Monday, July 24, 2017

Skopelos Eiland. Stafilo Baai.


6 Julie 2017. Donderdag.

Platanias Baai tot Stafilo Baai


Vandag is dit Platanias Baai tot Stafilos Baai, 16.2 myl. Weereens is die windrigting goed en daar word vir 2h27min geseil.

Pieter is in sy element en geniet die seil baie. Seil eintlik agter die wind aan, hou nie noodwendig die koers dop nie! Kry goeie spoed met ’n topspoed van 7.3 knope en is baie tevrede met homself. Die anker byt eerste keer tot die verligting by anker gooiers.

Zané vat die helm …
… terwyl die Kaptein ontspan
Stafilo Baai

Daar is kwaai windvlae in baai en ons moet maar in saloon wegkruip vir die wind, want dis redelik onplesierig op die dek. Ten spyte hiervan gaan Zané bietjie op die dek sonbad en brand erger as wat sy beplan het. Later bedaar die wind en dit word heel aangenaam.

Ons roei land toe om foto’s te gaan neem. Zané en Pieter swem sommer terug na Maja toe. Sit daarna almal op die dek om droog te word en geniet sommer ’n sundowner net daar in die laaste sonnetjie.

Stafilo Baai
Swemstrand
Seetoneel
Boom en rots


Kos maak raak ’n spanpoging met insette van almal. Op die spyskaart is basiliekruid hoender met pan-gebraaide aartappels. Dit was heerlik!

Skiathos Eiland. Platanias Bay.



5 Julie 2017. Woensdag. 

Nea Klima tot Platanias Baai via Skiathos

Vandag vlieg Marietjie terug na Suid-Afrika om by haar Ma te wees in dié se laaste ure. Nea Klima tot Platanias Baai via Skiathos 15.2 myl en ons seil 1 uur.

Voor ons haar afsien word Maja deeglik skoongemaak – binne en buite. Gelukkig het ’n Goeie Samaritaan ’n klomp geld op die kaai se waterpilaar oorgelaat en ons kan ruim water gebruik.

Daarna is die uitvaar terug na Skiathos, 8 myl. Die wind waai reg is ons seil vir 1 uur. Onder Marietjie se valkoog word die anker in Skiathos Baai suksesvol gegooi. Volgende keer moet Pieter en Zané dit self doen.

Dinkie is baie klein en dit neem twee trips om almal by die land te bring – eers Pieter en Zané en dan Marietjie. Daar is geen busse na die lughawe nie maar ons is mos almal stappers, party van ons met splinternuwe knieë, en ons durf die 1.6 km pad aan. Soos by Kilimanjaro word “pule-pule” (stadig-stadig) gestap want die dag is warm en ons kan nie ons skoon lywe natsweet nie.

Pieter en Zané gaan land toe
Maak Dinkie vas

Marietjie word gegroet en ons oorblywende drie stap terug via die supermark om die nodige proviand te koop. Hoender, aartappels, lemonade en beskuitjies is ruim ingepak.

Tot siens Marieks. Sterkte.
Zané, Marietjie en Pieter

Trek anker op en vaar net om die hoek na Platanias Baai , 7.2 myl, waar ons die nag wil deurbring. Dis Pieter en Zané se eerste alleen anker gooi en die baai besluit dit gaan ’n goeie leerskool aanbied. Na oneindige probeerslae (wel meer as tien) is ons uiteindelik vas. Die anker word geïnspekteer en verklaar as “bomb proof”. Almal het ’n beurt gekry om te gooi en op te trek. Ons is nou goed geoefen! Marietjie waar is jy?

Die graduasie as ankergooiers word gevier met baie whiskey en ons eet twee dae se kos (Turkse wors en pasta) sommer eensklaps op. Drink koffie en gaan slaap. Dit is ’n doodstil nag.

Tuesday, July 4, 2017

Kennisgewing

Daar sal van 5 Julie tot 23 Julie 2017 geen blog verskyn nie. My ma is baie siek en ek vlieg terug huis toe. Sal weer blog plaas as ek terug is in Griekeland. Pieter en Zané se wedervaringe sal ook dan eers geplaas word.

