Saturday, May 5, 2018

Preveza. Nuwe gas.


5 Mei 2018. Saterdag.

Dit reën in die oggend. En dit donder en bliksem. Toe skyn die son weer. Ons moet gou die laaste voorrade gaan koop voordat Sullivan kom. Ons stap na die supermark en ons goedjies  word by Maja afgelaai. Ons spoed na die vis-en vrugtewinkel vir die laaste varsprodukte en ’n vars vis vir aandete. Ons stap tevrede terug. Ek is eintlik haastig om gou-gou vir Maja slaggereed te kry vir Sullivan se koms. En toe sien ons die eensame figuur op die bankie naby Maja. Hy het ’n groot sak en Archie sê dit is Sullivan. Hy was wraggies voor ons by Maja. Hy het te vroeg opgedaag!

Archie en Sullivan groet soos Dawid en Jonatan. En skielik kry Archie se vriend ’n gesig. Nou weet ek ook hoe hy lyk.

Ou skoolmaats

Hy trek sy skoene uit en loop seremonieel oor die plank. Sullivan is aan boord en gereed vir sy twee weke op Maja. Ons geniet ’n welkomdrankie en eet ietsie op die dek en die twee ou vrinne praat land en sand. Hulle was saam op skool, baie jare gelede.

Sullivan aan boord

Bagasie volg

Welkom
 
Ons stap dorp toe, maar al die winkels is toe. By die waterfront, waar al die jagte in hul glorie langs die kaai ingeryg staan, is daar volop lewe. Dit klink feestelik en die eetplekke sit vol honger en dorstige mense.

Ons maak gereed vir Charl en Mary se kuier. Hulle het ons gister vreeslik bederf en nou is dit ons beurt. Die baan word geopen met Raki van Skiathos. Daarna peusel ons aan al die eetgoedjies en drink ’n glasie wyn. Dit word ’n heerlike aandjie met bekende onbekendes in ’n bekende onbekende land.

Sullivan, Mary en Charl
Archie, ek en Sullivan

Water toe.


4 Mei 2018. Vrydag.

Aktio Marina tot Preveza. Let op na die kanaal tussen die see en Preveza (links onder)

Vandag 10:00 kom hulle ons haal, water toe! Gus lê en ons trek gou die genoa op terwyl dit windstil is. Ek draai daai katrol dat en my bo-rugspiere sê: ”Hallo daar!”

Toe kom die gedreun aangery en eers word ons Franse bure se jag water toe gery en daarna is dit ons beurt. Vir my is die hele besigheid van land na water altyd baie spanningsvol. Al skuttende ry die geel masjien Maja na die water. By die sloot gekom, staan die manne gereed met die boothake om die fenders af te gooi en die toue te kry om vas te maak. Archie hou ’n wakende oog dat alles vlot verloop. Die manne van Aktio Marina weet wat hulle doen!
Maja op die geel masjien
"Lead on McDuff"
Daar gaan sy
Archie hou 'n ogie

Toe kom die groot oomblik, gaan die motor vat. Archie skakel dit aan. Dit vat. Dit vrek. Hy probeer weer. Dit vat! Dit vrek! Ag genadiggie tog! Hy gaan ondertoe en ontdek dat die diesel-afsluit klep onder die bed nog toe is. Hy maak dit oop, pomp die diesel toevoer 'n paar keer en probeer dit enjin weer aan die gang sit. En siedaar Maja vat. Voelbare verligting vloei deur ons en daar trek ons.

Ons gaan na Preveza, net ’n myl weg oorkant die marina. Dis daar waar ons môre vir Sullivan, Archie se skoolvriend, ontmoet. Die eerste vasmeer van die seisoen vul my altyd met adrenalien. Ons kry ’n plek, Archie tru en ek gooi die nuwe Mantus anker. Archie se skatting is goed, 40m ankerketting en ons maak alleen vas, suksesvol, sonder sukkel. En daar skink ek vir ons die eerste koue drankies van die 2018 seilseisoen!

Yamas!

Ons het elektriese krag nodig, want al die pogings om vir Maja aan die gang te kry, het ons krag gevreet. Die twee kragbokse naby ons is stukkend en die ander is te vêr. Archie loop kyk en sê ons moet skuif. Ek is een van daai mense wat, as ek eers vasgemaak het, is ek vas. Van ’n geskuif wil ek niks weet nie. Maar nou ja, die Kaptein se woord is wet. Wie is die Eerste Offisier om te stry. (Ek het wel bietjie baie gestry.)

Toe is dit toue losmaak, anker optrek en ons kry ’n ander plek. Archie tru, ek gooi 49 m ankerketting uit. Ons het 50 m ketting en daarna 10m tou. Gelukkig is ons nie op tou nie. Weer suksesvol vas, die keer met die hulp van twee weldoeners. Toe is ek so gedreineer dat ek ’n bietjie moes gaan lê. Archie gebruik die tyd om doeane toe te loop om ons bootpapiere te hernu.

Charl en Mary is ook vasgemeer by die kaai. Ons skuld mos hoeka vir Mary geld, so ons het ’n afspraak met hulle vir ’n skemerkelkie. Ons stap soontoe en vereffen ons skuld. Ons kuier heerlik op hulle catamaran, Ciccio. Dis stories, staaltjies en skandes wat uitgeruil word. Nodeloos om te sê, ons skaterlag vul die dorpskaai en word een met die Griekse vrolikheid. Ons is hier, ons is deel, ons lewe!

