle koel, vars groen kleur. Dit word later ’n twee spoor pad en ons stap lekker tussen die bome en heuwels, met die blou see aan die eenkant. 

Dennewoud


Vêr daar in die see, lê die plat eiland waar ons op anker gelê het. Ons loop verder en verder. Voor ons is die hoë berge wat ons gesien het toe ons in Korinte was. Die pad maak kronkels en draaie. Ons neem ’n kortpad teen die steilte af om ’n paar km minder te loop. Dis baie steil en my knieë is mos moer toe. Archie help maar waar hy kan tot ons af is en toe loop nonchalant verder. 

Kuslyn
Stille waters


Die pad is sekerlik nie meer in gebruik nie, want dit is lelik verspoel. Ons stap en stap en geniet die uitsigte en die natuur. Onthou, stap is eintlik my eerste liefde.

Ons kom heelwat later weer by die teerpad uit en loop verder. Archie stel voor ons swem deur die kanaal, want dan hoef ons nie so vêr om te loop na Maja toe nie. Hy het ’n bak opgetel en al ons goed wat nie nat mag word nie, word daarin gepak. Archie swem met die bak oor en ek met my klere en die stapstok. Die water is heerlik koel op ons warm lywe. Papnat stap ons na Maja. Moeg en tevrede na die 7 km wat ons vandag gestap het.

Kortpad deur die kanaal
Hawe
Aandskoot
Pensive


Ons bly lekker hier en kyk weereens hoe die son die lug verskillende verf en die wolke verkleur in skynsels van pienk en pienker en pienkste.


Pienk, pienker, pienkste.
Rooi?


Mavrolimnis.



1 September 2015. Maandag.

Zoodhochos tot Mavrolimnis


Gelukkige Lentedag vir julle in die Suidelike Halfrond!

O, Ryperd, ons vaar die pad tesame ... Al weer groot deinings, Gus waai nog steeds met vlae wat ruk en pluk. Ons gaan na ’n mensgemaakte lagoon, Mavrolimnis, 38°03.639 N, 23°06.192 O, 7 myl. Dis baie beskut teen alle winde.

Die probleem is net dat dit ’n baie klein ingang het en jy moet die haweman oor die radio kontak on te hoor of dit diep genoeg is om deur te gaan. Die ingang slik toe. Ek kontak, maar niks. Archie roep oor die radio, maar niks. Toe vaar ons maar nader om die sake uit te kyk.

Archie put me up front to con the way in en die een kant is geel van vlakte. Daar is gelukkig ’n paar klein boeie om die vlak te merk. Ons trek ons boude in en hou asem op en vaar in. Die dieptemeter piep-piep, maar ons is deur.

Nou soek ons vasmeerplek. Daar staan ’n outjie op die kaai en wink en ons vaar nader. Daar is ’n boei in die water en ons vra hom of ons die boei moet gryp. Soms is die vasmeertou aan ’n boei vasgemaak wat ek dan met die boothaak moet optel en aan die snoet moet vasmaak, terwyl Archie na die kaai toe tru.  Die outjie praat en praat, maar dis net Grieks. Ons verstaan nie wat hy sê nie en hy verstaan nie wat ons vra nie. Moet ons die boei optel of nie? Hy beduie nie eers nie, praat net land en sand.

Ek tel die boei op, maar dis te swaar. Archie kom help en hy sukkel. Hy kry een van ons eie toue en maak dit aan die boei vas. En die outjie praat en kyk sooo vir ons. Archie tru in en hy vang die toue en maak vas. Toe haal hy ’n swart tou uit die water wat ons moet gryp. Kon hy nie verdomp so beduie het nie, of vroeër die tou gegee het nie. Die hele gesukkel met die boei was puur verniet. Ons gooi die boei terug in die water.

Mavrolimnis
Ek en Maja


Laatmiddag gaan stap ons ’n ent op die teerpad langs die see en eet wilde brame. Ons sien die kontras van die stil water in die lagoon en die bewegende water van die see. 

Stap langs die see
De rijke brameplukker

Maja in Mavrolimnis

  
Ons gaan vir twee dae hier bly.