Monday, September 15, 2014

Turkye. Kuşadasi. Soms te gou.

14 September 2014.  Sondag.

Alles kom tot 'n einde. Soms te gou. Na 'n laaste rol-rol-rol nag, is vandag ons laaste dag op die see. Ons swem vir oulaas in die Aegean See. Die see wat ek so gevrees het. Die see wat vir ons goed was. Wat ons so beproef het.

Ek weet die kaptein wil graag so bietjie seil. Gus begin liggies waai en sy gesig helder op.


Ons span die seile, span die seile
Eers die genoa dan die hoofseil.
Ons span die seile, span die seile
Eers die genoa dan die hoofseil.

Ons seil ons seil op die Aegean see
Die bloue bloue Aegean see.
Die golwe golwe rol ons mee
Op die bloue bloue Aegean see.


Span die seile


En daai kaptein geniet dit. Ons seil byna die hele pad en trek die seile in toe Kuşadasi voor ons lê. Dis nou net vir diesel ingooi en dan na Maja se plekkie vir die winter.

Daar het so baie water in die see geloop in die vyf maande.

Leon en Dirk het kom kuier. Onthou julle die onvergeetlike Griekse aand? Hot stuff!

Skalkse glimlag
"Hot Stuff"
"I only have eyes for you ..."

Dirk en Rika is saam met ons deur die kanaal van Korinte.

Kanaal van Korinte

Elize en Annette het kom seil. Onthou julle daardie verskriklike rowwe see waardeur Maja en die kaptein ons veilig gebring het?

Windverwaaid
Dapper glimlag
"Captain Arch and me"

Gerrie en Ansu was in twee lande saam met ons, eers Griekeland en toe Turkye. Onthou julle die aankoms in die bedrywige Santorini en hoe pragtig dit daar is? En al die goeters wat op Maja reggemaak is?

Aankoms
Oia, Santorini
Fira, Santorini
Maak goeters reg

Alles kom tot 'n einde. Soms te gou.

Ons gaan nou vir Maja voorberei vir die winter en dan gaan ons deur Turkye toer.

Sunday, September 14, 2014

Turkye. Çam Limani. Goeie nuus.

13 September 2014. Saterdag.

Körmen Adasi tot Çam Limani

Ons was vir 'n hele paar dae afgesny van die buitewêreld. Ons was op plekke wat nie eintlik plekke is nie. Min weet ons van die nuus wat op ons wag.

Na 'n heerlike stil nagrus by Körmen Adasi, gaan besoek ons eers gou die twee warmbronne en toe vertrek ons na Cam Limani (38°00.911 N, 27°04.709 O), 12.4 myl. Dis ons laaste bestemming voordat ons "tuis" kom.

Alweer anker! Die bodem lyk nie goed nie, net seegras. Ek soek 'n plek waar dit lyk of die seegras nie so dig is nie en gooi vier keer anker, maar niks. Wil nie byt nie, tel elke keer 'n seetuin op.

Ons gaan kyk by die baai langsaan, maar die hele baai is afgebaken vir ek weet nie wat nie. Geen ankerpkek meer daar nie. As ons nie ankerplek kry nie, moet ons Kuşadasi toe. Terug na die seegrasbaai. Die Franse wat daar geanker is, praat net moed in. Sê hulle het net so gesukkel.

Die Franse in Çam Limani

Ek sien 'n klein kol sand. Archie probeer vir Maja presies op die kol kry, maar dis moeilik. Dan is ons links van die sand, dan regs. Die kol is baie klein. Ek sien die kol, Arch vaar bo-oor, ek gooi! Dit tref! En sowaar, die anker byt. Die Franse is saam met ons bly.

Later kom vier gulets (hout ekskursie bote) vol plesiersoekers so te sê gelyk daar aan en ons verkyk ons aan al die aksie. Hulle dans en lag en gaan swem. Hulle vertrek en die baai word stil, behalwe vir die see wat ons rol rol rol. Die kant toe en daai kant toe.

Gulets daag op
Plesiersoekers sing en dans

Toe lui die Skype. Dis Francois, my seun wat vir sy werk in Istanbul is, wat sê hulle sukkel om ons in die hande te kry. (Ons was mos op afgeleë plekke). Hy het groot nuus. Hy het vir Roelien gevra om te trou. Hulle is verloof. Baie geluk julle twee!

Die groot vraag

Saturday, September 13, 2014

Turkye. Körmen Adasi.

