Thursday, August 16, 2018

Çiftlik.

13 Augustus 2018. Maandag.

Serçe tot Çiftlik

Die kinders se tyd raak nou min. Vandag is dit 13.7 myl na Çiftlik.

Nuwe bemanning
Nuwe bemanning

Çiftlik is geleë aan die voet van 'n pratige vallei. Hoë berge voltooi die prentjie. Ons gaan na ons gewone plek, Mehmet Place. En soos gewoonlik waai die jongetjie die vlag en wys ons plek aan. Al wat ongewoon is, is die feit dat Mehmet se restaurant kaai vandag vol is. Daar is wel 'n plekkie tussen twee bote vir ons.


Archie tru en die snoettoue steek so vêr uit, dat die bure se snoettou onder Maja beland. Die buurman moet toe die snoettou slap maak, sodat dit nie in ons rudder of kiel vashaak nie. 
Hulle sit behoorlik vas
Archie tru weer, ek gryp die tou en Francois help om die tou aan Maja se snoet vas te maak. Roelien keer af en help met die agterste toue. En siedaar, ons is vas. Daar is water en elektrisiteit op die kaai en die restaurant het ook 'n stort. 

Francois en Roelien vat dadelik die pad en verken die plek. Later gaan stap ons en kyk na Maja in die hawe. Dis nog steeds vrekwarm hier in Turkye.
Uitsig oor die baai
Archie, Francois en Roelien
Restaurant kaaie
Çiftlik.
Vlamkop
Ons al vier gaan neem 'n lekker laaang stort. Ons baai ons liggame onder die luuksheid van 'n stortkop wat onbeperkte druppels water oor ons stort. Ons was van kop tot tone en ruik daarna heerlik kosmeties en aromaties. Splinternuwe silwerskone sikspense!

Ek moet sê, dit het vir my gevoel asof ek in 'n bewegende stort gestort het en Francois en Roelien stem saam. Ja, as mens so lank op 'n bewegende seiljag lewe, beweeg die land later ook.

Ons maak gereed om te gaan eet. Dit werk mos so, as jy by 'n restaurant kaai vasmeer, moet jy by die restaurant eet. Ek gee glad nie om nie, inteendeel, ek sien vreeslik uit daarna!
Reg vir ete
Francois, Roelien en ek
Mehmet Place
Ons het 'n heerlike tafel. Die bediening is baie goed en Francois bestel lam en ons drie seekatbredie. Die lyk smaaklik en is heerlik. Tot die fynproewer, Archie, eet heerlik. 
Seekatbredie
Lam
'n Aand om te onthou. Heerlike kos, 'n heerlike kuier saam met ons kinders in 'n pragtige omgewing.

Serçe

12 Augustus 2018. Sondag.


Selimiye tot Serçe

Selimiye se water is 'n spieël toe ons vertrek na Serçe, 23.5 myl. Ja, dis nogal 'n lang pad.

Naby Selimiye
 
Ons vaar deur die eilandjies, verby 'n klooster wat in vergange se dae aan die Grieke behoort het. Dan vaar ons om Kızıl Burnu en later Karaburun en toe eers is ons om die draai.
 
Oggendskoot
Verlate klooster op Kameriye Eiland
Op pad
 
Ons kyk eers of Katal Bükü oop is, want daar is net plek vir een boot. Maar helaas, 'n verdomde gullet staan groot in die baai. Toe gaan ons maar na Serçe.

Dis weer line ashore. Ons maak reg en ek gooi anker. Hy byt nie en ons gooi weer. Die keer byt hy met mening. Francois swem met die tou land toe. Maar helaas, die wind waai ons en die tou is te kort.

Dis 'n gesukkel en Francois swem terug na Maja. Die buurman kom met sy dinghie aangejaag en laai vir Francois en die tou in en jaag klippe toe. Hy is omtrent my held. Toe is ons vas en ons kan die ander tou self gaan vasmaak.
 
Uiteindelik vas
Tweede tou
 
Ou Gus waai dat dit bars, maar Francois en Roelien klim in Dinkie en gaan verken die omgewing. Hulle bly sommer lank weg. Francois sê 'n koei wou Dinkie hap! (Ek wonder of hy nie 'n paar happe ingehad het nie!). Hulle kom al hoppende terug. 
 
Serçe baai
Francois en Roelien
Honger koei
Serçe baai
 
Die aand eet ons salm en slaai wat Francois en Roelien voorberei vir aandete.

Sunday, August 12, 2018

Selimiye.

11 Augustus 2018. Saterdag.

Keçi Bükü tot Selimiye

Hierdie Turkse kus is jou waarlik pragtig. Reuse berge, klein eilandjies, mooi baaie. Ons gaan vandag na Selimiye, 7.3 myl.

Ons vaar maar, want van Gus is geen teken nie. Later seil ons vir so vyf minute en toe is daai seile weer pap en ons trek weer die genoa in. Sommer gou is ons in die baai en ons soek vir Wilson, Neil en Sandy se seiljag. 
Francois
Roelien en Francois
Trek seil in
Hulle is in die baai en ons kry 'n plek naby hulle en alles is reg vir "line ashore". Archie tru, ek gooi anker, Roelien sit gereed by die toue. Die anker byt, Francois vat die helm, en Archie duik in en swem met die tou land toe.
Selimiye Baai
Land tou
Almal doen hulle deel en ons is vas. Roelien is op haar pos met die koue drankies. 'n Regte lafenis in die bloedige hitte.
Neil en sy vriend, Hugh, kom daar aangeswem en groet en ons maak 'n ete afspraak vir 19:00. Hulle maak hul eie kos en ek sal boontjiebredie maak. Dan eet ons almal saam.
Ons baljaar in die water. Dit koel ons net effens af, want die water is louwarm. Francois duik keer op keer in die water en later duik Archie saam. Ons baljaar omtrent soos kinders in die water.
Neil en Francois
"Cold beverages"
Francois duik

Francois, Archie en Roelien
Francois en Roelien klim in Dinkie en gaan aan wal. Hulle verken die dorpie in die hitte. Ek en Archie bly op Maja en swem, lees en is net lui en rustig.

