Wednesday, July 17, 2013

Alleen leen leen. Dag 80 en 81


Zadar tot Muline


Vandag gaan die kinders huis toe. Ons stap 05:30 saam met hulle busstop toe. Ons kom omtrent saam met die bus by die busstop aan. Ons moet vinnig groet en weg is hulle.

Dis alleen op die boot. Geen slapende lywe op die banke nie. Geen gelag of gestry of baklei nie. Net alleen leen leen.

Ons besluit ons gaan noord na Muline (44º 08.172 N, 15º13.796 O), 'n skrale 9 myl. Ons anker in die mooi baai en swem al rondom Maja. Dis stil sonder die kinders.

Verre berge

Die volgende dag gaan ons nog noorder en anker eers by Luka Jazi op Molateiland vir middagete. 

Muline tot Prolaz Zapuntel
Maja in Luka Jazi
Ou put oppad na  die dorp Molat


Ons gaan verken die naby geleë dorpie, Molat, en vaar verder na Prolaz Zapuntel (44º15.682 N,  14º47.971 O). 

Zapuntel Kaai


Dis in 'n kanaal tussen twee eilande, Ist en Molat. Ons maak vir Maja aan 'n boei vas en gaan stap later die middag in die dorpie rond. Daar is niks in die plekkie nie en ons stap op 'n paadjie al langs die see.

Paadjie langs die baai
Ou muur


Die wind waai vanaand. Ek wens dit wil ook gaan lê, want ek is moeg.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, July 16, 2013

Somber Sondag. Dag 78 en 79


U. Gnal tot Zadar

Somber Sondag

Somber stilswye
       sonder sê
Soos 'n seilboot
        sonder seil
Sit strak starend
       nikssiende...
So begin die Sondag

Maar miskien
   net miskien
sal die son weer
    eendag skyn



Ons is oppad na Zadar. Dit is die laaste stop van die kinders voordat hulle huis toe gaan. Ek dink hulle verlang na hulle huis en sien daarna uit om te gaan.  Hulle is nou moeg geseil. Moeg ge-oudorp.

Dis amper reënerig, bewolk. Ons vertrek 07:50 en kom 12:10 in Zadar aan. Maja het diesel nodig en ons gooi eers diesel in en daarna gaan ons na die Marina toe. Ons verken die ou stad van Zadar.

Die Forum
Strate van Zadar met St Anastasia se kerktoring
St Simeon Kerk ingang
Zadar se "putsonderwater" 


Die sonsondergang by die waterorrel is iets besonders. Ons begin die applous toe die son in die see verdrink. Ek het probeer om my weemoed saam met die son in die see te laat verdrink, maar dit het uit die see gespring en in my hart kom sit.

Sonsondergang en seiljag


Die kinders neem ons uit vir pizza by Konoba Amore en ons verslind dit, want ons is so honger soos wolwe. 

Ons loop in Zadar rond en dit wemel van die mense. Dit lyk soos 'n miernes van daai mal miere (soos ons dit genoem het toe ons kinders was). Ek en Archie geniet die Zadar-aand en kom laat die aand tuis. Die kinders maak die stad hulle eie en kom nóg later eers tuis. Ons is moeg en raak dadelik aan die slaap.

Die volgende dag is weer Zadar en almal het hulle eie agenda. Dis laaste-minuut-inkopies vir die meisies, die kloktoring klim vir Gerrit en voorrade koop vir ons.

St Donatus Kerk


Archie besluit dis tyd om die ankerlig reg te maak. Die ankerlig is heel bo aan die mas. Dis moerhoog! Michelle word eerste opgehys om ondersoek te gaan instel. Daarna hys die drie kinders vir Archie met tools en al op. Hy werk doer bo in die lug. Kom later af. Agge nee, die lig werk steeds nie. Ons is almal baie teleurgesteld dat al die moeite tervergeefs was.

Dis baie hoog!
Michelle stel ondersoek in
Oom Archie is swaar
Wat is hierdie?


