Sunday, July 19, 2015

Kalymnos Eiland. Portia Dorp.



18 Julie 2015. Saterdag.

Vathi tot Portia, Kalymnos

 Die een ding waarvoor ek nie vandag lus is nie, is wind. Ek het gister ’n oordosis daarvan gehad. In een nag het ek meer wind gehad as in die hele Turkye. 

Reuse Griekse vlag van klip


Daarom besluit ons ons gaan vandag nie vêr nie, net 11.7 myl na Portia, Kalymnos Eiland, 36°57.022 N, 26°59.155 O. Die see is plat en kalm. Gus lê so bietjie.

St Savvas Kerk


Kalymnos word die spons eiland genoem. Hier is spons duik die in-ding. Daar is ook baie sponswinkels waar jy sponse kan koop. In die 18 de eeu was dit die belangrikste spons duikgebied in die hele Mediterreense See. Hulle voer nog vandag spons uit na ander lande.

Sponswinkel


Kalymnos se indrukwekkende steil rotse lok rotsklimmers oor die hele wêreld. Dit is ’n internasionale rotsklimgebied wat ook rotsklim kompetisies aanbied.  Die seebed van die eiland is van die mooiste in die hele Aegean See. Dit is ’n internasionale duik bestemming en baie duikers kom hierheen om die seebed te ontdek en te bewonder.

Ons meer vas langs die dorpskaai. En natuurlik gaan verken ons die plek. Ons kom op ’n troue af en ek kry ’n steelfoto van die bruid en haar norse pa. Hulle kom aangestap en musikante loop saam met haar en speel hulle instrumente. 

Musikante
Hier kom die bruid


Ons loop in die dorp rond, kyk na die sponse in die winkels. Ons loop in die woongebied rond en ervaar die regte mense se huise. Later gaan ons huis toe, terug na Maja.

Uitsig op Portia hawe
Portia


Wat ’n verrassing! Net voor ons boot, in ’n restaurant, speel die musikante pragtige musiek. Die mense is besig om die tafels baie mooi te dek. En vir wie? Die bruid wat ek skelm afgeneem het. Dis hulle partytjie. Hulle kom eers 21:30 daar aan en ek sit op die dek en luister en kyk na  The big fat Greek Wedding. Later gaan slaap ek. Toe ek 02:20 wakker word, is die verrigtinge nog goed op dreef.

Wat ’n heerlike aand waar ek ’n bonus kry om die Griekse menswees te beleef. So anders as gisteraand waar Gus my heelnag getempteer het.


Saturday, July 18, 2015

Pserimos Eiland. Ormos Vathi.



17 Julie 2015. Vrydag.

Kos tot Ormos Vathi


Uitgerus en silwerskoon verlaat ons Kos en vertrek na Pserimos Eiland. Dis ’n klein eilandjie naby Kos. Ons mik na Ormos Vathi 36°56.072 N, 27°09.276 O, 10.6 myl.

Ons span die seile en Archie kry ’n bietjie seil in. Later is die wind van voor en ons trek die seile in. En toe word ou Gus wakker. En hy waai. Rukwinde van 23 knope reg van voor. Gelukkig is ons amper by die baai. Daar is reeds omtrent tien bote op anker. Dis ’n groot baai en daar is nog plek vir ons ook. Ons gooi daai anker en maak seker hy byt. Ons wil nie hê die anker moet sleep in die wind nie. 

Ormos Vathi, Pserimos Eiland


En toe begin Gus te waai. Hy waai en dis die een windvlaag na die ander. Al die bote dans in die rukwinde. Jy kan behoorlik sien waar trek Gus. Jy kyk net watter seiljag dans en draai.

En moenie dink Gus gaan lê toe die son sak nie! O nee, hy hou en aan en aan. Ons het gelukkig ’n ankerwag op die selfoon wat sal skree as ons uit ons sirkel beweeg. En ek weet die anker het goed gebyt. Maar dink jy nou ek kan slaap? Moenie glo nie. Die geloei van die wind boor in my siel in en krap my binneste om. Twaalf-uur, twee-uur, drie-uur. Archie maak toe vir my ’n koppie tee. Ek drink dit dankbaar, teug vir teug. Dis darem nog net twee ure dan word dit lig. Alles is erger in die nag. Die waai klink harder en sterker. Die geklap van die toue in die windvlae, die gekraak van die boot.

