Wednesday, May 3, 2017

Finike. Vriende.



2 Mei 2017. Dinsdag.

Çineviz tot Finike

Weereens is dit mistig. Ons sien is min en ons sig is swak. Ek mis die mooi van die berge wat my verlede so betower het. Ons vertrek na Finike, 27.2 myl. Daar swem dolfyne in die vêrte. Hulle verdwyn in die gladde nat.

Çineviz vroegoggend

Ons vat die pad. Vanaand sien ons vir Martin en Shiree. Ons vaar en vaar en vaar.  Taşlik Burnu kom nader en nader.  Maar my maggies, is daai see omgeklits! Die twee seestrome kom bymekaar en dit skuim bruisend wit. Dit lyk of die strome kwaad vir mekaar is en vreeslik met mekaar stoei. Ons vaar daardeur en ek is bly ek is in die veiligheid van die  kleine ou Maja. Toe lê Finike voor ons, daar doer in die vêrte. Ons vat die lang pad en kruis die groot baai.

Nog steeds koud
 
Ons eerste taak is om die swartwater tenk te laat uitpomp. In die verlede sou ek so vreeslik senuweeagtig gewees het. Nou is ek so kalm met die “alongside”, dis skrikwekkend. Ek laat sak die fenders kalm, ek gooi die tou kalm, ek gooi die volgende tou tou kalm. Soooo kalm!

Archie vaar na ons plek by die kaai en met die hulp van die marina man, Till en Andree, is ons maklik vas. Toe tree die huisvrou in my en Andree na vore en ons gaan was wasgoed dat die seepbelle waai. En watter vreugde as die skoon wasgoed liggies in die wind wapper.

Andree  by Finike Marina
Archie met skeepspapiere
Finike Marina
 
17:00 het ons ’n afspraak met Gumnuts se mense, Martin en Shiree. Martin het mos sy voet gebreek en is nou as’t ware bedlêend. Ons stap na die hotel waar hulle nou tuisgaan en was ons bly om hom en Shiree te sien! Hulle vertel dat die dokter sê dat hy vier tot ses weke in gips gaan wees en hy mag nie nou op die voet trap nie. 

Die pasient
Suster Shiree

Hulle nooi ons vir ete en ons stap na die restaurant. Martin hop op sy krukke tot daar. Dis effens opdraande en ons moet so nou en dan rus. Ons eet en gesels en kuier en lag heerlik saam met hulle en maak net planne om mekaar weer êrens in Griekeland te sien. Wat ’n voorreg om sulke vriende te hê. Martin en Shiree en Till en Andree.

Hinke-pink restaurant toe
Shiree en Martin
Ek en Archie

Çineviz


01 Mei 2017. Maandag.

Phaselis tot Çineviz

 Vandag is dit nie ’n vêr pad nie, dis net 10.33 myl na Çineviz. Daar hang ’n geheimsinnige mistigheid oor die môre wat die berge skaam laat skuil. Ons trek die anker op, wat behoorlik gebyt het. En weg is ons.

Berg Olympus

 
En wat ’n vreugde was dit nie toe ons speelse dolfyne sien nie! Hulle flankeer nou behoorlik met Maja. Hulle swem en draai op hul rûe by Maja se snoet.  Hulle laggende vriendelike gesigte straal liefde en aanvaarding uit. So asof Maja een van hulle is. Dan swem hulle weg, draai om en kom speel weer. Ons geniet nou behoorlik die skouspel en Till en Andree is in hulle noppies met die vertoning. Dankies Dolfies!

Dolfyne

Ons probeer seil, maar ou Gus laat ons in die steek en die seile word weer laat sak. Ten minste het Till en Andree darem ook ’n bietjie geseil. Ons kom by Cineviz Baai en dis pragtig. Die hoë reus hou wag oor die baai. Natuurlik swem Till, en Andree laat haar twee keer nooi en toe is sy ook in. Die water word as “verfrissend” beskryf. Niemand sê  dis koud nie. Tot Archie het lyf natgemaak!

Andree en Till
 
Gus begin te waai soos hy maar hier doen en Andree is nie lus vir land toe gaan nie. Ek, Archie en Till klim in Dinkie en ons sit voet aan wal. 

Ons stap na die Suid Baai en dit is pragtig. ’n Hond loop al die pad saam met ons. Nadat ons die uitsig ingedrink het, stap ons terug en Maja draai spoggerig, stadig en stadig in die baai rond. Verbeel haar dis haar baai, want sy is die enigste skoonheid in die baai, behalwe natuurlik Andree wat aan boord is en saam draai.