Die aand vat Archie my en die kastrol vol bredie en lewer my by Wilson af en daarna gaan haal hy vir Francois en Roelien. Almal is aan boord en ons groet vir Sandy en ontmoet vir Sarah, Hugh se vrou. Oulike mense. Roelien en Francois voel sommer dadelik tuis tussen die klomp seilers.
Hugh en Sarah
Roelien en Francois
Kuier lekker
Neil
Ons kuier heerlik. Almal is in ligte luim en sommiges is sommer baie verspot en uit hul kassies. Neil en Sandy is 'n voorwaar goeie gasheer en gasvrou. Hulle dra ons op die hande. Ek moet sê, my boontjiebredie is darem nie te sleg nie. Inteendeel.

Dis 'n heerlike aand saam met ou en nuwe vriende in 'n verre land. Francois en Roelien geniet ook die gesoute seilers se geselskap. Laat die nag gaan ons huis toe. Francois swem sommer en ek, Archie, Roelien en die pot ry in Dinkie

Saturday, August 11, 2018

Keçi Bükü.

10 Augustus 2018. Vrydag.

Symi tot Keçi Bükü

Die vraag is: "Gaan Maja vorentoe kan ry?" En die antwoord is nee! Die gom het nie gewerk nie. Nou moet Francois die rat per hand in die vorentoe rat sit. Hy gaan ondertoe, na die enjin. Ek is voor by die anker om op te trek. Archie gee vir Roelien die teken om vir Francois deur die venster te sê hy moet dit in rat sit. En as ons eers vorentoe vaar, kan ons nie agtertoe vaar nie. Alles verloop goed en ons vorentoe, (nie) altyd vorentoe.

Symi is in die oggend nóg mooier.  Die huisies glimlag in die oggendson. Poskaartmooi. Roelien is verlief op Symi!
Symi
Symi
Ons vaar ons in die bloedige hitte na Keçi Bükü, 18.1 myl. By Symi was dit gister 43° en dis vandag nie veel koeler nie. Ons kan nie wag om te swem nie. 
Op pad
Ons vaar by die baai in en almal is op hul pos om die rat van vorentoe na agtertoe te verander. Francois is in die kookpot, Roelien by die venster en ek by anker. Toe ek anker gooi, gee Archie die opdrag en met sy hand verander Francois die rat sodat Maja agtertoe kan vaar dat ons die anker kan gooi en toets. Eureka! Wel gedaan bemanning!

Archie en Francois maak toe die kabel reg. Dit moet net hou tot Marmaris, nog drie dae. Dis omtrent 'n prettige besigheid om dit reg te maak. Die mans is onder en Roelien bo om die rathefboom vorentoe en agtertoe te skuif. Dan praat hulle deur die noedel. "Bravo 1 Bravo 1 kom in." Dan sê iemand met 'n baie lae stemtoon, (soos in daai Schuster fliek waar die kleurling na die hoederpoeholletjie kyk):"Agtertoe. Stadig vorentoe." Dan lê ons soos ons lag!
Bravo 1. Bravo 1. Kom in !
Die mans het net soveel pret in die water. Hulle spring met reguit bene, hande langs die sye in die water. Dan kurkprop hulle uit die water omdat daar so baie sout in die see is. 

Francois en Roelien gaan klim die koppie met die ou kasteel en kry die mooiste uitsigte oor die baai.
Op die koppie
Keçi Bükü
Francois
Kasteel muur
Sonbesie
Die ding om hier te doen, is om op die sandbank te loop. Busvragte en veerbootvragte vol toeriste kom hierheen om die loop te loop. En ons loop saam. Francois swem soontoe en ons drie ry in Dinkie. Amper vaar 'n seiljag oor ons. Roelien kyk toevallig agtertoe en sê:" Hier kom 'n boot!" Ek gil dat die kranse antwoord gee (almal kyk) en Archie swenk uit. Hy tref ons amper. Volgens die seereëls het ons "right of way" gehad.
Ons loop heerlik op die sandbank en Archie trek vir Dinkie agter hom aan. Ons al vier klim in Dinkie, want ons wil dorp toe, maar ons is te swaar en water stroom in Dinkie.  Francois klim uit en loop maar. Die water is later so vlak dat Dinkie se enjin in die modder ploeg. 'n Bruin streep volg ons. Soms voel dit vir my of ons Meneer en Mevrou Boon is. Díé keer is ons skoondogter, Boonjie, saam in Dinkie. Ons seun, Groenboon, stap maar so deur die vlak water.
Stap op die sandbank
Francois en Roelien
Boontjie
Toe gaan ons na die mini mark en koop roomys en ys. Archie en Francois gaan eerste terug na Maja en daarna kom haal Archie vir my en Roelien. 

Ons swem om af te koel in water wat 29° is. Maar dis vir ons lekker hier by Keçi Bükü.