Net voor vier-uur raak ek aan die slaap. Dit was nie ’n lekker nag nie.

Welkom in die Cyclades!

Kos.


16 Julie 2015. Donderdag.
 
Paloi tot Kos

Ons gaan groet vir Henry, Sally en John. Ons gaan hulle nie hierdie jaar weer sien nie. Dis tyd vir koebaai sê en ons laat Nisyros Eiland agter en pak die 22.6 myl na Kos 36°53.430 N, 27°18.154 O aan. Ons hoop maar net die see en Gus speel saam.

Die eerste ruk van die vaart is sag op die lyf en op Maja. Ons kan nie glo dis dieselfde see as gister nie. ’n Klomp jagte is op die water. Almal kruip weer uit hul skuilplekke uit en gaan na die volgende bestemming. Ons nader die berugte punt van die eiland Kos en getrou aan sy reputasie, raak die see al rowwer en Gus hou hom rammetjie-uitnek. Slinger-slinger vaat ons verder en na ’n ewigheid, gaan ons om die draai.

Daar is baie wind hier, maar die see is plat. Windsurfers en vlieërs en ander watersport is in volle blom in die gebied. En ons vaar maar voort na Kos. Ons het besluit ons gaan maar marina toe. Ons is lus vir ’n lekker stort met baie water en ek wil ook ’n bietjie klere was. Gelukkig is daar plek vir ons vir een aand. Dis heerlik om veilig vas te wees in die marina na ’n lang dag op see.

Verlede jaar was ons in Kos saam met Gerrie en Ansu en ons het by die dorpskaai, wat in die hawe is, vasgmeer. Ons wil gaan kyk hoe lyk dit daar. Dis ’n ent van die van die marina af en ons stap omtrent. Oral is mense wat op fietse ry. Daar is spesiale fietspaatjies vir hulleen jy moet maar uit hulle pad uitbly. 

Wat ’n teleurstelling. Die hawe stink. By die dorpskaai is geen jagte parkeer nie. Dis net klein bootjies. Riool loop vrylik bruin in die see op dieselfde plek waar ons verlede jaar vasgemeer het. Die jagte is almal aan die kasteel se kant, waar daar op ’n daaglikse basis gekruisde ankers is. En jy betaal om daar te staan, amper net soveel as in die marina. Daar is nie storte of toilette nie. Wat goeie besluit was dit om marina toe te gaan. 
Kos was die blyplek van Hippokrates waar hy onder 'n boom sy studente geleer het. Hier is ook nog Romeinse ruïnes te sien.



Hippokrates standbeeld
Romeinse ruïnes


Ons harte is nie hier in Kos nie. Dis te besig, te veel mense. Na Tilos en Nisyros is dit ’n totale anti-klimaks. En verlede jaar het ek van Kos gehou. Ons kyk maar hier en daar rond en stap terug na Maja en sit rustig op die dek terwyl dit aand word.


Thursday, July 16, 2015

Nisyros Eiland. Bromponie Berty



15 Julie 2015. Woensdag.

Volgens die Griekse Mitologie het Poseidon uit woede ’n rots vanuit Kos gegooi om die reus, Polyvotis, dood te maak. So is die vulkaniese eiland, Nisyros, gevorm. Die asem en die wasem en die kreune van die reus is tot vandag nog hoorbaar in die vulkaan. Dis eintlik Polyvotis wat ons hoor blaas en lawaai.

Om 8:00 saal ons die bromponie, Berty, op en daar trek ons na die vulkaan. Ons gaan vroeg voordat die busvragte vol toeriste daar kom. Hulle kom 11:00 met met verskillende ekskursie bote. Ou Berty sukkel die bult op, maar ons kom bo-uit. Hy het eintlik nogal baie krag vir sy grootte, of eintlik kleinte. Toe ry ons weer rem-rem af na die krater. Ek hou styf vas en wys Archie op al die gate en draaie en maan hom om spoed te verminder om die baie skerp draaie. So asof hy blind is! ’n Regte back seat driver!

