29 Mei 2018. Dinsdag.
 |
Karovastasi tot Porto Kayio |
‘n Nuwe dag breek aan. Party van ons in die dorp het beter
as ander geslaap. Ons trek die anker gelukkig sonder voorval op. Dankie tog
daarvoor.
Vandag vaar ons om die middelvinger van die Peloponnisos.
Dis die tweede suidste punt van die Europese vasteland. Dis net 'n stuk van
Gibraltar wat suider is.
Die weervoorspelling sê alles is piekfyn en ons voel gerus.
Hierdie see in die deel van die wêreld is diep en kan rof raak. So, Porto
Kayio, 26.6 myl, hier kom ons!.
Ons seil net vir 25 minute. Gus is maar 'n sug. Ek kla nie,
nee ek is baie dankbaar. Die reuse klip, Capo Grosso, met 250 m hoog kranse staan
grotesk en amper lomp in die see. Later is ons om die punt. Ak. Tainaron word
versier met 'n pragtige groot ligtoring. Ons vaar met eerbied verby. Die tweede
vinger van die Peloponnisos lê agter ons.
 |
Capo Grosso |
 |
Ligtoring by Ak. Tainaron |
Ons gooi anker in die baai. Kort daarna kom al die jagte wat
saam met ons by Limeni was, een vir een in en gooi anker. Die Finne is vroeg
vandag, want ons het hulle genooi vir aandete.
 |
Porto Kayio |
 |
Neo-Maniote styl huise |
Gus waai maar hier en niemand verlaat hulle jagte om aan
land te gaan nie. 18:30 daag Sakari en Riitta op en ons het 'n heerlike aand
van kuier, lag, gesels en boontjiebredie met sappige Griekse lam.
 |
Lamsbredie |
 |
Kippis |
No comments:
Post a Comment