Monday, May 14, 2018

Ayios Andreas


13 Mei 2018. Sondag.
 
Efimia tot Ayios Andreas

Ons maak gereed om te vertrek. Elkeen kry sy opdrag en ons verlaat die dorpie, Efimia, wat ons vreeslik geniet het.

Ons vaar na Ayios Andreas, 6.6 myl. Ons gaan daar anker met 'n lang tou na die land. Ons eerste vir die seisoen. En natuurlik 'n eerste vir Sullivan. Ons vaar by die baai in en daar is reeds 'n boot. Ons geliefde plekkie is egter steeds oop en ons vaar dadelik soontoe. 

Archie tru, ek gooi die anker en toe is dit sukke tyd. Archie duik met sy sierlike boog om die tou land toe te swem. Hy snuffel 'n goeie klip uit en maak vas. Terug Maja toe, vat die ander tou en swem weer land toe. Maak vas aan 'n rots. Sullivan trek die toue in en maak vas. Toe staan Maja netjies vasgemaak in die baai.

Maak reg
Trek toue

Dis pragtig hier. Die water is kristalhelder verleidelik turkoois-blou. Ek swem heerlik. 

Dinkie neem ons na die land en ons stap op die rowwe stappaadjie na nêrens. Draai maar weer om. Maja voel tuis in die pragtige baai en ons kry bure. Die Engelse van die seiljag Wanderer, is baie edel van inbors. Hulle tel al die rommel op die strand op en gooi dit in sakke. "Goed gedoen julle!" 

Ayios Andreas Baai
Ayios Andreas Baai

Dinkie neem ons terug Maja toe en dis tyd vir die groot spring van Maja se snoet af. Ons al drie willig in om die groot sprong te neem. Archie hef die hande na bo, ek val na benede en Sullivan spring met vliënde vaandels! Sowat van pret!

Archie spring …
… ek spring …
… maar Sullivan vlieg

Terug by Maja, besluit ons dit is braai-aand. Die makkers soek 'n geskikte plek op die rotse en die braaibenodigdhede word toulangs met Dinkie rots toe vervoer. 

Toulangs
Braaiers

Alles is gereed en die vuur word aangesteek. Ons braai in ons Bushy braai (ons buurman, Bushy, het in 2013 die braai vir ons as 'n geskenk van Suid-Afrika af gebring). "Yamas Bushy en Grietjie!"

Bushy se braai
"Yamas Bushy en Grietjie"

Ai, maar die ankers is betowerend. Die brandende braaibrikette, Griekse wyn, twee ou vriende op die rotse. Toe die vuur reg is, sit die makkers die souvlakia op die kole. Archie versorg drie souvlakies en Sullivan die ander drie. Daar is 'n samehorigheid tussen die twee makkers.  Die jare tussenin het weggeval en hulle sit doodeenvoudig hulle vriendskap voort asof niks verander het nie. En ek is maar net die Seilende Sigeuner.

Ons geniet die kameraderie, die eenvoud, die vriendskap. Die wonder van aand-word speel voor ons oë af. Dis 'n verandering wat altyd dieselfde en tog so anders is. Laat dit so wees ...

Efimia.

12 Mei 2018. Saterdag.

Sarakiniko Baai tot Efimia

Agge nee! Die see het in die baai gerol en Maja het heen en weer gewieg. Soos gewoonlik slaap die kaptein soos 'n flippen baba en die blêrrie Sullivan ook! Dis net ek wat weereens soos Sherlock Holmes probeer om al die irriterende geluide op te los
Wel, toe ek uiteindelik aan die slaap raak en wakker word, is dit 'n nuwe dag. Nog 'n dag vol nuwe dinge wat ons gas, Sullivan, sal beleef en agterna met heimweë terugdink. 

Pelagia noctiluca
Strekoefeninge

Ons gaan vandag na Eufimia, 11 myl. Die makkers trek anker op, en ons vertrek. Ons vaar tussen . Ithaca - en Pera Pigadi Eiland en Sullivan moet behoorlik koers hou, want dis maar vlak, sowat 4 m. Archie "put me upfront to con the way through", en so tussen my wat die pad aanwys en Sullivan agter die helm, én die kaptein wat 'n wakende oog hou, vaar ons met vleuende vaandels deur!

