Monday, August 18, 2014

Turkye. Hoog en droog.

18 - 22 Augustus 2014. Maandag - Vrydag.

Ons is hoog en droog in Çeşme. Die Volvo enjin is met 'n kraan uitgelig en ons kry hopelik môre die nuwe enjin en dit sal teen Donderdag in wees. Vrydag sal ons weer te water gelaat word en dan seil ons verder.

Daar gaan hy
Enjin uitgehaal

Intussen is die penthouse nog ons woning.

Saturday, August 16, 2014

Turkye. Op droë grond.

Setur Çeşme Marina tot Çeşme Marina (Oranje lyn)
15 Augustus 2014. Vrydag.


Ek hoop vandag is goeie Vrydag.

Dis vroegoggend. Die see is doodstil, so ook die swemkaai en alles rondom ons. So ook Maja se enjin. Selfs die restaurant het verdwyn.
Nou is Archie die wagtende kaptein. Ons wag op die reddingsboot om ons te kom tou. Ojan, die meganiese ingeneur, en die kaalkop, wat gister sy tong so geklik het, daag op met die nuus: "Die reddingsboot sal enige oomblik kom".

En hy daag op, so 11:00. Hulle kry ons weg van die kaai, maak die tou aan Maja se snoet vas en daar trek ons, hulle voor en ons agterna. Ojan vaar saam met ons en die viermanskap op die reddingsboot laat waai. Maja het nog nooit so vinnig gevaar nie, 9 knope. 

Daar trek ons

Ons ry dat die water spat. Die seemanne weet presies waar om te ry, hulle baan hulle weg deur die riwwe en vlak water. Ons is sommer gou by Setur Çeşme Marina.

Riwwe en vlak water

In die marina word Maja "alongside" aan die reddingsboot vasgemaak en hulle neem ons na die uitligdok waar Maja uitgelig gaan word. Die manne weet wat hulle doen. Hulle bestuur sekuur, dis toue orals, afstoters en helpende hande. Selfs die manne van die marina op hulle dingy verleen hulp. En ons is in die uitligdok.

Alongside aan reddingsboot

Die volgende stap is dat Maja, soos Moses van die Bybel, uit die water gehaal moet word. Die groot boothyser kom nader en staan wydsbeen oor die uitligdok. Die operateur sit die bande (slings) onder Maja se romp, meet en pas en kyk en balanseer en stadig maar seker en sekuur word sy uitgelig. Dis iets om te sien.

Uit die water gehaal

So vaar sy op en hang sy daar met die breë bande onder haar romp in die lug. Die boothyser ry met haar na die sementblad waar sy met brute fors skoongespuit word. Jy sien net seediertjies en plantjies trek. Silwerskoon is sy.

Romp word skoongespuit

Toe kom 'n ander kontrepsie, wat vanself ry en stoot die "cradle" onder haar in. Dit ry na haar nuwe staanplek op droë grond, die kontrapsie ry weg en daar staan sy, op haar cradle. Veilig in die lug. Die mannetjie bring vir ons 'n leer en ons klim op. Ons bly nou in die penthouse.

Maja word geneem na staanplek
Veilig op cradle
"Penthouse"

Ojan en sy werktuigkundige spring aan die werk en na 'n uur is die enjin gereed om uitgelig te word. Môre kom 'n hyskraan om die taak te verrig. Dan sal ons weet wat die skade is.

Ojan en werktuigkundige maak enjin los

Dit voel of Maja heeltyd heen en weer beweeg soos op die water...

Friday, August 15, 2014

Turkye. Ag nee, wat nou?!

14 Augustus 2014. Donderdag.

Hoteleratan tot Çeşme via Kara Eiland

Vandag gaan 'n luilekker dag wees. Ons gaan na Kara Eiland (38°25.300 N, 26°20.700 O), en dis net 6 myl en dan is ons daar by die baai waar ons moet anker. Ek wil net 'n bietjie rustig wees en asem skep na ons laaste kuiergaste, Gerrie en Ansu.

