Saturday, July 25, 2015

Levitha.



24 Julie 2015. Vrydag.

Lakki tot Levitha

Vandag is die dag. Ons kruis, my kruis! Ons staan dou voordag op, eintlik 05:30, want ons wil 06:00 vertrek. Die anker word opgetrek en voordat die son agter die berg kan uitloer, val ons in die pad na Levitha, 37°00.157 N, 21°28.176 O, 24.3 myl.

Dis al wanneer ek die son sien opkom, dis nou as ons vroeg moet vertrek. Die lug verkleur en stadig maar seker verander dit van dof na dag. Ek kyk terug na die beskutte Lakki Baai wat in die gloed van die opkomende son warm en hartlik en so veilig lyk.

Son kom op


Die see het sy gewone deinings, maar Gus waai net liggies. Dis in hierdie seestraat wat die Meltemi gewoonlik genadeloos waai. Waar hy almal uit sy pad uitblaas. Vandag, volgens die voorspellings, behoort die eerste stuk see kalm te wees. En dit is toe ook net so.

Die groot Griekse kaartboek, dis nou die een wat ook plaaslike kennis insluit, het oos van Levitha Eiland sulke blou golwe op die kaart geteken. Dit beteken dat daar groot golwe kan wees as die Meltemi waai. Hulle kry die inligting by vissers en plaaslike inwoners. En ek moet sê, hulle is nie verkeerd nie. Stadig maar seker begin Gus sterker te waai en die deinings word al groter. So nou en dan sê ek net: ”Jò!”

Ou Maja vat die golwe een vir een aan en stadig maar seker baan ons ons weg. Mens voel so klein en nietig en kwesbaar in ’n klein seiljag op die diep blou see. Dit maak my nederig en bewus van genade. Waar is die dae wat ek nou dadelik aan die sing gegaan het. Al wat jy kan sien, is see. Ek kan nog nie eers vir Levitha in die dynserigheid raaksien nie.

Eindelose see


Ons is darem nie alleen op die water nie. Sarel Seemonster is ook hier. Hy word deur ’n sleepboot getrek en ek en Archie verkyk ons aan die groot ding. Archie sê dis ’n olie-tuig (oil rig). Dit trek my aandag van die groot see af en ek kyk en kyk.

Sleepboot en olie-tuig
Sarel Seemonster


Deur die newels kan ons Levitha sien. Later duideliker, maar verdomp of hy wil naderkom. Maar aanhouer wen en die einde is in sig. Ons vaar na die westelike baai waar ons verlede jaar saam met Gerrie en Ansu anker gegooi het en so gesukkel het dat die anker byt. Hoop dis hierdie keer makliker. Gus waai met rukke en stote. Daar is etlike kolletjies sand en die res is net seegras. Ons gooi weer en weer en weer, sonder sukses. Toe sê die kaptein die wonderlikste woorde: ”Ou vrou, kom ons gaan gryp ’n boei by die oostelike baai.” Hy het seker gesien ek is gatvol gesukkel.

Naby Levitha


En so maklik is dit, ek vat die helm oor en Archie gryp die swaar boei, maak vir Maja daaraan vas en ons is veilig. Geen bekommernis oor sterk winde wat nog tot middernag gaan waai nie. En dit kos net €7.

Levitha Baai


Saam met die aand kom die stilte en kalmte. Al die seiljagte draai effe om die boei in absolute harmonie. Maja sê: “Waar sy draai, sal ek draai.” Soos die Bybelse Naomi en Rut. Oorlaaide dinghies met donker figure gaan land toe om in die restaurant te gaan eet. Later kom hulle vrolik en versadig terug na hulle seehuise. Die Duitsers kom al singend terug en sing baie mooi Duitse volksliedjies aan boord.

Tevrede gaan slaap ons terwyl die Duitsers ons tot in droomland in serenade.

Thursday, July 23, 2015

Leros Eiland. Lakki.



22 en 23 Julie 2015. Woensdag en Donderdag.

Patheni tot Lakki



Ons bly maar rondom Leros vaar, want dis die plek van waar ons die see gaan oorsteek na die Cyclades. So, vandag gaan ons na Lakki ,37°07.691 N, 26°51.350 O, 10.6 myl. Die berge en rotse is mooi hier langs die kus. Gus waai van skuins agter en ons span die genoa en ons seil vir die vale. Archie glimlag breed. Ons seilspoed is meer as ses knope. Dis vinnig, hoor!

Noordelike punt van Leros met Patmos Eiland in die agtergrond
Genoa is gespan
Oggendskoot - Leros se berge


Lakki is een van die grootste natuurlike hawens in die Mediterreense See. Tydens die Tweede Wêreldoorlog, 26 September 1943, is die Queen Olga, wat in Lakki se hawe vasgemeer was, gebombardeer en het tragies gesink.

