Sunday, July 21, 2013

Balvanida. Dag 83.


19 Julie 2013. Vrydag.

L. St. Ante tot U. Balvanida


Vandag gaan ons na nóg 'n ankerplek toe. Dit lyk vir my dis al wat ons deesdae doen. Ons soek 'n anker in ons lewe. Iets waaraan ons vas kan hou.


Die Seilende Sigeuner



Die anker waarna ons soek, is by U. Balvanida (44º 29.463 N, 14º 30.217 O). Dis so 17 myl om te vaar. Oppad stop by Silba, op die eiland Silba, vir proviand. Ons stop deesdae elke dag by 'n dorpie om iets te koop en die dorpies te verken. Die huise langs die see by Silba laat my aan Plet dink, waar my vriendin, Rika, bly. Ek verlang toe sommer dadelik na Rika en Esther. Ons drie was onafskeidbaar by Sonlandpark Primary.

Silba
Paadjie langs die see oppad na dorp


Dis 'n tipiese vakansiedorpie. Mense swem en laat hul bruin lywe nóg bruiner brand. Dié mense is gewis sonliefhebbers. As ons in SA so sonbaai, sal ons sonbraai totdat daar net as oorbly.

Uitkyktoring, gebou deur Kaptein Petar Marinic, in die 19de eeu
Dakloos?


Maja lê rustig op anker vir ons en wag. Ons koel eers gou af voor ons vaar. Dorp toe gaan is harde werk en maak jou baie warm.

Maja lê rustig


Ons vaar tussen die eilande Ilovik en St Petar deur. Dit is baie na aan mekaar en word net met 'n nou kanaal van mekaar geskei. 

Dorpie langs die kanaal tussen O. Ilovik and O. St Petar


So 16:00 kom ons by U. Balvaida aan. Ons gooi anker en Archie duik met 'n sierlike boog in die water in om  'n tou land toe te vat en aan 'n boom vas te maak. Daar is nie plek vir die bote om rond te draai op anker nie en die tou verhoed jou om te draai. Ons stop langs dieselfde mense wat langs ons op Muline gestop het. Ons knoop eers geselsies aan en kyk saam toe die Italianer daar aankom. Hy sukkel in die wind om in die noute in te kom en sy anker só te gooi dat dit nie oor ons s'n is nie. "Never a dull moment"

Ek staan die nag net een keer op om ankerkykdiens te doen.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Friday, July 19, 2013

Skool toe! Dag 82


18 Julie. Donderdag.

Prolaz Zapuntel tot L. St. Ante


(Ek skryf nou maar die datum, want ek weet nie meer aldag of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie!)

Gus het in die nag gaan lê en vir ons 'n rimpellose baai gelos. Ek drink my tradisionele kapteinskoffie in die bed. Archie nooi my vir 'n oggendswem.

Baaikostuum aan en ek is gereed vir die rimpellose bad vol water. Dit voel nie eers koud nie, net verfrissend lekker op my lyf. Waar's die meisiekinders en Elize nou!?

'n Nuuskierige skool visse swem nader. Die water is so stil en helder, ek kan hulle in die oë kyk. Ek swem heerlik tussen die skool visse. Ek is in my element en wil hulle net begin tafels leer. Ek voel tuis tussen hulle. Ek voel amper lus en gaan terug skool toe! Ek dink terug aan boeke merk en die lus gaan gou weg.

Skool toe


Die dorpies noord van Zadar het nie historiese waarde soos die suide nie. Dis sommer alledaagse gewone mens plekkies, waar ons bootmense stop vir 'n brood of eiers of 'n slaapplek op 'n boei. Niks opwindend nie, net die lewe leef.

Die dae word aande en dan weer dae. Ons gaan vandag by die dorpie Ist op die eiland met dieselfde naam stop vir brood, jogurt, hoender en vrugte. Ons haak 'n boei, ek agter die helm en Archie is Kaptein Haak. Ons klim in Dinkie en roei kant toe. Dis 'n lewendige dorpie met baie seiljagte in die baai.

