Thursday, August 8, 2013

Cavtat. Dag 102.

7 Augustus 2013. Woensdag.



Die dag begin rustig en songlad in Tiha, by Cavtat. So vreedsaam, mens sou nooit kon dink dat dit dieselfde baai was, waar ons lank gelede, so 'n nag van verskrikking beleef het nie.

Ons staan eers laat op. José-hulle kom eers so 12:00 met die bus van Dubrovnik af. Ons hou die kaai dop, want hulle sal roep as Archie hulle met Dinkie moet gaan haal.

Hier is hulle!


Toe staan hulle daar, José, Mart-Marie, met Livvy in die arms en Alex. Archie roei dadelik en hulle word ingelaai. Ons kuier op die dek en Alex swem heerlik. Ons volg sy voorbeeld en kort voor lank, is ons almal papnat. Behalwe Livvy, wat nie lus is vir die geswemmery nie.

Alex en Livvy
Alex leer roei


Later neem José ons uit vir ete. Ek en Archie kies lamstjops met bone en gebakte aartappels. Mart kies dit ook en ek moet sê, dit was heerlik voorberei.

Ons kuier weer by Maja en ek was baie hartseer toe hulle groet. Ek kry die lekkerste soentjies en drukkies by die kinders en skielik is die kuier verby. Na 'n laaste verwoestende waai met die arms, is hulle weg en oppad na die watertaxi, waarmee hulle terug Dubrovnik toe gaan.

Die aand is dit éérs stil op Maja. Geen kindervoete, geen kinderklaagliedere, geen kinderlaggies nie of kindergesiggies nie.

José en Mart-Marie, julle kuier was soos 'n koel bries op 'n snikheet dag.

Op Jose en Mart-Marie


Dis heeltemal té stil op Maja...

Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, August 7, 2013

Kuiermense. Dag 101

6 Augustus 2013.  Dinsdag 

Dubrovnik tot Cavtat

Vandag kom hulle! Bekende mense, wat 'n heerlike vooruitsig.

Ons wag. Hulle sal so 09:00 hier aankom met die bus, want hulle gaan tuis in 'n hotel in Dubrovnik. Die Marina is so 10 km uit die dorp uit. Dis later 09:20 en ons wag nog steeds. Elke minuut van wag, voel soos 'n ewigheid. Ek loop om hulle te soek en wie soek, sal vind. Toe sien ek hulle, José, Mart-Marie, Alex (6 jr) en Livvy (2 jr), ons Suid-Afrikaanse vriende wat nou in Spanje bly.

Die Gutierrez familie


Dis 'n nuwigheid vir ons, kinders op Maja. Sal sy bestand wees teen die aanslag van twee kinders aan boord? Hulle kom aan boord. Dis sakke en stootwaentjie en kinders. 

Loop die plank


Dis heerlik! Ons gesels en babbel en lag. Ons het hulle vir jare nie gesien nie. Nadat almal iets nat oor die lippe gehad het, en Alex gesê het hy dog dis 'n trip, vertrek ons. José help tou voor losmaak, onder die wakende oë van Alex. Mart-Marie bied haar dienste vir Archie aan by die toue agter.

Die wind waai vir Maja net waar hy wil, maar onder die kaptein se bekwame leiding, is ons maklik weg uit die Marina. Alex verstom hom aan alles en Livvy sit effe benoud by haar pa. Ons vaar in die rivier af na die see. Alex is so opgewonde soos 'n sesjarige maar kan wees en mens sou dink José en Mart-Marie is ook ses jaar oud!

Leerling stuurman, Alex


Dis lekker warm en die manne wil swem. In spring die manne en  Mart laat haar ook nie twee keer nooi nie en swem soos 'n meermin in die water. Dis net Livvy wat die groot klomp water nie vertrou nie en klou soos 'n klein apie aan haar ma vas.

