Thursday, August 13, 2015

Despotiko. Anker.




12 Augustus 2015. Woensdag. 

Ios tot Despotiko Baai

Dis vandag Chris en Zane se nooiensvaart. Alles word reggekry. Instruksies word gegee, toue word losgemaak en daar vertrek ons na Despotiko Eiland,36°58.298 N, 25°01.453 O, 21 myl. Dis ’n klein eiland naby Antiparos. Die see is plat en daar is nie wind nie.

Chris is baie terleurgesteld oor die windstilte. Hy wil baie graag seil. Later waai Gus so vier tot sewe knope en hulle span die seile. Ons seil toe nogal lekker lank.

Despotiko Baai is ’n groot en geduldige baai. Dit is soos ’n taxi in Suid-Afrika. Daar is altyd plek vir nog een. Ons gooi maklik anker en vas is ons. Die water is heerlik en ons swem om af te koel.

Despotiko Baai
Despotiko
Archie demonstreer
Lekker swem


Toe is dit sukke tyd. Die Jouberts kan baie mooi sing, soos engele. En Archie gee hulle goeie kompetisie en dis sangaand. El lê vir hulle en luister, sing nie saam nie. Archie het hoeka mos my verbied om te sing. Glo te vals. Maar ek gee nie om nie. Dit is heerlik om na hulle mooi stemme wat die hele baai vul, te luister.

Boetie en sussie


Nog ’n dag is verby in die Aegean See. Die Cyclades behandel ons baie goed.

Wednesday, August 12, 2015

Terug na Ios.



11 Augustus 2015. 
 
Ons ou karretjie neem ons hawe toe. Ons los hom in die parkeerterrein met die sleutel onder die mat en stap na ons veerboot toe. Dis dieselfde ou grote waarmee Gerrie en Ansu verlede jaar na Santorini toe gekom het. Ons terugvaart neem een en ’n halfuur en ons is terug in Ios. 

Op die veerboot


Die besoekers stap voor, want hulle moet vir Maja uitken. Hulle kyk en skielik gee Zané ’n “hier is Maja” gilletjie. Chris stap eerste aan wal en daarna Zané. Toe is hulle uiteindelik aan boord. Hulle bekyk vir Maja en pak uit. Ons nuttig ’n welkom-ete op die dek. 

Chris kom aan boord ...
... en toe Zané


En soos gewoonlik gaan ons dorp toe. Die ander drie loop en ek klim sommer die bus boontoe . Ons stap in die dorpie rond en kyk na die vier kerke. Die Christene loop verseker die smal pad boontoe om by die kerk uit te kom. Ek weet nie hoekom moet die kerke altyd op die hoogste punt gebou word die! Die uitsig oor die baai is mooi en doer onder in die verte kan ons vir Maja rustig by die kaai sien lê. Die veerbote kom en gaan. 


Kerkie
Blou koepels
"Annie get your gun"
Pre-histories dorp van Skarkos


Ons gaan terug, weer klim ek die bus en die ander drie stap die afpad. Ek kom by Maja aan en probeer die plank wat op die kaai lê, op Maja te kry om aan boord te gaan. Die ou blerrie plank is swaer en ek sukkel. ’n Galante hawe polisieman kom en vra of hy kan help. Hy tel die plank op en sit dit op en wag dat ek oorloop voordat hy loop. Net daarna kom die res en ons is weer voltallig op onse kleine Maja. 

Eerste aandete





Santorini. Rondrits.



10 Augustus 2015. Maandag.

Nou het hulle dit in hulle koppe gekry om bromponies te huur. Ek is mos eintlik half sku vir die klein gevaartetjies. Gelukkig besluit hulle om liewers ’n klein karretjie te huur. Ons sit die dingetjie vol en daar trek ons. Die strate in. Chris bestuur en Archie navigeer. Ek en Zané sit net en enjoy the ride

Marina en die karretjie


Ons eerste stop is ’n uitkykpunt by ’n wynmakery. Hier word kratte vol druiwe buite in so sloot gegooi en dan na binne gedwing deur so ’n skroefding. Die Grieke hou van hulle wyn, dis verseker. So wynmaak is groot in Griekeland. Ons verkyk ons aan die uitsig en dis net ooo en aaa. Ons stop by nog ’n uitsigpunt en ons kyk weereens na die krater en besing die wonder daarvan. Dit is groots en magies.

