Monday, September 2, 2013

Verlatenheid. Dag 128.

2 September 2013. Maandag.

Preveza tot Lourosrivier


Voor ons vandag ry, moet ons eers supermark toe. Ons voorrade is op en die winkels was gister toe hier op Preveza. Ons stap langs die kaai af, waar die vissersbote besig is om hulle nagvangs te verkoop. Ons koop vars prawns. Die meeste van hulle lewe nog!

Ons koop proviand, trek anker op en vertrek. Vandag gaan ons die Golf van Amvrakia verder verken. Ons is oppad na die Lourosrivier (39º 02.807 N, 20º 47.010 O) en dis maar net 10 myl verder.

Oggendskoot - Bewolk



Dis half mistig en bewolk. Ons vaar rustig in die Golf. Die ankerplek is so half in die middel van nêrens. Dan is die hoogtepunt om in die rivier op te vaar met Dinkie en die voëllewe te geniet.

Ankerplek



Ons gooi anker, maar die ellendige Gus waai. Ons sal wag dat hy gaan lê voordat ons met Dinkie ry. 17:30 besluit ons, of Gus nou waai of nie, ons moet nou rivier toe. Dinkie neem ons. Die rit rivier-op is eintlik niks besonders nie. Die voëls kruip seker weg, want hulle is nêrens te sien nie. Die visse spring darem.

Lourosrivier
Laaglande en berge



Maja staan ver en verlate in die middel van die see, stoksielalleen. Ons ry nog 'n ent met Dinkie. Gus waai nog steeds en ons ry teen die klein golfies om by Maja te kom.

Verlatenheid



Toe tref die "magic" ons. Ons drink 'n glasie wyn op die dek. Ons is alleen. Die visse spring met sierlike boë uit die water uit. Hulle trek meters deur die lug.

Aandskoot



Ons maak die prawns gaar. Dis heerlik om sulke kos te eet, vars uit die see.

Vars uit die see



Verlate. Eensaam en alleen. Dis net ons, ek en my man. Gus het gaan lê, die aand daal oor ons neer. Daar in die vergesig, is liggies wat dofweg blink, wat ons herinner dat daar nog mense op die planeet is. Erens is daar beskawing, mense; nog lewe. Die see is net ons  s'n. Ons maak die golf ons eie.

Tranquility


Geluk lê in eenvoud.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Preveza. Dag 127.

1 September 2013. Sondag.

Lygia tot Preveza


Dis lentedag, ek bedoel herfsdag. Ons verlaat die vissersdorp versigtig. Hier is baie versteekte rotse onder die water. Ek staan voor op die dek (die boek sê "put someone up front to con the way in"). Toe  is ek "up front to con the way out".

Ons gaan uit sonder stampe of stote en vat die pad na Preveza (38º 57.483 N, 20º 45.312 O), in die Golf van Amvrakia, 18 myl  verder.

Oggendskoot - Digby Preveza



Die see is stil, Gus lê en ons vaar geduldig saam met Maja tot by die kanaal waardeur jy moet vaar. Jy moet ook op Radiokanaal 12 die hawemeester roep en sy toestemming vra om die kanaal te gebruik. Gelukkig sê hy ja! Daar is vlak plekke, daarom moet jy tussen vier stelle bakens vaar.

Preveza



Ons kom by die dorpskaai aan. Ek gooi anker en Archie tru. 'n Buurman kom vat die toue op die kaai en maak vas. So maklik.

Dorpskaai



Dis nie 'n mooi dorp nie. Dis Sondag en ons stap deur die dorp. Hierdie is 'n spookdorp, alles is toe en niemand is op straat nie. Later sien ons darem nog vier mense. Ons gaan maar terug na Maja.

Kloktoring



Ons word vroeg (17:00) honger, maar die restaurante is toe. Stadig begin die dorp ontwaak. Die restauranteienaars maak oop, mense begin rondstap. Waar almal vandaan kom, weet nugter, maar toe dit donker word, is daar nie genoeg plek op die waterfront om te loop nie. Preveza is alles behalwe 'n spookdorp.