Diepsee swem
Livvy


Na die swem is daar bietjie wind en ons span die seile. Alex staan weer verstom. Ons seil so bietjie, eintlik net dat ons besoekers seil kan ervaar. Toe die wind te min raak, trek ons maar die seile in. Ons vaar naby Dubrovnik verby en Mart-Marie neem foto's asof sy vir die paparazzi werk. Dis nie aldag wat mens Dubrovnik se ou stad van die kant af sien nie.

Dubrovnik mure
Dubrovnik mure


Ons vaar rustig en al geselsend verder na Cavtat. Ons gaan weer na Uvala Tiha om te anker. Die keer kyk Mart-Marie hoe gooi ek die anker.

Dis warm en almal is lus vir swem. Veral Alex geniet die water. Later speel hy en Livvy, natuurlik onder die wakende oog van moeder, in Dinkie. Tot Livvy skaterlag as Dinkie teen Maja bots.

Almal is honger en ons eet brood, koue vleis en kaas op die dek. Ons kuier so lekker, dat hulle besluit om môre weer te kom. Hulle neem die 19:00 bus terug na Dubrovnik, met twee moeë kinders.

Maja is skielik so stil.
Published with Blogger-droid v2.0.10

Honderd dae. Dag 100.

5 Augustus 2013.  Maandag


Ston tot Dubrovnik

Honderd dae in my nuwe wêreld. Ek leef in 'n wêreld waar niks stagnant is nie. Alles beweeg omtrent altyd.
Water beweeg, vloei. Maja beweeg, selfs op die stilste water, in die  Marinas en langs die kaai. As ek 'n poskaart soek, beweeg dit. Die Konzum wieg as ek kosvoorrade koop. Die storte in die Marina is die ergste. Dit staan vir geen stonde stil nie!

Op die honderdste dag is dit Dubrovnik toe. Ons vertrek 05:30 vanaf die kaai by Ston. Ons kom maklik uit, want die groot Cat wat voor ons vasgemeer was, het gedurende die nag spoorloos verdwyn.  Arch maak toue los en ek bestuur uit.

Oggendskoot - Lagiesberge
Seekranse


Daar is 'n snaakse warm wind wat waai, wat glad nie voorspel is nie. Ons span die seile en seil. Later begin Gus met sy gelol en ruk aan die seile. Dan waai hy net liggies, dan ruk hy homself weer op. Dan waai hy oos, dan wes. Dan waai hy noord, dan weer suid. Geen mens kan met so 'n wispelturige wind seil nie. Af gaan die seile.

Oppad na Dubrovnik

Nader aan Dubrovnik raak Gus bietjie stiller en ons kom so 12:30 by Dubrovnik aan. Die manne wys die plek aan en is gereed om ons te help.

Ons begin skrop en "polish". Ons skrop die dek. Ek skrop vir Maja binne. Elke ding word met 'n nat lap afgevee. 'n Hele bondel wasgoed word na die wassery geneem, handdoeke en beddegoed.

Archie gaan maak die gasbottels vol. Ons is besiger as 'n hele swerm bye. Ons gaan koop kosvoorrade.
Moeg, maar tevrede, kan ons later ontspan. Alles moet piekfyn wees vir José en Mart-Marie en hulle kinders wat môre kom kuier.

Die stort staan nie stil nie...


Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, August 5, 2013

Ston. Dag 99

4 Augustus 2013. Sondag


Saplunara tot Ston


Vandag is ek lus vir lamsboud en gebraaide aartappels. Dis seker omdat dit Sondag is en ek huis toe verlang.

Ons vertrek 07:00, terwyl Saplunara nog rustig slaap. Ons gaan vandag na Ston (42º50.083 N,  17º41.810 O). Dis net 12 myl, maar daar is net vier plekke langs die kaai waar jy alongside kan vasmeer. As jy 'n plek wil kry, moet jy vroeg daar wees.

Oggendskoot - Oppad


Die wind is net reg, en ons seil vir 'n uur. Om na Ston te gaan, moet jy deur 'n nou en baie vlak kanaal vaar. Ons was al daar saam met Elize en Fanie, so ons weet waar en wat. Al wat ons nie weet nie, is of ons plek in die kaai gaan kry.

