Friday, July 4, 2014

Sounio. Nooiensvaart.

3 Julie 2014. Donderdag.

Athene tot Sounio Baai

Ons begin vandag te vaar. Weg van Athene, na nuwe weivelde. Dis die vrouens se nooiensvaart, veral Annette, wat nog nooit geseil het nie.
Maja word versigtig-onseker deur die vrouens beman. Die kaptein gee die bevel en weg is ons.

Nooiensvaart

Ons vaar al langs die hoofland, sonder wind, met wind, sonder seil, met seile. Die vrouens leer tot om te reef. Alles in een dag. Hoe later, hoe kwater, en Gus waai laat dit bars. Ons trek later die seil in en vaar tot by ons baai, Sounio (37⁰ 39.317 N, 24⁰ 01.230 O), 26.3 myl. Die vrouens is opgewonde oor hulle eerste anker van die seisoen.

Die boek sê jy moet seker maak die anker byt, want dit is "bad holding". Ek gooi daai anker en Archie tru en dit byt goed. Gus waai en ruk en pluk.

Oostekant van Sounio Baai
Noordekant

Bo-op die berg staan die oorblyfsels van die Tempel van Poseidon. Te pragtig. Dis waar die moeilikheid toe begin.

Tempel van Poseidon

Elize en Annette wil land toe gaan om dit te gaan bekyk. Hulle wil soontoe roei. Nie so goeie idee nie, nie in dié wind nie. Ons kry die roeispane en Archie kry Dinkie gereed. En Gus waai, diepsee se kant toe. Met moeite kom Elize in Dinkie. Sy wil nog sit, toe sit sy al. Gelukkig binne-in Dinkie. Daarna klim Annette in. En Gus waai, diepsee se kant toe. 

... toe sit sy al

Toe begin die tweetjies te roei of iets. Daar is geen sinkronisaie in die roei nie en hulle gaan beslis nie land toe nie. En die wind, diepsee se kant toe!  Woerts, weg is hulle. Gus vat hulle diepsee se kant toe. Ek en Archie skree hard en benoud: "Roei!!!!" Hulle "roei" agtertoe, nie vorentoe nie. Hulle dryf al verder en verder weg. Hulle word kleiner en kleiner.

Die Switser langsaan begin met sy paddavoete na hulle toe te swem. Archie duik ook in. Die Switser kry vir Dinkie in die hande en begin met hulle terug te swem. Archie kom ook by Dinkie uit en die twee manne swem die benoude vrouens terug na Maja toe. Roei is nie hulle sterkpunt nie.

Lewensredders oppad
Reddingsaksie

Die vrouens lewer heerlike kykgenot vir al die geankerde mense in die baai.

Die Switsers vertrek later en vaar by ons verby. Ons groet en so in die wegvaar, lag daai Switserse kinders hulle 'n papie. Natuurlik vir Elize en Annette!

Die vrouens lewer hul volgende kykgenot vir die aand. Dis hulle kookbeurt. Van kosmaak weet hulle niks en hulle het net linkerhande. Dis stoof aansteek, soek na alles, groente sny. Ek, as befaamde kok, kyk die besigheid maar net so uit.

Kook en geniet

Die kos smaak toe wonder bo wonder vorentoe!

Die kos is heerlik

Thursday, July 3, 2014

Antieke Athene

30 Junie tot 2 Julie 2014.

Dele van Athene is oeroud. Die geskiedenis kom van die Bybelse tyd af. Ons stap en kyk na al die ou goed. Ek wens net daar was meer goed wat heel is.

Hier volg  'n fotobeeld van antieke Athene.

Hadrian's Arch
Temple of Olypian Zeus
Kerk
Temple of Hephaestus
Changing of the guards
Opskop
Ek en my lyfwag
Akropolis - Herodium
Akropolis - Temple of Athens
Akropolis - Temple of Athens
Akropolis - Parthenon
Uitsig oor die stad
Mandjiewinkel
Vleismark
Vismark - Salmon
Olywe te kies en te keur
Skatte vir Leon en Dirk
Nog skatte vir Leon



Wednesday, July 2, 2014

Athene. Adam en die susters van Eva.

