Thursday, July 17, 2014

Ios

14 Julie 2014. Maandag.

Alyki tot Ios

Die pad is lank. 19.9 myl tot by Ios (36°43.340 N, 25°16.427 O) , ons volgende eiland in die son. Dit is die vrouens se laaste vaart. Hulle begin die vaart met 'n effense hartseer.

Laaste vaart
Naby Ios

Maja bly vir ses nagte in Ios. Ons gaan Woensdag met die veerboot na Santorini om vir Elize en Annette af te laai en Donderdag ons nuwe bemanning, Gerrie en Ansu, te ontmoet. Ek ruil my suster Elize in vir my broer Gerrie.

Vandag en môre geniet ons eers vir Ios, met sy dorp op die heuwel. Ons neem die bus boontoe. Die straatjies kronkel deur die dorpie, verby woonplekke van inwoners, kerke en winkels. Ons stap op op op op na die vier kerkies en word beloon met 'n baai-uitsig.

Ios
Kerk amper op die kruin
Kapel, nog opper
Uitsig oor binneland
Laatmiddag uitsig oor baai

Hierdie dorp is die speelplek van jongmense. Dis jong meisies by die dosyne, en jong manne by hordes. Sommige nagklubs maak eers 03:00 oop. In die nag verander Ios na Sodom en Gomorra soos die jongmense in die bo-dorp party.

Ons stap terug na Maja en die pad na onder is maklik met mooi uitsigte wat die pad korter maak.

Die aand eet ons "smelt" (klein vissies). Dis 'n hele groot bak vissies, maar hulle verdwyn die een na die ander in ons keelgate af.

Smelt in jou mond


15 Julie 2014. Dinsdag.

Vandag is dit weer op na die dorp en weer af na Maja. Ek en ou Arch sit lank bo by die kerk en drink die uitsig in. Ons kyk hoe seiljagte statig in die baai vaar en vasmeer. 

Klomp kerke
Veerboot arriveer
Oppad af
Ligte noenmaal

Ons word vanaand deur die vrouens uitgevat vir ete. Dis omtrent die laaste avondmaal, ons vier om die tafel, besig om die afskeidsete te geniet.

Laaste avondmaal

Alles kom tot 'n end.

Tuesday, July 15, 2014

Paros Eiland. Alyki Baai.

13 Julie 2014. Sondag.

Naxos tot Alyki Baai

Sangaand, hier kom ons, want ons is oppad na Alyki Baai (37° 59.795 N, 25° 07.960  O), 15.7 myl om te gaan.

Dis een van daardie dae wat niks gebeur nie. Dis nie vreeslik mooi nie, maar dis nie vreeslik lelik nie. Dis maar voortvaar, voortvaar en toe is ons daar. Ons is baie voortvarend.

Mooi is sy nie lelik nie?

Die een stuk klip lyk soos die ander. Eenders, eenders, nie baie anders.

Sinkgat en grot

Ons anker en swem en eet en die son sak sonder seromonie, sonder swier, sommer net so in die see.

Asters op anker
Archie en die asters

Toe gebeur die wonderwerk. Daar is belangstelling vir sangaand. Ons het so lank gelede sangaand gehou, ek weet nie eers meer hoe om die bal aan die rol te sit nie. Ons begin eers valserig, so effe van noot af. Die A-span kom die redding, want Archie en Annette kan mooi sing. En ons sing en geniet die gesingery. Klanke vul die baai in die aand.

Sangaand

Sunday, July 13, 2014

Naxos. Wat 'n verrassing!

12 Julie 2014. Saterdag.

Naousa Baai tot Naxos

Nuwe dag, nuwe eiland! Nog bar eilande, nog wit huisies, nog blou waters. Nee, ek kla nie, ek spog.

Ons is oppad na Naxos op Naxos Eiland (37° 06.273 N, 25° 22.478 O). Dit is 9.1 myl tot daar. Ek en Archie het ons vroegoggend stry oor diepte. Ek is een van daai mense wat dolfyne aanvoel en vlak water kan sien. Die vrouens sit maar net sooo en luister na ons gestry. Sê niks. Kant kies hulle nie. Staar net strak voor hulle uit.

Ons kom toe ongedeurd deur die vlak dele tussen die rots en die eiland en daar is weer vrede tussen die kaptein en sy onderdanige vroutjie. Naxos kom nader en die veerbote vaar naby ons verby, heen en weer. Met reuse deinings wat hul spoor aandui.

