Monday, June 4, 2018

Frangos Baai

3 Junie 2018. Sondag.

Arkhangelos Baai tot Frangos Baai

Vandag is ons op pad na Frangos Baai, 14.3 myl. Dit is aan die suidepunt van Elafonisos Eiland. Baie bote anker hier voordat hulle die berugte Kaap Malea aandurf. So, dit is ons voorland, want ons durf Dinsdag die berugte Kaap aan.

Kaap Malea in die verte
 
Ons is vreeslik verras om vir Belle amie, Sakari en Riitta se jag, in die baai te sien. Ons dog hulle is al lankal verby die kaap en by Monemvasia. Ons anker naby hulle. Nou is ons weer bure.
 
"Belle amie"
 
Hierdie baai is bekend vir sy pragtige deurskynende turkooi water. En sowaar, sandstrande. Pure sand, net soos in Suid-Afrika! Oral is swemmers. Toeriste kom van vêr om by die sand te kom. Hier in Griekeland is sulke strande 'n rare verskynsel. Mens kan net eenvoudig nie die water weerstaan nie. Ek swem uit plesier, maar eers swem Archie uit plig. Daar is wraggies al weer 'n stuk plasties in die propeller. En hierdie keer is dit 'n groot stuk plasties. Die water is heerlik!

Silwerskoon water
Weer in die propellor
 
Ons klim in Dinkie en roei land toe, berg se kant toe. Die Finne is ook in hul dinghie en kom groet.  Hulle sê hulle het hier vir ons gewag. Hulle het geweet ons kom vandag. Sukke gawe mense! Hulle is op pad strand se kant toe.

Ons sien die baai van bo af en dit is so pragtig. Dis die mooiste water wat ek nog in die jaar gesien het. Die jagte staan skitterwit in die plasse blou. Die wit sandstrande lê vol gelukkige mense. Die son skyn op hul bruin lywe en die ander baljaar in die water. Dis voorwaar 'n vakansie atmosfeer wat hier aan die orde van die dag is. Ek hou van die baai.
 
Frangos Baai
Frangos Baai
 
Ons stap rond en sien ook vir Sakari en Riita. Hulle het heerlik in die sand langs die strand gestap. Hulle is van Finland, seker ook nie sukke sandstrande gewoond nie! Hulle gaan iets by die restaurant eet en daarna by ons kom kuier. Hulle klim in hul dinghie om geld by Belle amie te gaan haal.
 
Sakari en Riitta
 
Dis maar 'n wipperige baai hierdie, want die see rol in as die suidewind waai. Dis maar hoe dit hier is.  Hier is nie baie ander plekke waar jy kan anker nie. Die skepe wat in die verte verbyvaar se deinings rol tot hier. Dan wip ons éérs! Mens sien omtrent altyd twee skepe op die gesigseinder. Baie besige seeroete dié.

Sakari en Riita kom kuier en ons meisies drink rooibostee en die manne drink bier. Ons laat hulle 'n knertsie van ons rakí proe. Net 'n knertsie, want dis baie sterk. 
 
Lekker kuier
 
Hulle gaan terug boot toe. Die aand kom met swier. Die lug is oortek met die mooiste kleure. Die jagte in die baai pronk teen die westerkim. Al sewe bote in die baai rol op hul eie ritme rond.
 
Sonsondergang

Sunday, June 3, 2018

Arkhangelos Baai

2 Junie 2018. Saterdag.

Yithion tot Arkhangelos Baai


Ons bekruip daai derde vinger dag vir dag. Dis 17.8 myl na Arkhangelos Baai, ons rusplek vir die aand. Op pad kry ons weer ’n skool dolfyne wat met Maja speel. Hulle swem vir lank saam met ons. Hulle spring en duik die kant toe en daai kant toe. Heerlike kykgenot.

Dolfyn

Dit lyk of Gus vreeslik in die baai waai. My moed sak in my skoene. Maar die kaptein het ’n goeie keuse gedoen. Dit lyk toe wel of die baai baie goeie skuiling bied teen die noorde- en suidewinde wat waai.

Ons het ’n rustige laatmiddag en aand in die baai.


