Tuesday, July 21, 2015

Leros Eiland. Partheni Baai.



21 Julie 2015. Dinsdag.

Panteli tot Partheni

Hierdie kuslyn het ’n ryk Tweede Wêreldoorlog geskiedenis. Ons vaar vandag na Partheni Baai, 37° 11.477 N, 26°48.349, 8 myl wind-op.

Ons ry verby die plek waar die Duitsers in die baai geland het. Hulle het mos die mense van Leros aangeval. Ek dink dit was die Engelse wat op die eiland teen die Duitsers geveg het. Die kasteel en die windmeulens is hoog teen die berg die stille getuies van wat hier gebeur het.

Baai waar Duitsers geland het


Eindelik kom ons by Partheni Baai aan. Daar lê ’n paar jagte op anker. Die boek sê die bodem is modder, so die anker gaan byt laat dit bars. Hierdie is geen vakansiebestemming nie. Dis doodgewone lewe van die eenvoud van die Grieke.

’n Vrou vang vis. Vissermanne is op hulle skuite en werskaf met die nette. Honde blaf en hane kraai. In die vêrte hoor jy die bokke se klokke.

Visserman
Roeier


Op die jagte gaan die seilers hulle gang. Hulle was wasgoed, hang handdoeke op en sit rond. Die rustigheid hier in die baai is allesoorheersend. Net wat ek nodig het om my kop reg te kry vir ons kruising wat ons Donderdag of Vrydag moet doen. Dis nou daai oorsteek van die stuk see waar die Meltemi koning kraai. Dan is ons regtig in die Cyclades.


Seiler


Leros Eiland. Panteli.



20 Julie 2015. Maandag.

Xirokampos tot Panteli

“Skipskop, Skipskop, trek jou anker weer op”. Dis die storie van my lewe. Ons trek die anker op, sit my hoed op my kop en vertrek na Panteli, 37°08.759 N, 26°51.695 O, ’n skrale 5.5 myl. 

Panteli


Ons soek ankerplek en gooi. Ek kan nie sien hoe lyk die bodem nie en gooi seegras raak en soos gewoonlik byt die anker nie. Dan is dit maar weer optrek en weer gooi. Ek vloek nie meer soos ’n matroos as die anker nie byt nie. Ek gooi maar weer en weer. Ons soek op ’n ander plek en die keer sien ek die bodem en maak seker ek gooi op sand en nie seegras nie. En daai anker byt te lekker. 

Panteli Baai
Kalymnos in die vêrte
 

En wil jy nou meer! Toe ek vir die boot langs ons se vlag kyk, is dit ’n SA vlag. Toe die twee seilers later in hulle dinghy klim kom groet hulle. Hulle is Gath en Julie van Plettenbergbaai. Hulle moet ongelukkig later vanmiddag vertrek en ons is spyt ons kry nie kuiergeleentheid nie.

Panteli is pragtige dorpie met sy windmeulens en die kasteel hoog op die berg. Ons stap rond en kry uitsigte oor die baai. Dis baie vêr kasteel toe en ons stap nie tot daar nie. Jy moet ’n motor huur as jy die kasteel wil sien.

Kasteel
Windmeulens
Windmeul woonstel te koop


Op die heuwel is daar ’n ou mooi Grieks-Ortodokse kerkie. Die deur is toe, maar ek maak die skuifslot oop en die deur swaai oop. Ek stap saggies in en dis mooi binne. Daar heers ’n gewyde stilte in die kerk en dit voel amper of ek in die stilte iets heiligs oortree. Ek word een met die stilte en kyk rond. Dis net ek en al die prente van die heiliges. Dis baie spesiaal. Ek maak die deur weer baie saggies toe en my siel voel verkwik en loop ligvoets vêrder na waar Archie op my wag.

Kerkie
Binnekant


Daar is nie brood in die dorpie nie. Ek en Archie klim weer in Dinkie en gaan terug na Maja. Die Suid-Afrikaners het vertrek. Daar waar hulle jag was, is net ’n stuk see.

Monday, July 20, 2015

Leros Eiland. Xirokampos.


