Monday, June 23, 2014

Daskalio Eiland. Anker.

23 Junie 2014. Maandag.

Ioannou Baai tot Daskalio Eiland

Na 'n heerlike nagrus vertrek ons eers 10:00 na Daskalio Eiland (38° 07.105 N, 22° 59.213 O). Dis 'n baie kort dag, net 6 myl.

Bar en droog
Droog en bar

Gus waai liggies en ons span die seile en seil rustig na ons bestemming. Te gou is ons daar en die omgewing betower ons. Ons gooi anker en ons het 'n 360⁰ uitsig. Ek en Archie klim in Dinkie en roei land toe. Die baai is baie mooi van bo af. Ons kyk en kyk en waardeer en verstom ons aan die mooi.

Baai vanuit bouvallige villa
Maja en my man

Ons roei na die ander klein eiland toe en kyk en kyk weer en waardeer en verstom ons weer aan die mooi. Maja lê daar ver op anker. Seemeeue vlieg rond en skree en gil en raas. Die eiland is hulle broeiplek.

Pragbaai met Daskalio Eiland agter
Seemeeue in vlug
Jong meeue

Toe is dit Dirk en Rika se beurt om die mooi te gaan sien. Ek en Archie koel af in die water. Dit word warm hier in Griekeland.

Kleurvolle fynbos

Die vreedsaamheid van hierdie ankerplek word geniet en waardeer.


Ioannou Baai. Anker.

22 Junie 2014. Sondag.

Vereses Baai to Ioannou Baai

Ons verlaat die ontstuimige Vereses op soek na die stiller waters van Ioannou Baai (38° 12.783 N, 22° 58.001 O), 23.3 myl verder in die Golf van Korinte.

Vroegoggend, 'n stiller Vereses

Ons vaar die hele dag. Dis net prrr-prrr die hele dag deur. Ons vaar verby maanlandskappe. Die wêreld word droër en bar hier (Leon sê ek en Dirk is bar as ons saam is). Die plantegroei is aansienlik minder en die groen is weg. Dis vir my mooi.

Bergagtig
Tsarouchi Eiland
Mooi landskap

Ons kom by die ankerplek aan en die baai is klein. Dis een van daai baaie waar ons 'n tou land toe moet vat.

Interessante rotsformasie by ankerplek

Ons soek plek en strategie word bespreek. Wie doen wat. Met ons vorige kuiergaste was Dirk Luus die swemmer en ons besluit ons hou by die Dirke en Dirk Grobler moet nou land toe swem. Archie tru, ek gooi anker en Dirk staan gereed. Rika staan vir kwaadgeld rond.

Gewapen met die tou en die ketting duik Dirk in die water en daar trek hy. Soos 'n vis in die water. Die klippe is skerp en dis 'n moeilike taak om die regte klip te kry om die landlyn aan vas te maak. Na beenbeserings is die tou vas en Maja is veilig. Archie swem met die ander tou in, maar helaas, hy swem vir die tou weg en moet omdraai, die tou kry en weer swem. Hy maak vas en toe is Maja aan albei kante vas en veilig.

Dirk maak vas

Die water is heerlik en ons koel ons warm lywe af in die blou water. Dis regtig stille waters en ons geniet die ankerplek, sonder Gus wat waai.

Saturday, June 21, 2014

Vereses Baai. Windbaai.

21 Junie 2014. Saterdag.


Galaxidi tot Vereses Baai

Ons is nou uitgekuier in Galaxidi. Vandag seil ons na Vereses Baai (38° 19.518 N, 22° 35.335 O), 16.8 myl. Ons Duitste bure vertrek ook vandag. Ons groet hulle op die waters. Ons paaie loop uitmekaar, soos dit maar met seilers gaan. Altyd koebaai.

Galaxidi
Oggendskoot - St Georgios Eiland
Auf wierdersehen Joerg en Silvelie

Eers vaar ons, toe seil ons en toe is dit weer motor aan om te vaar. Die deinings word bietjie groter. Bo-op elke deining ry daar 'n klomp astrante klein deiningtjies saam. Ek wonder waar kry die deinings al hulle rol vandaan. Word hulle nooit moeg van die alewige gerol nie?

Dirk en Rika

Die baie mooi baai waarheen ons gaan, het sulke lewendige water. Dit woel en wriemel. Dit voorspel net een ding - dis Gus se speelplek.

