Monday, August 7, 2017

Evia Eiland. Karystos.



6 Augustus 2017. Sondag.

Animvoriou Baai tot Karystos

Dit was ’n nag van loei-lawaai en min slaap. Alles lyk egter beter as dit dag word. Maar van Gus het ek nou eers genoeg gehad. Ons bekyk die windvoorspellings en sien die plek om na te gaan is Karystos, 22 myl. Ons hoop maar van die beste, want al die boeke praat van die hewige rukwinde. Die een boek sê: “You are advised to have pretty much all sail off in good time.” En dis nou as jy die baai waar die hawe is, invaar. Wel, nou dit klink bemoedigend!

Oggendskoot - Gus

Ons seile is af en ons vaar die laaste 3myl in die groot baai na die hawe. Gus waai die water silwergrys met sulke klein perdjies. En my moed sak in my skoene. Vir ’n gewaai soos gister sien ek nie kans nie. Ek vloek saggies.

Wonder bo wonder, hoe nader ons aan die hawe kom, hoe minder en ligter is Gus se rukwinde. Dis vir my te wonderlik en my gesig breek oop in ’n glimlag (wat ’n taamlike rare ding deesdae is).

Kry fenders reg

Daar is sowaar ook ’n man op die kaai wat ons beduie waar om vas te meer. Archie tru en ek gooi die anker. Die kaaiman gryp die toue en vas is ons. Dis heerlik stil hiet teen die kaai, Gus is seker maar besig om elders amok te maak.

Ons gaan dorp toe om voorrade te koop, maar dis Sondag. In dié klein dorpies is supermarkte toe op ’n Sondag en ons gaan met leë hande huis toe. Ons is nou maar op noodvoorraad.

Dis sommer net ’n gewone dorpie. Daar is ’n kasteel en ’n mooi kerk en ’n groot anker. Baie vissersbootjies is vasgemeer in die hawe. Die munisipale gebou is ook baie netjies. Ons stap langs die see en kyk na die ankerplek. Dit lyk te wonderlik, geen windvlae nie. Die seiljagte staan sierlik stil in die water, geen geronddansery  in die wind nie.

Rooiers
Kasteel langs die baai
Muurblom
Dis 'n anker daardie!
Drie-koepel kerk
Koepel skildery
Mooi ou gebou
Munisipaliteit

Ons kry later n kafee oop wat allerhande goet het. Alles sonder pryse. Jy koop maar net en betaal. Ons koop vye, komkommers, rooi pepers, appels, 5 liter wyn en pistachio neute.

Ons eet ’n gyro vir aandete, maar dit is verseker nie die lekkerste gyro wat ons al geëet het nie, maar dit vul darem die holkol. Die hele bevolking van Karystos loop in die strate rond. Oumense, jongmense, kinders op fietse, honde, ma’s met babawaentjies. Almal stap en eet. Feestelik!

Ons is baie vaak na die vorige nag se min slaap en ons gaan kruip sorgvry in die kooi.

Sunday, August 6, 2017

Evia Eiland. Animvoriou Baai.



5 Augustus 2017. Saterdag.

Almyropotamus Baai tot Animvoriou Baai

Gus se gewaai maak my diep ongelukkig. Dit hou nie op nie. Dit loei en hou net aan en aan en aan. Krap in my moeë siel. Steek dolke in my seer hart. Laat my met my kaptein baklei.

Die probleem is so! Evia Eiland loop in ’n NW-SO rigting. Die heersende somer winde in die area waai vanuit die noorde/noord-ooste. Wanneer hulle die oor die die eiland se hoë berge waai, veroorsaak hulle baie sterk rukwinde en vlae – sogenoemde “gusts” of in Duits “fallböen” op die weste kant van die eiland. En dit is waar ons tans vaar … . Al dié baaie waar die onskuldige seiljagters dan moet anker, ly onder hierdie winde en hewige aanvalle.

By sekere ankerplekke sê die Groot Griek se boek: "Strong gusts. Avoid the area and head into the open sea".

Aan die Griekse hoofland se kant, is daar min skuiling teen die Noord-Ooste winde. So, hierdie plek is wind se kind. En ek en wind se kind is mos nie maats nie. Tot Archie sê hy het nou genoeg gehad van die rukwinde.

