Die vraag is: Bly of gly?
Besluitneming is een van die moeilikste dinge vir 'n kaptein. Jy moet kyk na die weervoorspellings. En hulle voorspel almal verskillend. Vir wie glo jy nou eintlik? (Ek glo eintlik vir Poseidon). Jy luister na wat ander kapteins sê. Jy gaan hoor wat die hawepolisie te sê het. Dan, met al hierdie inligting in die arme kaptein se kop, moet hy die besluit maak. Vaar ons of bly ons?
Dit is die besluit wat Archie vandag moet maak. Die buurman, Joerg die Duitser, deel ons mee dat die winde vandag gaan waai en daar is moonlikheid van storms. Ons sit af na die hawepolisie en gaan vra húlle weervoorspelling. Daar is Beaufortskaal 5 en 6 winde. Nou moet ou Arch 'n besluit vir Maja en haar bemanning.
Archie besluit ons bly nog 'n dag in Galaxidi om te skuil vir die winde. Toe skuil ons maar.
Dirk neem ons uit vir middagete en ons eet souvlaki met pitabrood. Lekker! Die res van die dag spandeer ons rustig in Galaxidi.
Souvlaki-pita en bier - koningskos |
Dié middag kom daar 'n seiljag in die baai aan. Wat 'n gesig! Ons kyk met afgryse en skok na die jag. Die arme vier mense anker in die baai. Die genoa (voorseil) is al wapperende, aan flarde. Die hoofseil is geskeur. Wat sou gebeur het? Hulle trek die stukkende genoa af en trek die hoofseil in. Hulle kry alles reg op hul boot en toe kom hulle die hawe binne.
Genoa aan flarde, hoofseil geskeur |
Red wat daar te redde is |
Archie en Dirk help hulle om vas te meer. Hulle het niks gepraat nie, Archie sê hulle het gedreineer gelyk, baie moeg.
As jy op die see begewe, moet jy seker maak dat jy alles in jou vermöe gedoen het om jou en jou bemanning se veiligheid te verseker. Lees die boek. Kyk na gevare wat hulle noem. Kyk na verskillende weervoorspellings. Dan maak jy jou besluit.
Met seil is my raad vir almal: Liewers bangjan as dooiejan. Eerder versigtig as waaghalsig. Liewers te vroeg die seile reef as te laat. Luister na jou paranoiese vrou en glo haar intuïsie.
Die aand nooi die Duitsers, Joerg en Silvelie, ons vir 'n glasie wyn. Dit word 'n heerlike aand. Joerg het baie ervaring en ek en Archie hang aan sy lippe. Hy en sy vrou is voorwaar baie besonderse mense.
Gelukkig het ons kaptein vandag die regte besluit gemaak.