Thursday, June 29, 2017

Kyra Panagia Eiland. O. Planitis



26 Junie 2017. Maandag.

St Evstratios tot Planitis

Ons maak klaar en vertrek bietjie later, so 06:30, met die hoop op bietjie wind. Die kruising is die wind gewoonlik van agter en as die wind lekker waai, kan jy met groot spoed seil. En weg is ons na O. Planitis, 45.3 myl.

Gus is baie aspris en lê nog so bietjie. Later waai hy lui-lui, maar alle bietjies help en ons span die seile, hoofseil en die genoa. Dit help so bietjie, want ons handhaaf darem ’n gemiddelde spoed van 5.7 knope en die wieg is minder. Ons motorseil die hele pad en die 45 myl voel eintlik langer as die 58 myl van gister.

En toe is ons in die Sporades. Ons vaar na ons eiland toe en die rotse wat in die see staan, is pragtig en baie ru. Hierdie omgewing is ’n Marine Reservaat en hier is niks mense wat hier bly nie en geen  geboue nie. By die eiland, Piperi, mag jy nie nader as drie myl aan die eiland verby seil nie. Dit herinner ons aan die pragtige Turkse landskappe waarvoor ons so lief is.

Piperi Eiland
Naby Planitis

Ons vaar die baai binne, Archie soek plek en ons gooi daai anker. Ons is baie trots op onsself – 103 myl in twee dae! Welgedaan ons! Ons gaan nou hier by baaie anker tot ons Sondag vir Zané en Pieter by Skiathos (nie meer Alonissos nie, maar hulle weet nog nie) kry vir hulle toer saam met ons op Maja.

St. Evstratios Eiland.


25 Junie 2017. Sondag.

Molyvos tot St. Evstratios

Ons staan douvoordag op. Die getroue kaptein maak koffie en ek is wakker. Binne ’n ommesientjie is Maja gereed en teen 05:10 is die anker op, die toue los en ons vaar in die oggend skemer uit die hawe. Almal is nog in droomland toe ons die lang pad van 58 myl na Evstratios toe aandurf. Vir ons is dit baie vêr.

Die son is nog lank nie op nie, toe span ons al die seile. Gus waai nie sterk genoeg nie en ons motorseil die hele pad. Ons gemiddelde spoed was 6.3 knope en ons topspoed was 7.3 knope. Dis nogal goed, want Gus is maar aan die flou kant. Die see is natuurlik lekker plat en ons vorder vinnig en maklik.

Ons motorseil

Die pad gaan eintlik besonder gou verby. Ons seil oor ’n skeepsroete waar die groot skepe vaar na Istanbul en ons moet omtrent kophou. Hulle kom van regs en links. Soms moet Archie vinniger en soms stadiger om botsings te vermy. In ’n stadium tel ek elf skepe op die see wat kom en gaan. En hulle is almal bietjie groter as ons.

Tussen die groot skepe

Teen 13:45 kom ons by die barre eiland, Evstratios aan. Ek is baie dankbaar dis verby en dit was eintlik so maklik.

In 1968 het ’n aardbewing baie van die huise op die eiland vernietig en die bevolking het verminder tot omtrent 300, waarvan almal op die vissersdorpie bly. Die res van die eiland is rotsagtig en onvrugbaar en dor. Tot onlangs is politieke gevangenis na dié eiland toe gedeporteer.

St. Evstratios dorp
Huisie
Kleinboot hawe

Die plek is ’n welkome stopplek vir die seekruissers tussen Lesvos en die noordelike Sporades. Die hawe is groot, maar ons weet nie waar om alongside te gaan nie. Die kaaie lyk so asof dit vir groot bote gemaak is. Ek staan met die toue in die hand en Archie trek langs die kaai in. Daar loop twee mans en ek roep hulle om die toue te kom vang. Hulle draf so ewe nader. Die een, sou ek later hoor, is toe die kaptein van die oorlogskip wat in die hawe is!

