Wednesday, August 29, 2018

Kemer Marina.

28 en 29 Augustus 2018. Dinsdag en Woensdag.

Çineviz tot Kemer Marina
Dit lyk seker of ons vreeslik lui geword het. Vaar van die een plek tot die ander en klim dan nie eers van Maja af om die omgewing te verken nie! Om nie eers van die kort blogs te praatjies nie.

Die rede daarvoor is eenvoudig. Ons laai ons Frans-Kanadese vriende in Kemer op en dan gaan ons in ons spore terugvaar. Al die mooi plekke waar ons nou was, gaan ons weer besoek en saam met Yvonne en Louise verken.

So vandag vaar ons na Kemer Marina, 16.5 myl. Die wind is kalm, maar in die groot baai, is daar 'n sikloon en wind van 15 knope waai skielik van voor vir so sewe myl. Toe is ons uit die sikloon en dis weer stil. Dis nog baie bewolk, maar ons weet nou dis maar hoe dit in die geweste in die oggende is. Later verdwyn die wolke en dit word weer sweetwarm vir die res van die dag. Ek is amper permanent blinknat gesweet.
Bewolk
Seil 'n bietjie
Naby Kemer kom die 10:00 gulets almal van voor af gevaar om die plesiersoekers van baai tot baai te neem om hoofsaaklik te swem. Om die draai en daar is Kemer Marina met die reuse berge in die agtergrond.
Gulets
Gulet by grot
Watersport
Ons gooi eers diesel in en pomp swartwater uit en toe neem die marinaman ons na ons tuise vir twee nagte.

Dis nou weer die gewone prosedure. 'n Nuwe bemanningslys moet gekoop word en die nuwe gaste moet daarop geplaas word. Maja word geskrop, wasgoed en beddegoed word gewas. Voorrade word aangekoop en vêr gedra. Dis net werk werk werk. Archie sê mos hoeka altyd: "'n Huisvrou se werk is nooit klaar nie."
Kemer Marina
Gulets in die marina
Kemer Marina
Donderdag kom Yvon en Louise. Ons sien vreeslik uit daarna.

No comments:

Post a Comment