Saturday, September 1, 2018

Çineviz.

31 Augustus 2018. Vrydag.

Phaselis tot Çineviz

Na ons kapteinskoffie, vertrek ons na Çineviz, 9.9 myl. Sien, ons vaar in ons spore terug, net soos ons omtrent 'n week vantevore gekom het. Vandag is dit glad nie so mistig en bewolk nie. Die dag het niks om weg te steek nie en die hoë berge en dale pronk pragtig.

Dis nog steeds midsomers-warm. Van afkoel is daar nie sprake nie. Sweet is ons voorland.

Çineviz is nog net so pragtig soos altyd. Die kaptein soek na 'n geskikte plek on ons gooi foutloos anker en soos gewoonlik is hier baie toerbote met sonsoekers wat hier baai. So ons baai maar saam.

Çineviz

Toe dit effens afkoel, roei ons al vier saam in Dinkie land toe. En die uitsig oor die suidbaai stel nie teleur nie. Dis baie mooi. Ons bekyk wat te bekyk is en stap terug na Dinkie. Archie en Louise swem terug en ek en Yvon roei.

Gaan land toe
Çineviz Baai
Sazak Limanı (Suidbaai)
Sazak Limanı (Suidbaai)

Na so 'n warm stap, is baldadige baljaar in die water die aangewese ding om te doen. Louise swem soos 'n vis in die water en ons baljaar soos kinders.

Yvon
Archie en Yvon
Louise

Archie swem later na Skillie toe en sien 'n vis wat onder aan Skillie vassuig. Hy lees op daaroor en dit is 'n remora.

Die son sak vroeg agter die berg en ons eet heerlike lam met groete-noedelrys. Smaaklik. Die nag is dit baie warm.

Friday, August 31, 2018

Phaselis.

30 Augustus 2018. Donderdag.

Kemer tot Phaselis

Toe is dit amper tyd. Tyd om die Franse Kanadese, Yvon en Louise, welkom te heet. Maja is slaggereed vir hulle koms en ons ook. Ons stap na die veerbootkaai.

Dis tyd vir die gaste om van Antalya te kom, maar dis ook tyd vir al die gulets in die marina om met al hul plesier- en sonsoekers om te vertrek. Ons kyk na die bedrywigheid op die kaai. Die reuse gulets lyk soos seerowerskepe en hulle verlaat een vir een. Die marina man in sy dinghie, help stoot hul in die regte rigting. Harde Russiese musiek word oral op die gulets gespeel. Daar is mos hoeka baie Russiese toeriste aan boord.
Gereed vir die besoekers
Gulet vloot
Viking
Gulet vertrek

Toe kom die veerboot en daar is Yvon en Louise. Lekker om hulle weer te sien. Die arme goed kry so warm. Hulle kon mos van Quebec se wêreld en dis mos nie so warm daar nie.

Ons stap na Maja en hulle loop die plank."Welkom aan boord, julle!" Hulle gaan verken gou die plek, ons eet iets en toe is dit tyd om Kemer Marina te verlaat.
Hulle is hier
Archie, Yvon en Louise
Yvon loop die plank
Louise volg

Ons gaan vandag na Phaselis, 7.4 myl. Dit is mos 'n antieke stad. Oral in die baai is oranje boeie. Grotes. Ek skuif agter die helm in, en Archie en Yvon staan gereed om die boei te gryp. Maar hy is swaar. Dit ruk amper die boothaak uit sy hand uit.

Archie besluit om die boei aan die agterkant van die boot te gryp. Hy stuur Maja sekuur op die boei af. Yvon staan gereed met die tou. Toe Archie by die boei is, sit Yvon vinnig die tou deur die ring. Toe trek hulle die boei na Maja se snoet en maak haar vas. Wat 'n geluk! Ek hoef nie eers anker te gooi nie! Toe verdien ons daai koue drankies!

Naby Phaselis
Nooiensvaart


"Cold beverages"

Toe gaan besoek ons die antieke stad, Phaselis. Dis nogal 'n ding om droogsboud in Dinkie in die golwe by die land te kom. Archie vat eers vir Yvon en Louise en kom haal daarna vir my.

Boud natmaak

Die stad het in 690 v.C. ontstaan deur koloniste van Rhodes. Dit het gegroei tot 'n vooruitstrewende handelstad, met drie hawens, waarvan die oorblyfsels vandag nog te sien is.

Die plek was bekend vir sy ligte, vinnige seilbote, die phaseli. Ongelukkig is daar nie voorbeelde of illustrasies van die vaartuie nie.

Ons stap deur die ouwêreldse stad en sien baie hedendaagse bruidspare. Skitterwit tussen die klippe. Ons kyk na die badhuise, ou geboue en die teater. Die denkers dink ook nie nou se dae so diep( soos verlede jaar) in die antieke teater nie.

Klein badhuis
Aquaduct
Aquaduct
Piekniek tussen die ruïnes
Gifappeltjie
Hoofstraat
Teater
Ligsinnige denkers dink nie
Bruidspaar

Terug om Maja was daar 'n effense stort insident wat Yvon insluit, en Archie moet die probleem eers weer "fix", maar gelukkig kén die kaptein mos van goeters fix. En reg is die buitestort weer.
Yvon

Ons eet heerlike groenboontjiebredie. Die Kanadese is moeg en ons gaan kruip in. Wat 'n heerlike dag!

