Sunday, August 14, 2016

Şehir Adalari. Kasteel Eiland.



11 Augustus 2016. Donderdag.

Akbük Bükü tot Şehir Adalari
 
Ons hou regtig van die hoë berge in die geweste en bewonder dit vir oulaas toe ons die baai agterlaat en die na ons volgende betemming, Sehir Adalari, 36°59.651 N, 28°12.495 O, 6.0 myl, gaan. Gus is stil en ons vaar die hele pad. Drie skaam robbe wys hulle lywe skugter vir ’n stonde en dan is hulle weg, onder die dieptes en ons sien hulle nie weer nie.

Gedeelte van antieke stadsmuur

Ons gooi anker tussen Slang Eiland en Kasteel Eiland. Dis ’n totale malhuis hier, want Cleopatra se strand is hier en mense van heinde en vêrre word hierheen aangery met gullets en toerbote om te kom swem en na die ou stad te kyk. Dit wemel van mense en bote en ons kyk net fliek. Ons besluit ons gaan nie eers aan wal nie, want ons is nie lus om saam met honderde mense mekaar op die klein strandjie te vertrap nie. 

Propvol kaai
 
Die hele dag lyk dit soos Germiston se stasie. Dit kom en gaan tot 19:30, toe gaan die laaste mense fort. Daar bly net vier bote in die baai oor en salige rus en vrede daal oor die pragtige baai neer. 

Meerkatjie
Middag uitsig oor die berge van hoofland
 
Die son sak oor Kasteel Eiland en die maan neem sy plek in.

Die son sak agter die berge
 
My suster, Laaina, laat weet daar is sterrereën tussen 22:00 en 04:00 (SA tyd) en ek oorreed vir Archie (ek moes hom eintlik omkoop), om voor op Maja se snoet te sit en die sterre te kyk. Dis kussings en kombersies en ons dou papnat. Tussen 23:00 en 00:00 (Griekse tyd) sien ons sewe sterre wat verskiet. Ons gaan slaap en toe ek 02:25 wakker word en weer kyk, sien ek redelik baie verskietende sterre. Ek kyk ’n ruk totdat dit minder raak en gaan slaap toe verder.



No comments:

Post a Comment