Die aand gaan luister ons vir oulaas na die "magic" van die waterorrel.

Die kinders se vakansie is verby. Ek wil net vir Phillip en Anita van Zijl, Anika se ouers sê: "Julle dogter is iemand om op trots te wees. So hulpvaardig, so spontaan, so goeie sin vir humor. Dit was lekker om haar aan boord te hê!"

Dankie Michelle, Gerrit en Anika vir die lekker tye saam!


Published with Blogger-droid v2.0.10

Sunday, July 14, 2013

Oppad na U. Gnal. Dag 77.

Prvic tot U. Gnal (Pasmaneiland)


Oppad na U. Gnal

Opgedra aan Stoney en Bokomo.

Vandag is die dag. Michelle en Anika het elk 'n klip opgetel. Hulle gaan die klippe in die see gooi om te bewys dat hulle aan hulle kêrels dink.

Elkeen wil 'n boodskap op die klip skryf. Daar word raad gevra oor wat die boodskap moet wees. Alle voorstelle wat ons gee, word summier verwerp. Nadat hulle baie lank gedink het en eers op 'n stuk papier geoefen het, word die boodskap noukeurig en met soveel liefde op die klippe geskryf. Die tevredenheid oor die inhoud van die boodskappies straal uit die gesigte.

Boodskappies


Toe volg die seremonie. Eers word die kleedrepetisie gehou en hulle oefen om die klippe saam te gooi en 'n paar woorde te spreek. Die kameraman en die verliefdes is gereed. En AKSIE!





Die klippe word in die see gegooi en die meisies sê hulle sê. Ai, dis so lekker om verlief te wees. Johan en Nico is baie gelukkige kêrels om meisies soos Michelle en Anika te hê.


Saturday, July 13, 2013

Sibenik, Prvic. Dag 75, 76


Primosten tot Sibenik

Ons verlaat Primosten 09:00 oppad na  Sibenik (43º44.053 N, 15º 55.388 O). Dis 'n skrale 11 myl. Ons vaar tussen eilande, die ritmiese geprrr van die motor hoorbaar. Ek dink nogal 'n seiljag se motor is belangriker as die seile.

Fort by rivieringang na Sibenik

Ons kom so 12:00 by Sibenik aan en meer vas by die dorpskaai. En gewapen met hulle handsakke en sonroom vaar die meisies die dorp in. (Anika se pa gaan al die pad bank toe huil). Michelle se geldjies is aan die opraak. Dis net Gerrit wat sy beursie styf toehou.

Dorp toe
Ou trappies 

Nou straatjie
De Deur
De Venster


Die meisies sleep my saam om die rokkies te sien waarvan hulle hou, eintlik Michelle, want Anika het reeds op Primosten gekoop. Michelle pas omtrent tien rokke aan, maar koop niks. Sy moet eers daaroor dink.

Ons sit op Maja rond en kyk hoe die ander bote vasmeer. Ons kyk vir die mense wat verby stap. Eintlik kyk ons vir hulle en hulle kyk vir ons. Ons loop in die dorp rond. Rustig, niks jaag ons nie. Die aand sleep ons die mans saam rokwinkel toe. Michelle pas vir hulle die mooiste rok aan en ons stem of sy moet koop. Vier stemme vir koop en een daarteen (Gerrit). En sy koop!

Ek en Archie gaan kyk 'n konsert wat eers 21:30 begin. Ek is gek na sulke "gewone mens" konserte. Daar is baie "locals" by die konsert, en ek sien die hart van dié land se mense. En ek hou van die mense.



Sibenik tot Prvic via Krka-valle


Die volgende oggend is ek en Archie vroeg op. 06:00 maak ons toue los en ons vertrek oppad na die Krka-valle toe. Michelle en Gerrit steek hul koppe by die deure uit om hulp aan te bied, maar ons is klaar los en motor al. Hulle gaan lê weer.