Laatmiddag


Vroegoggend
Vroegoggend

Friday, June 1, 2018

Yithion

30 Mei tot 1 Junie 2018. Woensdag tot Vrydag.

Porto Kayio tot Yithion


Ons gaan vir drie nagte by Yithion, 21.8 myl oorbly. Ons moet vir Elize en Fanie eers 10 Junie by Monemvasia kry. Dis aan die oostekant van die Peloponnisos. Ons is nog aan die westelike Peloponnisos.

Ons moet dan eers om die derde vinger gaan. Ak Malea is berug en gevaarlik. As jy die winde hier verkeerd tref, kan jy teëspoed optel. Ons vensterperiode om die tog aan te durf, volgens die weervoorspellings, is Sondag of Maandag.

 Ons verlaat  Porto Kayio en vaar noord en kry later vir Yithion in sig. Die hawe is duidelik uitkenbaar met die groot ligtoring wat 23 m hoog pryk. Snaakse hawe die. Daar is allerhande snaakse masjiene langs die kaai vasgemeer. Hier is ook seiljagte vasgemeer wat wag op die uitslae van boedels en hofsake. Maar gelukkig is daar plek vir ons.

Yithion
Ligtoring

So, hier is ons nou saam met Gus in die baai van Yithion en ons moet by die kaai vasmeer. Gus waai van die kant af. Archie tru en ek gooi die anker.  Dis totaal oor die bure se anker. Ek trek op.

Maar o weë! Ek het sy ketting. Archie sukkel sy ketting los en na, wat vir my soos 'n ewigheid voel, is ons los. Ons probeer weer. Gus waai ons en dis weer skeef. Die manne vergader nou op die kaai en beduie en gee raad.

Archie is 'n aanhouer en gee die bevel. Ons gaan weer probeer. Toe bewe ek al! Ek gooi, dit lyk goed! En ons is suksesvol! Ja, ons het bietjie terug aarde toe gekom in die proses. Ons voel toe soos internasionale poepholle!

Munisipale gebou
Waterfront

Toe gee ons waterpomp in. Ek stort en toe ek al die seepbelle wil sfspoel, is daar nie water nie. Die waterpomp pomp nie! Ek maak toe maar my waslap met yskaswater nat en vee die seep af. Die mense wat dink ek voer 'n idilliese bestaan, moet maar weer dink! 

Nou is dit al nag en Archie begin die waterpomp skoon te maak. Hy kry hom aan die werk, maar is nog nie heeltemal tevrede nie. Maar nou het ons ten minste weer water. Ek raak effe benoud. Ons kry oor 'n week kuiergaste!

Archie snuffel mos altyd in die marinawinkels. Die winkel het toevallig 'n waterpomp. Bietjie anders as ons s'n, maar die kaptein bekyk en ondersoek dit, en besluit om te koop. 

Toe begin sy werk van voor af. Die oue word uitgehaal. Na die eerste insitslag werk dit. Archie stort, maar as dit warm water pomp, raas dit vreeslik. Ek is in die badkamer en maak die kraan net klein oop, toe is daar 'n geluid en begin vreeslik te lek. Die pomp se vloei is te sterk vir ons pypsisteem. Idillies? Archie werk nou al twee dae aan die watersisteem. Hy sal maar môre aangaan, want hy moet eers goed koop om dit te maak werk.

Terug na die hardeware winkel en Archie koop allerhande goed, installeer dit en hoera! Dit werk! Ons sal die sake maar fyn dophou. Wel gedaan, Kaptein! En wat sê Archie? " 'n Kaptein se werk is nooit klaar nie!"

Voor die altar van SeaFlo
Ons verblyf in Yithion was nodig. Hier is ten minste winkels waar jy iets kan koop as jy dit nodig het as jy iets in Maja installeer.


Wednesday, May 30, 2018

Porto Kayio. Tweede vinger.

29 Mei 2018. Dinsdag.

Karovastasi tot Porto Kayio

‘n Nuwe dag breek aan. Party van ons in die dorp het beter as ander geslaap. Ons trek die anker gelukkig sonder voorval op. Dankie tog daarvoor.

Vandag vaar ons om die middelvinger van die Peloponnisos. Dis die tweede suidste punt van die Europese vasteland. Dis net 'n stuk van Gibraltar wat suider is.

