Wednesday, September 14, 2016

Gökkaya Limanı.



9 September 2016. Vrydag.

Karaloz tot Gökkaya
 
Die lug verander van donker na goud-pienk-rooi. Stadig ontwaak die baai. Vissies kom loer wat bo die water aangaan, voëls vlieg rond en ons maak gereed om te vertrek na Gökkaya Limanı, 3.8 myl.

Die baai ontwaak
Groot grot
 
Sommer gou is ons daar en Larry en Lee is ook in die baai geanker. Ons gooi anker op dieselfde plek as verlede jaar. Dis heerlik rustig in die baai, maar net warm. Hierdie Turkye koel net nie hierdie jaar af nie. Dan is swem maar al genade om af te koel.

Ons vat vir Dinkie en roei na Larry en Lee toe. Ons gesels en Lee maak tee. Archie verduidelik vir haar Google Earth roetes en ek en Larry sit en gesels. Ons groet later en is warm geroei en swem is die antwoord.

Lee en Archie
Larry
 
Dit is net ’n rustige dag op anker in die pragtige Kekova Roads. Ons seildae word min. Ons is besig om stadig maar seker ons pad na Kemer te vind, waar Maja hierdie jaar gaan oorwinter.

Gökkaya Baai

Friday, September 9, 2016

Karaloz.



8 September 2016. Donderdag.

Uçagiz tot Karaloz

Archie gaan gou die oggend voor ons vertrek dorp toe. Hy roei met Dinkie soontoe, maar toe hy terugkom, is hy so bietjie haastiger en die roeiery is te stadig na sy smaak. Toe gee hy vet en die motortjie dreun.


Roei
Gee vet

Ek groet my sarkofae. Ons gaan vandag na ’n nuwe plek waar ons nog nie tevore was nie. Die ander aand toe ons so lekker geëet het saam met ons nuwe vriende, het die ander Engelse van die tafel langsaan gesê hoe mooi is Karaloz baai, by Kekova Adasi. Dis aan die suid-westelike kant van Kekova Roads en net 6 myl.

Ons vaar rustig en stadig daarheen. Die boek sê die ingang is nie baie goed sigbaar nie en jy moet uitkyk vir ’n grot. Ons kyk toe uit vir ’n grot en sien dit en siedaar! Daar is die ingang. Daar is twee inhamme waar jy kan anker en dan met ’n lang tou aan die rotse op die land vasmaak. 

Ons vaar
Grot by ingang

In die een inham is daar reeds ’n jag en ons gaan na die ander een. Daar is net plek vir een jag om daar te anker en die geluk is aan ons kant. Ons anker en Rambo swem land toe met al sy kettings en toue. Hy het die kuns om altyd die beste rotse en gate uit te snuffel om die toue aan vas te maak. En vas is ons.

Rambo
Karaloz

Daar kom ’n hele paar gulets en ekskursie bote ingevaar, maar hulle maak daar vêr vas en pla ons nie. Hulle almal ry later, ook die seiljag en ons is stoksielalleen by Kekova Adasi. Daar is geen mens naby nie. Die enigste bewys van nog lewe op die ganse aarde, is twee bokke wat daar rondloop. 

Alleen op anker

Dis doodstil. Ons hoor net hoe die water saggies teen die rotse klots. Die berge rondom ons vervaag tot dowwe donker reuse wat oor ons waak. ’n Sekelmaan hang speels in die lug en verdwyn onnutsig agter die berg. Dis net ons, die uitspansel en die donker.

Dit betower my en ek word intens bewus van die natuur. Ons word en is natuur.

Wednesday, September 7, 2016

Üçağiz Limanı.



6 en 7 September 2016. Dinsdag en Woensdag.

Pölemos bükü tot Üçağiz Limanı

Ons kuier nog steeds in Kekova Roads. Vandag gaan ons na Üçağiz Limanı vir twee dae. Dis glad nie vêr nie, net 3.4 myl. Dis nie eers vêr genoeg om te batterye behoorlik te laai nie.

Verlede jaar was in die westelike baai, maar die jaar gaan ons in die oostelike baai anker. Ons gooi in lekker vlak water anker en ons huis is waar die anker val.

Üçağiz Limanı
Sarkofae uitsig vanaf Maja

Ons besoek weer vir Kale Köy, maar die jaar met Dinkie. Die kasteel lê romanties bo-op die rotsgebergte. So asof ’n ridder op ’n wit perd enige oomblik hier aangery gaan kom. Ons stap boontoe.