Ons vertrek 11:00 en Gus waai van voor. Die baai is redelik smal en daar is reeds 'n paar bote geanker. Die motorboot voor ons, trek anker op en soek ander plek, want sy anker het nie gebyt nie.

Naby Kara Eiland

Ons gooi anker en dit byt nie. Ek trek op, dis vol seegras. Ek soek 'n kol wat lyk na sand en ek gooi. Archie tru en skielik stop hy. Ek kyk na hom en hy sê sy enjin het net gevrek.

Nou is die anketketting op die bodem, maar ons is nie regtig geanker nie. Archie gee die opdrag dat ek nog ketting moet uitlaat, in die hoop dat die swaar ketting se gewig sal help om ons geanker te hou.

'n Ander klein motorboot trek sy anker op en gooi sy anker weer, so half oor ons s' n. Gelukkig waai Gus net liggies. En daar sit ons in 'n smal baai, effens geanker met 'n vasgeslaande enjin. Archie sê ons moet wag dat die enjin afkoel, miskien sal dit dan weer draai.

Hy probeer, maar daai enjin is rotsvas. Maja sê net "klo". Dis toe al 14:30 en die enjin is kaput. Ag nee, wat nou?! Ons moet daar uitkom voordat dit donker word en na 'n marina seil. Vir die volgende twee dae word daar geen wind voorspel nie, so ons kan nêrens heen seil nie. Ons moet nou na Setur Marina seil.

Die probleem is hoe seil ons uit hierdie smal baai?! Archie begin die anker met die hand optrek, want ons moet ons huisbatterye spaar, want ons het geen motor om dit te laai nie.

Die kaptein van die motorboot kom staan op sy dek, want hy besef sy anker is bo-oor ons s'n. Ek pols vir Archie om hom te vra om ons uit die baai te tou. Teensinnig vra Archie en die Turk, Mr. Mustafa, sê hy sal ons tou. Ons gooi vir hulle 'n tou tou en al die bote se mense in die baai skuif reg om die skouspel te sien. 

Hulle maak die tou aan hulle boot vas, begin te draai in die smal baai. Maja is willoos, sy volg nou waarheen sy gelei word. En so word die Suid-Afrikaners-, sonder enjin, deur die weldoener, veilig uit die baai getou. (Ek wonder of die skare gejuig het...). Mr. Mustafa sê hy sal oor twee, drie ure kyk of ons veilig is. Sy boot bly in die marina waarheen ons gaan.

Maja word uitgesleep na die ope see

Toe moet ons seil. Gus waai nie sterk nie, so tussen sewe tot elf knope direk van agter. Dit is eintlik 'n baie ligte wind, veral as dit van agter waai. Ek was nog nooit so gretig om seile te span nie. Ons span die hoofseil en die genoa. Ons seilspoed wissel  tussen twee tot vier knope. Ons seil meer as drie ure aan 10 myl.

Onder vol seil
Twintig minute van die marina roep Archie die marina op die radio en verduidelik die situasie. Die marina sal ons moet kom tou, want as die seil af is, dobber ons, het ons geen beheer nie. Ons hoor iemand anders ook oor die radio praat. Dit was Mr. Mustafa wat gehoor het ons roep en toe die saak in Turks aan die marina verduidelik.

Die marinamanne kom toe in hul dingy en help ons om "alongside" vas te maak langs die swemkaai. Die kaai lê propvol bruin lywe van die "rich and famous" van Çeşme-Altinyunus. Hulle verkyk hulle aan die opwindende kykgenot wat ons gratis aan hulle lewer.

Maja teenaan die swemkaai (volgende oggend)

Die fenders is almal te hoog vir die lae kaai en ek maak dit inderhaas met bewende hande langer. Archie gooi toue en die marinamanne stoot Maja met die dingy in die regte rigting. Twee jong seuns vang die toue op die kaai en maak onhandig vas. Toe is ons darem veilig.