Die weervoorspelling sê alles is piekfyn en ons voel gerus. Hierdie see in die deel van die wêreld is diep en kan rof raak. So, Porto Kayio, 26.6 myl, hier kom ons!.

Ons seil net vir 25 minute. Gus is maar 'n sug. Ek kla nie, nee ek is baie dankbaar. Die reuse klip, Capo Grosso, met 250 m hoog kranse staan grotesk en amper lomp in die see. Later is ons om die punt. Ak. Tainaron word versier met 'n pragtige groot ligtoring. Ons vaar met eerbied verby. Die tweede vinger van die Peloponnisos lê agter ons.

Capo Grosso
Ligtoring by Ak. Tainaron

Ons gooi anker in die baai. Kort daarna kom al die jagte wat saam met ons by Limeni was, een vir een in en gooi anker. Die Finne is vroeg vandag, want ons het hulle genooi vir aandete.

Porto Kayio
Neo-Maniote styl huise

Gus waai maar hier en niemand verlaat hulle jagte om aan land te gaan nie. 18:30 daag Sakari en Riitta op en ons het 'n heerlike aand van kuier, lag, gesels en boontjiebredie met sappige Griekse lam.

Lamsbredie
Kippis

Karavostasi, O. Limeni. Waterkaskenades.

28 Mei 2018. Maandag.

Koroni tot Karavostasi

Met Koroni wat in Archie se hart gekruip het en die mooi kasteel wat die herinneringe vanmelewe lewendig hou, vertrek ons na Limeni, 22.4  myl. Dis sommer reguit oor die see. Geen afdraai, geen kronkelpad. Net reguit. Vorentoe altyd vorentoe.

Ek voel dolfyne aan en my oë staar stip oor die water. En sowaar, daar is hulle. Sommer 'n stuk of twintig. Dis van daai tipe wat baldadig uit die see spring en sierlik terug plons. Hulle speel met Maja. Haar pens lyk seker vir hulle soos 'n groot vriendelike moeder dolfyn.

Hulle is onderdeur, dan swem hulle langs Maja. Duik diep af ondertoe. Alles word met 'n tergende spoed gedoen. Foto's neem is nie maklik nie. Hulle laggende gesigte is pragtig. Ek hoor ook duidelik hoe hulle roep.

Dolfyne
Neusgat

So swem hulle lank saam met ons totdat hulle later hulle die onbekende dieptes gaan opsoek.

Van dieptes gepraat! Vandag vaar ons in 'n stuk see wat 1 150 m diep is. So, vandag gaan Michelle en Johan se diepsee-spring rekord spat.

Ons kry die plek wat Archie op die kaart gemerk het. Ons stop en maak gereed. Die blou is diep. Dit voel of Neptunus sy reuse waterslange stuur en ons wil saamneem na sy tuiste in die donker dieptes.

Archie, ek bedoel Adam, spring eerste. Hy trek deur die lug, arms wyd verspreid. Sy lenige lyf tref die water en hy verdwyn in die dieptes. Hy kurkprop uit die water uit en die rekord is gebreek. Geluk kaptein!

Adam

Nou is dit my beurt. Ek spring minder sierlik. Eintlik sê Archie ek plons net in. Maar die diepsee-spring rekord word geëwenaar. Geluk eerste offisier! Michelle en Elize, nou sal julle moet uithaal om die rekord te breek!

Plons in die diepte

Ek sien 'n waterskilpad wat lui-lui swem na êrens. Ek sit nog so agter die helm en hoor 'n klapgeluid en Maja se enjin tril. Archie, as hooflid van Redding Internasionaal, kry die snorkel en die vabond is 'n tou in die propeller. 

Die vabond

Ai, sowat van waterkaskenades het ons lanklaas beleef. Limeni lê voor ons en ons vaar na die breekwater. Die boek sê jy moet hier alongside, maar daar staan reeds 'n ander jag wat op die gewone Griekse manier vasgemaak is. 

Ons is toe glad nie gereed vir die anker vasmaak nie en kry alles inderhaas gereed. Die man wys waar ons moet anker gooi. Daar is oral boeie en bootjies in die water vasgemaak. Die man sê ons moet gooi. So gooi ek toe tussen die boeie en bootjies anker en hoop vir die beste.