Ons vaar die vier myl in die kanaal af en die kaai kom in sig. Dit lyk vol. Ons gaan nader. Die wind waai altyd in hierdie kanaal en ek is al klaar benoud oor die vasmeer.

Toe ons nader kom, vertrek een van die jagte. Wat 'n geluk. Ons bespreek ons strategie. Al die toue is gereed. Archie maak sy draai. Kom alongside in. Ek moet die helm oorvat, maar Maja se snoet pyl op die kaai af. Ek hardloop om af te skop.

Ek kyk om en sien Archie is op die kaai met die toue. Hy stap altyd af op die kaai, omdat dit soms hoog en moeilik is, want my knieë is mos moer toe. Ek hardloop helm toe, want Maja kan haarself mos nie bestuur nie. Die wind waai ons agtertoe, vlak water toe.

Ek moet vorentoe ry. Dan moet ek stop. Om te stop, moet ek tru. 'n Man kom help. Ek moet vir hom die agterste tou gooi. Ek gooi dit in die water. Sê: "Ag shit!" Die man sê: "Calm down." En ek kalmeer. Gooi weer die tou. Hy vang dit en maak agter vas, terwyl Arch die voorste toue vasmaak. Ons is vas en veilig. Vasmeer bly maar moeilik as die wind waai.

Ston se kaai (Maja is heel agter)


Ston is bekend vir sy sout wat sedert die Romeinse tyd hier gemaak is in groot, vlak damme èn vir die ou waterfontein waaruit mense nog vandag kom water haal vir huishoudelike gebruik. Net so bekend is die ou mure wat die langste in Europa is en verbind Ston met Mali Ston aan die ander kant van die berg.

Die ou fontein


Ons gaan dorp toe en later gaan loop ons die mure.  Dis hoog en ver en dis warm. Ons drink water vir die vale.

Mure van Ston
Ston met sy soutdamme


Ons loop met die mure langs tot by Mali Ston. Mali beteken klein, so ons loop na Klein Ston, wat dan ook 'n klein dorpie is. 

Mali Ston
Ou muur


Ons stap terug Ston toe en na aandete gaan kyk ons na 'n opelug vertoning van volksdanse. Hulle dans uitstekend.

Volksdans
Volksdans

Wat 'n heerlike dag!
Published with Blogger-droid v2.0.10

Sunday, August 4, 2013

Odysseus. Dag 98.

3 Augustus 2013. Saterdag

Pomena tot U. Saplunara


Vandag gaan ons aan die suidekant van Mljet Eiland vaar. Ek dink ons is die enigste siele wat hierdie kant omseil, want daar is geen ander boot in sig nie.

Oggendskoot. Rimpel-dimpel-diamante


Die see lyk op die oog af baie kalm, maar daar is wel deinings wat Maja liggies die kant toe en daai kant toe laat skommel. Die wind waai genoeg om die hoofseil te span en ons seil vir 30 minute, toe gaan lê hy weer.
Ons vaar rustig verder en later in die oggend is daar toe darem nog siele wat díé kant vaar. Hulle vaar baie nader aan die kuslyn as ons.

Ruwe suide kuslyn van Mljet
Kuslyn van Mljet
Seerotse


Later sien ons die boot het gestop en ons vaar versigtig, maar nuuskierig nader. Daar was baie weermagbedrywighede in die verlede in die omgewing. Ons hoop niemand skiet op ons nie, want ons het nie 'n wit vlag om te hys nie.

Daar is nog twee bote wat vasgemeer staan, sommer aan toue in die rotse. Ons is op gereedheidsgrondslag om plat te val as die eerste skote afgevuur word, maar dit gebeur gelukkig nie. Ook nie donshael of rubberkoeëls nie.