29 Junie 2014. Sondag.

Geluk met jou verjaarsdag, Michelle.

Athene is sweetwarm. Maja is broeiend, kokend warm.



30 Junie 2014. Maandag.

Die susters van Eva daag by die stasie op. Hulle rugsakke weeg 'n ton. Arme ou Archie moet help dra.

... en dit is as hulle lig reis!

Ons stap na Maja en hulle gaan aan boord. Elize ken al die plank en sy loop ligvoets oor. Annette loop maar versigtig. Die plank lyk seker nie vir haar so stewig nie.

Elize en Annette
Elize stap ligvoets oor ...

... en dan Annette
Ons ontspan so 'n rukkie saam en toe gaan ons almal stasie toe, ek en Archie gaan voorrade koop en Elize en Annette sien kans vir die stad.
Hulle kom net betyds terug vir aandete, seker maar honger. Hulle verras ons met hemde vir ons almal. Dit het 'n foto van Maja op en 'n unieke spreuk vir elkeen.  Baie oorspronklik.

Ons klink 'n glasie en dis lekker om hulle hier te hê. Ou Archie is nou die haan onder die henne, Adam tussen die susters van Eva.

Spog met nuwe hemde

Sunday, June 29, 2014

Athene.

27 Junie 2014. Vrydag.

Aegina tot Athene

Dis vir my 'n anti-klimaks om, na al die pragtige eilande, die vervelige pad na Athene te vat. Dis mistig en deinserig en die lug en water is besoedel. Ek dink my denke en my doen is ook besoedel. My kop en lyf het 'n behoefte aan vry kom. My gemoed is net so troebel soos die water.

Aegina visserman
Haastig oppad na Athene

Die stad kom al nader en dit lyk na 'n oerwoud van beton. Die landmerk van ons marina is die Olimpiese Stadion. Ons kry ons vasmeerplek en die marinaspan is baie hulpvaardig en vas is ons.

Oerwoud van beton
Olimpiese Stadion

Saterdagoggend verlaat Dirk en Rika ons en ek en Archie laai 'n baie groot bondel wasgoed in 'n groot rugsak en klim die trein dorp toe. Ons was die bondel silwerskoon by die Laundromat. Alles moet douvars en skoon wees vir my suster, Elize en haar vriendin, Annette wat Maandag by ons aansluit.

Rugsak vol wasgoed

Ons gaan ons dae in Athene gebruik om die stad te verken, te rus en op Maja te sit en sweet.













Saturday, June 28, 2014

Aegina.


25 Junie 2014. Donderdag.

Korfos tot Aegina

Ons nader die einde met ons gaste. Ons moet hulle in Athene aflaai.

Van Korfos vat ons die 16 myl pad na Aegina (37° 44.693 N, 23° 25.702  O). Dit begin as 'n stil dag en later verander die plat see na deinings en wind. Die laaste stuk see is maar lekker rof. Gelukkig hou die gaste baie van rowwe see, so hulle geniet die rit.

Aegina

Ons kom in die hawe van Aegina, maar dit lyk vol. Ons sien 'n oop spasie, Archie tru in en ek gooi anker. Archie skree vir my om op te trek, want die plek waar ons wil vasmeer, is 'n "no mooring" plek. (Later meer daar twee bote in die verbode plek vas).

Ons kry, danksy Archie se "uit die boks kyk en dink", 'n snaakse vasmeerplek, so aan die punt van 'n kaai. Almal neem posisies in, en ons gooi anker. Die wind waai kwaai en Dirk sukkel om Maja vas te kry. Archie skree die opdrag om maar weer die anker op te trek. En ek maak toe maar so. Maar, o wee, die anker haak vas aan 'n moerse ketting en Archie moet die saak kom red. Ek skuif agter die helm in en Archie kry 'n tou en hou die ketting op sodat die anker kan vry val. Gelukkig kom die anker los en ek gooi weer. Dieselfde posisie, maar net linkser.
Dirk is reeds op die kaai en die keer is dit suksesvol en Maja is vas.

