Wednesday, May 9, 2018

Elia Baai


9 Mei 2018. Woensdag.

Port Leone tot Elia Baai

Dis weer Skip-skop, pak jou goedjies op jou kop... . Dis oppak, optrek en oppad. En ons verlaat 'n stil Port Leone en vaar na Elia Baai, 8.9 myl. Sullivan vat die helm en ons vaar rustig, geselsend na ons nuwe bestemming. Ons weet eintlik die houkrag is sleg in die baai, omdat daar so baie seegras is. Maar Maja prrr ritmies voort. Vorentoe, altyd vorentoe.

Helmsman

Toe is dit sukke tyd. Ons soek 'n plek, maar byt is verniet. Ek trek 'n seetuin op. Ons probeer weer, maar sonder sukses. Verlede keer, in 2013, het ons tien keer hier in die baai anker gegooi voordat hy gebyt het. Die derde keer word daai sandkol raakgegooi en daai anker byt en ons is vas. Dis 'n pragtige baai, geen ander bote is hier om die vroulike Maja geselskap te hou nie.

Ontspan op dek
Elia Baai

Ons klim in Dinkie en die twee makkers roei ons land toe. Ons stap bult-op na Katomeri. Dis 'n klein plekkie, met baie Griekse weduwees in swart getooi.

Ons en Maja

Ons stap verby 'n baie ou tannie wat sit en weef. Sy wink ons nader. Die weefmasjien het aan haar voorouers behoort. Dit neem haar twee dae om 'n serp (of is dit 'n tafellap?) te voltooi.

Sullivan koop toe een die die besondere, handgeweefde lappe. Die dierbare tante wil net saam met ons poseer vir foto's. Sy is 'n weduwee en raak toe sommer baie opgewonde toe Sullivan langs haar gaan sit. Toe woel haar handjies en voetjies vreeslik vinnig!

Weefmasjien
Tante en Sullivan

Ons stap rond en geniet dit vreeslik. Ons kom op 'n grenadella af met die mooiste blomme. 'n "carpenter bee" is besig om al in die rondte te beweeg en in die proses versamel hy stuifmeel op sy rug. Dis te pragtig. Die blom en die by.

Ons stap nog verder en Sullivan raak aan die gesels met 'n vriendelike Griek. Die mense in die klein dorpie is omtrent vriendelik.

Grenadellablom met "carpenter bee"
Sullivan maak kennis met "locals"

Ons pak die terugtog aan en die twee makkers kyk na die pragtige Maja wat nog steeds alleen in die baai lê. In die vêrte pryk die hoofland se berge met hul wolkkombers. Ai, dis pragtig hier!

Maja alleen






Die laatmiddag is magies-mooi in die baai. Die son is ryk en strelend, met 'n gloed van goud. Daar is drie mense in die baai en 'n seiljag. Daar is skaterlag wat die baai vul en glimlag op hul gesigte. Daar is heerlike kos en KWV wyn (wat Sullivan gebring het). Dit word 'n mistieke aand om nooit te vergeet nie.

Magies-mooi
Gloed van goud
Yamas

Port Leone


8 Mei 2018. Dinsdag.

Spartakhori tot Port Leone


Ag, maar ons het lekker op Spartakhori gekuier. Maar dis tyd om te gaan. Ons Suid-Afrikaanse bure, Brendan en Chantal kom groet en ons maak gereed om te vertrek.

Elkeen het sy taak. Archie is agter die helm, Sullivan moet afstoot en ek laat die snoet tou sak. Ons bure aan albei kante is baie naby ons, maar daar is geen probleem nie. Ons vaar uit en die wapad is weereens ons woning.

Ons gaan vandag na Port Leone op Kalamos Eiland, 16.4 myl. Archie oorhandig die helm aan Sullivan en hy hou ons op koers.  

Aan ons linkerkant is die hoë hoofland berge met die dorpie Mitika en sy huise wat amper met hulle voete in die see staan. Amper soos Venesië.

Mitika

Ons vaar om die hoek en Kalamos is aan ons regterkant. Net 'n entjie verder is Port Leone, waar ons gaan anker. Daar staan reeds drie bote op anker, maar daar is darem plek vir ons ook.  Die anker val en ons het 'n huis vir die aand. Dit lyk of dit 'n lekker swemplek vir die flotillas van "Sailing Holidays" is, want hulle stroom in. Hulle swem dan net en vertrek. Daar kom hoeka 'n boot te na aan ons anker vir sy middagswem.
Sullivan kry iets vir die dors en daarna roei die twee makkers land toe om 'n stap paadjie te soek. Dis toe ook terwyl die makkers op die land is, dat die konsternasie begin. Die bure wil anker optrek en hulle kom te na aan Maja. Ek is vrou-alleen op die boot.

