Friday, April 28, 2017

Weg is ons, al weer.



23 April 2017. Sondag.

Dit gaan woes in ons huis. Die familie is oral en ons word behoorlik koebaai gesê. Na ’n hewige onsuksesvolle soektog na my nuwe bril, vertrek ons effe laat en opgestres na die lughawe. Dis mos tradisie wat ons nie kan verbreek nie en ons met ons bagasie, ry knus saam met Gerrie en Ansu lughawe toe. Op pad na die lughawe ontdek ek my bril wat ewe aspris in my rugsakkie se ritssakkie ingeval het. Wat ’n vreugde en my liggaam raak sommer slap van die ontspan.

Gerrie en Ansu

Archie en ek

Vir oulaas ’n tradisionele koppie koffie op die lughawe en na die tradisionele vreeslike gewuif van my en Gerrie en Ansu (Archie wuif nie eintlik nie), begin ons reis vir 2017 op ’n vreeslike tradisionele manier. My familie hou van tradisie.

Wat ’n lang en uitgerekte vlug. Ons vertrek Sondag, 23 April, 21:35 uit ORT en kom eers Dinsdag, 25 April, 01:55 donkernag by Maja aan. Dit was vlugte van OT na Kaïro en toe na Athene, daarna Instanbul en uiteindelik na Antalya. Toe met ’n bussie na Kemer.  O maggies, maar ons was moeg. Daardie trappies wat ek moes klim om op Maja te kom, was so styl, ek was bevrees my splinternuwe knieë sou dit nie kon baasraak nie. Maar bo is ons, sluit oop en gaan slaap op ’n onopgemaakte bed.

No comments:

Post a Comment