Wednesday, August 29, 2018

Kemer Marina.

28 en 29 Augustus 2018. Dinsdag en Woensdag.

Çineviz tot Kemer Marina
Dit lyk seker of ons vreeslik lui geword het. Vaar van die een plek tot die ander en klim dan nie eers van Maja af om die omgewing te verken nie! Om nie eers van die kort blogs te praatjies nie.

Die rede daarvoor is eenvoudig. Ons laai ons Frans-Kanadese vriende in Kemer op en dan gaan ons in ons spore terugvaar. Al die mooi plekke waar ons nou was, gaan ons weer besoek en saam met Yvonne en Louise verken.

So vandag vaar ons na Kemer Marina, 16.5 myl. Die wind is kalm, maar in die groot baai, is daar 'n sikloon en wind van 15 knope waai skielik van voor vir so sewe myl. Toe is ons uit die sikloon en dis weer stil. Dis nog baie bewolk, maar ons weet nou dis maar hoe dit in die geweste in die oggende is. Later verdwyn die wolke en dit word weer sweetwarm vir die res van die dag. Ek is amper permanent blinknat gesweet.
Bewolk
Seil 'n bietjie
Naby Kemer kom die 10:00 gulets almal van voor af gevaar om die plesiersoekers van baai tot baai te neem om hoofsaaklik te swem. Om die draai en daar is Kemer Marina met die reuse berge in die agtergrond.
Gulets
Gulet by grot
Watersport
Ons gooi eers diesel in en pomp swartwater uit en toe neem die marinaman ons na ons tuise vir twee nagte.

Dis nou weer die gewone prosedure. 'n Nuwe bemanningslys moet gekoop word en die nuwe gaste moet daarop geplaas word. Maja word geskrop, wasgoed en beddegoed word gewas. Voorrade word aangekoop en vêr gedra. Dis net werk werk werk. Archie sê mos hoeka altyd: "'n Huisvrou se werk is nooit klaar nie."
Kemer Marina
Gulets in die marina
Kemer Marina
Donderdag kom Yvon en Louise. Ons sien vreeslik uit daarna.

Çineviz

27 Augustus 2018. Maandag.

Çavus Limanı tot Çineviz

Dis net 'n hanetree na Çineviz, 7.5 myl. Ons trek die anker op en vertrek vreedsaam en minsaam na ons volgende bestemming. Die onmin is darem uit die weg geruim.

Die kuslyn is pragtig en indrukwekkend. Dié deel van Turkye word gekenmerk deur mis wat in die nag oor die hoë Tauris berge sluimer en oggend wolke wat dan daaroor vorm. Die bestemming kom vinnig nader. Ons kyk eers na suidbaai, Sazak Limanı, maar ons besluit dat die noordbaai, Çineviz, baie mooier is en gaan gooi daar anker.

Sazak Limanı

Sazak Limanı

Ons deel die baai met toerbote en gullets wat kom en swem en dan weer gaan en toe dit aand word, is hulle almal met plesiersoekers en al vort.  Ons is die enigste jag in die baai. Die enigste ander mense hier is vistermanne wat hier bly, maar meer soos plakkers lyk.

Ons is nou 'n dagreis vêr van Kemer af, waar ons vir Yvon en n Louise gaan kry. Ons is mos deesdae lui en die aand eet ons heerlike lui-kos, wat sommer net in 'n bord gesit word. Heerlik!

Aandete

Monday, August 27, 2018

Çavus Limanı.

26 Augustus 2018. Sondag.

Gökkaya Limanı tot Çavus Limanı

Vandag was glad nie 'n lekker dag nie. Ons vaar 38 myl na Çavus Limanı toe. Ek en die kaptein kon net nie ooreenkom waarheen ons moet gaan nie. Daar was onmin op Maja.

Vroeg-oggend by Gökkaya Limanı

Kuslyn

Ingang tot Çavus Limanı

Çavus Limanı.




Gökkaya Limanı.

25 Augustus 2018. Saterdag.

Üçağız tot Gokkaya Limanı

Ons vaar verby Kale Köy met sy pragtige kasteel op pad na Gökkaya, 4 myl. Die ou kasteel van Kasteel Baai lyk vir my maar baie eensaam. Sommer gou is ons by Gökkaya. Die baai is gewild, want hier is baie jagte wat die besonderse plek as 'n tuiste gebruik.

Kale Köy
Kale Köy
Kasteel Baai
Gökkaya Baai
 
Ons ontspan sommer heeldag op Maja. Swem, boeklees, gesels.
 
Die aand is dit weer een van daai "Maja Magic" momente. Gus waai baie liggies. Die son sak vroeg agter die berg en die wêreld sug soel en salig as die ergste hitte verdwyn. Die koeëlronde geel maan neem die son se plek in.

Hy glimlag geheimsinnig en glinster sy glim-gloed op die stilswye van die spieëlgladde baai. Êrens lag kinders en grootmense gesels. 'n Klokkie lui op 'n gullet om 'n avondmaal aan te kondig. Alles leefgeluide in die mooi Gökkova, waarvan ons tweetjies op Maja deel is.
 
Glimlag geheimsinnig