"Cold beverages" in Port Leone
Makkers roei land toe

Hulle kom al nader met die optrek en ek sê vir hulle dis te naby! Toe eers skakel hy sy enjin aan en probeer bietjie wegkom. Ek moet inderhaas fenders uitsit en hulle druk hulle fender in. Hulle boot skuur verby Maja. Ek gee toe ook vir hulle "a piece of my mind"! Hulle kyk my grootoog aan en toe ek hard en duidelik vir hulle sê dat hulle my anker beet het, kyk hulle my met groter oë aan. Ek sien hoe my ankerketting ruk!

Intussen, op die land, staan die twee makkers die spektakel en gade slaan. Hulle sien hoe kom hulle nader aan Maja. En hoe ek bontstaan met die fenders en afstoot. Op 'n stadium het Archie toe vir Sullivan gesê hulle moet dadelik Maja toe roei.

Terug op Maja het die ander boot Maja se ketting beet en hulle vaar vorentoe met Maja agterna. Maar toe skree ek behoorlik op hulle. Toe probeer hulle Maja se ankerketting van hulle anker bevry (wat hulle wel regkry) en toe hulle anker opgetrek is, bots hulle snoet amper met ons s'n. Ek en die vreemde Engelsman het omtrent met mening afgestoot en hulle anker skuur toe rakelings by ons boot verby. Gelukkig het ek ook die groot balfender daar. 

Hulle vaar stert tussen die bene weg en die twee makkers kom aan boord. Hulle moes my lawe en Sullivan gooi vir ons elkeen 'n klein bietjie wyn in, net om my geluk te wens met my knap hantering van die situasie. Ek was so besig om vir Maja te probeer red, ek kon nie eers 'n foto neem nie!

Ons klim later in Dinkie en die twee makkers roei land toe. Ek sit agter soos “Queen Victoria”. Ons klim uit en stap na Port Leone. Die klein plekkie is in die 1953 aardbewing vernietig en die mense het besluit om eerder te emigreer as om die plekkie te herbou. Daar wel nog elektrisiteit in die plekkie. 

Port Leone dorpie
Aan land
Aardbewing skade

Daar word vertel dat drie of vier kerkgangers elke Sondag na die kerk in Port Leone kom, die plek skoonmaak en dan bietjie bid. Dan gaan hulle weer huis toe. 

Kerkie

Pragtige olyfbome groei hier en die twee makkers ondersoek ’n geroeste ou karretjie. Dit laat hulle seker dink aan vanmelewe se ryding. Ons sien mooi uitsigte van daar en daar is ook twee ou kaaie waar bootjies kan vasmeer. Ons stap terug en Maja poseer sierlik vir ons in die baai. Ons is die enigste jag vanaand in die baai. 

Ou karretjie
Ou olyfboom
Uitsig
Op die kaai
Sullivan en ek
Maja alleen in die baai

Ons eet varknek, kapokaartappels en groente. Heerlik.

Aandete

Monday, May 7, 2018

Spartakhori

7 Mei 2018. Maandag.

Vlikho Baai tot Spartakhori

Na 'n heerlike stil nag word ons lui-lui wakker. Vlikho Baai lyk pragtig in die oggendstond. Die jagte staan statig en lomerig op hul ankers. 

Vlikho Baai

Maja se bemanning is baie besig. Archie is besig om water uit die boot op te droog. Hy vermoed die geyser lek. Sullivan vee die dek en skut die matjies uit en ek maak binne skoon. Sowat van sindelikheid het jy lanklaas beleef. Toe is ons gereed vir vandag se vaart.

Sullivan maak skoon
Archie maak droog

Ons het ’n kort dag vandag. Ons nuwe huis is Spartakhori, 4.6 myl, by ’n restaurantkaai. Dit beteken net een ding – ek kook nie vanaand nie! Ons gaan uiteet!

Die anker het behoorlik gebyt en Archie en Sullivan sukkel om al die modder van die anker af te kry. Toe vat ons die pad. Ons vaar, want Gus is nêrens te sien nie. Ons vaar verby die privaat eilande van die Onassis familie, Nisis Skorpios en Nisis Skorpidhi. Jy mag nie daar naby gaan nie. Dis verbode terrein. 

Oggendskoot

Sullivan is weer agter die helm. Hy kan net nie daai helm uitlos nie. Ons vaar stadig en rustig, want ons is nie haastig nie. Die see is kalm en plat. Dis heerlik windstil. Ons Maja prrr ritmies voort. By Spartakhori Baai vaar ons stadig in . Ons wag vir die man van die restaurant om vir ons te wink. Hy kom rustig aangestap en wys vir ons ’n plek aan. Die fenders is uit, Archie tru, Sullivan staan gereed met ’n fender en ek met die boothaak. Ek gryp die tou met die boothaak en loop vinnig agtertoe. Die kaaiman se Sullivan moet help, want die you is swaar. Ons trek die snoettou en maak die vas. Archie is agter doenig. Dit bly maar ’n adrenalien- belaaide besigheid om vas te meer. Alles verloop seepglad en ons is vas.  

