25 Junie 2017. Sondag.
 |
Molyvos tot St. Evstratios |
Ons staan douvoordag op. Die getroue kaptein maak
koffie en ek is wakker. Binne ’n ommesientjie is Maja gereed en teen 05:10 is
die anker op, die toue los en ons vaar in die oggend skemer uit die hawe. Almal
is nog in droomland toe ons die lang pad van 58 myl na Evstratios toe aandurf.
Vir ons is dit baie vêr.
Die son is nog lank nie op nie, toe span ons al
die seile. Gus waai nie sterk genoeg nie en ons motorseil die hele pad. Ons
gemiddelde spoed was 6.3 knope en ons topspoed was 7.3 knope. Dis nogal goed,
want Gus is maar aan die flou kant. Die see is natuurlik lekker plat en ons
vorder vinnig en maklik.
 |
Ons motorseil |
Die pad gaan eintlik besonder gou verby. Ons seil oor
’n skeepsroete waar die groot skepe vaar na Istanbul en ons moet omtrent kophou.
Hulle kom van regs en links. Soms moet Archie vinniger en soms stadiger om
botsings te vermy. In ’n stadium tel ek elf skepe op die see wat kom en gaan. En
hulle is almal bietjie groter as ons.
 |
Tussen die groot skepe |
Teen 13:45 kom ons by die barre eiland, Evstratios
aan. Ek is baie dankbaar dis verby en dit was eintlik so maklik.
Die plek is ’n welkome stopplek vir die seekruissers
tussen Lesvos en die noordelike Sporades. Die hawe is groot, maar ons weet nie
waar om alongside te gaan nie. Die kaaie lyk so asof dit vir groot bote gemaak
is. Ek staan met die toue in die hand en Archie trek langs die kaai in. Daar
loop twee mans en ek roep hulle om die toue te kom vang. Hulle draf so ewe
nader. Die een, sou ek later hoor, is toe die kaptein van die oorlogskip wat in
die hawe is!
Toe ons klaar vas is, sê die een man dat dit
eintlik die veerbote se stopplek is. Ons maak maar weer los en die twee manne
draf na die volgende plek toe wat hulle aanbeveel. Hulle vang weer die toue. En
vas is ons. Toe kom die hawemeester daar aan en sê vir ons waar ons nou staan,
kom soms groot bote in en as hulle kom sal ons moet skuif. Ag my magtig!
Archie gaan kyk by die kleiner kaai en sê die plek
is reg vir ons en toe skuif ons sommer self en gaan maak daar vas. Daar kom ’n
vissersboot in en al die manne staan nader om die vangs te beskou. Maar dis nie
visse nie. Archie staan ook ewe nuuskierig nader om die doenigheid te beskou.
Hulle hang nette vol goed aan die buitekant van die boot op dat dit in die
water hang. Dis toe die hele tyd spons. Die sponsduikers het spons gaan
uithaal. En baie hoor! Ons het nie geweet hier is nog spons in die see nie.
Gedog dis alles al klaar uitgeduik.
 |
Finale vasmeerplek |
 |
Spons agies |
Toe is ons gelukkig en tevrede en is reg vir die
nag. Die adrenalien vloei uit my lyf en word vervang met ’n totale
allesoorheersende moegheid. Ons eet net Weense (?) worsies en mosterd met slaai
en toe dit donker word, is ons in die bed.
Môre is ons volgende lang seekruising. Ai, die
lewe van ’n seilende sigeuner …
No comments:
Post a Comment