Saturday, May 5, 2018

Water toe.


4 Mei 2018. Vrydag.

Aktio Marina tot Preveza. Let op na die kanaal tussen die see en Preveza (links onder)

Vandag 10:00 kom hulle ons haal, water toe! Gus lê en ons trek gou die genoa op terwyl dit windstil is. Ek draai daai katrol dat en my bo-rugspiere sê: ”Hallo daar!”

Toe kom die gedreun aangery en eers word ons Franse bure se jag water toe gery en daarna is dit ons beurt. Vir my is die hele besigheid van land na water altyd baie spanningsvol. Al skuttende ry die geel masjien Maja na die water. By die sloot gekom, staan die manne gereed met die boothake om die fenders af te gooi en die toue te kry om vas te maak. Archie hou ’n wakende oog dat alles vlot verloop. Die manne van Aktio Marina weet wat hulle doen!
Maja op die geel masjien
"Lead on McDuff"
Daar gaan sy
Archie hou 'n ogie

Toe kom die groot oomblik, gaan die motor vat. Archie skakel dit aan. Dit vat. Dit vrek. Hy probeer weer. Dit vat! Dit vrek! Ag genadiggie tog! Hy gaan ondertoe en ontdek dat die diesel-afsluit klep onder die bed nog toe is. Hy maak dit oop, pomp die diesel toevoer 'n paar keer en probeer dit enjin weer aan die gang sit. En siedaar Maja vat. Voelbare verligting vloei deur ons en daar trek ons.

Ons gaan na Preveza, net ’n myl weg oorkant die marina. Dis daar waar ons môre vir Sullivan, Archie se skoolvriend, ontmoet. Die eerste vasmeer van die seisoen vul my altyd met adrenalien. Ons kry ’n plek, Archie tru en ek gooi die nuwe Mantus anker. Archie se skatting is goed, 40m ankerketting en ons maak alleen vas, suksesvol, sonder sukkel. En daar skink ek vir ons die eerste koue drankies van die 2018 seilseisoen!

Yamas!

Ons het elektriese krag nodig, want al die pogings om vir Maja aan die gang te kry, het ons krag gevreet. Die twee kragbokse naby ons is stukkend en die ander is te vêr. Archie loop kyk en sê ons moet skuif. Ek is een van daai mense wat, as ek eers vasgemaak het, is ek vas. Van ’n geskuif wil ek niks weet nie. Maar nou ja, die Kaptein se woord is wet. Wie is die Eerste Offisier om te stry. (Ek het wel bietjie baie gestry.)

Toe is dit toue losmaak, anker optrek en ons kry ’n ander plek. Archie tru, ek gooi 49 m ankerketting uit. Ons het 50 m ketting en daarna 10m tou. Gelukkig is ons nie op tou nie. Weer suksesvol vas, die keer met die hulp van twee weldoeners. Toe is ek so gedreineer dat ek ’n bietjie moes gaan lê. Archie gebruik die tyd om doeane toe te loop om ons bootpapiere te hernu.

Charl en Mary is ook vasgemeer by die kaai. Ons skuld mos hoeka vir Mary geld, so ons het ’n afspraak met hulle vir ’n skemerkelkie. Ons stap soontoe en vereffen ons skuld. Ons kuier heerlik op hulle catamaran, Ciccio. Dis stories, staaltjies en skandes wat uitgeruil word. Nodeloos om te sê, ons skaterlag vul die dorpskaai en word een met die Griekse vrolikheid. Ons is hier, ons is deel, ons lewe!

Archie en Charl knak 'n blikkie
Staaltjies en stories
Mary, ek en Charl

No comments:

Post a Comment