Gisteraand was daar ’n rooi skynsel om die son tydens sonsondergang, wat sterk Noord-Weste winde in die oggend in ons baai beteken. En sowaar, vroeg vanoggend is daar sterk Noord-Weste winde.

Ons vertrek na Animvoriou, 16 myl en seil vir 1h30min. Toe ons om die hoek gaan op pad na die baai, verloor ek dit! Gus waai 25 knope tot amper by ons anker baai. Ek wil nie hier wees nie! Ek wil wees waar daar stilte is! Ons gooi anker en die verdomde ding byt nie en ons gaan na die inham langsaan. Gooi twee keer anker voordat hy byt, maar toe byt hy behoorlik. Ons moet reg wees vir die blerrie rukwinde.

Vissers

Same old! Same old!

Dis ’n pragtige omgewing. Hoë berge aan die oostekant met vakansiehuise. Die water is turkoois-kristalhelder. Alles is perfek, dis net die blerrie Gus!

Animvoriou Baai
Plesiersoekers

Gus het nooit ophou waai nie. Hy het met alle mag en geweld ons gepeper met die sterkste rukwinde wat ons nog ooit op anker gehad het. Tot die kaptein, wat altyd soos ’n flippen baba slaap, kom in die nag dek toe (waar ek slaap), omdat die winde te erg ruk en pluk. Hy slaap toe op die dek en word later die nag in spasma wakker. Al sy ledemate was styf. Om 01:50 daal daar so ’n stilte neer dat ek daarvan wakker word. Gus is so goed soos dood. Nêrens te hoor nie.

Later het hy weer begin waai. Dit was ’n aaklige nag! Die anker het wonderbaarlik gehou. Ek moet sê, ek het die wêreldse respek vir ankers!


Saturday, August 5, 2017

Evia Eiland. Almiropotamus Baai.


4 Augustus 2017. Vrydag.
 
Sykies Baai tot Almyropotamus Baai


Toe die see gaan lê, glip die deinings al wiegend die baai binne. Nie erg nie, net stil-strelend en lig-rollend.

Archie trek die anker op, saam met ou vislyn. Ongelukkig geen vis aan die lyn nie. En ons vertrek na Almyropotamus, 5 myl. Toe ons in die see kom, voel ons eers hoe beskut die baai is. Gus se spoed vermeerder dadelik na omtrent 17 knope.

Trek anker op

Ons kom by die opening van die groot baai, maar daai Gus waai van vooraf. Sterk. Later tot dertig knope. Die see is vol perdjies. Ons vaar maar skepties nader aan ons ankerplek. Gus waai uit volle bors, 25 tot 30 knope. Ek is baie skepties oor die skuiling. Die windturbines oral in die berge voorspel niks goed nie.

Oggendskoot - Windturbines
Visplaas kerkie

Daar staan een ander seiljag geanker in die baai. Ons vaar nader en die windspoed val tot 15 knope. Met elke nou en dan ’n rukwind wat dan baie sterker is. Ons gooi maar anker en dis nie so lekker op anker nie, maar dis darem heel draaglik.

Dis soos die kaptein sê: “Dis deesdae net seil en skuil.”

Evia Eiland. Sykies Baai.



3 Augustus 2017. Donderdag.

Karavos tot Sykies Baai

Ons is nou al so lank by Karavos, ek is seker daar het ’n ekosisteem aan Maja se romp gevestig. Maar nou is dit tyd om te gaan. Mens kan nie vir altyd skuil nie. Ons vertrek na Sykies Baai, 10 myl. Dis sommer net ’n doodgewone baai, maar dit het goeie skuiling. Met windvlae wat darem nie te erg is nie.

Gus waai die hele tyd, soms sterker, soms flouer. Dit lyk of hierdie alles privaat eiendom is en ons bly maar heeltyd op Maja. Die huise wat hier is, is nuut en ruim. Anders as die kerkie wat piepklein spierwit langs die see staan. Die maan kom op terwyl dit nog dag is.

Laatmiddag Sykies
Kerkie
Die maan kom op

Gus gaan lê later en dit word ’n pragtige aand.