Saturday, May 3, 2014

Patra. Stort-eskapades.

3 Mei 2014. Saterdag.

Ons is mos sindelike mense, dus as daar stortgeriewe is, vat ons ons badgoedjies en handdoeke (Archie vergeet soms syne) en gaan stort. Dis net ons marina mense wat sleutels het van die ablusie geriewe. Ons sluit oop en iemand fluit "El Condor Pasa", van Simon and Garfunkel. Te pragtig! Dis 'n man wat sweerlik nie Engels kan lees nie, want hy stort in die vrouens se stort, nogal sonder om die deur toe te maak. Archie keer my voordat ek kan kyk.

Wel, as die man  die vroue se stort kan gebruik, kan ek seker maar  die manne se stort gebruik. Ons maak die deur toe, maar die slotterige ding is stukkend en kan glad nie sluit nie. Enige iemand kan net oopstoot en inkom. Daar is drie storte in die mansafdeling, maar sommer so langs mekaar, sonder deure of afskortings. Die mense in Europa het mos g'n skaamte nie. Mens stort tog nie met klere aan nie, so die klere waai. Ons neem posisies in, kry die sproeikop in die hand en draai die warm water oop. Toe gaan die deur oop.

Archie skree dat hy nie kan inkom nie. Te laat, hy is klaar in. Ek spring agter Archie in, stoot hom "full frontal" met 'n gilletjie as buffer voor my in en neem skuiling agter hom in. Die arme man vra verdwaas of dit dan nie die mansstort is nie. Arch sê dit is, maar daar is 'n man in die vrouens se stort. Ons lag aldrie effe verleë en hy gaan stort toe saam met die fluiter in die vrouestort. Ek stort toe soos 'n senuweeagtige vetgesmeerde blits, sommer so sonder om seep te smeer. Binne 'n ommesientjie is ek klaar. Ek laat my nie weer betrap nie. (Die hele besigheid laat my skielik aan die liedjie "Wys jou muis" dink, maar ek kan nie waag om dit te skryf nie, want my dogter, Michelle, sal aapstuipe kry)

Toe besluit ons maar ons gaan vandag na die baie heilige Grieks-Ortodokse Basilika van St Andrew kyk en ek bedek my skouers met my Mirelle-lap vir die geleentheid.

Basilika van St Andrew
Ek en my Mirelle-lap
Ingang

In 1908 is die bouwerk aan die kerk begin en dit is in 1974 voltooi. Dis die grootste kerk in Griekeland, en huisves die heilige liggaamsdele van St Andrew (sy pinkie en die top van sy skedel), asook 'n klein deel van die kruis waarmee hy gekruisig is. Die liggaamsdele word in 'n silwer gedoente bewaar.  Die binnekant van die kerk is gedekoreer met Bizantynse styl muurskilderye en mosaïek. Dit is vir my baie mooi.

Rusplek van die heilige liggaamsdele
Oorblyfsels van sy kruis
Hout kandelaar
Muurskilderye

Ons stap terug na Maja en bring die res van die middag lui-lekker deur met boeklees (ek) en nie-vermoeiende boottakies (Archie).

Aandete is Shitaki sampioene, wat ek in botter braai, en 'n fênsie slaai, bestaande uit drie groen blare, vier stukkies feta, drie olywe en vier wiggies tamatie. Archie eet brood daarby en ons rond dit af met glasie of wat Sangria.


Voor
Na


Friday, May 2, 2014

Patra. Papierwerk.

2 Mei 2014. Vrydag.

Archie is op 'n besigheidsbesoek na die doeane. Ek loop te stadig na sy smaak, dus ek word agterweë gelaat. Onthou, my knieë is mos moer toe.

So sit ek langbeen-alleen op die dek. Eet my pomelo en lemoen, in blokkies gesny, vir ontbyt. My vriendin, Riana, se Walkman speel in my ore en ek luister na my skoonsus, Ansu, se Tol en Tol musiek. (Ek wonder nog altyd oor die naam).

Langbeen-alleen

Ek proe die bitter-soet smaak van die pomelo op my tong en dit herinner my aan die lewe. Die son skyn op my vel. Gus waai nie, hy streel my wang net liggies, vriendelik.

Die musiek in my ore voer my na ver, vreemde plekke. Lig my op, hoër en hoër. Toe besef ek in ekstase en verwondering, ek is in ver, vreemde
plekke, weggevoer deur my kaptein-man, Archie! My oë word nat oor die wonder van die lewe. Ek stem saam met Archie: "Life is good!"

Dis stil op die kaai en in my hart. Die mense is elders. Die bote wieg ritmies saam met die musiek, liggies heen en weer en weer en weer...




Archie kom terug toe die oggend in middag verander, met goeie nuus. Na ure se gesukkel en 'n amperse boete van €1 000.00 en 'n betaling van €30, is Maja weer wettig in Griekse waters. Ons het die seilpermit. So, ons voornemende besoekers van Suid-Afrika, kan ontspan - julle kan kom saamseil!

Archie is op sy volgende missie - hy moet toestemming by die hawepolisie kry om verder te seil, die seilpermit laat stempel en 'n bemanningslys indien. Die son skyn, maar hy kom bewolk terug. Ons versekering is onvoldoende, hulle stempel NIE!

Nou moet hy vir Linda in Kroasië (waar hy die versekering uitgeneem het) bel, en sy sê hulle kan dit eers Maandag regmaak. Ons sal nie voor Maandag begin seil nie. Vir hom is dit baie erg, want hy jeuk om te begin seil. Ek bly nog alte lekker in Patra.

Archie sê: "Life is one big slog!" en hy bars my bubble!