Ons eet heerlik, ek eet kalamari en Archie 'n seekat-arm.

Ek hou van Preveza. Die plek groei op mens.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Saturday, August 31, 2013

Lygia. Dag 126

31 Augustus 2013. Saterdag.


Gaios tot Lygia


Die motorbattery is pap! Die twee huisbatterye is nie veel sterker nie! 

Ons was te lank op anker, op plekke waar daar nie krag was nie. Ons het te lekker geseil en die motor het nie geloop om die batterye te laai nie.

Archie is, naas my pa, die slimste man wat ek ken. Hy sal 'n plan maak. Hy koppel al drie batterye aanmekaar, met die wasmasjienkabel wat hy op Ston se vullishoop gekry het. Fanie sal dit goed onthou.
Die spanning loop hoog. Die batterye is baie pap! Ons kyk vir mekaar en Archie druk die aansitterknop en ek hou duimvas. Maja sê: "Prrr Prrr Prrr".

Oggendskoot - Altyd dieselfde



Ons trek anker op en weg is ons. Die see is kalm, Gus lê, Maja vaar en ek wil sing van blydskap. Ons stop om te swem. Die see is 26ºC en baie blou. Wat 'n voorreg is dit nie om dit alles te kan beleef nie.

Ons swem



Ons is oppad na Lygia (39° 09.102 N, 20° 33.950 O), 18 myl. Dit is 'n doodgewone vissershawe op die hoofland. Ons anker en maak sonder moeite vas. Dit is nou nie eintlik 'n seilersmekka nie en hier is net drie seiljagte.

Vissershawe
Lygia se kerkie




'n Vrou sit heeltyd op die kaai en visvang. Vissersbote gaan laatmiddag uit see toe met verwagtinge van groot vangste.

"Sarah de Jager"


Ons is hier en word deel van die lewe wat hier gebeur.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Gaios - Die volgende dag. Dag 125.

30 Augustus 2013. Vrydag.


Gaios



Daar is 'n trop perde op die see, met wit maanhare. Gus laat hulle galop asof hulle aan die "July Hadicap" deelneem.

Ons besluit om nog 'n dag by Gaios te bly.

UItsig van Maja se dek
Ou gebou
Middagskoot - Amper daar
Eilandkerkie



Die hoogtepunt van die dag is toe ons 'n laatmiddagstaptog neem, al langs die see en later deur die ou olyfboorde stap. Daar is 'n ouwêreldse bekoring in die boorde.  Hulle staan daar, trots met hulle nuwe oes, klein olywe wat wag op die volheid van ryp word.

Olyfboord
Veteraan in murasie



Dit voel platteland, landelik, ver weg van Maja en die wind en die see. Ek is na aan die aarde, die reuk van die grond vul my sintuie. Ek is weer déél van die aarde. Ek wórd aarde!


Published with Blogger-droid v2.0.10

Thursday, August 29, 2013

Gaios. Dag 124.

29 Augustus 2013. Donderdag.


Lakka tot Gaios


Die reën het toe vanoggend gekom, met oorgawe. Dit was 'n kort, hewige wind- en reënvlaag wat almal op hol gejaag het. En toe is dit skielik net verby en die son skyn asof daar niks gebeur het nie.

Ons wil vandag vroeg vaar, want hulle het winde voorspel vir die hele dag en vannag. Ons wil in 'n veilige hawe kom. Dis gelukkig net 5 myl tot daar. Die dorp Gaios is ook op Paxos Eiland.

Ons vaar op die stil deel van die see en is gou-gou daar. Dis nog amper windstil en ons gooi die anker en 'n gawe vrou op die kaai help met die een tou. Dit was vandag so maklik.