Antikyron Baai

Ons gooi anker, maar daai wind waai. Die berge maak bondels wind bymekaar en gooi dit met mening in die see af. Bo-op Maja en swaai haar rond.

Tsarouchi Eiland
Vereses Baai

Ek is nie lus vir die ewige wind nie en vervies my sommer vir Gus. Archie, Dirk en Rika is so ewe tevrede met die omstandighede. Dit lyk my nie wind pla hulle nie. Dit waai so erg dat Dirk en Rika besluit hulle sien nie kans om met Dinkie land toe te gaan nie.

Die gewaai hou net aan en aan. Later kom nog 'n arme drommel ankerplek soek. In my enigheid wonder ek of die kaptein van sy kop af is om so 'n ankerplek uit te soek!

Almal is besig met sy eie ding.

Toe besluit ek om vir Archie en Gus 'n ding te wys. Gus waai ons hot en haar, van bakboord tot stuurboord, eers die kant toe en dan daai kant toe. En Archie verbied my mos om te sing as ek musiek luister. Ek sing kwansuis te lelik.

Ek kry my vriendin, Riana, se Walkman en verban Gus uit my ore en gaan staan op Maja se snoet. Gus waai 25 knope en ek hou die genoa se paal styf vas. En toe sing ek uit volle bors saam met die musiek. Ek gee my oor, laat gaan en ervaar die wind in my gesig, oor my lyf, met Maja wat trillend deur Gus rondgeslinger word. Ek is nie wie ek is nie. Ek weet nie wie ek is nie. Dis net ek, Maja en Gus. Dit was so bevrydend!

Soms, as jy nie van iets hou nie, kyk verby dit, gebruik dit en verander na iets wat jy jou eie kan maak en geniet dit.

Toe dans ek en my man agter op die dek.


Galaxidi. Besluitneming.

21 Junie 2014. Vrydag.

Die vraag is: Bly of gly?

Besluitneming is een van die moeilikste dinge vir 'n kaptein. Jy moet kyk na die weervoorspellings. En hulle voorspel almal verskillend. Vir wie glo jy nou eintlik? (Ek glo eintlik vir Poseidon). Jy luister na wat ander kapteins sê. Jy gaan hoor wat die hawepolisie te sê het. Dan, met al hierdie inligting in die arme kaptein se kop, moet hy die besluit maak. Vaar ons of bly ons?

Dit is die besluit wat Archie vandag moet maak. Die buurman, Joerg die Duitser, deel ons mee dat die winde vandag gaan waai en daar is moonlikheid van storms. Ons sit af na die hawepolisie en gaan vra húlle weervoorspelling. Daar is Beaufortskaal 5 en 6 winde. Nou moet ou Arch 'n besluit vir Maja en haar bemanning.

Archie besluit ons bly nog 'n dag in Galaxidi om te skuil vir die winde. Toe skuil ons maar.

Dirk neem ons uit vir middagete en ons eet souvlaki met pitabrood. Lekker! Die res van die dag spandeer ons rustig in Galaxidi.

Souvlaki-pita en bier - koningskos

Dié middag kom daar 'n seiljag in die baai aan. Wat 'n gesig! Ons kyk met afgryse en skok na die jag. Die arme vier mense anker in die baai. Die genoa (voorseil) is al wapperende, aan flarde. Die hoofseil is geskeur. Wat sou gebeur het? Hulle trek die stukkende genoa af en trek die hoofseil in. Hulle kry alles reg op hul boot en toe kom hulle die hawe binne.

Genoa aan flarde, hoofseil geskeur
Red wat daar te redde is

Archie en Dirk help hulle om vas te meer. Hulle het niks gepraat nie, Archie sê hulle het gedreineer gelyk, baie moeg.

As jy op die see begewe, moet jy seker maak dat jy alles in jou vermöe gedoen het om jou en jou bemanning se veiligheid te verseker. Lees die boek. Kyk na gevare wat hulle noem. Kyk na  verskillende weervoorspellings. Dan maak jy jou besluit.

Met seil is my raad vir almal: Liewers bangjan as dooiejan. Eerder versigtig as waaghalsig. Liewers te vroeg die seile reef as te laat. Luister na jou paranoiese vrou en glo haar intuïsie.