Dorpie Ist


Ons koop ons proviand, maak lyf nat, en weg is ons na Luka St Ante (44º 21.361N, 14º42.320 O) waar ons gaan oornag. Dis net 'n skrale 9 myl.

Oppad na Silba


Ons nader Luka St Ante op die eiland Silba. Die eiland se naam is afgelei van die Latyns woord "Silva", wat woud  beteken. Oral op die eiland is bosse en bome. Die seiljagte lê lui-lekker in die windstil baai. Ons kry 'n boei na ons smaak en maak vas.

Die woud van Silba


Dis nóg is heerlike skoon swem baai. Archie sê die aftrede akkodeer rêrig met hom.

Luka St. Ante


Die meisiekinders se kamer ruik nog steeds na hulle.  


Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, July 17, 2013

Alleen leen leen. Dag 80 en 81


Zadar tot Muline


Vandag gaan die kinders huis toe. Ons stap 05:30 saam met hulle busstop toe. Ons kom omtrent saam met die bus by die busstop aan. Ons moet vinnig groet en weg is hulle.

Dis alleen op die boot. Geen slapende lywe op die banke nie. Geen gelag of gestry of baklei nie. Net alleen leen leen.

Ons besluit ons gaan noord na Muline (44º 08.172 N, 15º13.796 O), 'n skrale 9 myl. Ons anker in die mooi baai en swem al rondom Maja. Dis stil sonder die kinders.

Verre berge

Die volgende dag gaan ons nog noorder en anker eers by Luka Jazi op Molateiland vir middagete. 

Muline tot Prolaz Zapuntel
Maja in Luka Jazi
Ou put oppad na  die dorp Molat


Ons gaan verken die naby geleë dorpie, Molat, en vaar verder na Prolaz Zapuntel (44º15.682 N,  14º47.971 O). 

Zapuntel Kaai


Dis in 'n kanaal tussen twee eilande, Ist en Molat. Ons maak vir Maja aan 'n boei vas en gaan stap later die middag in die dorpie rond. Daar is niks in die plekkie nie en ons stap op 'n paadjie al langs die see.

Paadjie langs die baai
Ou muur


Die wind waai vanaand. Ek wens dit wil ook gaan lê, want ek is moeg.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, July 16, 2013

Somber Sondag. Dag 78 en 79


U. Gnal tot Zadar

Somber Sondag

Somber stilswye
       sonder sê
Soos 'n seilboot
        sonder seil
Sit strak starend
       nikssiende...
So begin die Sondag

Maar miskien
   net miskien
sal die son weer
    eendag skyn



Ons is oppad na Zadar. Dit is die laaste stop van die kinders voordat hulle huis toe gaan. Ek dink hulle verlang na hulle huis en sien daarna uit om te gaan.  Hulle is nou moeg geseil. Moeg ge-oudorp.

Dis amper reënerig, bewolk. Ons vertrek 07:50 en kom 12:10 in Zadar aan. Maja het diesel nodig en ons gooi eers diesel in en daarna gaan ons na die Marina toe. Ons verken die ou stad van Zadar.

Die Forum
Strate van Zadar met St Anastasia se kerktoring
St Simeon Kerk ingang
Zadar se "putsonderwater" 


Die sonsondergang by die waterorrel is iets besonders. Ons begin die applous toe die son in die see verdrink. Ek het probeer om my weemoed saam met die son in die see te laat verdrink, maar dit het uit die see gespring en in my hart kom sit.

Sonsondergang en seiljag


Die kinders neem ons uit vir pizza by Konoba Amore en ons verslind dit, want ons is so honger soos wolwe. 

Ons loop in Zadar rond en dit wemel van die mense. Dit lyk soos 'n miernes van daai mal miere (soos ons dit genoem het toe ons kinders was). Ek en Archie geniet die Zadar-aand en kom laat die aand tuis. Die kinders maak die stad hulle eie en kom nóg later eers tuis. Ons is moeg en raak dadelik aan die slaap.

Die volgende dag is weer Zadar en almal het hulle eie agenda. Dis laaste-minuut-inkopies vir die meisies, die kloktoring klim vir Gerrit en voorrade koop vir ons.