Dit lyk na 'n grot en mense swem daar rond. Archie wil gaan kyk en hy trek die paddapoot aan en spring van Maja af. Ek is agter die helm en moet ronddobber tot hy terugkom. Nog 'n boot vol agies stop daar en hulle gaan kyk ook na die grot.

Archie kom terug met die nuus dat dit 'n tonnel is waardeur jy swem en dan kom jy by 'n groot gat in die dak van die tonnel waar jy kan uitklim. Dit is eintlik 'n sinkgat in die berg wat met 'n tonnel aan die see verbind is.

Sinkgat in berg wat met see verbind is
Tonnelingang na sinkgat


Ek wil ook sien en gewapen met 'n lilo (want dis 'n lang swem) durf ek die swem aan. Die tonnel laat lig deur en verkleur die water blousel-blou, maar nie so mooi soos die blougrot by Vis nie. Die rotse onder die water het 'n pienk skynsel. Dis pragtig. Ek swem tot by die gat, kyk rond en swem terug waar Archie geduldig-dobberend op my wag.

Wat 'n verrassing! Dit is die Odysseus (Ulysses) grot. Volgens legende was Odysseus, die legendariese Griekse koning, 'n skipbreukeling wat sewe jaar op Mljet Eiland gebly het, omdat hy deur die nimf Calypso gevange geneem was. Sy het hom gedwing om haar minnaar te wees. Hy het later ontsnap. (So ou ramkat!)

Ons vaar tevrede oor ons meevallertjie verder. Ons kom by Saplunara (42º41.962 N,  17º44.286 O) na 23 myl aan . 

Naby Saplunara


Ons gooi anker en oornag daar saam met 'n klomp ander jagte in die baai.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Saturday, August 3, 2013

Alweer Pomena. Dag 97

2 Augustus 2013. Vrydag

U. Trstenik tot Pomena


Vandag is 'n kort dag, van sowat 9 km na Pomena, op Mljet Eiland. Ons vat die pad oor die Mljetski Kanal. Die weer is terug na normaal. Gus en sy vriend, Tramontana, speel nou skaak en die wenner kan aan Maja se seile ruk.

Ons seil wel vir omtrent 50 min en Gus het seker die skaak gewen, want hy kom ruk so nou en dan aan Maja se seile. Later gaan lê hy en ons motor verder.

Rotse naby Pomena
Otok Glavat


Na 'n uur en 'n half, kom ons alweer by Pomena aan en dis alweer mooi. Daar is baie seilbote by die kaai in die dorpie, want daar is 'n regatta aan die gang en môre vertrek hulle na Dubrovnik.

Pomena


Ons anker en Arch swem die toue land toe en ons koel af in die water. Ons wag dat dit bietjie koeler word, want die son sit nog hoog en die sonbesies sing die sonlied uit volle bors.

Ons gaan stap, hierdie keer nie na die soutmere toe nie, meer see se kant toe. Daar is mooi uitsigte oor die Mljetski Kanal. Een vir een vaar die seiljagte die baai van Pomena statig, effens skommel-skommel in. Sommige na die dorp, ander na die baai waar Maja lui-lekker staan. Dis lekker om te stap in die koelte van die bome. Later hou die paadjie op en ons keer terug en gaan dorp toe.

Een vir een ...
... vaar die jagte in
Kontras


Pomena wemel van regatta manne. Oues en jonges en mooies en lelikes. Almal het net een doel voor oë - om te wen. Ons loop daar rond om die "vibe" te beleef. Die manne lag en gesels en eet en veral drink, want dis warm. Hierdie is die manne wat kán seil!  Tawwe manne, nie 'n verspotte seilende sigeuner wat meer van 'n lê-wind hou nie. 

Saam met die skemer gaan ons terug en drink 'n glasie yskoue wyn op die dek en eet van eergister se vars kos.

Skemer in die baai


Maja is vas, aan land en aan see. Sy kan nêrens gaan nie. En ek slaap soos 'n droom...

Published with Blogger-droid v2.0.10

Friday, August 2, 2013

Trstenik. Dag 96.