Mr. Mustafa daag daar op en gee vir ons nommers van helpers. Die marina vrou het 'n werktuigkundige gebel en toe hy opdaag en sien hoe vas die enjin is, toe klik hy sy tong en neem net foto's. Hulle kan ons nie help nie. Ons word môre getou na Çeşme, waar ons twee dae gelede was.

Die aand verander die swemkaai in 'n restaurant met drie kunstenaars wat sing. Ons eet ons eie kos op Maja se dek en roofluister na die musiek.

Vasgemeer op die restaurant se voorstoep (volgende oggend)

Thursday, August 14, 2014

Turkye. Hoteleratan Strand.

13 Augustus 2014. Woensdag.

Çeşme tot Hoteleratan Strand

Vandag is Gerrie nie hier om sy kop te stamp nie. Inteendeel, ons is nou "home alone".

Ons het 'n klomp besigheid om in Çeşme te doen voordat ons kan vertrek. Dorp toe gaan is ons voorland.

Ons vertrek 13:30 na Hoteleratan Strand (38°29.244 N, 26°218.983 O), 11 myl, nadat ons diesel ingegooi het. Gus waai liggies en die see is nie groot nie. Ons ry 'n hengse draai om 'n rif te vermy en toe ons Meltie van agter kry, span ons die genoa. En sowaar, ons kry dit alleen reg, sonder die helpende hande van 'n groot bemanning. Ek moet sê, dit voel snaaks om weer alleen te seil.

'n Berg van 'n molshoop maak

Ons seil rustig en stadig, maar daar's geen haas nie en ons kom by Hoteleratan Strand aan, gooi anker en daar sit ons, net ek en my ou Arch, lig-draaiend op ons eie Maja.

Uitsig van Maja

Die strand digby speel die hele middag sulke harde musiek, dat die hele Turkye dit kan hoor. Die musiek speel tot die volgende môre. Die nagmusiek nog harder as dié van die dag. Ek dink die Turke is 'n dowe nasie. 

Lawaaistrand

Dit klink nie soos musiek in my ore nie.

Griekeland! Chios.

12 Augustus 2014.  Dinsdag.

Vandag gaan ons saam met Gerrie en Ansu met die veerboot Griekeland toe, elkeen op sy eie missie.

Sak en pak

Gerrie kry in Chios hulle veerboot na Athene. Ons moet Turkye verlaat, na 'n ander land gaan en dan weer terugkom om 'n nuwe 30 dae visum vir Turkye te kry. Toe besluit ons sommer ons doen dit saam met Gerrie en Ansu.

Veerboot na Chios

Ons veerboot vertrek 09:20, maar ons moet reeds 08:30 daar wees om deur die doeane te gaan. Ons wag vir ons veerboot en so ouerige veerboot maak sy verskyning. Hulle sukkel om in te kom en vas te maak.

Ons klim en wag om te vertrek, behalwe dat ons nie vertrek nie. Die enjin stop. 'n Man kom sê in Turks dat die enjin stukkend is en hulle moet dit eers regmaak. Ons was lus en stuur die swaers enjinkamer toe om te help. Hulle kan mos alles regmaak. Ons hoor net hoe val gereedskap daaronder. Ons vertrek 'n uur later op  n rowwe see na Chios, dankbaar toe die veerboot beweeg.

Chios, Griekeland

Ai, en voel ek tuis in Griekeland! Dit is nou nadat die doeaneman eers lelik gefrons het, want ons het nog net twee dae op ons Schengen visums oor. Ons verseker hom dat ons nog dieselfde dag teruggaan na Turkye. Toe is hy tevrede.

Chios

Ons dwaal amper doelloos in Chios rond. 17:00 stap ons na die hawe en toe is dit tyd vir afskeid neem. Ons groet vir Gerrie en Ansu.

Tyd om te groet

Gerrie
Gerrie is 'n werktuigkundige van formaat. Hy en sy swaer Archie, het omtrent goeters reggemaak en wonderwerke laat gebeur. Hy het sy kop  en lyf presies 100 keer gestamp (hy het getel). Met die seilery het hy vinnig agter die kap van die byl gekom en toue én knope vinnig onder die knie gekry. Voorwaar 'n aanwins vir Maja!

