Friday, August 10, 2018

Datça.

7 en 8 Augustus 2018. Dinsdag en Woensdag.

Knidos tot Datça

Hier is ons weer n goeie ou Datca, 20.3 myl. Ons gaan hier wag vir my oudste seun, Francois, en sy vrou, Roelien. Hulle gaan net vir sewe dae saam met ons seil.

Dis warm hier in Datça. Ons koop voorrade en maak reg vir die kinders se koms. En uiteindelik breek die dag aan. Hulle kom vandag! Hulle verpas hul vlug na Dalaman en eers hier teen 18:30 sien ek vir Francois langs die kaai loop. Hy soek vir Maja.
Waar is Maja?
Ons groet en ek stap saam om vir Roelien te kry waar sy soos 'n uil op 'n kluit by die bagasie sit en wag.
Sak en pak
Die aan boord kom is maar moeilik met die groot tasse wat die twee het. Hulle kom vir 'n maand hier toer. Eers Griekeland en daarna Italië.
Hoe kom ons oor die plank?
Gee aan
Dis 'n dun plank die!
Hulle is behoorlik moeg gereis en in die warm Datça is 'n yskoue lafenis baie welkom. Dan sê ons ook weer: "Baie welkom julle!" 
Baie welkom julle
Francois, Roelien en Archie
Toe die twee eindelik besef dat hulle baie honger is, val hulle weg aan die hoender en aartappelslaai en eet asof hulle 'n werk laas geëet het.

Doodmoeg soos wat hulle is, gaan stap hulle eers bietjie 'n die dorp rond voordat hulle soos twee vrot velle op die banke in die saloon aan die slaap raak.

Tuesday, August 7, 2018

Dirk en Ina

Dirk.

Dirk
Dirk is nog steeds so bedagsaam en behulpsaam soos altyd. Hy is 'n aanwins op die boot. Hy bring sy deel en help waar hy kan. Hy het baie geleer van seil en hoe om Maja te hanteer en beheer.

Dirk het die seilervaring vreeslik geniet en ons vreeslik bederf met baie biltong. Omtrent genoeg vir die Turkse weermag. Baie dankie vir alles wat jy vir ons gebring het.

Dirk skryf so oor sy beste ondervinding:

"Behalwe vir al die seillesse was Rotti (die rot op Maja) nogal opwindend, verbasend en skrikwekkend. Skrikwekkend, om 'n rot in Katsie (die basil plant) te ontdek. Verbasend, dat 'n rot vir amper 'n minuut onder water kan swem. Opwinding, om vir Rotti van Maja af te hou.
So maak mens waterpomp reg!
My beste plek was Çökertme. "Krismis in July" is 'n vreemde konsep. Ek weet dis nou eers Augustus, maar Çökertme was my "Krismis in July". Lieflike stap teen die berg uit. Koue bier, lemoensap, limonade en Coke Zero. Ek het heerlik geskerts met die restaurant eienaar en 'n gratis water taxi terug na Maja. Die aand is afgesluit met'n gesellige ete en vier drywende gullet kersbome en spieëlgladde water. Hoe geseënd kan 'n mens wees.
Stap by Çökertme
Water taxi
Dankie Archie en Marietjie dat julle die mooi met ons deel."


Ina.
Ina
Ina het die hele seilondervinding met 'n eerlike en opregte eenvoud geniet. Sy was altyd op haar pos met die koue drankies na 'n anker of vasmeer."Baie dankie vir al die lekkernye wat jy saamgebring het!"

Ina het dit vreeslik geniet om agter die helm te sit en Maja op koers te hou. Sy was soos 'n meermin in die water en elke minuut benut om voluit te leef.
Ina skryf:

"Tuzla Köyü was die lekkerste plek. Ek stap aan wal van een van die kleinste eilande in Turkye. My eerste rit op Dinkie wat ons sonder moeite vorentoe beweeg het. Ek het omtrent die hele tyd geswem. Ons eet koue salmon.
Roei na klein eilandjie
Lekker swem
Die interessantste plek was Knidos. Dit was die eerste keer dat ek met Dinkie roei. Sukkel, sukkel!  Die ou stad was baie interessant en ons ontmoet vir Erkan. Ons drink 'n bier.
Sukkel, sukkel!
Dan was daar 'n "scary" plek. By Sehil Adalari was daar woeste winde van voor en ons was vêr van die land. Ons het gesukkel met die roei. Ek het ook 'n aaklige, grillerige ondervinding met 'n rot gehad.