Agter die helm

Dis ’n heerlike dag. Die son skyn vriendelik bo in die lug. Die blou loer deur die wit van die wolke. Ons besluit dis die beste tyd om wasgoed te was en ek en Sullivan voeg die daad by die woord. Op die drade wapper, nee dit wapper nie, want daar’s nie wind nie, die wasgoed. Silwerskoon.

Toe gaan ons chora (’n dorp op die heuwel) toe. Ons gaan mos altyd dorp toe. Op opper opste stap ons. Daar is straatjies en mooi vensters en deure. Daar is ook ’n toeriste winkel en ek koop vir my skoondogter, Roelien en vir my seun, Gerrit, mooi geskenke. Ai, maar dis te lekker om geskenkies te koop! Dis te heerlik om in die chora rond te loop. 

Helder huisie
Klokkespel

Ons kry mooi uitsigte van die baai en staan en kyk hoe kom die jagte in en hoe hulle vasmaak. Dis heerlik rustig. Ons hou sommer baie van Spartakhori.

Makkers
Spartakhori Baai
Uitsig
Restaurant kaai
Geniet roomys van kompetisie

Toe is dit tyd om op te tert en reg te maak vir die aandete by die restaurant. Dis 'n heerlike aand. Die tafeltjies en stoeltjies wag vir ons en ons sit aan. Ons bestel 'n kg rooiwyn. Archie eet hoenderpastei, Sullivan eet vis en ek eet garnale. Wel ek het heerlik geëet en heerlik gekuier.

Na ete drink Archie van die whisky wat Mary-Anne saamgestuur het. Yamas Mary-Anne!

Sullivan, smeulend en sensueel
Archie en ek, opgetert
By die restaurant







Sunday, May 6, 2018

Vlikho Baai. Eerste anker

6 Mei 2018. Sondag.

Preveza tot Vlikho Baai

Vandag vat ons die pad. Sullivan se nooiensvaart! Ons gaan na Vilkho Baai toe, 18.5 myl. Ons waai vir Charl en Mary wat voor op hul boot, Ciccio, staan en soos windmeulens waai. Hoop ons sien hulle weer hierdie jaar.

Preveza
Maja op pad (Mary se foto)
Nooiensvaart

Ons eerste mikpunt is die brug by Lefkas. Ons het 8:00 vertrek en wil 10:00 deur die brug gaan. Sullivan is agter die helm en hou sy lyf kaptein. Geniet dit vreeslik. Voor ons is die ou bekende kasteel van Lefkas en ons wag in sirkels voor die brug totdat hy oopswaai. Daar is net twee bote wat deurvaar. In die vêrte voor ons staan die ystervarkpenne van Lefkas Marina penorent in die lug.

Lefkas se swaaibrug …
… swaai oop

Ons vaar deur die vlak kanaal, tussen die rooi en groen bakens wat as padvinders  vir ons die weg aandui. Dis bewolk. Dit reën elders, maar binnekort gaan die nat ons ontdek. Die waterdruppels word te swaar vir die wolke en hulle val liggies na Moederaarde. Nie eintlik Moederaarde nie, maar op Maja in die see. 

Bewolk

Ons vaar verby Nidri en dan lê Vilkho Baai voor ons. Dis ’n groot baai met ’n oop hart. Daar is altyd plek vir nog een. En sowaar, ons eerste anker van die  seisoen word in die reën gegooi. Toe is ons tuis. 

Vlikho Baai
Archie verduidelik "anchor watch" app

’n Kaptein se werk is nooit klaar nie en Archie en Sullivan stel ondersoek in waarom die toilet anders as gewoonlik pomp. Hy maak die klep los wat hy nou die dag gediens het en sit dit weer aanmekaar. Die sondebok is toe die O-ring wat in die verkeerde plek was. Dit klink nou heel eenvoudig, maar glo vir my, dit was ’n gepomp en goeters wat los- en vasgedraai moet word.  Sullivan het selfs in ’n stadium met die agterkant van ’n mop aan iets gedruk sodat Archie beter kon sien. 

Berugte klep
Kyk of toilet uitpomp

Wat hulle eintlik gedoen het, weet ek nie. Maar wat ek wel weet, is dat die twee makkers van ouds dit vreeslik geniet het. Toe Archie “Hieee Haaa” skree, weet ek die twee het sukses behaal. Archie besluit om die sukses met ’n swem te vier (eintlik meer om net skoon te kom). Hy voeg sommer ook die daad by die woord en spring in die 18° C seewater in. Ek volg op sy hakke en Sullivan wil nie as sussie bekend staan nie en durf ook die seewater aan. Ons almal kry ons eerste swem van die seisoen.

Kaptein wys hoe dit gedoen word …
… en ons volg

Ons eet heerlike varknek op 'n natterige reënerige dek. Wat 'n lekker dag!