St Donatus Kerk


Archie besluit dis tyd om die ankerlig reg te maak. Die ankerlig is heel bo aan die mas. Dis moerhoog! Michelle word eerste opgehys om ondersoek te gaan instel. Daarna hys die drie kinders vir Archie met tools en al op. Hy werk doer bo in die lug. Kom later af. Agge nee, die lig werk steeds nie. Ons is almal baie teleurgesteld dat al die moeite tervergeefs was.

Dis baie hoog!
Michelle stel ondersoek in
Oom Archie is swaar
Wat is hierdie?


Die aand gaan luister ons vir oulaas na die "magic" van die waterorrel.

Die kinders se vakansie is verby. Ek wil net vir Phillip en Anita van Zijl, Anika se ouers sê: "Julle dogter is iemand om op trots te wees. So hulpvaardig, so spontaan, so goeie sin vir humor. Dit was lekker om haar aan boord te hê!"

Dankie Michelle, Gerrit en Anika vir die lekker tye saam!


Published with Blogger-droid v2.0.10

Sunday, July 14, 2013

Oppad na U. Gnal. Dag 77.

Prvic tot U. Gnal (Pasmaneiland)


Oppad na U. Gnal

Opgedra aan Stoney en Bokomo.

Vandag is die dag. Michelle en Anika het elk 'n klip opgetel. Hulle gaan die klippe in die see gooi om te bewys dat hulle aan hulle kêrels dink.

Elkeen wil 'n boodskap op die klip skryf. Daar word raad gevra oor wat die boodskap moet wees. Alle voorstelle wat ons gee, word summier verwerp. Nadat hulle baie lank gedink het en eers op 'n stuk papier geoefen het, word die boodskap noukeurig en met soveel liefde op die klippe geskryf. Die tevredenheid oor die inhoud van die boodskappies straal uit die gesigte.

Boodskappies


Toe volg die seremonie. Eers word die kleedrepetisie gehou en hulle oefen om die klippe saam te gooi en 'n paar woorde te spreek. Die kameraman en die verliefdes is gereed. En AKSIE!





Die klippe word in die see gegooi en die meisies sê hulle sê. Ai, dis so lekker om verlief te wees. Johan en Nico is baie gelukkige kêrels om meisies soos Michelle en Anika te hê.


Saturday, July 13, 2013

Sibenik, Prvic. Dag 75, 76


Primosten tot Sibenik

Ons verlaat Primosten 09:00 oppad na  Sibenik (43º44.053 N, 15º 55.388 O). Dis 'n skrale 11 myl. Ons vaar tussen eilande, die ritmiese geprrr van die motor hoorbaar. Ek dink nogal 'n seiljag se motor is belangriker as die seile.

Fort by rivieringang na Sibenik

Ons kom so 12:00 by Sibenik aan en meer vas by die dorpskaai. En gewapen met hulle handsakke en sonroom vaar die meisies die dorp in. (Anika se pa gaan al die pad bank toe huil). Michelle se geldjies is aan die opraak. Dis net Gerrit wat sy beursie styf toehou.

Dorp toe
Ou trappies 

Nou straatjie
De Deur
De Venster


Die meisies sleep my saam om die rokkies te sien waarvan hulle hou, eintlik Michelle, want Anika het reeds op Primosten gekoop. Michelle pas omtrent tien rokke aan, maar koop niks. Sy moet eers daaroor dink.

Ons sit op Maja rond en kyk hoe die ander bote vasmeer. Ons kyk vir die mense wat verby stap. Eintlik kyk ons vir hulle en hulle kyk vir ons. Ons loop in die dorp rond. Rustig, niks jaag ons nie. Die aand sleep ons die mans saam rokwinkel toe. Michelle pas vir hulle die mooiste rok aan en ons stem of sy moet koop. Vier stemme vir koop en een daarteen (Gerrit). En sy koop!

Ek en Archie gaan kyk 'n konsert wat eers 21:30 begin. Ek is gek na sulke "gewone mens" konserte. Daar is baie "locals" by die konsert, en ek sien die hart van dié land se mense. En ek hou van die mense.