Ons vaar maar net, vorentoe, altyd vorentoe! Niks buitengewoon gebeur nie. Dis net 'n heerlike gemoedelike dag tussen twee ou skoolvriende en 'n eienaardige vroumens op 'n seiljag in die Ioniese See. Kosbaar en spesiaal.

Efimia lê voor ons en die kaptein gee die opdrag en ons kry alles gereed. Die haweman staan gereed op die kaai. Archie tru, die haweman gee die bevel om die anker te gooi en ek gooi maar (ek wou eers bietjie stry). Sully help met die balfender en agtertoue en ons is maklik vas. En hier is ons.

Ek gaan dorp toe en koop vir my drie seuns elk  'n geskenkie

Dorpskaai
Efimia se kaai
Archie en ek

Ons gaan vandag, 11:00 met 'n taxi na die Melissani Grot toe. Die grot se water kom van die see by Argostoli 15 km vêr, en neem 14 dae om ondergronds tot by die grot te kom. Dit loop dan verder onder die grond tot by Sami waar dit in die see loop. Dit borrel eintlik in die see in.



Borrrel in die see in


Ons vaar op die meer in 'n tipe gondel en die man wat roei, sing en fluit te vrolik. Hy is vreeslik gaaf en neem ook gretig foto's. (Ek dink dis om sy "tip" bakkie vol te kry.)  Daar hang die mooiste stalaktiete van die grot se dak. 'n Deel van die dak het 5 000 jaar gelede ingeval. Die water is pragtig blou soos die son daarop skyn. Ons verkyk ons aan die gragtige grot. 

Grot van bo gesien

Gondels

Melissani Grot

Melissani Grot
Stalaktiete
Ek en Archie op die gondel
Kydaar

Marina, die vrou wat die taxi bestuur, neem ons terug na Efimia.

Sullivan nooi ons uit vir ete en ek is vreeslik opgewonde. Dit beteken net een ding - ek hoef nie vanaand te kook nie! Ons maak gereed en ek moet sê, die makkers lyk glad nie te sleg nie. Vreeslik aantreklik! Dis een van die beste restaurante in Efimia (Marina, ons taxibestuurder het so gesê). Sullivan eet "Red snapper"en ek en Archie eet haas. Ons het behoorlik gesmul!

Op pad na restaurant
Yamas
Eet haas
 

Friday, May 11, 2018

Sarakiniko Baai


11 Mei 2018. Vrydag.

Syvota tot Sarakiniko Baai

Ons verlaat Syvota sonder voorval en vat die pad na Sarakiniko, 17.6 myl. Daar is vandag bietjie wind en ons seil sowaar. Ons span die genoa en die hoofseil. Sullivan help met seilspan en toe vat hy weer die helm. En ons seil vir 50 minute. Te heerlik, met 'n ligte 8 knope wind van skuins agter.

Vroegoggend Syvota
Sully span die seile
Seile

Ons sou eers na Vathi gaan, maar die kaptein besluit ons gaan na Sarakiniko. Die baai bied skuiling van die noordwes en westewind, maar nie van suid of oos nie. Natuurlik kry ons 'n bietjie suid-ooste wind, net om my siel te versondig. Gelukkig waai dit net liggies. Ons gooi anker en ons dink dis te naby die kant en ons gooi weer. Die nuwe anker byt dat dit bars.

Jellievis

Ons besluit ons stap na Vathi, so 'n uur se stap van ons af. Ek wik en weeg of ek moet saamgaan, want ek wil nie vir Maja so lank alleen los nie. So 'n uitstappie sal omtrent so vier ure neem. Archie oortuig my om saam te gaan en ek saal op. Dis skoene, hoed, stapstok, lipstiffie, kamera! Toe is ek ook gereed en ons klim in Dinkie en die twee makkers roei wind-op, want Gus waai nou vanuit die noordweste. Nes ons dit wil hê.

Toe is dit met dapper en stapper na Vathi. Eers heuwel-op en daarna heuwel-af. Ons kry mooi uitsigte van arme Maja wat alleen in die baai is en die wind moet trotseer. 