Toe ons klaar vas is, sê die een man dat dit eintlik die veerbote se stopplek is. Ons maak maar weer los en die twee manne draf na die volgende plek toe wat hulle aanbeveel. Hulle vang weer die toue. En vas is ons. Toe kom die hawemeester daar aan en sê vir ons waar ons nou staan, kom soms groot bote in en as hulle kom sal ons moet skuif. Ag my magtig!

Archie gaan kyk by die kleiner kaai en sê die plek is reg vir ons en toe skuif ons sommer self en gaan maak daar vas. Daar kom ’n vissersboot in en al die manne staan nader om die vangs te beskou. Maar dis nie visse nie. Archie staan ook ewe nuuskierig nader om die doenigheid te beskou. Hulle hang nette vol goed aan die buitekant van die boot op dat dit in die water hang. Dis toe die hele tyd spons. Die sponsduikers het spons gaan uithaal. En baie hoor! Ons het nie geweet hier is nog spons in die see nie. Gedog dis alles al klaar uitgeduik.

Finale vasmeerplek
Spons agies

Toe is ons gelukkig en tevrede en is reg vir die nag. Die adrenalien vloei uit my lyf en word vervang met ’n totale allesoorheersende moegheid. Ons eet net Weense (?) worsies en mosterd met slaai en toe dit donker word, is ons in die bed.

Môre is ons volgende lang seekruising. Ai, die lewe van ’n seilende sigeuner …

Sunday, June 25, 2017

Lesvos Eiland. Molyvos (Mithimna).



24 Junie 2017. Saterdag. 

Tsonia tot Molyvos

Archie staan vroeg op en sê hy gaan koffie maak. Hy sê dis baie mooi buite. Ek wat geen oggendmens is nie, besluit om ook op te dek te sit en koffie drink.

Son verkleur die water met sy verfkwas. Skakerings van rooi, pienk en goud. Son wys nog nie sy gesig nie, stuur net eers die belofte van die nuwe dag na die aarde toe uit. Ons gryp die belofte en maak dit ons eie.

Skakerings

Archie hoor weer die asemhaling en jou waarlik, dis dolfyne! Hulle swem rustig, seker besig met ’n vroeë ontbyt. Ons sien net die vinne en soms die soelsagte lywe. Wonderlik, om so op die dek te sit en die werklike lewe speel op jou voorstoep af. Oral spring visse en vissies maak klein kringetjies in die water. Daar was sweerlik gisteraand dolfyne wat rondom Maja geswem het!

Die son maak haar verskyning en dit is ’n nuwe dag. Met kapteinskoffie in die hand en onder ’n donssagte kombersie, so midde-in die natuur, is dit so na aan saligheid en hemel op aarde as wat jy kan kry! Al wat ’n skaduwee daaroor gooi, is die wete van die twee 50 myl kruisings wat in die nabye toekoms lê.


Nuwe dag
Tsonia

Ons maak klaar vir die kort dag van 12 myl na Molyvos. Gus waai baie lekker en lig van agter af. Vandag sou ’n heerlike dag gewees het om na Limnos (50 myl) toe te kruis. Ek en Archie het verskillende idees oor die kruisings. Ek wil op ’n windstil dag kruis en dan heeltyd motor, sonder enige stress. Hy wil natuurlik kruis as die wind waai, want kan hy seil. Wind beteken ’n groter see, waarvan ek nie hou nie.

Sommer gou is ons by Molyvos en ons vaar die hawe binne. Daar is niemand om ons te help nie. Archie tru, ek gooi die anker en Archie vaar kaai toe. Toe ons by die kaai kom, hardloop ek helm toe en Archie klouter op die kaai (dis ’n hoë kaai). Hy sit die een tou om die bollard en gooi dit terug vir my en ek maak die tou vas. Nou word die ander agtertou vir Archie op die kaai gegooi en dis dieselfde prosedure en ons is vas aan die kaai.

Molyvos Hawe (Maja tweeede van regs)
Molyvos Hawe
Molyvos dorpie en kasteel

Dis baie warm en ons gaan eers wag totdat dit koeler is, voordat ons die toeriste juweel gaan besoek. Ons het al vergeet hoe warm dit in Griekeland kan word.