Berty die bromponie


Die vulkaan is Nisyros se bekendse besienswaardigheid. En die krater, Stefanos is ’n argeologiese juweel. Die geel sulfur kristalle skitter in die son. Die stoom en die gasse laat Stefanos na pure krater ruik. Die ou reus, Polyvotis laat die aarde borrel en sis en stoom. Moenie aan die stoom probeer raak nie, dit brand en daarvan kan Archie getuig. Sy hand is deur ’n vulkaan gebrand. 

Uitsig oor Stefanos Krater
Aktiewe deel van vulkaan
In die krater
Stoom
Kookpot
Swael kristalle
 

Ons bekyk die juweel en verstom ons aan die idee dat ons in ’n aktiewe vulkaan ronddrentel. Dit raak warm in die krater en mens wonder altyd of die ding nie gaan uitbars terwyl jy daar is nie. Die bord sê hoeka toegang op eie risiko! Die krater klou aan ons skoene vas en toe ons op pad is, kom Henry en John daar aan. Sally het bo gebly, want die baie strek reuke maak haar effe naar. Sy was vantevore al hier.


Sally en ek
Vulkaan landskap


Ou Berty, die bromponie staan en wag vir ons. Ek sug en sit my helmet op, spring agterop en daar trek ons. Dis nou nie die tipe motorfiets waar die pop agterop die fiets sit en haar g-string loer bo haar jean uit nie. Nee, dit die tipe fiets waar jy hoop en bid hy kom die moerse opdraende uit.

Volgende op ons lys is ’n dorpie met die naam, Nikia. Dis die gewildste dorpie in Nisyros. Dit lê hoog in die berge. Die wind waai kwaai en Berty ruk soms so saam met Gus. Gelukkig bestuur Archie met ’n ferm hand en met al my raadgewings kom ons veilig bo.
                                                                                                                           
Ons loop in die straatjies en kyk na die mooi deure en vensters van die huise. Dis weer amper soos Mykonos. Hier en daar lê ’n lui kat op ’n trap, so asof daar niks verkeerd is met Griekeland se ekonomie nie.

Nikia
Ingang


Berty neem ons na die volgende dorpie met die naam Emporeios. Die dorpie is bekend vir ’n natuurlike sauna wat ’n bewys is van die intense vulkaniese aktiwiteit op die eiland. Magtig, maar dis warm daar binne. Ek verrooi en verkool amper en dadelik is ek papnat gesweet. 

Natuurlike sauna


Die dorpie is tipies van die Griekse klein dorpies. Nou straatjies, stegies en katte. Oral kry ons die reuke van die Griekse mammas wat besig is om te kook. Ons is ongelukkig nie genooi nie en ons vat toe maar weer die pad.

Die roete na Mandraki is soms vol wind en ons moet ons sit ken om bo te bly. Ons is warm en droog en gaan drink ’n lafenis by ’n straatkafee. Ons verken weer vir Mandraki, want gisteraand was ons net vir ’n kort rukkie daar. Iemand is besig om seekat uit te droog. Dis seker Griekse biltong.

Griekse biltong


Toe is dit tyd vir die laaste skof met Berty terug huis toe. Teen die tyd is ek al gewoond aan die grassnyer geraas en is ook nie meer benoud nie. Ons kom veilig tuis na ’n interessante dag van baie opwinding.

Ons het vanaand ’n ete afspraak saam met Henry, Sally en John. Hulle het ’n kar gehuur en ons gaan almal vanaand met die karretjie na ’n klein eetplekkie in die buurdorp, Loutra. Ons almal is pragtig opgetert en reg vir die aand se kuier.

Ons eet en lag en skerts Ons eet “pork in the oven” en ander mezes. Ons drink yskoue witwyn en dit word ’n aand om te onthou saam met vriende op ’n verre eiland in Griekeland.

Archie, John, Sally and Henry