1 Augustus 2013. Donderdag.

U. Racisce tot Trstenik


Ek het weer 'n nag van nagwaak gehad. 'n Nag van min slaap. 'n Nag van Gus se gramskap. 'n Nag van wind wat net aanhou waai en waai en jy voel hy waai jou moeiteloos moedeloos-magteloos.

Die wind wat ons nou beleef en van nou die dag se storm, is die Tramontana. Dit is 'n soort Bora, maar nie so sterk soos die gevreesde Bora nie.

Ons gaan vandag na Trstenik (42º54.933 N, 17º23.932 O), sowat 12 myl. Gus is gelukkig nie so sterk nie, maar daar was wel rukwinde. Ons het nie geseil nie, want die wind was van voor.

Landerye oppad na Trstenik
Wingerde tussen klipmure
Trstenik




Ons kom by Trstenik aan en meer alongside teen die kaai vas. Toe al ons toue vas is, kom die hawemeester en sê ons kan nie daar vasmeer nie, ons kan anker en aan 'n ander kaai vasmeer. Al daai moeite verniet. Ons maak toe maar los.

Ons is baie benoud. Om anker te gooi en dan te tru tot by die kaai, is vir ons 'n nuwe ervaring. Ons weet nie hoeveel anker om uit te laat nie en waar om te begin gooi nie, maar ek is op Maja se snoet en gooi die verdomde anker, terwyl Archie stadig tru. Die anker byt nie! Te na aan die kaai! "Trek op!" En ek trek op. Die anker is vol gemors en vislyn en plasties en Archie maak dit gou skoon terwyl ek die helm oorvat.

Gelukkig kom daar 'n man op die kaai wat gereed staan om die toue vas te maak. Arch ry versigtig agteruit en ek gooi anker. Suksesvol!  Die anker byt, die man maak toue aan die kaai vas, ek en Arch vang die toue en maak Maja vas.

Ons loop in die klein dorpie rond. 'n Doodgewone ou dorpie. Die wind steek later op en ek is bly ons is teen die kaai vas.

Oppad na uitsigpunt
Trstenik se baai vanaf uitsigpunt
Trstenik huise


Ek kan vanaand weer vir 'n slag slaap. 

Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, July 31, 2013

Racisce. Dag 94 en 95

30 Julie 2013. Dinsdag

U. Kosirina tot U. Racisce via U. Przina
Die nag was heerlik windstil. Ons vertrek weer vroeg, want winde word vanaf 08:00 voorspel, 11:00 bietjie sterker en sterk wind vanaf 14:00. Die sterkste  wind sal egter in die nag wees. Ons werk ons roete beplanning daarvolgens uit. Ons behoort 12:00 by Przina op Korcula-eiland, ons ankerbaai, te wees.

Ons kry al van vroeg wind, maar gelukkig van skuins agter en ons seil veilig en vinnig. 11:00 begin dit sterker te waai en Gus begin stadig maar seker die see op te werk. Teen 12:00 is deinings al amper deine. Ons trek die seile in, want Gus ruk hom op tot 20 knope van tyd tot tyd.

Gelukkig is Przina in sig en ek slaak 'n sug van verligting. Onthou, ek hou van plat see en lê-wind. Ons vaar die baai binne. Daar is reeds twee bote en ons gooi anker tussen hulle.

Przinabaai 


Przina is glad nie beskut nie en dit voel of ons nog steeds op die see vaar, want Gus waai vir Maja parallel met die deinings en ons kantel sywaarts, op en af. Amper soos toe ons van Cavtat na Montenegro toe gevaar het, net met een verskil, Gus waai!

Van die ander jagte soek ander ankerplek en ander verlaat die baai een vir een. Ek sê vir Archie ek sal dit nie oorleef nie, want dit gaan net erger word. Nou moet ons kies tussen die uiters onaangename anker en die woedende see. Archie sê ons ry. Racisce-baai, naby Lumbarda Marina is net om die hoek, so 45 min se vaar.

