Friday, April 28, 2017

Kemer - Gereed maak




25 – 27 April 2017. Dinsdag - Donderdag


Ons ontwaak en Kemer is so mooi soos altyd. Die bergreuse troon waaksaam oor die marina en fluister-roep my steeds. Archie gaan koop melk en daar is niks soos ’n koppie kapteins-boeretroos nie.

Mooi Kemer

Toe begin die groot werk. Maja moet weer in seilende orde kom. Die kaptein is in sy element. Die “furler” ding word gediens. Die seewater-verkoelingspype word vervang. Die katrolle word ge-olie. Die genoa word opgetrek. Al die toue word teruggesit. Die toiletklep word skoongemaak, gegries en teruggesit. Dit is net werk werk werk. 

Maja en haar vriendinne "on the hard"
"Furler" word gediens
Vervang verkoelingspype
Fenders word uitgehang

Ek stofsuig al wat ’n kussing, duvet en matras. Maja word gewas en beddens word opgemaak. Die silwerware word gepoets. In die proses steek ’n ding my in die sagte vleis van my ringvinger en die bloed spat asof ek in die Tweede Wêreldoorlog verwond
is. Toe gaan lê ek so ’n bietjie. 

Poets silwer
Alles word gestofsuig

Intussen moet Maja terug water toe. Ons kry alles reg en die geel voertuig ry met Maja weg en sy word na die blou masjienreus vervoer. Die bande word onder haar vasgemaak. Die verwer verf gou die plekkies op haar pens waar die stelte was het en sy is gereed vir die water. Ons motor kan nog nie loop nie en hulle stoot en trek haar na ons vasmeerplek. Ek is nie op Maja nie en neem foto’s van die gedoente.

Archie en die span
Blou reus
Water toe
Daar gaat sy

Veilig en vas is ons aan die kaai. Die plank is so steil af en ek mik-mik eers voor ek daar afloop. Ek het mos nuwe knieë en is nog bietjie wankelrig.

Annemarie en Brian van Krugersdorp is ook hier in Kemer en nooi ons om saam met hulle en Prov, ’n Amerikaner, te gaan eet. Dit was heerlik. 

Mehmet en Annemarie
Ek en Archie
Brian en Prov
Ons gaan maak 'n draai en drink 'n paar raki's op Prov se boot "Sail, be happy".  

Şerefe!

En so, asof niks verander het nie, gaan die lewe aan en die sewe maande wat ons by die huis in Suid-Afrika was, voel soos ’n oomblik in die verlede.

 

Weg is ons, al weer.



23 April 2017. Sondag.

Dit gaan woes in ons huis. Die familie is oral en ons word behoorlik koebaai gesê. Na ’n hewige onsuksesvolle soektog na my nuwe bril, vertrek ons effe laat en opgestres na die lughawe. Dis mos tradisie wat ons nie kan verbreek nie en ons met ons bagasie, ry knus saam met Gerrie en Ansu lughawe toe. Op pad na die lughawe ontdek ek my bril wat ewe aspris in my rugsakkie se ritssakkie ingeval het. Wat ’n vreugde en my liggaam raak sommer slap van die ontspan.

Gerrie en Ansu

Archie en ek

Vir oulaas ’n tradisionele koppie koffie op die lughawe en na die tradisionele vreeslike gewuif van my en Gerrie en Ansu (Archie wuif nie eintlik nie), begin ons reis vir 2017 op ’n vreeslike tradisionele manier. My familie hou van tradisie.

Wat ’n lang en uitgerekte vlug. Ons vertrek Sondag, 23 April, 21:35 uit ORT en kom eers Dinsdag, 25 April, 01:55 donkernag by Maja aan. Dit was vlugte van OT na Kaïro en toe na Athene, daarna Instanbul en uiteindelik na Antalya. Toe met ’n bussie na Kemer.  O maggies, maar ons was moeg. Daardie trappies wat ek moes klim om op Maja te kom, was so styl, ek was bevrees my splinternuwe knieë sou dit nie kon baasraak nie. Maar bo is ons, sluit oop en gaan slaap op ’n onopgemaakte bed.

Wednesday, October 26, 2016

Seilseisoen van 2016.



So vinnig is die 2016 seilseisoen verby. Dit het gekom en gegaan. Ons het 1 690 myl gevaar, 980 in Griekeland en 710 in Turkye en het 25 Griekse eilande besoek.

