12 Augustus 2016. Vrydag.
 |
Şehir Adalari tot Küfre Köyü,Yedi Adalari |
Yedi Adalari beteken sewe eilande.
Ons moet tussen sewe klein eilandjies deurvaar om by Küfre Köyü, 36°52.894 N,
28°03.331 O, 15.3 myl, te kom.
Gus waai eers liggies en later waai
hy bietjie sterker van voor. Ons kap die deinings een vir een met Maja se snoet
en toe ons om die draai gaan, rol ons heen en weer. Ons motorseil darem vir ’n
ruk en dit rol minder.
Ons moet ’n tou land toe vat en ek
sug na binne. Die anker word gegooi en ek toets dat hy byt en gooi nog ketting
uit terwyl Archie na die land toe tru. Naby die land, verlaat hy mos die boot
en swem land toe met die tou om ons vas te maak. Vandag word ons aan bome
vasgemaak, want die rotse is bros en het nie lekker vasmaakplek nie.
Na ’n geswem en ’n getrek van toue
en ’n gestry, is ons vas en veilig. Ons sien hoe rol die see na die baai, maar
vreemd genoeg, die deinings waai en rol nie in nie. Hulle word ter pletter
geslaan teen die oorkantse land.
 |
Veilig vas |
Ons gaan stap en bewonder die moeite
wat die restaurant eienaars gedoen het. Daar is paadjies na die goed versteekte
eetplek uitgelê. ’n Bruggie oor die moeras is netjies en van hout gemaak. Dit
kan net vier mense op een slag dra en dit wieg as jy daarop loop.
 |
Versteekte restaurant |
 |
Dapper stapper |
 |
Hangbrug na restaurant |
Ons stap met die grondpad boontoe en
kyk teen die son na die sewe eilande. Maja en haar vriendin lê rustig in die
baai, aan bome vasgemaak. Dis warm en die dors tref ons. Hulle bier en glase is
yskoud en Archie bestel dadelik ’n bier. Ek vat ook ’n sluk of wat en ons bestel
twee mezes, wat heerlik is. Dis ’n regte familie besigheid. Elkeen het sy taak
en almal werk saam.
 |
Yedi Adalari eilande |
 |
Maja tussen die blare |
 |
Küfre Köyü |
Terug by Maja swem ons, maar die
water koel jou nie eers af nie. Die see is loomwarm.