Thursday, August 24, 2017

Idhra Eiland. Mandraki moles en Tselevinia.


20 Augustus 2017. Sondag.

Tselevinia tot Tselevinia via Mandraki en Idhra

Archie wil graag vir Johan en Michelle wys hoe lyk Idhra. Die dorpie wat dieselfde naam het as die eiland, is ’n bewaringsgebied. Daar mag nie veranderinge aan die dorp aangebring word nie en daar is ook geen motors in die dorp nie. Daar is wel duisende toeriste daar. En die vervoermiddel is donkies en etlike perde.

Ons trek die anker op en vaar die 8.5 myl na Mandraki. Dit is ’n diep baai waar jy kan anker en dan stap jy dorp toe of vaar in die watertaxi na die dorp. Ons wil dan teruggaan en weer by Tselevinia slaap, want ons is haastig om die volgende dag na Poros te gaan. As jy by Idhra vasmeer, kom jy te laat daar weg.


Op pad

Ons vaar by Mandraki in en wil sommer vry swaai op anker, want ons wil nie lank bly nie. Die baai is te diep, jy moet eintlik anker en ’n lang tou land toe neem end it is te veel moeite vir so ’n kort rukkie. Archie besluit ons gaan gou kyk hoe lyk dit in Idhra se hawe. Ons sal teen die suid kaai vasmeer, dan kan niemand voor jou anker en aan jou boot vasmaak soos by die noord kaai nie.

Maar helaas, daar is nie plek nie en en ons vat die pad terug na Mandraki. Ons gaan maar die tou land toe vat. Ons gooi anker en begin tru. Archie spring af en swem land toe. Toe kom die die man en sê hulle anker is baie skeef en ons is waarskynlik oor hulle anker. Archie maak die tou los en swem terug na Maja. Ons trek die anker op en soek ’n ander plek.  Ons gooi weer. Ek en Johan vloek lekker in Afrikaans en toe groet die vrou langsaan ons in Afrikaans. Sy het elke woord gehoor. Ons lag te lekker.

Sierlike boog
Maak vas

Die anker byt nie en ons trek weer op. Gooi vir ’n derde keer in 15m diep water anker en dit lyk eers of dit sleep, maar toe byt hy. Ons het net 25m ketting uit, maar gelukkig gaan Archie op Maja bly terwyl ons dorp toe gaan. Ons gaan mos vanaand weer op Tselevinia slaap.

Ek, Michelle en Johan stap na die watertaxi en vra wat dit kos en die man sê €6. Dis vrekduur vir ’n 15 minute se pendel en ons besluit om die 2km te stap. Dis warm en ons sweet. Ou Archie bly alleen agter.

Idhra is pragtig en ons stap sukke steil trappies op na bo. Ons kry mooi uitsigte oor die dorp. Ons eet ’n gyro en koop ’n wegneemete vir Archie en toe los ek die kinders en stap terug na my kaptein in die baai by Mandraki. 

Johan en Michelle
Uitsig oor Idhra
Ek en Michelle
Idhra
Idhra taxi's

Hy deel my mee dat ons anker aan ’n vasmeerblok se ketting vasgehaak het. Ons is behoorlik vas. Ons wag dat Michelle en Johan terugkom en Archie bespreek strategie. Wat gaan ons doen om ons anker te bevry.

Plan A. Archie en Johan laat sak ’n tou tot by die anker. Met Johan in die water om sake dop te hou en Archie in Dinkie en ek by die anker katrol probeer ons die anker agteruit uittrek. Dit werk nie.

Plan A

Plan B. Ons ry uit met Maja en soos ons uitry, probeer ons die anker uit te lig. Michelle is op die land, want sy het die toue gaan losmaak. Ek is agter die helm met ’n boot met ’n slap anker, Archie is in die water met die duikbril en Johan is op die Dinkie. Ons probeer ons bes om Maja los te kry. Ek jaag vorentoe en dan agtertoe. Dit kreun en klap en die anker raas. Maar loskom is min. Archie klim aan boord en hy probeer ook. Ons trek so hard dat ons vrees die ankersisteem gaan breek. Plan B misluk. 

Michelle alleen op land

Plan C. Ons maak weer aan die land vas. Johan en Michelle gaan kry die duiker se telefoonnommer by die restaurant en later bel Archie die duiker. Hy sê hy kom sewe-uur. Ons dink dit is die volgende dag maar 19:30 daag die duiker op. Hy is hier. 150 en vyf minute later is ons anker vry. Plan C slaag. Ons is vry.

Die duiker sê hy het ons anker voor die ketting neergesit en seker gemaak dat hy byt. Ons trek die anker styf, maar die blerrie anker is nie vas nie. Toe trek ons maar die anker op, maak die toue los en vertrek na Tselevinia. Ons het nog bietjie daglig oor, maar dit word vinnig donker. Die laaste sonstrale verdwyn agter die berge en dit word amptelik aand.

