Thursday, September 22, 2016

Göreme. Çavuşin.



22 September 2016. Donderdag.
 

Dit reën in die nag. Ons staan op in ’n papnat Göreme. Hulle voorspel nog reën vir vandag. Dit is bewolk.

Archie se knie is beter, maar nog geswel. Hy kan darem al weer loop, maar nog ’n dag van bedrus is sy voorland. Nuwe pleisters word geplak en ons is reg vir ’n heerlike ontbyt onder die wolkkombers.

Ek besluit om die dolmus te klim na Çavuşin. Die dorpie is halfpad tussen Göreme en Avanos. 

Çavuşin - nuwe dorp
 
Daar is 'n bondel huise wat verlate in die kranse uitgekap is. Ek stap en bewonder die landskap aan die noordekant van die dorp. Dit lyk soos duiwe huise in die rotse.

Landskap
"Duiwe huise"

"Fairy Chimneys"

’n Deel van die roosvallei is ook hier te sien. Die landskap lê roospienk deinend soos borste in die vêrte. Ai, maar dis vir my mooi. Waar is ou Archie nou.

Roospienk
 
Die kerk van Johannes die Doper is hier te sien en jy kan van die ou huise binne verken. So op eentjie doen ek al die dinge. Ek wens Elize was hier dat sy dit saam met my kon geniet. 

Johannes die Doper se kerk
Boog
Muurskildery

Göreme. Dag 1.



21 September 2016. Woensdag.

Ons ry die nagbus na Göreme, Archie met ’n hinke-pinke knie. Hy weet nie eers wanneer of hoe het hy dit seergemaak nie. Dis net skielik seer. So seer, dat hy nie daarop kan trap nie. Dan doen die gebuigde knie posisie van die bus nou nie eintlik die knie goed nie.



Ons kom by Göreme aan en daai man se knie is seer. Ek dra van sy goed en ons kom 7:00 sukkel-sukkel by die Cappadocia Cave Rooms aan. Daar is niemand by ontvangs nie. En ja, ontvangs is heel bo-op die terras.

So 8:00 kom die vrou wat ontbyt maak daar aan en sy sê later ons kan maar ontbyt geniet. Al die tafels wat buite staan is nat van die reën. Die uitsig vanaf terras is baie mooi in die warm gloed wat die son oor die amper magiese landskap strooi.

Vroegoggend Göreme
 
Die personeel kom 9:00 en sê ons kamer sal eers 12:00 reg wees. Sowat van ’n onbeskofte en onbehulpsame jong Turk het ek lanklaas gesien. Die kombuis is vol vuil skottelgoed, daar lê komberse en skoene rond. Nee wat, dit is net nie aanvaarbaar nie. Intussen beweeg die kreupel Archie nêrens heen nie. Hy sit waar hy sit.

Teen 12:00 is ons toe in die kamer en ons plak TransAct op Archie se knie en gee hom pille in. Hy kort bedrus. Hy lê en lees en ek vat maar die pad dorp toe.

Ek soek vir my ’n rugsak (handsak tipe) en kry ’n mooie.

Wel, wat ’n onbevredigende eerste dag in Göreme. Hulle voorspel reën vir môre.

Wednesday, September 21, 2016

Kemer. Tata Maja!



20 September 2016. Dinsdag.
 

Ek word wakker deur druppels wat teen die luik val. Soos blits spring ek op, want daar is wasgoed op die draad. Dit reën liggies. Dit was die afgelope tyd so vrekwarm, gedog iets gaan uitbroei. Dis nou net jammer die bimini is nou nat en dit moet nog afgehaal word.

Die reën hou nie lank aan nie. Toe dit ooptrek, is daai berge eers mooi. Een vir een word die pieke deur die son verlig. (Die berge roep my, ek sal volgende jaar moet gaan hoor wat hulle vir my wil sê.) Die marina skitter in die son en alles lyk vars. 

Vars na die reën
Gulets staan gereed

Die bimini word gelukkig drooggebak en ons haal dit gou af voordat die volgende buitjie val. Archie haal ook die helm af. Ek hang die wasgoed weer op en toe dreig die reën om weer te val. Wasgoed op, wasgoed af. Dis een van daai dae. Nou hoop ons net die reën hou op voor vanaand. Ons is nie lus om in die reën na die bushalte toe te loop nie! Ons gaan vanaand die bus klim na Göreme.

Reën in die lug
 
Archie doen nog vir oulaas goedjies en maak seker daar is nie toue wat in die wind gaan klapper nie. Maja is nou behoorlik kaalgestroop! Sy lyk vir my skoon olik.

Maak toue stil
Kaal gestroop


Ons pak ons rugsakke en ons is reg vir die lang pad. Die luike word deeglik toegemaak, alles word dubbeld gekontroleer, ons sluit die deur en groet vir Maja.

En daar trek ons. Nog is seisoen is verby. Ek kyk om en met ’n laaste “tata Maja” en ’n traan in die oog, stap ons weg van ons geliefde Maja wat so eensaam en verwese op haar stelte lyk. 

Tata Maja
 
Archie verrek ’n spier, of iets …


Tuesday, September 20, 2016

Kemer. Maja hoog en droog.



19 September 2016. Maandag.

Vandag word ons huis op droë grond geplaas. Alles is reg en ons wag vir die marinamanne om ons te kom tou. Nee, Maja is nie stukkend nie, haar enjin is klaar gewinter en daar mag nie seewater in haar pype kom nie.

Die manne kom en een stoot vir Maja met sy groot dinghie en die ander een vat die helm by Archie oor en so kom ons by die uithaalpunt. Die ou groot uitlugmasjien staan klaar gereed met sy bande (straps). Hulle stuur Maja netjies tot bo-op die bande en ek klim af. Die kaptein is nog aan boord om die een en ander te doen en toe klim hy ook af. En die ou grote doen sy werk en die bande word sekuur onder Maja se romp geplaas en haal haar, soos Moses van ouds, uit die water. Ek pik ’n traan en later toe ek vir my suster, Elize, ’n foto van Maja op haar stelte stuur, pik sy ook ’n traan.

Stoter
Nuwe stuurman
Kaptein gee laaste tou aan
Maja verlaat die see

Die man met sy hoë druk water afspuitmasjien spuit met 'n fors om die seetuin van Maja se romp af te kry.

Maja se seetuin

Dan vat die geel masjien oor. Die ou grote sit haar netjies op die gele neer en sy word aangery na haar staanplek. Alles word beveilig en sy word gestut met staal en houtstompe. En daar staan sy, soos ’n penthouse in die lug. Hulle bring vir ons ’n staal leer en ons klim.

Sit netjies op geel masjien
Op pad na staanplek
 
Ek loop maar liggies op haar, want dit voel of sy wil omval. As ek na die bote in die water kyk, voel dit of Maja beweeg en nie hulle nie. Dis ’n vreemde gevoel.

Nou moet daar net nog ’n paar goed weggebêre word, dan is alles gereed vir ons vertrek na Goreme, môre-aand 20:00. 

Hoog en droog en reg vir die winter