Saturday, September 13, 2014

Turkye. Körmen Adasi.

12 September 2014.  Vrydag.

Teos Marina tot Körmen Adasi

Vandag is vis-Vrydag. So vertrek ons windstil uit Teos Marina, oppad na Körmen Adasi (38°01.942 N, 26°52.095 O), 14.4 myl. Die see is glad. Jy kan elke vreemde rimpel sien.

En ek sien 'n swart rimpel. Die rimpel het 'n vin. Die vin spring! Dis  'n dolfyn. Ek vra die kaptein of ons dit kan agterna sit en hy maak so. Glo vir my, elke dolfyn is vir my 'n wonderwerk. Dis altyd besonders om 'n dolfyn te sien. Hulle swem om hul ontbyt te vang. Dis die eerste visse wat ons sien. (Ja, ek weet 'n dolfyn is nie 'n vis nie!).

Dolfyne

So vaar ons verder.  Geen sprake van seil in 'n 2-3 knope wind nie. Ek sit agter die helm en tuur oor die water en Archie is in die saloon. Wie sê visse kan nie vlieg nie?! Ek kyk weer, dog ek verbeel my. Wraggies, ek sien dit weer.  Klein vissies wat oor die water vlieg. Ek vra vir Archie (hy is mos baie slim, weet van al's): "Kan visse vlieg?" En hy sê ja. Hy kom kyk. Saam sien ons die vissies wat soos 'n weerligstraal oor die water vlieg en dan onder die water verdwyn. Wat 'n gesig!

Agter die helm

Ons het al vantevore by Körmen gekuier saam met Gerrie en Ansu en was toe alleen in die baai. Ons kom om die hoek en in by die baai. Wat 'n verrassing, dit lyk soos osbraai op Kromdraai, almal is daar. Vier groot gulets vol mense wat in die warmbronne baljaar. En nog 'n seiljag en twee Cats.

Geniet die warmwaterbron

Ons gooi 'n tydelike anker en wag dat hulle verder moet vaar. Dis 'n joligheid. Hulle braai vleis en vang vis. Die een braaier vang toe wraggies 'n groterige vis. En die hele skool klein vissies spring heeltyd uit die water, so asof die juffrou sê: "Spring!"

"Osbraai op Kromdraai"
Die braaier het sy vis

Die skare vertrek teen 14:00 en ons gooi toe op 'n beter plek anker. Ons is bederf met alleen-anker. Vanaand deel ons die baai met twee ander bote.

Ons deel die baai

Turkye. Azmak Baai, Teos Marina.

11 September 2014. Donderdag.

Demircili tot Azmak Baai tot Teos Marina

Azmak Baai is naby, net 5.2 myl. Dis 'n ankerplek wat skuiling bied teen die Meltemi, maar oop is vir die suide. En raai waar kom die wind toe vandaan? Die suide, natuurlik!

Azmak Baai

Archie, seeman wat hy is, gee nie om vir die groot deinings wat inrol en al groter word nie. Ek gee om. Dit voel of ons op die rowwe oop see vaar.

"Hou noord" boei

Ons besluit toe maar om na Teos Marina (38°11.583 N, 26°46.952 O), te gaan, wat net 2.4 myl verder is.

Teos Marina

Toe gaan lê Gus die aand.

Turkye. Demircili.

10 September 2014.

Gökkavar tot Demircili

Demircili (38°12.436 N, 26°41.115 O), 7.2 myl, is een van daai plekke wat niks het nie. Nie 'n winkel nie, nie internet verbinding nie, net 'n klein vissershawe agter 'n selfgepakte breekwater, 'n paar kampeerders op die sandstrook tussen die hoofland en 'n eiland, en 'n paar snaakse woonplekke.

Klein hawe
Kampeerders
Sandstrook

Ons anker en is net rustig op Maja.

Friday, September 12, 2014

Turkye. Gökkovar.

9 September 2014. Dinsdag.

Kirkdilim tot Gökkovar

Anker, anker, altyd anker. Dis ons voorland by Gökkovar (38°08.682 N, 26°36.131 O), 7.1 myl, die fjord waar ons vantevore saam met Gerrie en Ansu was. Ek onthou hoe die wind met vlae in daai fjord kan waai. Hoop vandag is beter.

Ons vertrek vroeg,  want die wind kom 09:00. Ons arriveer net voor nege, gooi anker en Archie swem die tou land toe en maak ons aan die klippe vas.

Gökkovar Fjord met Kiran Dağ in die agtergrond

Die blerrie Gus is veronderstel om vanuit die noorde te waai, toe waai hy skielik uit die suide. Nou waai hy ons klippe toe. Dis net ons in die fjord en ons gaan gryp toe 'n boei wat eintlik die gulets (groot hout seilskepe) s'n is. As hulle die dagbesoekers fjord toe vat, maak hulle daaraan vas.

Die nag waai Gus, nou weer vanuit die noorde. Hy kom aangewaai doer van die begin van die fjord af, dwarsdeur ons, reguit see toe.

Toe maak ek nie 'n oog toe nie.

Wednesday, September 10, 2014

Turkye. Kirkdilim.

8 September 2014. Maandag.

Sarpdere tot Kirkdilim

Dis van die een mooi baai na die ander een. Ons vat dit maar stadig, want dis nie ver na Kuşadasi toe nie en ons het 'n week om daar te kom.

Vroegoggend Sarpdere

Vandag is dit Kirkdilim (38°08.613 N, 26°33.918 O), net 7.5 myl. Ons vertrek saam met 'n magdom wolke, hulle bo en ons onder. Hulle seil deur die lug en ons seil op die water.