Die aand nooi die Duitsers, Joerg en Silvelie, ons vir 'n glasie wyn. Dit word 'n heerlike aand. Joerg het baie ervaring en ek en Archie hang aan sy lippe. Hy en sy vrou is voorwaar baie besonderse mense.

Gelukkig het ons kaptein vandag die regte besluit gemaak.



Friday, June 20, 2014

Delfi. Die middelpunt van die aarde

19 Junie 2014. Donderdag.

Vandag gaan ons terug na die verlede. Ons klim die bus na Delfi en die roete neem ons kronkel-kronkel, deur die mooiste en grootste olyfboorde wat ons nog in Griekeland gesien het. Ver onderkant, aan die voet van die berge, lê Itea langs die Golf van Korinte.

Groot olyfboorde
Itea en die Golf van Korinte

Delfi is 'n heilige plek van aanbidding vir die antieke Grieke. Daar was geglo dat dit die bymekaarkomplek van die hemel en die aarde was, en dus die middelpunt van die aarde. Dit was die blyplek van die god, Apollo, seun van Zeus. Hier kon die Antieke Grieke heilige advies kry van die orakel, Pythia.

Atlete van oral in Griekeland het elke vierde jaar aan 'n soort Olimpiese spele in Delfi deelgeneem.

Stadion. Die lengte van die baan was een Pythian stadia (178.35 m) 

Die landskap rondom Delfi is baie besonders. Dis gebou op die hange van die berg Parnassos, wat uitkyk op die Golf van Korinte. Dit word omring deur höe berge wat wag hou oor die heilige plek.

Uitsig oor die berge
Rika en Dirk

Dit was bewoon sedert die 14de eeu v.C. Die stad is baie dikwels vernietig. Die finale nekslag is toegedien deur die Romeinse Keiser, Nero, wat toe al die stad se skatte na Rome verplaas het. So ou skelm!

Die stad is permanent gesluit in 329 n.C., toe antieke godsdiens verbied is.

Skatkamer van die Atheners
Amfiteater


Potte vir Leon en Dirkie
Doriese kolomme en muur
Arch en ek

Ons stap rond en my gedagtes dwaal terug na jare gelede. Dis so lank terug en so baie mense het daarna nog geleef op hierdie aarde van ons. Dan word my eie lewe net 'n onbenullige spikkel in die groot heelal. Onbelangrik in verloop van tyd, maar so belangrik in die hier en nou.

Amen.

Thursday, June 19, 2014

Galaxidi. Gekruisde lyne.

18 Junie 2014. Woensdag.

Panormou Baai tot Galaxidi

Vandag kry ons koers na Galaxidi (38° 22.600 N, 22° 23.263 O), 11.5 myl tot daar. Ons vaar en vaar sonder seil. Gus lê alweer. Oppad is daar visplase en eensame vissermanne wat probeer om hul daaglikse brood te vang.

Oggendskoot - Eensame visserman

Die water is vlak en ou Arch vaar versigtig. Ons ken van strand en is nie lus daarvoor nie. Ons vaar van aanwyspunt tot aanwyspunt om stranding te voorkom en na drie ure kom ons daar aan.

Galaxidi

Die baai lyk goed en 'n effe oorgroot man met 'n blou hemp wys ons die plek. Ek begin ankergooi - 30 m, 40 m, toe 50 m en die ketting is klaar en ons gaan oor op die ankertou. Laat ek nou eers verduidelik - Archie het nou die dag die ankerketting, wat 50 m lank is, verleng deur 10 m tou aan te las vir tye van nood. Die katrol is nie ontwerp vir tou nie, so die tou gly vry oor die katrol af. So sonder beheer. Ek sien hoe die ketting verander na tou en hier gaan dit.

Met groot oë kyk die ek die verdwynende tou agterna en ek doen wat ek goed kan doen. Ek roep Archie se naam. Nie dat ek dink hy kan help nie. Net omdat ek krag kry deur sy naam te roep. Nou moet ek die tou gryp voordat dit heeltemal afgerol het en dit om die "cleat" draai sodat ek dit beheersd kan laat sak. Ek is op my eie. Archie konsentreer aan die agterkant van die boot. Ek kry die tou in die hande, draai dit om die "cleat" en skielik het ek beheer. Die ankertou maak dit net. Die tou is op en Maja is teen die kaai.