12 September 2014.  Vrydag.

Teos Marina tot Körmen Adasi

Vandag is vis-Vrydag. So vertrek ons windstil uit Teos Marina, oppad na Körmen Adasi (38°01.942 N, 26°52.095 O), 14.4 myl. Die see is glad. Jy kan elke vreemde rimpel sien.

En ek sien 'n swart rimpel. Die rimpel het 'n vin. Die vin spring! Dis  'n dolfyn. Ek vra die kaptein of ons dit kan agterna sit en hy maak so. Glo vir my, elke dolfyn is vir my 'n wonderwerk. Dis altyd besonders om 'n dolfyn te sien. Hulle swem om hul ontbyt te vang. Dis die eerste visse wat ons sien. (Ja, ek weet 'n dolfyn is nie 'n vis nie!).

Dolfyne

So vaar ons verder.  Geen sprake van seil in 'n 2-3 knope wind nie. Ek sit agter die helm en tuur oor die water en Archie is in die saloon. Wie sê visse kan nie vlieg nie?! Ek kyk weer, dog ek verbeel my. Wraggies, ek sien dit weer.  Klein vissies wat oor die water vlieg. Ek vra vir Archie (hy is mos baie slim, weet van al's): "Kan visse vlieg?" En hy sê ja. Hy kom kyk. Saam sien ons die vissies wat soos 'n weerligstraal oor die water vlieg en dan onder die water verdwyn. Wat 'n gesig!

Agter die helm

Ons het al vantevore by Körmen gekuier saam met Gerrie en Ansu en was toe alleen in die baai. Ons kom om die hoek en in by die baai. Wat 'n verrassing, dit lyk soos osbraai op Kromdraai, almal is daar. Vier groot gulets vol mense wat in die warmbronne baljaar. En nog 'n seiljag en twee Cats.

Geniet die warmwaterbron

Ons gooi 'n tydelike anker en wag dat hulle verder moet vaar. Dis 'n joligheid. Hulle braai vleis en vang vis. Die een braaier vang toe wraggies 'n groterige vis. En die hele skool klein vissies spring heeltyd uit die water, so asof die juffrou sê: "Spring!"

"Osbraai op Kromdraai"
Die braaier het sy vis

Die skare vertrek teen 14:00 en ons gooi toe op 'n beter plek anker. Ons is bederf met alleen-anker. Vanaand deel ons die baai met twee ander bote.

Ons deel die baai

Turkye. Azmak Baai, Teos Marina.

11 September 2014. Donderdag.

Demircili tot Azmak Baai tot Teos Marina

Azmak Baai is naby, net 5.2 myl. Dis 'n ankerplek wat skuiling bied teen die Meltemi, maar oop is vir die suide. En raai waar kom die wind toe vandaan? Die suide, natuurlik!

Azmak Baai

Archie, seeman wat hy is, gee nie om vir die groot deinings wat inrol en al groter word nie. Ek gee om. Dit voel of ons op die rowwe oop see vaar.

"Hou noord" boei

Ons besluit toe maar om na Teos Marina (38°11.583 N, 26°46.952 O), te gaan, wat net 2.4 myl verder is.

Teos Marina

Toe gaan lê Gus die aand.

Turkye. Demircili.

10 September 2014.

Gökkavar tot Demircili

Demircili (38°12.436 N, 26°41.115 O), 7.2 myl, is een van daai plekke wat niks het nie. Nie 'n winkel nie, nie internet verbinding nie, net 'n klein vissershawe agter 'n selfgepakte breekwater, 'n paar kampeerders op die sandstrook tussen die hoofland en 'n eiland, en 'n paar snaakse woonplekke.

Klein hawe
Kampeerders
Sandstrook

Ons anker en is net rustig op Maja.

Friday, September 12, 2014

Turkye. Gökkovar.

9 September 2014. Dinsdag.

Kirkdilim tot Gökkovar

Anker, anker, altyd anker. Dis ons voorland by Gökkovar (38°08.682 N, 26°36.131 O), 7.1 myl, die fjord waar ons vantevore saam met Gerrie en Ansu was. Ek onthou hoe die wind met vlae in daai fjord kan waai. Hoop vandag is beter.

Ons vertrek vroeg,  want die wind kom 09:00. Ons arriveer net voor nege, gooi anker en Archie swem die tou land toe en maak ons aan die klippe vas.

Gökkovar Fjord met Kiran Dağ in die agtergrond

Die blerrie Gus is veronderstel om vanuit die noorde te waai, toe waai hy skielik uit die suide. Nou waai hy ons klippe toe. Dis net ons in die fjord en ons gaan gryp toe 'n boei wat eintlik die gulets (groot hout seilskepe) s'n is. As hulle die dagbesoekers fjord toe vat, maak hulle daaraan vas.

