22 September 2016. Donderdag.
Vanaand is die aand. Die Turkse
aand. Ons kry die bussie 19:30 na Evranos Restaurant in Avanos. Dis so snaakse mikro
bussie waar jy nie agter mekaar sit nie. Jy kyk na mekaar toe. Ons is laaste om
in te klim. Een man sit voor langs die bestuurder en ses van ons sit agter. Nou
weet jy mos hoe dit is. Amper soos in ’n hysbak. Jy kyk nie direk vir die
vreemde mense nie. Nou kyk jy maar nikssiende nêrens.
Gou is ons daar. By ons tafel is dit
ek en Archie en die jongman, Stephen. Die mezes
is keurig op die tafel uitgepak. Baie daarvan. Daar is ook ’n bottel rooi en
wit wyn, ’n bottel Raki, water en koeldrank. Alles by die prys ingesluit.
Archie en Stephen |
Archie en ek |
Ons begin aan die mezes te peusel. Die ligte verdof en die skouspel begin. Dit is drie “Whirling Dervishes”. Hulle draai om en om en om. Sonder dronk word. Die wit rokke maak sulke punte en bly swaai in die lug. Ongelooflik.
Ons tafel bestel almal lam vir
hoofgereg. Die volgende was ’n drieman orkes. Hulle speel sulke snaakse musiek.
Dis nie eintlik musiek nie, dis net oorverdowende aaklige lawaai. Ek vat maar
nog ’n sluk wyn om die pyn draagliker te maak. Ons slaak ’n sug van verligting
toe hulle klaar is en klap vreeslik hard hande. Almal is verheug dat dit verby
is.
Orkes? |
Dan kom die volgende groep dansers in. Dis gewoonlik so vyf of ses dansers van albei geslagte. Ek het geen kennis van die danse nie, maar iets is beslis Russies geïnspireer. Vreeslike vinnige voetwerk. Ons geniet dit!
Dansers |
Draai en swaai |
Die hoofgereg kom en die kos is vreeslik smaaklik. Nog dansers kom in en doen hulle ding. Almal eet en drink gesellig. Daar is ’n heerlike atmosfeer in die plek.
Hulle betrek elke dan en wan die
gaste. Op ’n stadium sit almal in ’n kring op die grond (behalwe Archie met sy
knie). Hulle stel ’n seremonie voor waar die man om die vrou se hand vra. ’n
Vrou (word deur die dansers voorgesê wat sy moet doen) sit in die middel op ’n stoeltjie.
Hulle kies ’n man uit die gehoor. Hy moet nou allerhande snaakse goed doen om
die vrou se guns te wen. Dit was absoluut skreeusnaaks. Ons almal in die kring lê
soos ons lag.
Toe kom die “belly” danser. Sy
beweeg haar anatomie en velle in alle rigtings. Ons staan verstom. Sy kies ook
toe later twee mans uit om haar bewegings na te boots. Hemel, dit was snaaks.
Ek lag uit my bellie uit.
"Belly" danser |
Na nog ’n paar danse, is dit toe die laaste item, waar hulle die Turkse volkslied sing (dink ons) en met ’n groot Turkse vlag.
Dansers |
Watter aand was dit nie. Ons ry in die bussie terug en ons en die vreemde mense kyk vir mekaar en gesels te heerlik.