6 Augustus 2017. Sondag.
 |
Animvoriou Baai tot Karystos |
Dit was ’n nag van loei-lawaai en min slaap. Alles
lyk egter beter as dit dag word. Maar van Gus het ek nou eers genoeg gehad. Ons
bekyk die windvoorspellings en sien die plek om na te gaan is Karystos, 22 myl.
Ons hoop maar van die beste, want al die boeke praat van die hewige rukwinde. Die
een boek sê: “You are advised to have pretty much all sail off in good
time.” En dis nou as jy die baai waar die hawe is, invaar. Wel, nou dit klink
bemoedigend!
 |
Oggendskoot - Gus |
Ons seile is af en ons vaar die laaste 3myl in die
groot baai na die hawe. Gus waai die water silwergrys met sulke klein perdjies.
En my moed sak in my skoene. Vir ’n gewaai soos gister sien ek nie kans nie. Ek
vloek saggies.
Wonder bo wonder, hoe nader ons aan die hawe kom,
hoe minder en ligter is Gus se rukwinde. Dis vir my te wonderlik en my gesig
breek oop in ’n glimlag (wat ’n taamlike rare ding deesdae is).
 |
Kry fenders reg |
Daar is sowaar ook ’n man op die kaai wat ons
beduie waar om vas te meer. Archie tru en ek gooi die anker. Die kaaiman gryp
die toue en vas is ons. Dis heerlik stil hiet teen die kaai, Gus is seker maar
besig om elders amok te maak.
Ons gaan dorp toe om voorrade te koop, maar dis Sondag.
In dié klein dorpies is supermarkte toe op ’n Sondag en ons gaan met leë hande
huis toe. Ons is nou maar op noodvoorraad.
Dis sommer net ’n gewone dorpie. Daar is ’n kasteel
en ’n mooi kerk en ’n groot anker. Baie vissersbootjies is vasgemeer in die hawe.
Die munisipale gebou is ook baie netjies. Ons stap langs die see en kyk na die
ankerplek. Dit lyk te wonderlik, geen windvlae nie. Die seiljagte staan sierlik
stil in die water, geen geronddansery in
die wind nie.
 |
Rooiers |
 |
Kasteel langs die baai |
 |
Muurblom |
 |
Dis 'n anker daardie! |
 |
Drie-koepel kerk |
 |
Koepel skildery |
 |
Mooi ou gebou |
 |
Munisipaliteit |
Ons kry later n kafee oop wat allerhande goet het. Alles sonder pryse. Jy koop maar net en betaal. Ons koop vye, komkommers, rooi pepers, appels, 5 liter wyn en pistachio neute.
Ons eet ’n gyro vir aandete, maar dit is verseker
nie die lekkerste gyro wat ons al geëet het nie, maar dit vul darem die holkol.
Die hele bevolking van Karystos loop in die strate rond. Oumense, jongmense,
kinders op fietse, honde, ma’s met babawaentjies. Almal stap en eet. Feestelik!
Ons is baie vaak na die vorige nag se min slaap en
ons gaan kruip sorgvry in die kooi.
No comments:
Post a Comment