Die nag waai Gus, nou weer vanuit die noorde. Hy kom aangewaai doer van die begin van die fjord af, dwarsdeur ons, reguit see toe.

Toe maak ek nie 'n oog toe nie.

Wednesday, September 10, 2014

Turkye. Kirkdilim.

8 September 2014. Maandag.

Sarpdere tot Kirkdilim

Dis van die een mooi baai na die ander een. Ons vat dit maar stadig, want dis nie ver na Kuşadasi toe nie en ons het 'n week om daar te kom.

Vroegoggend Sarpdere

Vandag is dit Kirkdilim (38°08.613 N, 26°33.918 O), net 7.5 myl. Ons vertrek saam met 'n magdom wolke, hulle bo en ons onder. Hulle seil deur die lug en ons seil op die water.

Tektas Eiland
Magdom wolke

Sommer gou is ons daar. Die baai strek diep in die land in. Weer omring deur berge.

Kirkdilim Baai

Ons roei land toe en Archie versamel allerande toue wat hy optel. Terug by Maja, sit hy en ontrafel hy die toue asof dit 'n speurverhaal is.

Geen internet nie

Ons is stoksielalleen in die baai. Totdat 'n swerm dorstige bye kom water soek. Ons nooi hulle vir 'n "sundowner". Hulle drink buite en ons drink binne, met alle moontlike openinge in Maja dig toegemaak.

"Sundowners"

Sunday, September 7, 2014

Turkye. Sarpdere Baai.

7 September 2014. Sondag.

Çeşme tot Sarpdere Baai

Ons groet Çeşme, wat al soos 'n tuiste vir ons voel. Ons het al baie tyd hier deurgebring.

Die wolke lyk dreigend oppad na Sarpdere Baai (38°11.013 N, 26°30.989 O), 22 myl vanaf Çeşme. Daar oorkant, by Chios se wêreld,  lyk dit na reën. Die wolkmassa verander van kleur, wit word grys met 'n tikkie rammel in die verte.

Wolke

Ons vaar verby die visplase by Mersin Körfesi, waar ons die vorige keer geanker het. Hier het ons laas saam net Gerrie en Ansu gevaar in 'n ongemaklike ontstuimige see. Vandag lyk dit heel anders. Ons span seil en Gus dryf ons rustig voort op die waters. Die wolke ontplof oor die berge, wit en dik.

Wolkontploffing

Sarpdere Baai is pragtig. Berge reg rondom. Ons anker en geniet die middag. Die water is deursigtig helder en swem is 'n moet.

Ingang tot Sarpdere Baai
Sarpdere Baai
Helder water

Die laatmiddag verander in skemer, lug word pienk, dan pienker, grys. Die maangloed verhelder die water tot amper goud.

Friday, September 5, 2014

Turkye. Eğri Baai. Çeşme.

4 September 2014.  Donderdag.

Eskifoça tot Eğri Baai

Eğri Baai (38°32.261 N, 26°22.591 O), 27.7 myl, is alweer 'n bekende plek. Die berge staan trots en hoog langs die kalm see, elkeen met sy eie wolke.

Trots en hoog

Ons vaar

Rots ru rof,
Wit wolke opgepof.


Bos bas boom,
Windmeul draai loom.


Stil stom see,
Seemeeu vlieg mee.


Ruwer rofste, gruwwer grofste
Gladder stiller bomer
Skurwe, my siel vermurwe


 ***
Ons vaar op die Aegean see.


Rof en ru
Wit wolke opgepof
Stil stom see


Eğri is in sig en ons vaar die baai binne. Dolfyne swem-spring in die baai rond. Ek wag dat hulle nader kom, maar hulle ontglip ons en swem verder weg.

Eğri Baai

Ons anker. Vas, diep ingeploeg, veilig vir die nag.



5 September 2014.  Vrydag.

Eğri Baai tot Çeşme

Ons gaan vandag weer na Çeşme (38°19.273 N, 26°18.113 O), 16.7 myl, vir twee dae.

Oggendskoot - Dreigend

Dis alweer sukke tyd. Ons moet  land-uit, na die Griekse eiland, Chios, om dan weer dieselfde dag terug te kom na Turkye om ons nuwe visums te kry. As dit deurmekaar klink, wees verseker, dit is 'n deurmekaarspul. So, môre 09:40 klim ons die veerboot na Chios en 18:00 is ons terug in Çeşme.