Wednesday, September 2, 2015

Mavrolimnis.



1 September 2015. Maandag.

Zoodhochos tot Mavrolimnis


Gelukkige Lentedag vir julle in die Suidelike Halfrond!

O, Ryperd, ons vaar die pad tesame ... Al weer groot deinings, Gus waai nog steeds met vlae wat ruk en pluk. Ons gaan na ’n mensgemaakte lagoon, Mavrolimnis, 38°03.639 N, 23°06.192 O, 7 myl. Dis baie beskut teen alle winde.

Die probleem is net dat dit ’n baie klein ingang het en jy moet die haweman oor die radio kontak on te hoor of dit diep genoeg is om deur te gaan. Die ingang slik toe. Ek kontak, maar niks. Archie roep oor die radio, maar niks. Toe vaar ons maar nader om die sake uit te kyk.

Archie put me up front to con the way in en die een kant is geel van vlakte. Daar is gelukkig ’n paar klein boeie om die vlak te merk. Ons trek ons boude in en hou asem op en vaar in. Die dieptemeter piep-piep, maar ons is deur.

Nou soek ons vasmeerplek. Daar staan ’n outjie op die kaai en wink en ons vaar nader. Daar is ’n boei in die water en ons vra hom of ons die boei moet gryp. Soms is die vasmeertou aan ’n boei vasgemaak wat ek dan met die boothaak moet optel en aan die snoet moet vasmaak, terwyl Archie na die kaai toe tru.  Die outjie praat en praat, maar dis net Grieks. Ons verstaan nie wat hy sê nie en hy verstaan nie wat ons vra nie. Moet ons die boei optel of nie? Hy beduie nie eers nie, praat net land en sand.

Ek tel die boei op, maar dis te swaar. Archie kom help en hy sukkel. Hy kry een van ons eie toue en maak dit aan die boei vas. En die outjie praat en kyk sooo vir ons. Archie tru in en hy vang die toue en maak vas. Toe haal hy ’n swart tou uit die water wat ons moet gryp. Kon hy nie verdomp so beduie het nie, of vroeër die tou gegee het nie. Die hele gesukkel met die boei was puur verniet. Ons gooi die boei terug in die water.

Mavrolimnis
Ek en Maja


Laatmiddag gaan stap ons ’n ent op die teerpad langs die see en eet wilde brame. Ons sien die kontras van die stil water in die lagoon en die bewegende water van die see. 

Stap langs die see
De rijke brameplukker

Maja in Mavrolimnis

  
Ons gaan vir twee dae hier bly.

No comments:

Post a Comment