9 Julie 2015. Sondag.

Portia, Kalymnos tot Xirokampos, Leros

Daar is geen spoor van die bruid of enige teken van ’n partytjie van die vorige aand nie. Die tafeltjies van die restaurant staan parmantig gedek vir diegene wat ontbyt wil kom nuttig.

Ons verlaat Kalymnos en sy mense en sit ons reis voort na Leros Eiland. Dit word die eiland van Artemis genoem. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is Leros deur die Duitsers gebombardeer. Daar is nog bewyse van die donker oorlogsjare in die ondergrondse museum tonnels. Langs die kus is ook skeepswrakke wat tydens die oorlog gesink het

Ons mik na Xirokampos, 37°06.369 N, 26°52.334 O, 17 myl. Die eerste ruk vaar ons in windskadu van Kalymnos. Gus is nêrens en die see plat. Toe ons om die draai gaan begin Gus sy streke uithaal en klits die see op. Darem nie te erg nie en ons vaar wind op die snoet verder. 

Klooster bo-op Kalymnos berg
Ruwe kuslyn


Xirokampos is 'n groot baai. Daar is net jagte waar jy kyk en daar is vir ons ook plek. Die hele dag kom die seiljagte grasieus met hul kameelperdstap daar ingevaar. Die aand tel ek 33 jagte en daar is plek vir nog. Hierdie baai is soos Hanna van die Bybel se kruik- die ankerplek raak net nie op nie.

Uitsig op Kalymnos vanaf Maja
Xirokampos Baai


Sunday, July 19, 2015

Kalymnos Eiland. Portia Dorp.



18 Julie 2015. Saterdag.

Vathi tot Portia, Kalymnos

 Die een ding waarvoor ek nie vandag lus is nie, is wind. Ek het gister ’n oordosis daarvan gehad. In een nag het ek meer wind gehad as in die hele Turkye. 

Reuse Griekse vlag van klip


Daarom besluit ons ons gaan vandag nie vêr nie, net 11.7 myl na Portia, Kalymnos Eiland, 36°57.022 N, 26°59.155 O. Die see is plat en kalm. Gus lê so bietjie.

St Savvas Kerk


Kalymnos word die spons eiland genoem. Hier is spons duik die in-ding. Daar is ook baie sponswinkels waar jy sponse kan koop. In die 18 de eeu was dit die belangrikste spons duikgebied in die hele Mediterreense See. Hulle voer nog vandag spons uit na ander lande.

Sponswinkel


Kalymnos se indrukwekkende steil rotse lok rotsklimmers oor die hele wêreld. Dit is ’n internasionale rotsklimgebied wat ook rotsklim kompetisies aanbied.  Die seebed van die eiland is van die mooiste in die hele Aegean See. Dit is ’n internasionale duik bestemming en baie duikers kom hierheen om die seebed te ontdek en te bewonder.

Ons meer vas langs die dorpskaai. En natuurlik gaan verken ons die plek. Ons kom op ’n troue af en ek kry ’n steelfoto van die bruid en haar norse pa. Hulle kom aangestap en musikante loop saam met haar en speel hulle instrumente. 

Musikante
Hier kom die bruid


Ons loop in die dorp rond, kyk na die sponse in die winkels. Ons loop in die woongebied rond en ervaar die regte mense se huise. Later gaan ons huis toe, terug na Maja.

Uitsig op Portia hawe
Portia


Wat ’n verrassing! Net voor ons boot, in ’n restaurant, speel die musikante pragtige musiek. Die mense is besig om die tafels baie mooi te dek. En vir wie? Die bruid wat ek skelm afgeneem het. Dis hulle partytjie. Hulle kom eers 21:30 daar aan en ek sit op die dek en luister en kyk na  The big fat Greek Wedding. Later gaan slaap ek. Toe ek 02:20 wakker word, is die verrigtinge nog goed op dreef.

Wat ’n heerlike aand waar ek ’n bonus kry om die Griekse menswees te beleef. So anders as gisteraand waar Gus my heelnag getempteer het.