Ons motor in die rivier af en kom 08:00 daar aan. Die kinders gaan Krka-valle toe en ons bly op die boot, want ons het reeds die Krka-valle saam met Bushy en Grietjie (Dag 3) besoek.  'n Familie swane kom kuier.

Swaan familie


12:00 is die kinders terug en ons pak die terugtog aan rivier-af. Ons kom 16:30 by Prvic (43° 43.402 N, 15° 47.905 O) aan en gryp 'n boei. Dis 'n klein dorpie en ons stap die dorpie in 'n japtrap kaf.

Prvic 
Kleurvolle klomp
Ankerplek by Prvic


Ons speel kaart en woord-speletjies en stry en gesels op die dek.

Die kinders se tyd raak min!!


Published with Blogger-droid v2.0.10

Thursday, July 11, 2013

U. Stari Trogir, Primosten. Dag 73, 74


Komiza, Vis Eiland tot U. Stari Trogir


Ons verlaat Komiza op Vis Eiland baie traag. Dis asof ek nie die blou grot wil agterlaat nie. Ek wil die grot graag as 'n werklikheid hê en nie as 'n herinnering nie.

Maar nou ja, die realiteit bepaal 'n ander werklikheid - Stari Trogir (43º29.337 N, 16º02.559 O). Ons vertrek 07:00, want dis nog 'n lang dag, 29 myl.
 
Komiza, vroegoggend
Komiza panorama


Ons word verras met dolfyne wat in die verte speel en duik. Ons wens ons was nader dat ons hulle beter kon sien. Ons vaar verder, want daar is min wind. Gus lê gelukkig nog. Later word hy wakker, en waai 'n lomerige briesie, net genoeg vir die kaptein om die seile te span. Die jong lede van die bemanning rus hulle oë so bietjie, so ons span self.

Archie en bemanning (toe hulle nog wakker was)


Ons seil rustig en Vis raak verder en verder in die verskiet. Later is dit net 'n deinsende gedagte.

Ons kom moeg gevaar (ek en Arch, nie die kinders nie) by die ankerplek aan. Ons gooi lekker vlak anker. Dis 'n pragtige swem baai en ons almal baljaar in die helder water. Jy kan elke ou dingetjie op die bodem sien. Dis hier waar Mr. Bean verlede keer alles in die see laat val het. Ons het 'n rustige nagrus op anker, want die wind is net 'n ligte bries.

Kan bodem sien
Baljaar in die water
Rustige ankerplek


Die volgende oggend, na 'n swem, vertrek ons na Primosten (43º35.113 N, 15º55.388 O) . Dit is 'n kort dag, net 10 myl.

U. Stari Trogir tot Primosten


Ons is weer gelukkig om dolfyne te sien. Hierdie keer baie naby. Michelle sien hulle eerste en Anika is so opgewonde soos 'n kind. Selfs Gerrit kyk na die blinkgladde lywe wat sierlik uit die water duik. Toe ons nóg nader kom verdwyn hulle in die diepte en Archie sê : "That's all folks."

Gelukkig kry ons 'n vasmeerplek by die baie besige, klein kaai by Primosten. Baie seiljagte moes maar later in die dag maar tevrede wees met 'n boei of anker.

Primosten panorama


Die meisies gaan dadelik dorp toe. Archie en Gerrit was die dek en ek ontsmet  die "head" van bo tot onder. 
Ons wil die son sien ondergaan en stap boontoe na die kerk. Die mense staan en sit oral tussen die grafstene om die laaste strale van die sinkende son te sien.

Sonsonder en seilboot
Kleurpalet van die son


Ek hou van Primosten. Die mense lewe hier. Ek en Archie drink 'n drankie op die dek. Hy lyk gelukkig en tevrede. Hy kyk na my, glimlag en sê: "This is the life!"


Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, July 9, 2013

Vis verrassing. Dag 72


U. Tri Luke tot Komiza (Vis Eiland) via Blou Grot


Ons het 'n geheime stemming gehou. Ons moes stem vir: Vis Eiland, baie ver, 35 myl, die Blou Grot is daar, maar jy moet 12:00 daar wees, as dit bewolk is, is dit nie blou nie OF Hvar, baie nader en hoop op 'n plek by die dorpskaai.

Die stembriewe word uitgedeel... Onder groot geheimhouding word die pen omgestuur en almal stem. Niemand is eintlik seker wat om voor te stem nie. Gelukkig is daar geen bedorwe stembriewe nie en Archie tel die stemme. H, V, V, V en V. 1 stem Hvar en 4 stemme Vis. Dis net Anika wat vir Hvar gestem het, die res van die bemanning stem vir Vis. Dus - Vis, hier kom ons!

Ek en Archie staan vroeg op. 05:00 lig die anker en ons vertrek met 'n boot vol slapende skones, sonder koffie. En dis my verjaardag vandag!

Dou voor dag
Oggendgloed


Ons vaar en vaar en vaar. Vis lê ver in die verre verte, vaagweg sigbaar. Sies tog, die kinders word nie wakker gemaak met die tradisionele koppie koffie nie. Die ou goedjies moet op eie stoom wakker word. Hulle staan baie later eers op.

Gelukwensings is aan die orde van die dag. Ek maak my briewe van die huis af oop. Kaartjie van my familie, almal het 'n boodskap geskryf. Dankie julle. Ek maak die koeverte van my eet-vriendinne oop. Christa, Marie, Riana en Spaans (in alfabetiese volgorde) stuur goeie wense, geskenkies en opdragte vir die dag. Dankie julle. Dit maak die pad baie korter.

Die blou grot kom nader. Die tydsberekening is goed. Ons is 11:30 daar. Dit lyk soos nagmaal op Pofadder. Dis seiljagte wat ronddryf met 'n bemanningslid wat brandwag staan. Dis oorvol Dinkies met mense oppad na die grot.

Ingang tot Blou Grot (links agter tou)


Die kinders gaan eerste, met Gerrit en Michelle wat stry en baklei met die geroeiery. Ons wag op die boot. Hulle kom terug, moeg geroei en warm. Michelle sê ons moet liewers maar die motor op Dinkie sit. So gesê so gedaan en daar trek ons.

Wat 'n ongelooflike visuele fees was dit! Ons roei by die nou grot-opening in. Net een bootjie voor ons. Die water is blousel-blou, silwerblou, ligblou. Die spane in die water toor met kleur. Jy kan nie ophou kyk nie. Dis magiese magic. Jy wil vasklou aan die mooi, jy wil dit in jou geheue inbrand.

Die blou begin ...
.... dit word blouer ...
... en blouste
"Liquid light"


Die blou grot was een van die mooiste verjaardag geskenke wat ek in my lewe gekry het. Nog steeds in ekstase begin ons die laaste 5 myl na Komiza Hawe op Vis Eiland (43º02.650 N, 26º05.257 O). Daar is gelukkig plek vir ons en ons meer maklik vas.

Komiza se hawe word voller en voller. Die jagte meer vas, sommige anker, ander gryp 'n boei en 'n klomp maak alongside in 'n ry aan mekaar vas. Dis 'n heerlike malhuis vol mense.

Vasgemeer ...
en vasgemaak
Malhuis vol mense


Ons gaan dorpie toe. Dis pragtig. Die aand eet ons pizza vir my verjaardag. 

Dorp toe
Verjaarsdag pizzas


Vis was 'n vreeslike verrassing. Anika (die Hvar stemmer) is in haar noppies oor Vis en Michelle en Gerrit (die Vis stemmers) stem saam. Elize sou dit sooooo geniet het.

Ons soek na die Kit-Kat wat my suster, Laaina (bynaam) vir my gestuur het. Dit het net doodeenvoudig verdwyn. Ek wonder...
 
Published with Blogger-droid v2.0.10