Suidelike ingang tot hawe
Gaios se hawe



Die boek sê hier by Gaios is altyd ankers wat oormekaar gegooi word. Dit word gou bewaarheid. Ek staan en kyk hoe 'n superjag 'n ander anker saam met syne optel en wat doen die vark toe? Hy gooi die anker terug in die water en vaar weg. Iemand hier rond dink hy is geanker, maar sy anker lê net lossies op die bodem van die see. Archie het ons anker gaan bekyk en my verseker dat dit nie ons s'n is nie.

Ons is vasgemeer voor een van die besigste muur-tot-muur Tavernas in die dorp. Ons verlustig ons aan die miernes van bedrywighede wat voor ons afspeel. Ons verken die dorp en koop weer baklava. Ek weet hoekom is die mense 'n bietjie ronder as die Kroasiërs!

Gaios



Die see hier is besonder blou. Ons sien ook die berge van die hoofland, waarheen ons môre gaan.

Ay Nickolaos eiland
Standbeeld van Olimpiese fakkeldraer



My buurvrou besluit om te stort. Sy staan op die agterkant van die boot met haar ietsie-bietsie-tienie-wienie-bruin-polkadot-bikini. Sy is omtrent so oud soos ek, maar het verseker baie meer selfvertroue. Sy smeer seep. Die mense in die Taverna kyk. Sy stort dat die seepbelle spat. Sy spoel af. Die mense kyk. Sy draai 'n klein handdoekie om haar en trek haar bikini onder die handdoek uit. Die mense kyk en praat saggies met mekaar. Sy buk om iets op te tel. Wel, elke buk 'n meesterstuk...

Ons wil môre vroeg vertrek voordat Gus erg begin waai. Maar ons sal eers weer na die weervoorspelling kyk...

Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, August 28, 2013

Golwedans. Dag 123.

28 Augustus 2013. Woensdag.

Platarias tot Lakka (Paxos Eiland)



Hulle het reën voorspel vir vandag, 0.1mm vir die oggend en 0.8mm vir die middag. Ons kry ons oggendreën terwyl ons nog slaap, so dis afgehandel.

09:15 trek ons die anker op, maak al die toue los, groet ons Walliese bure en laat spaander. Ons gaan vandag na Paxos Eiland toe. Dis 'n klein eiland met klein dorpies. Vandag is dit Lakka (39º14.319 N, 20º07.973 O), 18 myl.

Op ons nuwe weervoorspellingswebblad, Poseidon, het hulle Gus se sterkte op die Beaufortskaal 4 (11 tot 16 knope) vir die oggend voorspel en 3 (7 tot 10 knope) vir die middag.

Gus waai sy hart uit en ons span die seile, met die genoa gereef (weet nie wat is reef in Afrikaans nie). Gus wil nie gaan lê nie en Beaufort is verkeerd met 3. Gus dans met die Ioniese see en saam doen hulle 'n golwedans en ons moet saam dans.

Oggendskoot - Golwedans
Suidpunt van Corfu Eiland



Die seile help nogal om Maja stabiel te hou en so seil ons die grootste deel van die pad. Net toe ek begin keelvol raak vir die gedansery, kom ons by Lakka aan. Binne die baai is dit heerlik stil. Pragtige helder water wat ons uitnooi om te baai. Die water is 26º, nie eintlik koud genoeg om ons af te koel nie. Ons swem heerlik en daarna maak ons klaar om die dorp te gaan verken. Dinkie neem ons na droë grond.

Ingang tot Lakka
Dorp



Lakka bestaan eintlik net uit restaurante (tavernas). Ons loop deur die dorp en kom op 'n heerlike bospaadjie af, en volg dit al langs die see. Ons kry pragtige uitsigte oor die baai waar ons op anker lê.

UItsig oor baai
Ou olyfboom langs die paadjie



Dis nog steeds warm en toe ons terug is by Maja, wink die water weer en ons sê ja vir 'n swem.

Dis nou al aand en ons wag nog steeds vir die middagreën!



Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, August 27, 2013

Platarias. Dag 122.