Al die straatjies wat na die kasteel toe opgaan, is bedek met Bloureën (dis ’n rankplant met trosse blou blomme). Dit gooi welkome skadu en ons geniet die stap in die koelte. Ek ondersteun die gemeenskap deur ’n paar geskenke te koop.

Straatjie

Die Belgiese vrou van die geskenkwinkel vertel dat daar in 2015 dertig vlugte per week na Lesvos toe gevlieg het. Verlede jaar, 2016, was daar net ’n skrale agt vlugte per week. Hierdie jaar, darem tien vlugte per week. Eers was dit die vlugtelinge en nou ook die aardbewing. Hulle sukkel om te oorleef met die min toeriste. Dis sal jare neem om die ekonomie van die eiland weer te herstel. Dis baie hartseer.

Die kasteel is toe weens die aardbewing. Hulle is besig om dit te herstel. Dis die tweede grootste kasteel in Lesvos en dis baie mooi. Ek kry altyd sulke prentjies van doerie tyd se mense in my kop en dan word ek weggevoer na die verre verlede. Dis altyd die kaptein wat my terugbring na die hede.

Reuse mure
Kasteel
Kasteel
Uitsig oor die baai

Ons stap onder die bloureën sambreel terug en die dorpie is regtig mooi. My suster, Elize, sal sommer baie van dié plek hou.

Nou is die vraag, kruis ons more? Die antwoord is ja. Ons kruip vroeg in, want dit gaan ’n lang dag van 60 myl wees.

Saturday, June 24, 2017

Lesvos Eiland. Tsonia.


23 Junie 2017. Vrydag.

Mytilini tot Tsonia


En ons wag. Nog niks. Aruna van SA Sailing het gesê sy sal die lisensie eerste ding Vrydagoggend pos. Van eerste ding weet ek nie so mooi nie, want teen 13:00 kan ek dit nie meer verdra om so rond te sit en te wag nie en sê vir Archie hy moet nou maar mooi broodjies by die hawepolisie gaan bak dat ons net hier kan wegkom. Die lawaai van die verkeer maak my mal! En hier is boonop nog mense wat baklei, vuiste en al. En dit skree en neuse wat bloei. Ag nee man, ek is nie lus daarvoor nie.

En daar trek hy toe met rekenaar en al. Hy sal verduidelik en al die dokumente én die bewys van betaling vir die lisensie vir hulle wys. En hoop hulle verstaan. Jy sal my nie glo nie, maar terwyl hy so verduidelik, kom daar ’n e-pos deur en dis SA Sailing! Met die lisensie! En alles val in plek. Ons kry alles gereed en vertrek 13:45 na Tsonia, 20.8 myl.

Ons laat vir Mytilini en sy kasteel agter en vaar vorentoe. Altyd vorentoe. Gus waai van vooraf, regop Maja se snoet. Die sagte water verander in deinings, met so hier en daar ’n perdjie op die deining. Maar gelukkig kom Tsonia stadig maar seker nader. Die water lyk maar rof in die baai en ons hoop vir die beste. 

Barmpalias Eiland
Aandskoot - Amper daar

Gelukkig toe ons die diepte op 10 m trek, is die see stil, alhoewel Gus nog waai. Hier is nie ’n fetch nie. Ons gooi anker in 7m water en maak seker die anker byt en vas is ons. Ons wag vir die windvlae waarvan die boek praat, maar gelukkig is dit net ligte rukkies en plukkies.

Hoe heerlik om in ’n rustige baai te sit sonder die verkeer wat so lawaai. Die aand kom en ons sit op die dek. Archie hoor iets soos iemand wat asem uitblaas. Nee, nie soos in die laaste asem uitblaas nie, eerder soos iemand wat snorkel. Hy lig met sy flou flits, maar ons sien niks nie. (Ek dink ek gaan vir hom ’n sterk flits vir Kersfees koop.) Ons hoor net die asemhaling. Die water lewe hier, want die visse spring vreeslik baie. Die aand raak later doodstil. Geen wind. Heerlike soel somersaand.