Die hawe is soos 'n sirkus, die bote stroom in en soek plek en kry plek. Later kom 'n ander seiljag langs ons in en later nog een. Ons was toe drie seiljagte langs mekaar op een plek. Die mense op die boot aan ons stuurboord kant, moet oor Maja klim om op land te kom.

Archie aan die werk

Ek en Archie gaan loop in die dorpie rond. Dis 'n mooi plek en ons geniet dit hier.

Dorp se kerk
Kerk kunswerk
St Nikolas kerkie

Ons sien ook ons Duitse vriende, Joerg en Silvelie en gesels 'n bietjie. Ons drentel terug na Maja.

Thursday, June 26, 2014

Peloponnisos. Kanaal van Korinte. Korfos.

25 Junie 2014. Woensdag.

Korinte tot Korfos

Ons sou twee dae in Korinte gebly het, maar na die sweterige nag,  as gevolg vir die vrees vir 'n potensiële rotplaag en  builepes, besluit ons dat ons gaan ry. Ons maak inderhaas klaar en begin alles gereed kry om deur die Kanaal van Korinte te gaan. Opgewondenheid is aan die orde van die dag.

Ons vaar na die begin van die kanaal. Archie roep op die radio, kanaal 11, en die man sê ons moet wag. Ons is vier bote wat wag om deur te gaan. Ons dobber daar rond en wag. Die man op radio roep eers vir Pelekan, daarna die volgende boot en dan ons. Ek is so opgewonde, die seiljagte begin een vir een beweeg. Ons is in die kanaal.

Die ongeduldige man op die radio sê vir al die seiljagte: "Increase Speed!" En Archie trap daai petrol en ons vaar vir die vale - 'n volle 6 knope.

Die kanaal is 3.2 myl lank, 25 m wyd, 6.5 m waterdiepte en die walle 79 m hoog op hulle hoogste punt. Die Romeinse keiser, Nero, was die eerste om te begin grou aan die kanaal, maar hy het nie ver gevorder nie. Uiteindelik, in 1893, is dit deur die Griekse regering klaargemaak. Die hydroliese padbrûe, aan die begin en einde van die kanaal, word laat sak dan vaar die bote oor. As al die bote verby is, verskyn die brug weer uit die water en word 'n motorbrug.

Brug verskyn uit die niet

Daar is ook twee padbrûe en 'n treinbrug wat dit op die diepste punt kruis.

Ander brûe

Ons jaag in die indrukwekkende kanaal af, Archie konsentreer agter die helm. Ons neem meer foto's as my suster, Elize.

Kaptein konsentreer
Hoë kranse
Jag nr. 4 
Indrukwekkend
Einde van kanaal

Die einde van die kanaal kom in sig en ons maak gereed vir vasmeer om te gaan betaal. Dis "alongside" en gelukkig is daar 'n man op die kaai wat die tou vang. Maklik en vinnig. Arch sit af na die betaalpunt, en dok die höe bedrag op en ons vaar verder, na Korfos (37° 45.900 N, 23° 07,557 O), 21.3 myl.

Ons maak vas by 'n taverna se vasmeerplek, want Dirk en Rika neem ons vanaand uit vir die dankie-sê-ete. Die eienaar staan gereed met die tou en ek laat eers die vasmeertou val en die man gee dit geduldig weer aan. Daar is geen wind nie, so dis geen probleem nie. Ons meer weer maklik en vinnig vas.

Ons tafel is vir 20:00 bespreek. Ek en Archie bestel 'n baie spesiale vissop en Dirk en Rika bly by die tradisionele Griekse kos en eet mousaka. Die kos is heerlik en besonders. 'n Goeie afsluiting vir twee weke se seil saam met Dirk en Rika.

Vissop se vis
Ons eet op Maja se voorstoep

Oor twee dae is ons in Athene.