Wel, ons is nou in die beroemde hawe en gelukkig skiet niemand op ons nie en ons vind ons pad na die Leros Marina waar ons vir een nag gaan bly. Ons wil stort en klere was. Ons vul ons voorrade aan en bewonder die Art Deco dorpie wat eers in 1923 deur die Italianers gebou is.

Lakki
Pakesel
Dinkie en Archie


Donderdag anker ons in Lakki Baai voordat ons die stuk see oorsteek. My hart klop vinniger en my keel trek toe en my bene word lam as ek net aan die stuk see dink. Die windvoorspellings is aan ons kant en dit lyk goed. Dis net die laaste stuk, naby Levitha Eiland waar dit ’n bietjie rof gaan wees.

Ek hou maar styf duim vas!

Tuesday, July 21, 2015

Leros Eiland. Partheni Baai.



21 Julie 2015. Dinsdag.

Panteli tot Partheni

Hierdie kuslyn het ’n ryk Tweede Wêreldoorlog geskiedenis. Ons vaar vandag na Partheni Baai, 37° 11.477 N, 26°48.349, 8 myl wind-op.

Ons ry verby die plek waar die Duitsers in die baai geland het. Hulle het mos die mense van Leros aangeval. Ek dink dit was die Engelse wat op die eiland teen die Duitsers geveg het. Die kasteel en die windmeulens is hoog teen die berg die stille getuies van wat hier gebeur het.

Baai waar Duitsers geland het


Eindelik kom ons by Partheni Baai aan. Daar lê ’n paar jagte op anker. Die boek sê die bodem is modder, so die anker gaan byt laat dit bars. Hierdie is geen vakansiebestemming nie. Dis doodgewone lewe van die eenvoud van die Grieke.

’n Vrou vang vis. Vissermanne is op hulle skuite en werskaf met die nette. Honde blaf en hane kraai. In die vêrte hoor jy die bokke se klokke.

Visserman
Roeier


Op die jagte gaan die seilers hulle gang. Hulle was wasgoed, hang handdoeke op en sit rond. Die rustigheid hier in die baai is allesoorheersend. Net wat ek nodig het om my kop reg te kry vir ons kruising wat ons Donderdag of Vrydag moet doen. Dis nou daai oorsteek van die stuk see waar die Meltemi koning kraai. Dan is ons regtig in die Cyclades.


Seiler


Leros Eiland. Panteli.



20 Julie 2015. Maandag.

Xirokampos tot Panteli

“Skipskop, Skipskop, trek jou anker weer op”. Dis die storie van my lewe. Ons trek die anker op, sit my hoed op my kop en vertrek na Panteli, 37°08.759 N, 26°51.695 O, ’n skrale 5.5 myl. 

Panteli


Ons soek ankerplek en gooi. Ek kan nie sien hoe lyk die bodem nie en gooi seegras raak en soos gewoonlik byt die anker nie. Dan is dit maar weer optrek en weer gooi. Ek vloek nie meer soos ’n matroos as die anker nie byt nie. Ek gooi maar weer en weer. Ons soek op ’n ander plek en die keer sien ek die bodem en maak seker ek gooi op sand en nie seegras nie. En daai anker byt te lekker. 

Panteli Baai
Kalymnos in die vêrte
 

En wil jy nou meer! Toe ek vir die boot langs ons se vlag kyk, is dit ’n SA vlag. Toe die twee seilers later in hulle dinghy klim kom groet hulle. Hulle is Gath en Julie van Plettenbergbaai. Hulle moet ongelukkig later vanmiddag vertrek en ons is spyt ons kry nie kuiergeleentheid nie.

Panteli is pragtige dorpie met sy windmeulens en die kasteel hoog op die berg. Ons stap rond en kry uitsigte oor die baai. Dis baie vêr kasteel toe en ons stap nie tot daar nie. Jy moet ’n motor huur as jy die kasteel wil sien.

Kasteel
Windmeulens
Windmeul woonstel te koop


Op die heuwel is daar ’n ou mooi Grieks-Ortodokse kerkie. Die deur is toe, maar ek maak die skuifslot oop en die deur swaai oop. Ek stap saggies in en dis mooi binne. Daar heers ’n gewyde stilte in die kerk en dit voel amper of ek in die stilte iets heiligs oortree. Ek word een met die stilte en kyk rond. Dis net ek en al die prente van die heiliges. Dis baie spesiaal. Ek maak die deur weer baie saggies toe en my siel voel verkwik en loop ligvoets vêrder na waar Archie op my wag.

Kerkie
Binnekant


Daar is nie brood in die dorpie nie. Ek en Archie klim weer in Dinkie en gaan terug na Maja. Die Suid-Afrikaners het vertrek. Daar waar hulle jag was, is net ’n stuk see.