Die plek wat hom oorrompel het, was Efese in Turkye. Dit was "mind blowing". Dan staan Santorini ook nie terug nie. Dit het ook sy asem weggeslaan.

Efese
Santorini

Die hele Maja-seilervaring het hy intens beleef en geniet. Van katskietwater tot spieëlgladde see. Anker, vasmeer, seilspan, aksie en addrenalienbelaaide oomblikke. Die sigeunerlewe, elke dag op 'n ander plek.

Skeeflê

Ansu
Ansu het gou geleer hoe die toue werk en het glad nie lyf weggesteek nie. Sy het die heerlikste koue drankies gemaak en was voortreflik agter die kospotte. Nie 'n lui haar op haar kop nie.

Efese het ook vir Ansu betower. Sy sal graag weer eendag soontoe wil gaan.

Efese

Naby Levitha Baai, na 'n dag op rowwe see en 'n baie seer mond, het 'n dolfyn uit die water gespring en net Ansu was so gelukkig om dit te sien. Dié ervaring was baie spesiaal vir haar.

Naby Levitha

Koebaai julle, geniet Athene.

Wednesday, August 13, 2014

Turkye. Çeşme. Laaste seildag.

11 Augustus 2014. Sondag.

Mersin Körfesi tot Çeşme

Vandag is Gerrie en Ansu se laaste dag op Maja.

Ons is oppad na Çeşme (38°12.956 N, 26°26.446 O), 20.3 myl. Ons begin 07:00 te vaar, want ons wil probeer om die winde te ontglip. Dinge lyk goed, Meltie (Gerrie se naam vir die Meltemi) waai liggies en die see is lekker plat. Die windturbines draai loom in die oggendson, groet ons wuiwend.

Loom oggendson
Oggendskoot - Visplaas

Gerrie voel 'n bietjie nostalgies oor die laaste see-seildag. Hy hou nogal van die ervaring. Hy groet sy laaste ankerplek weemoedig. Ansu groet ook, ek dink sy verlang baie na haar kindertjies, Clarize en Reigardt.

Nostalgies agter stuur
Beplan die roete

Die vaart verloop goed, ons kry net die laaste stuk groter deinings. En daar lê Çeşme voor ons, met sy mooi kasteel en al.

Kasteel

Ons vaar dankbaar nader en ek roep die marina op kanaal 72. Hulle kom help mens altyd in. Die vasmeermanne op die dingy wys ons plek aan en Archie tru pragtig in die spasie. Hulle gee die snoettou vir Gerrie. Ek en Ansu is op 'n gereedheidsgrondslag geplaas vir afskop. Alles verloop seepglad. Of so het ek gedink.

Archie tru nog so ewe en toe stop die boot. Hy het geen beheer nie. Min weet hy dat Gerrie by die snoet se dik tou opgeraak het en dat hy  die tou sumier vasgemaak het. (Die dik tou word aan 'n dun toutjie vasgemaak, wat aan die kaai vas is). Maja steek viervoet vas en sy trek skeef, na die luukse jag langs ons. Ons anker dreig om aan hulle s'n vas te haak en ek en Gerrie stoot met mening af (Gerrie met meer mening as ek).

Die jongman van die boot langsaan, wat help red, sê vir Gerrie hy moet nog tou gee dat Maja nog agtertoe kan gaan, nader aan die kaai. Gerrie beduie hy het nie tou oor nie, maar die jongman van langsaan sê gee dun tou. Dit skrei teen Gerrie se beterwete in, want hy kan net nie glo day so dun tou vir Maja op haar plek kan sit nie, maar hy gee tou. Archie tru nader aan die kaai en ons maak vas. Gerrie bekyk daai dun tou en skut sy kop.