Dankie vir die begrip.

Seilende sigeuner.

Neo Klima. Fotosessie.



4 Julie 2017. Dinsdag.

Ons het twee topmodelle genader vir ’n fotosessie op Maja en hulle het ingestem om vir ons te kom poseer, ten spyte van hul besige program.

Hulle het gesê: ”Ons sal altyd in ons besige skedule tyd maak vir Maja. Solank ons dan net twee weke saam op haar kan seil.” En toe is dit afgespreek. Ons kry ons foto’s en hulle seil saam. Die een hand was die ander. (Solank ons net nie water mors nie, Reël 14)





Skopelos Eiland. Rond Ry.



3 Julie 2017. Maandag.

Ons is nou lekker ingeburger in ons skuilplek en vandag is die groot verkenning van die eiland van Skopelos. Archie huur ’n baie duur karretjie en ons is in en daar trek ons.

Ons eerste stopplek is Milia, een van Mamma Mia se strande. Die see is rof en die branders breek op die strand. Enkele swemmers is in die water. Ek is in my noppies met al hierdie Mamma Mia plekke. Ons spring in die karretjie en ry verder.

Milia Srand

Skopelos se dorp is pragtig. Dit is so teen die bult gebou. Dit is ’n skouspel van wit huise met helder rooi en oranje dakkies. Ons stap na die groot wit kerk. Dis op opper opste en die kerke is wit witter witste. Die lug is baie skerp en op die kaai wieg al die seiljagte. Ons eet ’n lekker gyro en die hongerpyne is gestil. Dit is warm. Dit is baie warm.

Skopelos
Kerk
Uitsig
Nog 'n kerk
Skopelos Hawe
Eet gyros

Na Skopelos dorp is dit uittog na die kloosters. Die paaie is klein, smal en met tye weggeval van reënskade en oorstromings. Van die kloosters word nog gebruik en ander is verlate. Ek bly maar ’n kerkmens en geniet die kloosters baie. Pieter navigeer pragtig en ons verdwaal nie regtig baie nie. Ek en Zané sit agter en gesels en kyk na alles wat te sien is. Ons besoek die kloosters, maar baie van hulle is gesluit. 

Uitsig oor Skopelos
Berg kerkie
Klooster

Toe vat ons die pad na Glossa en eintlik na die Mamma Mia kerk. Dit is mos een van my drome om by die trappies van die kerkie op te klim. Ons sien die kerkie in die verte en my opgewondenheid is net so groot soos verlede jaar saam met Yvon en Louise. 

Mamma Mia kerkie

Ek klim al daai trappies met my nuwe knieë spesiaal vir die Franse Kanadese. Pieter, Zané en Archie stap natuurlik so bietjie vinniger as ek, maar agteros kom ook in die kraal. Dis lekker hoog en die kerkie is maar net ’n klein kerkie. Maar dit maak nie saak nie, dis die ondervinding wat belangrik is.

Maak reg vir klim
Ons klim
Mamma Mia kerkie
Binnekant
Uitsig oor die baai

Ons stap af en ry terug. By die uitsigpunt stop ons weer en Tegnologiese slim Pieter kry vir ons Mamma Mia se musiek en hy speel dit kliphard. Ons meisies dans en is verpot. Aan vrolikheid is daar nie ’n gebrek nie. Ons gooi ook ’n paar dansdraaie met die kerkie wat op die agtergrond toekyk. Ai, watter vreugde! Gesigte is oopgebreek in glimlaggies en die kraailaggies van genot vul die lug.

Ek en Archie
Mia Mammas
"Kom dans Klaradyn … "
"… kom dans weer met my"

Ons ry verder en kyk hoe lyk die hawe by Loutraki waar ’n klomp jagte skuil teen die winde wat kom. Ons ry terug na Nea Klima en Maja is nog veilig teen die kaai. Reg vir die winde wat die nag kom.

En het daai winde nie gekom nie! Uit volle bors.