Thursday, August 11, 2016

Akbük Limanı.



10 Augustus 2016. Woensdag.

Alakisla tot Akbük

Praat van hoë berge. By hierdie kuslyn van Turkye troon die berge bo die see uit en toring reguit hemel toe. Dis omtrent die waarheid van Akbük Limanı, 37°01.717 N, 28°05.967 O, 24.4 myl, waarheen ons nou op pad is.

Hoë berge

Gus is net ’n sagte sug en ons vaar en vaar en vaar voort. Maja se motor prrr eindeloos aanhoudend en eentoning. Ek kla nie, ek sê net. Seemyl na seemyl kom ons nader. Later is dit darem halfpad. Toe nog net vyf myl en toe raak ek amper agter die helm aan die slaap.

Ons vaar by die indrukwekkende baai in. Die oer-oue hoë berg staan trots op sy troon en troon bo die res van die landskap uit. Die plek is bekend vir sy sterk katabatiese winde. Gelukkig is Gus in Griekeland met vakansie en ons is in geen gevaar nie.

Ons gaan maak by die Doğa Restaurant kaai vas, want ons het water nodig. Jy moet dan as betaling vir die water en elektrisiteit by die restaurant gaan eet. 

Restaurant kaai

Ons gaan stap oudergewoonte ’n ent, maar die baai kruip weg. Nêrens kry ons ’n mooi hoë uitsig oor Akbük nie. Hier is baie kampplekke en die strande is vol mense. Dis ’n regte vakansieplek.

Bote en berge
Visserskuit
Swemstrand

Saam met die skemer kom ons by die Doğa Restaurant se tafel aan. Dit is langs die see op ’n pier. Ons bestel mezes en calamari. Die kos is so-so, maar dis darem waarde vir jou geld. 

Gaan uiteet

Die uitsig op die baai en Maja van waar ons sit en eet, vergoed vir die gebrek aan smaaksensasie.

Ons tafel op die pier

Dis vir ons baie mooi hier by Akbük Bükü. Terug by Maja gaan ek later die aand yskas toe en steel ’n trossie yskoue druiwe.


Alakisla Bükü.



9 Augustus 2016. Dinsdag.

Bodrum tot Alakisla Bükü
 
Wat ’n snaakse naam! En dis waarheen ons vandag gaan, Alakisla Buku, 36°59.877 N, 27°38.958 O, 14.5 myl. Na al die sterk winde wat ons in Griekeland gehad het, is hierdie windstilte  vir my heerlik. Gus is net ’n mak briesie.

Die boek sê mens gooi moeilik anker, want dit is harde sand. Ons gooi toe eintlik maklik anker en hy byt dat dit bars. Dis baie warm hier in Turkye en mens moet gereeld in die see spring om af te koel.

Ons roei land toe in Dinkie en stap ’n deel van ’n staproete. Hier moes ’n dorp gewees het, want oral is ou murasies. Daar is ook ou cisterns (watertenks) waarmee hulle afloop water gestoor het. 

Water opgaartenk
Alakisla Baai
Stap in die bos

Hier is 'n lekker strand waar die plaaslike inwoners kom swem en piekniek hou. Die boere van die omgewing kom sommer hier aangery in trekkers om die dag by die see te geniet.

Boere

Dis pragtig in die baai en ons geniet ons ankerplek terdeë.


Wednesday, August 10, 2016

Bodrum.



8 Augustus 2016. Maandag.

Mersinçik tot Bodrum
 
Bodrum, besige Bodrum. Ons gaan vandag soontoe - 37°01.890 N, 27°26.027 O, 18.7 myl. Nie omdat ons wil nie, maar omdat ons moet. Dis wet hier in Turkye dat jou boot ’n swartwatertenk moet hê. Dis nou waarin die ooo en aaa van die toilet hul gaan vestig. Dan moet jy dit by ’n pompstasie laat uitpomp, anders kan jy ’n groot boete kry. Bodrum het so ’n pompstasie en weg is ons wetsgehoorsame seilers.

Naby Bodrum is die Kuswag polisie se boot. Daar kom ’n groot dinghie aangejaag en ’n ry onwettige vlugtelinge uit Sirië staan in ’n ry op die polisieboot en klim in die dinghie. Hulle kyk vir ons en ons kyk vir hulle. Hulle hare is deurmekaar en die kindertjies lyk onversorg. Die groot dinghie ry met hulle Bodrum toe na wie weet waar hulle ook al gaan. Dis nogal ontstellend om vars vlugtelinge met jou eie oë te sien.

Bodrum se kasteel
 
Ons kom by die marina, maak alongside vas en die gepomp begin. Dis nogal ’n grillerige gedagte. Leeg is die tenk en ons gaan anker in die baai. Die boek sê dit kan baie lawaaierig hier wees. Disko’s in die omgewing. 

Ons anker in die baai
Bodrum in agtergrond
 
Ons gaan dorp toe, want iets is met ons internet verkeerd. Twee GB het net twee dae gehou (Turk Telekom.) Ons gaan ’n nuwe kontrak by Turkcell koop, want verlede jaar was dit uitstekend. En daar werk die internet weer.

By dieselfde visstalletjie waar ons en Gerrie en Ansu twee jaar gelede garnale gekoop het, swig ons voor die versoeking en koop weer garnale. Ek gaan dit vanaand vir ons gaarmaak. Ons koop ook rys, wat toe eintlik noedelrys is.

Ons eet die aand heerlik aan die garnale onder Bodrum se verligte kasteel.

Ons eet garnale …
… onder die verligte kasteel


Mersinçik



7 Augustus 2016. Sondag.

Knidos tot Mersinçik

Turkye ontwaak in ’n mistige wolkkombers wat alles bevog tot papnat . Alles, binne en buite Maja, is nat en klam en taai. Ons verlaat die oorvol baai en gaan na Mersinçik, 36°45.447 N, 27°28.433 O, 10.6 myl. By Knidos se hoek waai Gus, maar net om die draai, verstil hy tot net ’n briesie. Ons seil 0h40min.

Oggendskoot - Mistige wolkkombers

Vandag is weer sukke tyd. Dis een van daai ankerplekke waar jy ’n ’n tou land toe vat. Dis weer “long line ashore” tyd. Ek hou mos nie eintlik daarvan nie. Ons kry ons posisie, ek gooi anker, Archie tru tot naby die land. Dan gaan ek helm toe en Archie duik met ’n sierlike boog in die water en swem vir die vale land toe met die tou. Die tou maak vir Maja aan die land vas.


Rambo

Gus waai nie en ons doen dit sonder sukkel. En vas is ons. Dis ’n baie mooi baai waar jy net heeltyd wil swem. Oral swem mense in die water. 

Glimlag tevrede

Ek en Archie gaan land toe. Daar is net steekbosse en dis haas onbegaanbaar. Archie baan ’n weg boontoe en neem mooi foto’s van die baai.

Mersinçik Baai
Pragtige Turkye

Een ding van Turkye, dis hemelsmooi hier. Berge en dale en valleie. Turkoois water wat kristalhelder is. En sonbesies wat in ’n massakoor sing.