Ons word toe een van daai jagte wat donkeraand in ’n baai kom en ankerplek soek. Ek vra mos altyd: ”Wat besiel die mense om so laat by ’n plek aan te kom?” Vanaand is ons een van hulle. Ons gooi in die donker anker en die adrenalien sypel uit ons lywe en skielik voel ek baie veilig in die bekende baai van Tselevinia.

Wat ’n dag!

Monday, August 21, 2017

Tselevinia. Heerlike anker.



19 Augustus 2017. Saterdag.

Ermioni tot Tselevinia

Anker op en weg is ons na Tselevinia, 13 myl. Dis mos die simpel stuk see waarvan ek nie hou nie. Gus is mos vreeslik wispelturig hier. Weet nie waar vandaan hy moet waai nie. Weet nie wanneer hy moet waai nie. En dan lê hy, dan ruk en pluk hy. Maar die bemanning wil seil.

Dan is die seile op, dan ruk Gus ons dat ons skuins lê net om my te ontstel, dan lê hy weer so ’n bietjie. Michelle en Johan geniet die geseilery en gee nie om as ons skuins lê nie en om te help om die seile groter en kleiner te maak nie. Hulle trek toue en laat skiet soos meesters. Dis net ek wat nie van die omval hou nie.

En so omvallerig, kom ons toe uiteindelik by Tselevinia aan. Ons kan dié plek al ons eie noem, want ons is gedurig hier. Ons gooi anker en vas is ons in die mooi baai. Die jonges baljaar soos kinders in die see. Hulle snorkel en swem en spring van Maja se snoet af.

Swem
Daar gaat hy
Vlieënde Visser

Ons blaas die lilo's op en toe lag ons vir Johan wat so sukkel om op die gladde ding te kom. Ongeduldig help Michelle om die ander een op te blaas. Sy kan nie wag om in die water te kom nie. Toe lê die tweetjies te heerlik op die lilo's en geniet die somer, son en saffier.

Uiteindelik bo-op
Sonbaai

Natuurlik swem die oues van dae ook en dit word ’n heerlike dag. Vergete is my vies wees vir Gus! Toe Johan eers die snorkel onder die knie kry, is daar geen keer aan hom nie. Hulle bekyk die onderwater tonele en verstom hulle aan die verskillende spesies visse. Toe die een snorkel se glasie uitval, maak hulle beurte. Michelle swem met die noedel, terwyl Johan snorkel en dan ruil hulle weer om. Hulle het later krokodilvel van al die geswem. Ai, maar die kinders geniet dit. 

Klaar geswem
"Ek kyk graag so diep in jou oë …"

Ons eet souvlakias wat in Ermioni gekoop is en Suid-Afrikaanse pap. Dit is ’n heerlike afsluiting van ’n baie genotvolle dag.

Sundowners
Pap en vleis

Saturday, August 19, 2017

Peloponnisos. Ermioni met ’n ompad.



18 Augustus. Vrydag.

Portocheli tot Ermioni via Dhokos

Archie gaan na die hawepolisie toe om die nuwe bemanning se name op die lys te kry. Michelle en Johan gaan koop vars brood en ek en Michelle gaan koop vars vis by die visserman se bootjie. Ons wag vir die waterman. Hy het gesê hy kom 9:00, Griekse tyd. En dis omtrent Griekse tyd, want 10:00 besluit ons maar om te ry, sonder water.

Broodkopers
Koop vis


Almal maak gereed. Archie agter die helm, Michelle gereed met die fender om af te keer en Johan by die toue. Ek trek die anker op. Alles gaan goed, totdat die bure met die klein motorboot se anker saam ons s’n te voorskyn kom.

Ek sê vir Archie ons het ’n anker, maar hy kyk my net aan. Neem my glad nie ernstig op nie. Ek weet nie wat hy eintlik gedink het ek sê nie, maar ek vra vir hom of ek die helm moet oorvat dat hy die anker moet loshaak, toe besef hy hier is iets aan die gang.

Mev. Boon vat toe die helm oor, maar die wind waai ons al verder met die twee ankers en al. Oral staan manne by hulle anker en skree raad vir my. Een van die groot bote se manne sê ons is “too close, too close” aan sy anker. Ek roep benoud na Archie en sê hy moet die helm oorneem en die situasie red. Wat hy ook meesterlik doen. Hy vaar met die anker tot regoor die klein motor se posisie en Johan gooi die anker sekuur op die regte plek in die water. Wat ’n verligting! Nie net vir ons nie, maar vir almal wie se ankers in gedrang was. 