Archie en Charl knak 'n blikkie
Staaltjies en stories
Mary, ek en Charl

Thursday, May 3, 2018

Aktio Marina - Werk, werk, werk!


1 – 3 Mei . Dinsdag – Donderdag.

Werk, werk, werk! Die vuile kleine Maja moet weer in ’n “ship shape” toestand kom. Alles moet uitgepak word en op hul plekke gebêre word (reël 9).

'n Trop beeste stap wei-wei verby en vat sommer kortpad deur die vlak seewater na die oorkant. Die spreekwoord sê mos hoeka die gras is altyd groener aan die ander kant!

See koeie

Die eerste belangrike taak is om die nuwe Mantus anker pas te maak. Die getroue ou Delta lyk maar verwese en afgetakel teen die spoggerige windgat nuwe Mantus. Delta word seremonieel afgehaal en vervang met Mantus, wat wonder bo wonder pas. Geen verstellings is nodig nie en die kaptein kyk tevrede na sy nuwe anker. Ek kyk dit maar net so en hoop ek kan net so goed daarmee anker gooi. 

Delta en Mantus
Aan die werk
Mamtus kom op …
… en alles pas mooi

Maja word van bo tot onder gewas en gestofsuig. Beddens word opgemaak, kaste word reggepak en onnodige goed word weggegooi. Dis ook met hartseer wat ons die kapteinskussing wat Brigida vir Archie gegee het, ook vaarwel moet toeroep. Dit het waarlik goeie diens gelewer en die kaptein het altyd heerlik op hom gesit. 

Pak kaste reg

Maja se dek word gewas, die hout word vertroetel en later met olie behandel, toue word teruggesit, Dinkie word opgeblaas en die vlae word gehys. 

Dek word ge-olie

Na die eerste dag wat mooiweer en warm was, kom groet Gus ook, net om seker te maak dat ek weet wie eintlik baas hier in Griekeland is. Gus orkestreer en dirigeer die nag die seiljagorkes en dit is suisings en druising. Toue klap en waai en die maste treur en beur. Die vlae dans en vertel dat dit ’n oostewind is.

Toe gaan ons dorp toe. Ons is baie bly daaroor, want ons het eintlik nie kos op die boot nie. Hier is nie winkels nie en die marina se bussie neem die seilers elke dag 10:00 dorp toe. As dit nie vir die smulpakkies was wat Elize vir ons saamgestuur het nie en ou pasta wat nog in die kas was nie, het ons verhonger. Mary, wat ons verlede jaar hier in Preveza ontmoet het, is ook op pad dorp toe en ons is baie bly om haar weer te sien. Ons ry al geselsend na Preveza.

Elize se smulpakkie

Natuurlik gaan die kaptein eerste na die chandler toe om teak olie te koop en toe dit by die betaalslag kom, besef hy ons wallet is nog op Maja. Geen inkopies vir ons vandag nie! Honger is ons voorland. Die heerlike aarbeie grynslag in my rigting. Die spanspek koggel my uit. Die roket roep my. Die vis vermy my. Die mond word dik en my wange blaas op.

Toe kom ons redding aangestap, Mary! ’n Engel net soos my ma was. Ons vertel haar van ons penarie en ons hoef nie eers te vra nie, sy leen dadelik vir ons geld. Skatryk, skatryk, pennieloos se baas. Toe kan ons koop. Ons ry doodtevrede terug na die marina.

Vanaand eet ons nie pasta nie

Hier in die marina is almal aan die werk. Op die wasgoedlyne wapper trotse, welriekende, silwerskoon wasgoed.  Oral is vrolike seilers vlytig besig om hul jagte gereed te kry vir die nuwe seisoen. Dit woel en werskaf en ruil wenke en raad uit. Dis vreemde tale en vreemde gesigte in ’n vreemde land, wat eintlik al so bekend is. Ja, ons is inderdaad terug!

Môre gaan ons water toe!

Wednesday, May 2, 2018

Dis weer sukke tyd!


29 April 2018. Sondag.

Die familie kom groet, want dis weer sukke tyd!  Die bome in ons tuin se blare val en dis tyd om te gaan. Verlede jaar het ek nog ’n ma gehad toe ons vertrek het, wat altyd gevra het of ons nou regtig weer moet weggaan. Maar nou ja …

Die Fandamilie

Die rooi gevaartetjie stop voor ons motorhuis en ons persoonlike uber-man, Gerrie met sy persoonlike uber-vroutjie, Ansu, is gereed ons ons ewe tradisioneel lughawe toe te vat. Gerrit verewig die oomblik met die lens en daar trek ons.

Rooi gevaartetjie

Na ons gebruiklike koffie (eintlik melkskommel die keer), is dit tyd om te groet. Ons waai en waai en waai en toe waai ons. Dis tyd vir ons seil-avontuur van 2018. Die kaptein van Egyptair sit daai vliegtuig in Kaïro so sag neer, ek voel nie eers toe die wiele die grond raak nie. Welgedaan!

Van Kaïro vlieg ons na Athene en kry die lughawe bus na Kiffisos busstasie, waar ons die bus na Preveza kry. Archie koop kaartjies vir die 15:00 bus en ons loop baie vinnig na die perron. Wraggies betyds, ons kom 14:59 daar, klim die express bus en vertrek na Preveza. Wat ’n geluk!

Van Preveza kry ons ’n taxi na Aktio Marina en 20:00 kom ons by ’n baie stowwerige, verlangende Maja aan (met ’n pikante tuintjie op haar stertjie).

Pikante tuintjie

Welkom tuis. Ek het al vergeet hoe klein is die kleine Maja!