Zané
Uitsig oor die krater
Hou vas daaardie hoed!
Chris, Zané, ek en Archie
Steeds verlief


Die volgende stop is die rooi strand naby Akrotiri. Oral op die paadjie na die strand is voornemende baaiers wat skamel geklee en handdoek in die sak strand toe loop om op die besondere strand te lê. Die rotse en die sand het ’n rooi kleur. Dis indrukwekkend en om die atmosfeer af te rond, is daar ’n musikant wat daar sit en viool speel. Ag, dis te lekker. Ons is nie skamel geklee nie en het ook nie handdoeke hier nie, so ons klim maar weer in ons karretjie en ry verder. 

Rooi Strand
Strand musikant


Archie wil gaan ondersoek instel oor die toestand van die Vlikadha Marina, so dis ons volgende stop. Na die inspeksie ry ons na die swart strand, maar dit beïndruk my nie eintlik nie. Ek dink nie dis lekker om op sulke swart sand te lê nie. Die rooi strand is baie mooier. Oms koop brood, kaas, koue vleis, olywe, bier en sap en Archie sny die brood en ons eet sommerso in die karretjie. Daar is nie plek onder die bome of in die koelte om te sit nie. Ons eet ons knuppeldik en ry tevrede verder.

Die broodsnyer


Toe is dit berg-op na die kerk van die Profeet Elia. Dis op op op en ons is daar. Dis ’n regte Grieks-Ortodokse kerkie met goue versierings, die mooi houtsneewerk en die Jesus en apostels prente. Ek is mos eintlik ’n kerkmens en geniet die kerkies baie.

Kerk van die Profeet Elia
Kerk van die Profeet Elia
Toe word ons dors
 

Ons gaan huis toe, val op die beddens neer en siësta soos wafferse Grieke. Dis net Archie wat wat ewe ongrieks wakker bly.

Die aand is dit die sonsondergang by Oia. Ons kry gelukkig parkeerplek en begin in die besonderse plek rond te dwaal. Die plek het darem vreeslik atmosfeer. Zané soek ’n yskas magneet en almal is op die uitkyk na die regte een. Daar is vreeslike vereistes waaraan die arme magneet moet voldoen voordat Zané belangstelling toon. Met haar lang slanke vinger word almal afgekeur. Eindelik kry sy een wat aan haar standaarde voldoen en dit word summier gekoop.

Oia


Ons kyk saam met die skare hoe die son sak maar ’n wolk onderskep die son voordat hy in die see kan val. Hy sak toe voordat hy sak. Die skare is nie seker of applous van pas is nie en ’n halfhartige handeklap is toe die gevolg. Gewoonlik gee die skare die son ’n applous as hy verdwyn. Ons sien twee gullets onder vol seil en dit lyk misterieus-mooi.  
 
Die son skare ...
... en ons
 

Die ou karretjie het hom goed gedra, die bestuurder het mooi bestuur en die navigeeder het goed navigeer. Ons ry tevrede huis toe en het die mooi van Santorini intens beleef.

Tuesday, August 11, 2015

Santorini. Fira.



9 Augustus 2015. Sondag.

Vandag is die dag. Chris en Zane vlieg vandag na Santorini en ons gaan hulle daar ontmoet. Ons maak seker dat Maja baie veilig vas in Ios is en daar trek ons op die vinnige veerboot, wat natuurlik ’n uur laat is.

Die aankoms by Santorini is altyd baie indrukwekkend. Jy vaar so in die krater in. Die pad wat die bus ry, is smal met die een draai op die ander. Dan is ons in Fira, wat die hoofdorp van die eiland is. Ons gaan na ons blyplek, Villa Costa Marina. Dis ’n heerlike ruim kamer, baie luuks. Dis nog leeg, Chris en Zane is nog op straat. En ons wil hulle SOOO graag sien.

En toe is hulle daar, met breë glimlagte en vreeslik opgewonde. Hulle is moeg, maar ons gaan in elk geval dorp toe. 

Chris, Zané en Archie
Ek en Zané


Fira is ’n pragtige dorp wat op die rand van die krater gebou is. Ons verlustig ons in die skitterwit huisies, winkeltjies en die baie kerkies. Ons loop op en af in die strate, en geniet die laatword en aandword saam met nog ’n klomp ander toeriste.


Fira
Fira


Die drie dapperes met werkende knieë stap die steiltes af na die hawe, so tussen die stink van die donkies. Hulle stap halfpad af voordat hulle tot hulle sinne kom en terugstap. Ek wag ewe geduldig vir hulle.En die gestap maak mens honger, veral vir Chris is honger. Hy is altyd honger. Ons kry n lekker eetplekkie en ons sit aan. Die ete word met retsina afgeskop. 


Donkie taxis
Skink retsina