Sarakiniko Baai
Sarakiniko Baai

Vathi Baai is baie pragtig, maar ek is bly ons is nie hier op anker nie. Die wit perdjies ry op die deinings die baai in. 'n Klomp arme drommels staan in die deinings en hop. Op die kaai staan nog 'n paar bote vasgemeer. Dit lyk beter daar, maar ek is bly Archie het ons eie baai gekies. 

Kerktoring
Vathi Baai
Weste winde waai
Vathi se kaai

Dis verseker nog nie seisoen in die geweste nie, want baie winkeltjies is nog besig met hul winterslaap. Bottoe.

Ons stap rond, eet roomys en vat die pad terug na Sarakiniko. Ek gooi my hande in die lug van vreugde toe ek vanuit die hoogte sien dat die kleine Maja nog veilig in die baai draai  en na Gus se pype dans.

Ons klim in Dinkie en is gou veilig op Maja. Archie kook sy spesialiteit, Ouzo hoender en ons smul behoorlik.

Thursday, May 10, 2018

Syvota


10 Mei 2018. Donderdag.

Elia Baai tot Syvota


Elia Baai was mooi in die laatmiddag en is steeds mooi in die vroegoggend. Die kapteinskoffie smaak soos gewoonlik vorentoe.

Die nuwe Mantus anker het goed gebyt en die makkers trek dit op. Ek vaar uit die baai en toe vat Sullivan oor. Ek dink hy is verlief op die helm! Ons gaan vandag na Syvota, 12.6  myl.

Ons vaar nog so lekker toe sien ek dit. 'n Vin in die vêrte! Dis dolfyne! Hulle swem baie na aan Maja. Ons geniet dit om te sien hoe hulle met Maja speel. 


Dolfyne

Dolfyne

Die eerste stop is Papa Nicolis Grot. Daar word vertel dat  'n mini-duikboot gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die grot geskuil het. Die makkers gaan na die grot kyk, terwyl ek op die boot bly. In 2014 het ek, Leon en Dirk na die grot geroei terwyl Archie op die boot gebly het. Nou is dit sy beurt. Die twee klim in Dinkie en roei daarheen. Ek en Maja sirkel voor die grot rond. Hulle bekyk die bekende grot soos wat dit 'n toeris betaam en roei terug. Ek pik hulle op en ons is reg om verder te vaar. 

Op pad na Syvota
Papa Nicolis Grot
Maja vanuit die grot

Sullivan kan nie wag om die helm oor te vat nie (ek sê mos), en ons vaar verder. Voor ons lê die ingang van Syvota. Archie neem oor en ons vaar in. Ek en Sullivan dit die fenders uit en Archie kry die toue reg. 

Ons besluit op die suidelike kaai en Archie kry ons posisie reg en tru. Ek gooi die anker en Sullivan is gereed om enige opdrag van die kaptein uit te voer. Daar is reeds manne op die kaai om die toue te vang. Seilers is darem sulke gawe mense! Alles verloop volgens plan en ons is vas. Welkom in Syvota.

Wel, dit ís die Syvota wat ek onthou, want ons is skaars hier, of die drama begin. 'n Boot kom in en Gus waai hom skeef. Die helpers help om die boot van die kaai af te stoot en dis omtrent 'n doenigheid. Ek kyk van 'n afstand af, maar dit lyk vir my maar taamlik dramaties. Archie en Sullivan sit 'n handjie by.

Almal staan paraat
Uiteindelik vas

Snaakse weer hier in Syvota. Dan waai Gus, dan lê hy weer. Dan is dit bewolk, dan skyn die son, dan reën dit. Ons sit op dek en eet 'n heerlike luukse middagete -  salm, avo, feta en olywe. Archie gaan koop 'n vars brood by die bakkery.

Luukse middagete

Ons gaan dorp toe en stap rond, maar dié plek is nog nie gerat vir die seisoen nie. Van die supermarkte is nog toe. Hier is wel baie bote wat hier vasmeer. Die kaaie is nogal vol, maar dis net die restaurante wat hulle eie restaurant kaaie het, wat vol is. Die ander restaurante is leeg. Dis vir ons 'n hartseer gesig om te sien. Toemaar, sodra dit hoë seisoen is, sal hulle almal weer vol laggende, etende mense wees.

Op die kaai
Dorp toe

Ons eet die aand sommer pasta en pesto met 'n slaai. Eenvoudig en heerlik.