Hy trek die anker op, want Maja skommel so, dat ek nie op haar snoet kan staan nie. Ek is agter die helm en dit voel of ons gaan omval (ons sal nie regtig omval nie).

So elke nou en dan roep ek sy naam as die deining ons erg skommel. Op is die anker en kaptein vat oor.
Gus waai. Waar de moer hy al die blaas vandaan kry, weet ek nie. Die see is groot. Ek sê vir Archie ek wil nie op die see wees nie en hy skree: "SING!" En ek sing Jabulani Afrika. Dit help. Gelukkig kom die golwe en die wind van agter af, so ons ry hulle snoet eerste. Ek het een keer gewaag om om te kyk hoe groot hulle is en het vinnig weggekyk en harder gesing.

Toe moes ons om die draai gaan. Vir 'n ruk moet ons dan parallel met die deinings vaar. Archie skree net vir my: "Hou vas!", en ek hou vas. Ons is deur en toe kom die wind van voor. Dit waai met alle mag en geweld in ons gesigte. Daar is nie deinings nie, net seesprei en wind.

Archie sê ons moet nie hier wees nie. Maar ons is en ons moet daar deur. In my enigheid hoop ek net dit is nie die gevreesde Bora nie. Dis 'n noordewind. Die see sprei water oor Maja, in ons gesigte en verswak ons sig. Archie moet konsentreer, want daar is vlak gedeeltes wat ons moet vermy. Ek lees die kaart sonder my bril.

En Gus waai en waai woedend,sonder ophou...

Daar in nog 'n paar ander jagte wat saam met ons beur teen die wind en so kom ons by Lumbarda Marina aan. Dis amper windstil daar en ons kan asem skep. Die man wys hulle is vol en ons kan net langsaan, by Racisce anker. Ons vaar daarheen en dis propvol, want dis laat, ek dink dit was net na 16:00. Almal soek skuiling. Niemand wil op die see wees nie.

Windstil baai van Lumbarda

Ons vaar die propvol baai binne en kry 'n plekkie. Ons moet twee keer gooi, want daar is tog wind wat ons druk en ons eindig te na aan 'n catamaran.

Racisce-baai
Racisce-baai


Ons is verlig. Ons is veilig. Die aand kom die winde wat hulle voorspel het en Gus waai met nuwe ywer. Ons waai te na aan die boot agter ons en 23:30 trek ons anker op en gooi weer. Dis donker en Gus waai, maar ons gooi anker.

Gus laat vir Maja steun en kraak en kreun en ek doen my nagwaak op die dek. Die rukwinde ruk en pluk aan ons. Daar is konsternasie in die baai. Gus waai die jagte onder hulle ankers uit en kort-kort hoor jy 'n anker gaan op en dan moet hulle in die nag, in 'n oorvolbaai, weer gooi. Op al die bote doen 'n eensame donker figuur die nagwaak. Ek lê heelnag op die dek. Gus het die hele nag gewaai, het net nie opgehou nie.
Ek is dankbaar toe die nag begin ligter kleur en in oggend verander. Archie bring 05:00 vir my koffie en ek slurp dit gulsig op. Hy het in die nag ons anker se draaibewegings op die GPS dopgehou.



31 Julie 2013. Woensdag

Vroegoggend op Racisce- baai


Dit was nag, letterlik en figuurlik en toe word dit uiteindelik dag. Archie besluit ons bly die dag hier by Racisce en ons rus . Ek haal my slaap in. Ons  stap 13:00 Lumbarda toe. Dis die dorpie waar die marina is. As jy verder oor die bult stap, kom jy by Przina, wat eintlik 'n gewilde swem sandstrand het. Ons stap in die bloedige son tussen wingerde, braambosse en olyfboorde. Die see daar is vandag baie kalmer.

Oppad na Przina
'n Kalmer Przina-baai

Geluk Elize, my seilsuster, met jou verjaardag!

Published with Blogger-droid v2.0.10