Naby Naxos

Ons word eers in 'n wipperige voorlopige deel van die marina ingeprop, waar daar geen plek vir ankergooi is nie, behalwe bo-oor die buurman se anker. So, ek gooi anker bo-oor syne. En ons maak vas en wag dat daar  'n plek oopgaan in die marina.

Die buurman word geroep. Hy het 'n plek gekry. Onthou, ons anker is bo-oor hulle s' n. Maar buurman maak 'n plan.

Hy gooi 'n tou vir Archie en hulle maak die twee jagte se voorpunte aanmekaar vas. Hulle anker het 'n tou en nie 'n ketting nie en hulle maak dit los, gee dit vir Archie aan en hy sit dit onderdeur en dan bo-oor ons ketting voordat hy dit teruggee. En siedaar, nou is hulle anker bo-oor ons s'n. Hulle trek sonder probleme weg.

Buurman gooi tou vir Archie
Tou word teruggegooi
Ankertou onderdeur en bo-oor

Nie lank daarna nie, word ons geroep, ons het 'n plek! Die vreugde, die vreugde!

Ons verwag nie veel van Naxos nie, maar wat 'n verrassing! Dis amper beter as Mykonos. Daar is nie so baie toeriste nie, maar die plek is interessant en vol atmosfeer.

Naxos

Ons loop rond en besien al die besienswaardighede.

Boog en trappe
Rooms Katolieke kerk
Arch
Oudorp
Grieks Ortodokse kerk
Kapel
Uitsig oor baai
Tempel van Appollo

Ons geniet ons verblyf in Naxos terdeë.

Nog 'n dag is verby

Saturday, July 12, 2014

Paros. Naousa Baai.

11 Julie 2014. Vrydag.

Mykonos tot Naousa Baai

Ons is alweer oppad. Ons is altyd oppad. Ons laat altyd plekke agter en soek na nuwe plekke. Ons swerf, waarheen, waarna?

Vandag vaar ons na Naousa Baai op Paros Eiland (37° 08.662 N, 25° 13.670 O), 21.4 myl. Meltemi waai teen Maja se snoet vas. Net liggies en ons vaar die hele pad.

Ligtoring by Naousa Baai

Ons sien een enkele eensame dolfyn en fynkam die waters vir nog, maar niks. Ons vaar maar net, vorentoe na ons volgende bestemming. Ons nader Paros en vaar in die groot baai. Daar is baie ankerplek en na ek en Archie se gestry oor waar die beste plek is, gooi ons die anker en ons is vas.

Daar is nog baie plek
Naousa Baai

Dis warm, die water lok ons in en ons swem in die helder blou-groen. Die aand daal neer oor die baai. Dis amper volmaan en die wit ronde bal hang in die lug.

My hartjie, my liefie, die son sak weg ...
My hartjie, my liefie, die maan kom op ...

Meltemi begin later te waai en die vreedsaamheid van die baai verander in 'n geraas. Ons stel die "ankersleep-alarm" en toe voel ek gerus en gaan slaap. Die alarm sal lui as die anker begin sleep.

Die geruk en gepluk en geraas van Meltemi maak my 01:10 wakker en slaap is vir die res van die nag nie vir my beskore nie. Later word Elize wakker en hou saam nagwaak. Ons is my ma se dogters van die donker. Skielik begin die ankersleep-alarm skreeuend te lui en almal is grootoog wakker. Archie kyk en die anker lyk nog goed. Maja se posisie was net vir 'n oomblik buite die toegelate beweegsirkel.

Almal gaan slaap toe weer behalwe ek. Al die geluide van die wind hou my wakker, al weet ek die anker is veilig.

Die volgende dag voel ek soos 'n uitgewasde lap.

Thursday, July 10, 2014

Mykonos. Skitterwit.

10 Julie 2014. Donderdag.

Vakansiemekka? Inderdaad!

"Little Venice"

Mykonos is witter as wit. Dis skitterwit. Dis spierwit. Dis 'n tipiese wit Griekse eilanddorpie. Die kerke is wit, die huise is wit, die alles is wit. Met 'n titsel ligblou en donkerblou en seegroen, titsels van alle kleure.

Wit trappe op
Wit trappe af
Windmeule
Een wit windmeul
Paraportiani kerk

Dit wemel van mense, meestal bronsgebrande lywe. Almal sensueel natgesweet van die hitte van 'n skroeiende son.

Ons drink 'n frappe (tipe yskoffie) en 'n kataifi (soort baklava) op 'n piepklein balkon. Die koffie is te bitter en die kataifi is te soet.

Ons wag vir ons frappe
Doedies

Mykonos is verseker 'n besoek werd.

"Lady in white"