Tektas Eiland
Magdom wolke

Sommer gou is ons daar. Die baai strek diep in die land in. Weer omring deur berge.

Kirkdilim Baai

Ons roei land toe en Archie versamel allerande toue wat hy optel. Terug by Maja, sit hy en ontrafel hy die toue asof dit 'n speurverhaal is.

Geen internet nie

Ons is stoksielalleen in die baai. Totdat 'n swerm dorstige bye kom water soek. Ons nooi hulle vir 'n "sundowner". Hulle drink buite en ons drink binne, met alle moontlike openinge in Maja dig toegemaak.

"Sundowners"

Sunday, September 7, 2014

Turkye. Sarpdere Baai.

7 September 2014. Sondag.

Çeşme tot Sarpdere Baai

Ons groet Çeşme, wat al soos 'n tuiste vir ons voel. Ons het al baie tyd hier deurgebring.

Die wolke lyk dreigend oppad na Sarpdere Baai (38°11.013 N, 26°30.989 O), 22 myl vanaf Çeşme. Daar oorkant, by Chios se wêreld,  lyk dit na reën. Die wolkmassa verander van kleur, wit word grys met 'n tikkie rammel in die verte.

Wolke

Ons vaar verby die visplase by Mersin Körfesi, waar ons die vorige keer geanker het. Hier het ons laas saam net Gerrie en Ansu gevaar in 'n ongemaklike ontstuimige see. Vandag lyk dit heel anders. Ons span seil en Gus dryf ons rustig voort op die waters. Die wolke ontplof oor die berge, wit en dik.

Wolkontploffing

Sarpdere Baai is pragtig. Berge reg rondom. Ons anker en geniet die middag. Die water is deursigtig helder en swem is 'n moet.

Ingang tot Sarpdere Baai
Sarpdere Baai
Helder water

Die laatmiddag verander in skemer, lug word pienk, dan pienker, grys. Die maangloed verhelder die water tot amper goud.

Friday, September 5, 2014

Turkye. Eğri Baai. Çeşme.

4 September 2014.  Donderdag.

Eskifoça tot Eğri Baai

Eğri Baai (38°32.261 N, 26°22.591 O), 27.7 myl, is alweer 'n bekende plek. Die berge staan trots en hoog langs die kalm see, elkeen met sy eie wolke.

Trots en hoog

Ons vaar

Rots ru rof,
Wit wolke opgepof.


Bos bas boom,
Windmeul draai loom.


Stil stom see,
Seemeeu vlieg mee.


Ruwer rofste, gruwwer grofste
Gladder stiller bomer
Skurwe, my siel vermurwe


 ***
Ons vaar op die Aegean see.


Rof en ru
Wit wolke opgepof
Stil stom see


Eğri is in sig en ons vaar die baai binne. Dolfyne swem-spring in die baai rond. Ek wag dat hulle nader kom, maar hulle ontglip ons en swem verder weg.

Eğri Baai

Ons anker. Vas, diep ingeploeg, veilig vir die nag.



5 September 2014.  Vrydag.

Eğri Baai tot Çeşme

Ons gaan vandag weer na Çeşme (38°19.273 N, 26°18.113 O), 16.7 myl, vir twee dae.

Oggendskoot - Dreigend

Dis alweer sukke tyd. Ons moet  land-uit, na die Griekse eiland, Chios, om dan weer dieselfde dag terug te kom na Turkye om ons nuwe visums te kry. As dit deurmekaar klink, wees verseker, dit is 'n deurmekaarspul. So, môre 09:40 klim ons die veerboot na Chios en 18:00 is ons terug in Çeşme.

Turkye. Eskifoça.


3 September 2014.  Woensdag.

Yeniifoça tot Eskifoça

Yenifoça, Eskifoça, watse "gefoça" is dit met hulle?

'n Foç is 'n "monk seal" oftewel 'n monnikrob? Yeni beteken nuwe (dis die nuwe dorp) en Eski beteken ou (die ou dorp). Dié rob is 'n bedreigde spesie en sekere dele van hierdie kus is as bewaringsgebied verklaar.

Ons is vandag na Eskifoća (38°39.917 N, 26°44.872 O), die ou dorp oppad. Dit is 14.3 myl tot daar.

Ons vaar verby interessante rotsformasies. Dit is punterig en platterig en lyk soos paddastoele en feekastele. Die toerbootjies neem nuuskierige agies rondom die eilandjies dat hulle die mooi kan gade slaan.

Nuuskierige agies
Paddastoele
Feekasteel
Raaisel: Waar's die bok?

Eskifoća lê in 'n groot baai, maar ankerplek is maar min. Oral is bote op boeie en dit maak sake moeilik. Ons kry wel 'n diep plek, 14 meter, en ek gooi maar. Archie tru, die ding trek styf en ons is geanker.

Eskifoça Baai
Uitsig oor baai

Dinkie neem ons land toe en ons stap dadelik die koppie uit, na die ou windmeulens toe. 'n Bruidspaar het ook die plek gekies om hulle foto's te neem. Hoë skoentjies en rok en al staan die bruid in die stof.

Oppad na windmeul
Bruidspaar by windmeul

Na ons dorpeskapades en 'n balik emlek (vis bunny chow) gaan ons terug na Maja wat getrou om haar anker draai.

Hierdie is nie 'n lekker huis nie
Dramaties

Francois, my oudste, verjaar vandag. En waar nogal, in Istanbul. Ons is vreeslik jammer ons kan nie daar wees nie. "Baie geluk met jou verjaardag, Francois!"


Geluk Francois en Roelien
Antwoord:  Daar's die bok!