27 Augustus 2013. Dinsdag.



Petriti tot Platarias



Ons het die hele nag rondgerol. Nee, ons het nie nagmerries gehad nie. Net liggies rondgerol, want die see het nooit gaan slaap nie. Maja se wiegelied was nimmereindig.

Ons vertrek eers 11:00. Dis bewolk en deinserig, die lug wit-grys. Ons is oppad na Platarias (39º27.114 N, 20º16.574 O), 14 myl.

Oggendskoot - Griekse hoofland



Gus waai lekker, en die kapteinsbevel kom duidelik: "Span die seile!" Wie is ek nou om te stry en ons span die genoa en die hoofseil. En daar trek ons - 5 tot 6 knope. Oral is daar seiljagte op die water, jy sien net wit seile bol in die wind.

Gus word sterker en ons "reef" die genoa (maak die seil kleiner). Daar is wel deinings op die water, maar na Albanië, lyk hulle maar klein. Gus begin ruk en ons trek die genoa in. Ons seil net met die hoofseil, nog steeds so 4 knope.

In Griekekand is daar nie 'n tou wat aangelê is vir vasmeer nie. In plaas daarvan, gooi jy anker, tru reguit agtertoe en maak aan die kaai vas met jou eie toue. Jy moet goed beplan wanneer en waar jy ankergooi. Ons het nie ondervinding daarvan nie en Gus waai sterk, wat alles moeiliker maak.

Daar is nie baie oop plekke nie, maar ons kry darem 'n plek. Ek begin anker gooi, maar die wind waai ons van koers af en ek trek weer op. Arch kry die rigting reg en ek gooi weer. Arch tru en gelukkig sit 'n ander bootmens handjie by met die toue en na 'n stryery met Gus, byt die anker en is ons na genoeg aan die kaai om vas te maak.

Platarias hawe
Hoë berge langs kuslyn



Ons gaan dorp toe en dis die eerste keer dat ons voet aan wal sit op die Griekse hoofland. Platarias is maar net 'n doodgewone rustige dorp, waar bootmense vasmeer en gewone mense hulle lewe leef.
Ons eet saganaki (gebraaide skaapmelk fetakaas) en taramasalata (vis-eier ding) vir voorgereg. Ons is daarna so versadig, dat ons skaars kans sien vir die baklava wat ons vir nagereg gekoop het.



Voet aan wal

Published with Blogger-droid v2.0.10

Petriti. Dag 121.

26 Augustus 2013. Maandag.


Corfu na Petriti



My eerste kennismaking met Griekeland, was baie besonders - Corfu. Vandag groet ons vir Corfu, na drie dae. Ons gaan suid. Ons vertrek laat, so 12:30. Ons het die oggend eers seëls, lugtyd en proviand gekoop. Vandag seil ons na Petriti (39º27.118 N, 20º00.313 O), 13 myl. Waar is die dae wat ons 60 myl op een dag moes doen?

Totsiens Corfu
Ons eie fort van die suide



Gus lyk goed en ons span die seile. Ons seil rustig vir die grootste deel van die vaart.

Oggendskoot - Oppad



Ons nader Petriti, wat in die Lefkimmis Baai geleë is. Ons gooi anker, saam met tien ander bote. Dis 'n groot baai, niks besonders nie, behalwe vir  'n snaakse "shack" op die Vlacherna Rotse en 'n seiljag wat gestrand lê. Wonder wat het hier gebeur? Vir ons is dit net 'n slaapplek vir die nag.

Petriti 
Gestrand?
Vlacherna Rotse met "shack"


Ek swem weer, vir die eerste keer sedert die baai van Kotor. Die water is lou en ons koel nie af nie. Toe ons uitklim, waai Gus liggies oor ons lywe en die koeligheid spoel oor ons.

Ons word aan die slaap gesus deur 'n ligte wiegelied, uitgevoer deur Maja en haar orkes, gekomponeer deur die Ioniese See en onder ligte begeleiding van dowwe maanlig.

Published with Blogger-droid v2.0.10