Marieks en Archie, baie baie BAIE dankie!"

Baie dankie julle twee vir 'n heerlike kuier!

Monday, August 6, 2018

Bodrum. Tot siens. Knidos.

5 en 6 Augustus 2018. Sondag en Maandag.

Çökertme tot Bodrum tot Knidos

So breek Dirk en Ina se laaste vaart aan. So gou verby. Vandag gaan ons na Bodrum Milta marina, myl.

Dis windstil tot in Bodrum en ons pomp eers swartwater uit en gooi diesel in. Toe neem die marinaman ons van 'n piepklein spasie, waar Archie meesterlik, met die hulp van die stampe en stote van die man in die dinghie, inkom. Toe moet Ina vinnig daai laaste koue drankie skink, want na die spanningsvolle vasmeer, het ons dit nodig.
Archie kry 'n agent om Dirk en Ina van die bemanningslys af te haal. Toe was ons drie die boot. Dis omtrent harde werk. Omtrent soos "uit die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien". Ons aangesigte het geblink van die sweet. Toe is Maja silwerskoon binne.

Dirk en Ina gaan na hamman vir 'n welverdiende masering en ek en Archie gaan koop bietjie voorrade. Ons maak ook klaar vir ons afskeidsete.
20:00 gaan ons Zazu restaurant. Wat 'n goeie keuse! Die kos was heerlik. Ek eet lamskenkel, Archie en Dirk beeswange en Ina gebraaide salmon. Die rooiwyn was van hoogstaande gehalte. Daar was ook twee manne wat baie mooi gesing het. Amper Grieks. Ina het heerlik gedans.
"Dankie julle vir 'n heerlike aand!"
Uitgevat

By Zazu restaurant

Aaa! Ou Dirk.

Musikant

Maandag staan ons op en na 'n laaste kapteinskoffie, staan Dirk en Ina sak en pak op die kaai. Ons groet en weet ons gaan hulle mis. Nou is ons weer alleen leen leen.

Die marina man kom help ons uit ons klein spasie en ons vat die pad na Knidos, 23.4 myl. Ons sien 'n klein waterskilpad wat siek lyk. Archie duik om te kyk of alles reg is, maar hy swem weg. Hy is hopenlik reg. Sowat van hartseer skillie het ons nog nooit gesien nie.

Woensdag kry ons vir Francois en Roelien in Datca. 

Sak en pak

"Ons gaan Maja mis"

Visserboot

Skilpadjie

Çökertme

4 Augustus 2018. Saterdag.
 
Akbük tot Çökertme

Tot siens Akbük, met jou pragtige baai en hoë berge. Dirk oefen eers om te tru voor ons die pad vat na Çökertme, 19.1 myl.

Ina is agter die helm, Dirk sonbaai op die snoet en die kaptein lees sy boek. So vaar ons vorentoe, altyd vorentoe. Archie leer later vir my en Dirk om handige knope te maak.
 
Ina agter dıe helm
 
Çökertme is geleë in 'n pragtige omgewing met hoë berge en blou water. Die hemele verras ons met 'n bui reën wat alles skoon was en ons was saam. Oral op bote is gesinne besig om hul vaartuie te was en ek en Dirk laat ons nie twee keer nooi nie en ons was saam. Ons maak die beste gebruik van die gratis hemelwater om vir kleine Maja te reinig.
 
Maak vas
Spoel dek af
Visvang in die reën
 
Toe die son dit waag om sy gesig te wys, klim ons al vier in 'n oorvol Dinkie en motor land toe. 

Ons is lus vir stap in die mooi plek. Ons stap eers langs die see en toe op op op na die kruin van die berg. Ina ribbok boontoe. Dirk klink soos 'n hyg-roman, maar almal kom bo uit en word beloon met 'n uitsig van Çökertme van bo af. Wonderskoon.