Vas is ons. Archie gaan stel ondersoek in en sê die bodem lyk soos 'n spinnerak van toue en ysters. Maar ons anker is veilig. Later trek die Franse aan die eenkant van ons in en die Italianers aan die ander kant in. 

Limeni Baai
Karavostasi Kaai

Baie later, 20:30, kom die Finne daar aan. Die gawe visserman besef daar is geen heenkome vir die Finne nie en verlaat die kaai om die plek aan die Finne af te staan. Met lazy line en al. Hulle hoef nie eers in die tou-moeras anker te gooi nie! Ek en Archie help hulle vasmeer.  Almal is vas en veilig, totdat Gus begin waai. Hy waai teen die anker en die boek sê dis nie goeie houkrag nie. Die Franse en Italianers is op in die nag om hul ankers dop te hou. Die kaptein slaap natuurlik soos 'n flippen baba en ek lê groot-oog in die bed. 

Monday, May 28, 2018

Koroni. Al weer.

27 Mei 201.8. Sondag.

Kalamata tot Koroni

Daar is iets wat vir Archie terugroep na Koroni en ons sal moet terugkeer daarheen. Ons verlaat die marina foutloos en span die seile vir 15.5 myl na Koroni. Ons seil vir 2h50 min. Die hele pad! Die kaptein is in sy skik.

Koroni
Vibe op die kaai

Ons kom saam met Gus in die baai aan en na die tweede probeerslag byt die Mantus en ons is vas. Nou wag ons dat die wind en see gaan  lê voordat ons die dorp en sy kasteel aandurf. Ons moet uitvind wat roep Archie se naam.

Die man van die Deense boot kom op dy dinghie aangejaag, reguit na ons toe. Hy stop en ons nooi hom aan boord. Hy kuier by ons en nooi ons sommer vir middagete. Ons het klaar geëet en wys die aanbod van die hand. Dis 'n vreeslike kuierige man. Hy wil ons toe net na sy boot toe vat dat ons daar kuier. En hulle het vriende van Holland aan boord. Ons gooi net wal. Hy ry toe later.

Deense oom

Die wind en see gaan lê en weg is ons. Land toe. Die kasteel is eerste op ons program. 

Koroni breekwater
Vrolike winkel
Kasteel
Ingang tot kasteel

Die fort is in die sesde en sewende eeu n.C. gebou. Soos gewoonlik het die een na die ander mag dit verower. Die kasteel is in die dertiende eeu gebou.

Archie geniet die kasteel vreeslik baie. Ons stap rond en kom op Bastion IV af. Die skemer binne en baie indrukwekkend. Hy klim die donker steil trappe van die Bastion IV voel-voel tot bo. Ek loop 'n ander pad, klim die buitense trappe en kry hom bo. Ons loop langs die muur verder. 

Ingang tot Bastion
Binne in die Bastion
Binne in die Bastion
Uitsig van Bastion

Die klooster is vir die nonne gebou. Archie moet 'n rok dra voor hy kan ingaan. Die tuine is pragtig. Blomme in baldadige kleure vul die tuin. Skoenlappers vlieg vrolik rond. Voëls sing in die bome. Sowat van rustigheid het ek lanklaas beleef.

Klein kerkie by klooster
Rokkies wil hy dra …

Van bo af kan mens die mooi kerktorings sien. Ek dink ek wil 'n non word net om hier te kan bly. 

Klooster en kerktorings

Wel, ek moet sê, die kasteel is beslis en gewis 'n besoek werd. Tot Archie het dit baie geniet.

Gus het weer begin waai en ons roei nat-boud terug na Maja. Kyk, hierdie Gus het nou al vandag vanuit die noorde, ooste, noord-weste, weste en suide gewaai.

Hierdie baai is vol lewe. Archie sien 'n vin en dis 'n dolfyn. Hy swem alleen in die baai rond, van laatmiddag tot die aand. Die mense op die kaai neem net foto's. Stadig swem hy heen en weer. Ek wonder hoekom. Dis nie soos ons dolfyne ken nie. 

Hier is ook 'n seeskilpad en visse. Ons het 'n baie interessante dag hier by Koroni beleef. Só bly ons het hierheen teruggekeer. Hierdie dorpie is Archie s'n. Dit het hom heeltyd geroep. Nou is die kaptein gelukkig en tevrede.
 
Koroni kleurspel
Beligte kasteel