Gooi anker terug

En toe vertrek ons na Nisos Dhokos, 13 myl. Gus waai en ons span die seile. Michelle en Johan help en alles verloop volgens plan. Ons seil amper vir twee ure en Johan is agter die stuur van sake.  Die kaptein en sy bemanning besluit ons vat die lang pad na Dhokos Eiland, want dan kan ons verder seil. Dan waai Gus nie van voor nie. 

Ons vertrek

Hemel, maar in ’n stadium waai daai Gus 30 knope en ons beur teen die wind. By Dhokos gekom, is die eerste baai vol en by die tweede baai, rol die deinings een vie een in. Toe is daar net een plek vir ons oor en dit is Ermioni,  22.6 myl van Portocheli af. 

Rol tou op
Johan agter die helm
Windverwaaid
Michelle en Johan

Ek voel sommer  tuis, want ons was anderdag ook hier. Ons gooi anker en vas is ons. 

Michelle en Johan kry hulle eerste swem. Hulle baljaar en swem en in die proses swem Michelle in die see-egel op die rots vas en kry n hele hand vol see-egel dorings. Archie en Johan probeer dit uithaal. 'n Pynlike stadige proses en nie almal kom uit nie. Eina pyn.

Eerste swem
See-egel (sea urchin) skade

Die twee jonges van dae neem vir Dinkie en gaan ondersoek die droë grond. Hulle stap na die kerk toe, stap in die woud en drink ’n lafenis by die oudste Taverna in die Saronic see. Maar sowat van onvriendelike en ongeskikte mense het ons lanklaas ervaar. Michelle en Johan bly sommer baie lank weg en kom amper donker terug.

 
Gaan land toe

Ermioni panorama
Johan en Michelle by Ermioni

Ons eet heerlike vars vis wat ons die oggend by Portocheli gekoop het.


Friday, August 18, 2017

Peloponnisos. Portocheli.



16 en 17 Augustus. Woensdag en Donderdag.

Astrous tot Portocheli

Nou is dit vir die groot wag. Wanneer die ure soos dae voel, die minute soos ure en die sekondes soos minute. Dis nou die wag vir Michelle en Johan.

Ons vertrek na Portocheli, 20.3 myl en ons seil vir 1h50 min. Die res van die tyd motorseil ons en ’n deel vaar ons. Gus waai al hoe sterker. Later waai hy tot 25 knope. Ai, die blerrie Gus. Versondig alewig my siel!

Ons vaar hoopvol kaai toe en daar is sowaar ’n plek vir ons. Ons maak gereed om in die wind vas te meer. Archie neem posisie in en ek gooi die anker. Die Taljaner wag op die kaai om ons met die toue te help en ons meer maklik vas. Ons ander buurman se anker lyk baie skeef en ons is nie seker of ons oor sy anker gegooi het nie.

En hier is ons nou. Dit is nie ’n vreeslike mooi dorp nie, maar die supermark wink vir ons. Ons moet voorrade gaan koop vir Johan en Michelle. Ons kom met pakke vol kruideniersware by Maja aan.

Die bure met die skewe anker vertrek en ons vrees is bewaarheid. Hulle tel ons anker op, maar gooi dit darem netjies in die see. Ek trek die anker en hy byt wonderbaarlik. Al probleem is dat ons nou net 25m ankerketting uit het, terwyl die ander mense van 40m tot 60m uit het. Die dwarswinde kan vreeslik hier waai. Maar nou ja, ons is nie lus om weer te gooi nie en dié plek se bodem se houkrag is goed. Ons sal maar duim vashou.

Môre-aand kom ons nuwe kuiergaste.

Wel, die volgende dag het genoeg ankerkruis-dramas om vir ons ure se kyk te besorg. Ons gaan wag vir Michelle en Johan by die bushalte. Hulle kan enige tyd tussen 19:00 en 20:00 kom. Ons kry die boodskap dat hulle 15km van ons af is en ’n kwartier later laai die bus hulle sommer langs die straat af. Ons sien dit en loop met groot spoed daarheen.

Toe ons mekaar sien, wuif ons soos windmeulens. Hulle is hier! Ons groet innig en hulle moet vir Maja uitken. Sommer gou sien Michelle die SA-vlag en hulle loop die plank en is by hul tuiste vir die volgende 10 dae.

Hello Michelle
Hello Johan
Michelle loop die plank
Johan aan boord
Welkom julle

As welkom drankie kry hulle heerlike retsina. Dis mos ’n tipiese Griekse wyn wat ’n ondertoon van muf en terpentyn het. Die eerste sluk is ’n skok en daarna word dit draaglik en nog later word dit lekker.

Ons bedien vir hulle ouzo hoender en ons sit heerlik op die dek en eet.

Baie welkom julle. Ons is bly julle is hier!