Suid Baai
Ekke by Suid Baai
Maja en die manne
Maja

Ons is maar die res van die tyd op Maja en die aand eet ons manti, sulke Turkse gevulde pasta, saam met tamatie pesto, eenvoudig en heerlik. En toe begin die vonke spat. In alle rigtings. Die manne begin te sing. Sulke liedjies wat in die vorige eeu ontstaan het. Hulle sing en dan drink hulle as ’n beloning omdat hulle so mooi sing. Hulle dink natuurlik hulle sing vreeslik mooi, want dis die een beloning na die ander.

Saloonkonsert

Andree val later ook in en sing saam, soms al drie op hulle eie wysies. Maar dis so mooi. Archie het ’n baie mooi stem. Ek lê op die dek en verlustig my aan die konsert in die saloon. (Ek sing nie, Archie het my mos verbied. Sing te lelik).

Andree haal uit

Die baai word gevul met harmoniese (soms nie) klanke. En dit was omtrent ’n saloonkonsert. Hoe later, hoe kwater. Hoe rooier, hoe mooier… En hulle is mos natuurliefhebbers, hoog in die takke van al daardie tiermelk.

Monday, May 1, 2017

Phaselis. Nooiensvaart.



30 April 2017. Sondag.

Kemer tot Phaselis

Dis vandag die gaste se nooiensvaart van Kemer tot Phaselis, 7.9 myl. Ons Kemer vriende kom groet eers vir ons op Maja en ons kuier vir oulaas saam. En ag sies tog. Annemarie het nog steeds nie ’n dingetjie op haar agterding nie!? Ons sê koebaai. Altyd te gou.

Prov, Annemarie, Brian, Archie, Andree en Till

Toe is dit sukke tyd. Almal kry hulle opdragte en dis tyd om te vertrek. Alles verloop seepglad en weg is ons. Till en Andree glimlag breed. Maja voel gelukkig en tevrede om weer haar mense aan boord te hê.

Nooiensvaart
Agter die helm
Seegrotte
 
Dis redelik mistig en die sig is maar swak. Die mooigeid verander in dofheid. Waar is die kristalhelder blou lug wat hier was tor ons gekom het? Ons vaar verby die grotte en die gulets is ook op pad na erens. Seker ook na Phaselis, hulle gaan altyd soontoe. Ons vaar te heerlik en sommer gou is ons daar. Die eerste anker van die seisoen word sekuur en presies gegooi en vas is ons. Andree gedra haar knap met die maak van die koue drankies om die suksesvolle anker te vier. Ons sit heerlik ontspanne op die dek.

Die Manne
Die Seilende Skones

Dis net Till wat lus is vir die water. En sowaar, hy trek sy swembroek aan en gaan swem. Dapper man! En dan geniet hy ook dáárby die swem. Koel en verfrissend. Ek kyk hom maar net so. Ek is nie lus vir daai koue water nie. Na ’n heerlike middagete voel ons lomerig en ek en Andree gaan lê ’n bietjie skuins.

Ooo! Dis lekker warm!
Nog 'n swemmer

Toe is dit tyd dat ons ons toeriste plig moet nakom en ons al vier klim in Dinkie. Ek en Archie roei en dit voel en lyk soos ’n duisend myl wat ons moet roei om by die wal te kom. Maar ons maak dit en vat die pad na die antieke stad Phaselis.

Die stad is gestig in 690 v.C. deur ’n kolonis van Rhodes en het vinnig gegroei in ’n vooruitstrewende handelstad met drie hawens. Ons kan tot vandag toe die oorblyfsels daarvan sien. Die stad was bekend vir sy vinnige, ligte seilbote,wat bekend gestaan het as Phaseli, maar ongelukkig is daar geen voorbeelde of illustrasies van die vaartuie nie. In 333 v.C. het Alexander die Grote die stad oorgeneem.

Ons loop in die ou dooie stad rond en net in jou verbeelding kan jy vir jou ’n eie weergawe van die vergange werklikheid optower. Ons bewonder al wat ’n oorblyfsel is, van die Hadrian’s Gate, badhuise en teater. Drie denkers sit diep ingedagte en peins oor die lewe terwyl hulle in die niet staar.
Besoekers wat swem en op die strand lê, gee lewe aan die antieke hawens. Oral staan en sit mense rond. Onse mense staan ook na die ou hawe en kyk en glimlag gewillig (soms onwillig) vir die kamera.

Hadrian's Gate en die hoofstraat
Ingang
Badhuis
Middel Hawe
Noord Hawe
Die Denkers
 
Ons geniet die uitstappie geweldig en Till en Andree is heel in hulle skik met die dag van vandag. Dis ’n heerlike windstil laatmiddag en Till durf sowaar weereens die water aan. So het die dag begin met die onbekende wat nou bekend en vol vreugde is. Die son sak oor die gaste se eerste dag op Maja.

Die son sak