Kale Köy en Simena Kasteel
Kale Köy baai

Daar is baie sarkofae rondom die kasteel. Die landskap lê rustig saam met al die dooies in hul klip doodskiste in die loomwarm dag. Daar is ’n vreedsaamheid hier wat my wil vashou, ek wil nog bietjie hier tussen van ouds se mense rondloop. Hulle lewens is verby en hul name vergete, maar ons is hier in die nou en hede.

Sarkofae en kasteel
My sarkofaag
Kekova Roads

Die dorpie is ’n deurmekaar mengsel van antieke klippe, Middeleeuse huise en lewende hawe wat veilig in ’n rots tombe aangehou word. Die res van die dorp is mengelmoes restaurante, stoeltjies en tafels is oral. Vreeslik deurmekaar.

Deurmekaar

Hier is ook ’n antieke onderwater stad en die fondasies is nog duidelik sigbaar. Van die sarkofae is ook deels onder water.

Onderwater sarkofaag

Hier is ’n ouwêreldse atmosfeer in Kale Köy wat met my hart praat. En net sarkofae waar jy kyk!

Tuesday, September 6, 2016

Pölemos Bükü.



4 en 5 September 2016. Sondag en Maandag.

Bayindir tot Pölemos Bükü
 
Tot siens Kaş! Ons was drie dae in die omgewing en nou is dit tyd om verder te gaan. Die nuwe bestemming is Kekova Roads en wel Pölemos Bükü,15.3 myl. Die anker het oudergewoonte weer goed gebyt en weg is ons.

Op pad
 
Gus waai net liggies en van seil is daar nie sprake nie. Die kaptein se hart hunker na ’n bietjie seil, maar ek is heel tevrede met die prrr van Maja. Archie vat ons sekuur deur die vlak en die rotse en die groot baai lê voor ons. Ankerplek is nie hier ’n probleem nie. Ons gooi lekker vlak anker en hy byt behoorlik.

Pölemos Bükü ankerplek
 
Van die baai kan jy na die antieke stad van Aperlae gaan kyk. Ons maak toe net so. Ons roei kant toe en vat die pad na die ruïnes.

Asar Bükü
 
Die kaai en hawe se strate is nou onder water. Heelwat van die ruines is nog onder die water sigbaar. Dele van die akropolis, stadsmure en die Nekropolis is nog te sien. Die pad boontoe is op en warm.

Onderwater ruïnes
Stadsmure
 
Hier is ook baie sarkofae hier te vind. ’n Sarkofaag is ’n doodskis wat van klip gemaak is met beeldhouwerk of inskripsies daarop. Blykbaar was dit in daardie tyd ’n goedkoper opsie om ’n doodskis van klip te maak en die mense van daai tyd het gedink dat die sarkofaag eet die dooies, omdat as hulle later gaan kyk het, het hulle net bene gesien (volgens Elize se toergids in Turkye).

Archie by sarkofaag
Ek by onderwater sarkofaag
 
Hierdie is ook deel van die Lycian Way staproete en hier is slaapplek vir die stappers. Hoe graag sou ek nie die staproete wou stap nie!

Stappers oornaghut
 
Op pad terug loop ons mense raak wat by Patmos Eiland langs ons op die dorpskaai gestaan het. Hulle is van Engeland en saam met hulle is mense van Nieu-Zealand. Hulle kom ook na die ruïnes kyk.

Ons drink ’n bier by die restaurant en gaan terug na Maja. Ons sit nog so lekker op die dek, toe kom Kevin en Dee van Engeland met hul dinghie na ons toe en nooi ons uit vir ete by die restaurant die aand. Ons aanvaar die uitnodiging dadelik.

Restaurant pier
 
Dis al amper donker toe ons 19:30 met Dinkie restaurant toe ry. Ons gesels en kuier heerlik saam met die gawe mense. Op die spyskaart is frikkadelle, slaai en groente. Ons eet heerlik en kuier en lag en gesels. 

Larry, Lee, Kevin, Dee, ek en Archie
 
 Na die ete ry ons in die duisternis terug na ons jagte. Ek lig op Maja met ’n flits en ons kry darem ons huis. Wat ’n heerlike aand!

Oggendskoot - Pölemos Bükü