Ons almal slaak 'n sug van verligting. Dirk en Rika maak toue vas en ons drink ons "cold beverages". Ons sit suip toe nog so, toe die boot langs ons vertrek. Hy trek sy ketting op en hy sukkel. Toe sien ons dit. Ons ankertou beweeg verraderlik. Dit beteken net een ding - hy het ons anker beet. Ons het ons anker oor syne gegooi, want sy anker is windskeef, terwyl ons anker reguit en korrek is.

Hy tel ons ketting met sy anker op en ons anker word versteur. Effe Oorgroot sê alles is reg, maar ek en my kaptein is nie teverde nie. Archie trek die ankertou in en dit voel of die anker wel weer byt, maar Maja lê nou windskeef. Ons vermoed dat òf die anker het geskuif òf die ketting is baie skeef getrek. Om Maja en die ankerketting weer in lyn te kry, verskuif ons die agtertoue na die volgende vasmeerplek. Na vele meer verstellings, ankerketting trekkings, staan en wonder, bekyk en bespreek, is ons versigtig-tevrede. Ek is baie gesteld op my anker en ek is sommer omgekrap.

Ons gaan stap in die dorp rond en kyk na die kerk en ander geboue. Galaxidi is 'n gesellige dorpie.

St Nikolaos kerk
Dak- en deurpatrone
Uitsig oor die baai
St Georgios Rots

Dirk en Rika gaan swem en doen beserings op. Hulle trap op goeters in die water wat 'n kruis is tussen 'n see-anemoon en 'n dubbeltjie. Hulle voete is vol van die goed en Dirk kry 'n naald en haal dit uit haar voete. Ek hoor net kort-kort "eina". Die dorings breek af en die voete is nou vol pleisters.

Dokter Dirk
Koffietyd op die kaai

Vir aandete smul ons aan Franse rooirys met sampioene, uie, knoffel en Parmasan kaas en dit is heerlik.

Wednesday, June 18, 2014

Panormou Baai. Moeg.

17 Junie 2014. Dinsdag.

Trizonia tot Panormou Baai

Ons vertrek van ons "along side" posisie. Die Hollander is oral, gee raad en bevele. Is hy dan ons kaptein? Ek luister net (gewoonlik na 'n bietjie teepraat) na my kaptein, Archie. Die Hollander én al sy travante kan gaan vlieg. Hulle laat my onbevoeg en onvergenoegd voel. En maak nog boonop die katwyf in my wakker.

Ek wil net seil en vaar en anker en sukkel en stres, saam met mense waarvoor ek lief is. Ek verlang na my familie.

Oggendskoot - Verlange

Ons span die seile en Archie sê met genoegdoening: "Dis 'n goeie dag." Die seil wit in die lug, die water spliesh-splash verby Maja se snoet. Dit bring kalmte vir my siel. Dis net 10.5 myl na Panormou (38° 21.619N, 22° 14.696 O) waar ons gaan anker. Ons gooi anker en ek en Archie gaan aan land met Dinkie.

Ons stap langs die strand na hulle klein hawe, maar Maja sal nie hierin kan pas nie, heeltemal te klein.

Klein hawe

Ons stap rond en kom op twee dames af met 'n ou Citroen.  Dit het 'n sondak en sy gebruik dit hoofsaaklik om haar honde rond te ry. Daar is gelukkig geen honde in sig nie, en sy beduie ons kan inklim vir 'n foto. Sy neem 'n  windskeef foto.  Die een vrou is Vlaams en die ander een Belgies en ons praat Afrikaans.

Citroen en dames
Windgat, maar windskeef

Terug by Maja, is dit Dirk en Rika se beurt om die dorp en omgewing te verken en hulle klim oorgretig in Dinkie en daar trek hulle. Hulle stap heerlik rond en bring vir ons lemoene en suurlemoene saam wat 'n vriendelike Griekse weldoener vir hulle gegee het. Dirk eet die lemoen dat die sop spat. Dis heerlike, sappige lemoene.

Die wind bedaar saam met die aand wat daal. Ek voel lewensmoeg en Arch bietjie loopneuserig en hy gaan slaap 20:00, terwyl dit nog daglig is en ek 20:30 terwyl dit nog steeds daglig is. Elke aand se 23:30 se gaan slaap, raak te veel vir 'n pensioenaris en sy ou vroutjie.

Dirk en Rika geniet die Griekse seilvakansie vreeslik en koop die tyd uit. Hulle geniet die skemeraand op die dek.