Stap ın olyf lanıng
Çökertme
Watertenk
Ören se baai
See en berge
Rus 'n bietjie
 
Dis snikheet en ons is natgesweet en Dirk koop vir ons 'n lafenis wat ons warm lywe afkoel en ons droë keel-dors les. Dirk knoop geselsies aan met al wat mens is hy is behoorlik lus vir kuier met vreemdes. 

Ek en die kaptein gaan terug na Maja en die twee van Botswana lyk eerder vir my of hulle van Sodom en Gomorra kom! Baie later word Dirk en Ina by Maja afgelewer met 'n vreemde bootjie.
 
Aflewering
 
Ai, maar ons geniet hierdie baai! Die kaptein kook hoenderkerrie en ons smul behoorlik. Tot Ina eet ook goed! 

Die aand kom en die baai is rustig en vreedsaam. Daar is 'n "magic" wat moeilik is om in die geskrewe woord pas te pen. Die talle gullets se liggies brand en Dirk sê dit lyk vir hom na Kersfees. Die water weerkaats blink-silwer in die aandlig. Sterre skitter en kleef aan die hemelruim. Van die ronde volmaan van Palamut is weinig oor. 

Vier mense van Afrika is deel daarvan.

Saturday, August 4, 2018

Akbük.

3 Augustus 2018. Vrydag.

Şehir Adaları tot Akbük

Dis 'n heerlike oggend hier by Şehir Adaları. Ina vertel vir ons van haar ondervinding dat sy in die nag iets op haar gevoel het en ons almal is dit eens dat dit net 'n droom was. Sy sê dit het rêrig gevoel.

Ek en Archie roei land toe en ek gaan kyk gou weer vir Cleopatra se strand en roei dan terug na Maja. Ons geniet dıe oggend in dıe baai. Swem soos kinders in die water. Kyk na die anker en neem foto's onder die water. Sit lekker op Maja se stert.
 
Vroegoggend Şehir Adaları
Spieëlglad
Maja en haar mense
Anker
 
Dis toe Dirk die emmer wil gebruik, dat die sports begin. Die basil plantjie wat hulle vir ons gekoop het, staan in 'n plastiek sak binne-in die emmer. Toe Dirk die plant uitgaal, gee hy een harde gil en ek gil saam. "Hier is 'n rot!", skree hy. En jou waarlik, daar is 'n rot. Archie probeer om die rot met die emmer plat te druk, maar hy in die see. Nee, hy duik met 'n sierliker boog as Archie in die see en swem vir 'n lang ruk onder water. Hy swem terug na Maja en begin teen die swemleer opklim. Archie slaan hom met die mop af.
 
Slim rot
 
Die slim ding swem toe reguit anker toe en begin teen die ketting opklim. Dirk slaan hom af en toe swem hy eers land toe. Ek en Archie is stomgeslaan en woordeloos. Dis die laaste besoeker wat jy aan boord wil hê. 'n Rot kan ongelooflike skade aan 'n boot aanrig. Ins het seer sekerlik die vorige nag 'n rot op haar gevoel!

Na ons herstel het van die skok, pak ons op en vaar na Akbük, 6.7 myl. Hier gaan ons na na 'n restaurant kaai en Dirk is agter die helm. Hy tru, Archie hoe sake dop en ek is gereed om die snoettou te gryp met die boothaak.
 
Met bietjie raad hier en daad daar, en effe stress van Dirk se kant af, is ons veilig vas teen die kaai. Ina skink koue drankies en Dirk verdien dit terdeë.

Akbük is 'n pragtige plek met 'n groot baai en hoë berge. Ons stap in die vakansiedorp rond en Dirk en Ina koop vir ons limonade.
 
Akbük baai
Visnette
Langs die strand
Strandsambrele
Drink limonade
 
Die aand eet ons langs die see in die Doga Restaurant ons aandete. Archie, Dirk en Ina eet vis en ek calamari. Ons drink 'n duur bottel wyn. Dis 'n heerlike gesellige aand met lekker kos en oulike, goeie  vriende.

Opgetert
Dirk en Ina
Ons flankeer met Dirk …
… en Archie
Doga Restaurant