Die ouer man van langsaan kom kyk toe eers of ons hom skade berokken het. Danksy die brute krag waarmee Gerrie (én ek) gestoot het, is daar geen skade nie, net bietjie skande. Die man raas toe vreeslik met die marina se mense. Hulle praat Turks, ons verstaan geen woord nie.

So leer ons - as die dik tou opraak, gebruik die dun tou. En op die nederige noot, eindig Gerrie en Ansu se seilavontuur.

Die einde

Die  aand neem Gerrie ons uit vir ete. Ons gaan eet by die Star Restaurant en die kos is vyfster gehalte. Dankie Gerrie en Ansu!

Vyfster ete

Turkye. Mersin Körfesi.

10 Augustus 2014.  Sondag.

Gökkovar tot Mersin Körfesi

Die wind het die hele nag aangehou waai.

Ons vertrek vroeg na Mersin Körfesi (38°12.956 N, 26°26.446 O), 15 myl. Na al die toue los is, die anker opgetrek is, verlaat ons die beskerming van ons fjord-baai en vat die see aan. Dit behoort onstuimig te wees, want Gus waai weer sy hart uit.

Oggendskoot - "Fifty shades darker"

Dit begin nie te sleg nie, maar later begin Gus erg te waai. Sy waai bereik met tye 'n rekordspoed van 35 knope. Gelukkig is die see nie groot nie, want die "fetch" is klein. Die "fetch" is die afstand vanaf die land, waarvandaan Gus waai, tot ons posisie in die see, waarin Gus water bymekaar waai om groot deinings en golwe te maak om ons siele te versondig. Gus waai van voor af, van die land se kant.

Die fyn seesproei waai in ons gesigte. Ansu sê:" Ons is nou almal gesoute seilende sigeuners." Die sout van die see is oral.

Gesoute seilende sigeuners
Seesproei

Ons baan ons weg deur al die visplase na Mersin Körfesi, ons ankerplek. Moenie dink Gus waai minder hier nie. Daarvan getuig al die baie windturbines wat oral hier rondstaan. Ons kom moeg daar aan en gooi anker wat goed moet byt, want die wind die waai.

Ons lê rond soos vrot velle. Ek slaap kwylmond in ons kamer, Archie slaap rugseer in die saloon, Ansu slaap onrustig in hulle kamer en Gerrie slaap saggies-snorkend op die dek, onder die wakende oë van die stadige, statige draaiing van al die windturbines. Uitgeput deur die elemente van die natuur. Gus waai heeltyd en sy neef Louis, loei in ons ore. Van gaan lê, wil hulle niks weet nie.

Nou weet ons waar is Gus se oorsprong

Die maan kom op en hy is voller as normaal en ek en Ansu sing 'n mooi liedjie vir ons manne, terwyl die sagte, silwer maanlig op die water gaan lê.

Sing vir die manne








Sunday, August 10, 2014

Turkye. Gökkovar Fjord.

9 Augustus 2014. Saterdag.

Siğaçik tot Gökkovar Fjord

Gelukkige Vrouedag aan alle vroue van die wêreld.

Ons vroue word beloon met 'n kort dag van 10.8 myl, na Gökkovar Fjord (38°08.735 N, 26°36.158 O).

Hoe later, hoe kwater word die see vir die wind. Die deinings word höer, hoe verder ons seil. Die ingang tot die fjord waar ons vandag gaan anker, kruip goed weg. Ons sien dit eers toe ons naby is.

Dis een van daai ankers waar ons Maja met 'n lang landlyn moet beveilig. Strategie word bespreek, take verdeel, ons kry ons posisie en die anker sak. Hy byt, Archie duik met 'n sierlike boog in die water met die landlyn en Gerrie en Ansu werskaf met die toue. Hulle raak nou goed. Na die miernes van bedrywighede, is ons vas en veilig.

Almal aan die werk
Koue lafenis
Nog koue lafenis

Weer eens is dit 'n unieke en besonderse ankerplek. Gerrie loop boontoe om die uitsig oor die baai te bewonder.

Gökkovar
Gökkovar fjord
Gerrie se uitsig