Ek en Gus het hierdie jaar ’n worstelstryd gevoer. Dag na dag, aand na aand. Soms het hy ons amper weggewaai, ander kere het ons voor hom weggevlug. Hy was oral. Van voor, maar meesal van agter.  

Ek het my varkies op hok gehou deur die natuur intens te beleef. Ek sien hoe die maan van niks af groei met ’n glans wat aand na aand helderder word. En ’n klimaks bereik as ’n koeëlronde vriendelike laggende bal wat jy amper met die son kan verwar.

Maan strooi die Melkweg sagkens in die see, terwyl die sterre blinkoog vanuit ligjare vêr op ons neerkyk. Dowwe berg-reuse staan stug in die water, bewakers van die aarde. En van die anker.

Ek sien hoe die dag met ’n verfkwas vol kleure verander in nag. Eers doflig, dan pienk en geel en oranje, die hele uitspansel met baldadige kleure verf … en dan is dit nag, net om môre-oggend dieselfde te doen, dog net heeltemal anders.

Ek sien hoe Gus die gladde spieël-see verander in klein rimpels en dan nog rimpels vergader om die water om te tower in rollende deinende golwe waarop wit perdjies baldadig saamry.

En dan, die wonder van my voete weer op die aarde, stewig en vas, in die arms van Moederaarde.

En Maja, dapper Maja en haar ewe dapper kaptein. Vorentoe, altyd vorentoe. Met Gus in haar bollende wit seile, met die enjin wat hipnoties prrr prrr prrr.

Ons het ook heelwat nuwe mense en ook Suid-Afrikaners ontmoet, wat ons hopelik weer sal sien.

Griekeland.

Pragtige Patmos

My geliefde Griekeland het my hierdie jaar beproef. Gus aan my ge-openbaar. Hy lyk soos ’n deurskynende lugstroom wat onsigbaar is. Ek het hom probeer liefkry, maar helaas! Sonder sukses.

Yvon en Louise, die Franse Kanadese het kom kuier. Sing-sing het hulle op Maja aangekom en ons lewens soos ’n ligte bries kom opvrolik. Die lewe was letterlik ’n lied! Hulle het ons belowe hulle gaan die fliek, Mama Mia, kyk, want ons het onder andere Skiathos en Skopelos saam met hulle beleef. Dankie, vir die heerlike kuier, julle twee.

Yvon en Louise


Elize en Fanie het saam kom kuier op Kalymnos, Pserimos, Kos, Nisyros, Tilos en Symi. Saam-saam het ons die eilande verken en Elize het ook op die Griekse Eilande verjaar. Dankie, vir die herinneringe wat ons saam kon bou. Ons sal dit nie vergeet nie. 

Fanie en Elize

Ons het saam met Martin en Shiree van Gumnuts gekuier en ons vrienskapbande het hegter geword. Sien uit daarna om hulle volgende jaar weer te sien.

Shiree en Martin

Turkye.

Die pragtige kus met my siel gelawe met meestal goeie weer. Ons het weer die Turkoois kus van die land kruis en dwars bevaar. En om nie te praat van die salige ankers nie.

Karaloz

Deon en Ryna het ons kom vereer met hulle sprankelende teenwoordigheid. Ek sê weer, Ryna het as ’n vreemdeling daar aangekom en is as my vriendin daar weg. Ons het heerlike tye saam met hulle op Maja beleef. Lekker gelag en gekuier, (ten spyte van ons groottone).

Ryna en Deon

Ons het hulle by Ayvalik ontmoet en hulle het saam geseil tot by Kuşadasi. Dankie, julle, ons het die kuier terdeë geniet.

Zafer en Nuran, ons Turkse vriende, het 500 km gery om saam met ons op Yenifoça te kuier. Met ons gebrekkige kommunikasie en handgebare en baie verduidelikings, het ons heerlike gekuier. 

Archie, ek, Nuran en Zafer

Ons het ook saam met Dee, Kevin, Lee en Larry gekuier. Heerlik saam geëet by Polemos. En by Kemer, waar Maja die jaar oorwinter, het ons die Suid-Afrikaners, Brian en Annemarie ontmoet. 

Annemarie en Brian

Nou is dit tyd om te groet. Maja is op die stelte en ons op pad huis toe. Totsiens dan, tot volgende jaar, wanneer ons weer die seile voor die wind gaan span.

Tot siens