Sibenik tot Prvic via Krka-valle


Die volgende oggend is ek en Archie vroeg op. 06:00 maak ons toue los en ons vertrek oppad na die Krka-valle toe. Michelle en Gerrit steek hul koppe by die deure uit om hulp aan te bied, maar ons is klaar los en motor al. Hulle gaan lê weer.

Ons motor in die rivier af en kom 08:00 daar aan. Die kinders gaan Krka-valle toe en ons bly op die boot, want ons het reeds die Krka-valle saam met Bushy en Grietjie (Dag 3) besoek.  'n Familie swane kom kuier.

Swaan familie


12:00 is die kinders terug en ons pak die terugtog aan rivier-af. Ons kom 16:30 by Prvic (43° 43.402 N, 15° 47.905 O) aan en gryp 'n boei. Dis 'n klein dorpie en ons stap die dorpie in 'n japtrap kaf.

Prvic 
Kleurvolle klomp
Ankerplek by Prvic


Ons speel kaart en woord-speletjies en stry en gesels op die dek.

Die kinders se tyd raak min!!


Published with Blogger-droid v2.0.10

Thursday, July 11, 2013

U. Stari Trogir, Primosten. Dag 73, 74


Komiza, Vis Eiland tot U. Stari Trogir


Ons verlaat Komiza op Vis Eiland baie traag. Dis asof ek nie die blou grot wil agterlaat nie. Ek wil die grot graag as 'n werklikheid hê en nie as 'n herinnering nie.

Maar nou ja, die realiteit bepaal 'n ander werklikheid - Stari Trogir (43º29.337 N, 16º02.559 O). Ons vertrek 07:00, want dis nog 'n lang dag, 29 myl.
 
Komiza, vroegoggend
Komiza panorama


Ons word verras met dolfyne wat in die verte speel en duik. Ons wens ons was nader dat ons hulle beter kon sien. Ons vaar verder, want daar is min wind. Gus lê gelukkig nog. Later word hy wakker, en waai 'n lomerige briesie, net genoeg vir die kaptein om die seile te span. Die jong lede van die bemanning rus hulle oë so bietjie, so ons span self.

Archie en bemanning (toe hulle nog wakker was)


Ons seil rustig en Vis raak verder en verder in die verskiet. Later is dit net 'n deinsende gedagte.

Ons kom moeg gevaar (ek en Arch, nie die kinders nie) by die ankerplek aan. Ons gooi lekker vlak anker. Dis 'n pragtige swem baai en ons almal baljaar in die helder water. Jy kan elke ou dingetjie op die bodem sien. Dis hier waar Mr. Bean verlede keer alles in die see laat val het. Ons het 'n rustige nagrus op anker, want die wind is net 'n ligte bries.

Kan bodem sien
Baljaar in die water
Rustige ankerplek


Die volgende oggend, na 'n swem, vertrek ons na Primosten (43º35.113 N, 15º55.388 O) . Dit is 'n kort dag, net 10 myl.

U. Stari Trogir tot Primosten


Ons is weer gelukkig om dolfyne te sien. Hierdie keer baie naby. Michelle sien hulle eerste en Anika is so opgewonde soos 'n kind. Selfs Gerrit kyk na die blinkgladde lywe wat sierlik uit die water duik. Toe ons nóg nader kom verdwyn hulle in die diepte en Archie sê : "That's all folks."

Gelukkig kry ons 'n vasmeerplek by die baie besige, klein kaai by Primosten. Baie seiljagte moes maar later in die dag maar tevrede wees met 'n boei of anker.

Primosten panorama


Die meisies gaan dadelik dorp toe. Archie en Gerrit was die dek en ek ontsmet  die "head" van bo tot onder. 
Ons wil die son sien ondergaan en stap boontoe na die kerk. Die mense staan en sit oral tussen die grafstene om die laaste strale van die sinkende son te sien.

Sonsonder en seilboot
Kleurpalet van die son


Ek hou van Primosten. Die mense lewe hier. Ek en Archie drink 'n drankie op die dek. Hy lyk gelukkig en tevrede. Hy kyk na my, glimlag en sê: "This is the life!"


Published with Blogger-droid v2.0.10