Wednesday, August 3, 2016

Symi. Symi Eiland. Dag 2.



2 Augustus 2016. Dinsdag.

Vroegoggend Symi
 
Die twee susters gaan vandag trein ry. Fanie is berg-op en Archie is ook berg-op. Ons wag en die trein is teen 11:30 volgepak en daar trek ons. Vrolike Griekse musiek vul die straat soos wat ons ry. Die tipe trein wat sommer in die straat ry, nie op straat nie. Al die omstanders geniet dit as die trein verbyry. Hulle swaai die lywe en glimlag. 

 Ons treindrywer doen op 'n stadium Zorba's dans buite die trein terwyl ons ry en almal geniet dit en lag heerlik. Sowat van vrolikheid! Die dogtertjie wat tussen ek en Elize sit, kyk net strak voor haar uit.

Ons ry die trein
Zorba's Dance
 
Ons ry op die rand van die see en sien ’n panoramiese uitsig. Die trein stop en ons kan uitklim om foto’s te neem. Ai, ons geniet die treinrit terdeë. 

Uitsig
 
Elize en Fanie gaan swem. Dit is warm. Dit is baie warm.

Die aand neem Elize en Fanie ons uit vir die dankie sê ete by Taverna Trata. Archie en Fanie eet ’n “mix grill for two” en ek en Elize eet ’n “seafood for two”. Die kos is heerlik en ons voel baie bederf. Die aand word afgesluit met ’n heerlike roomys wat Fanie vir ons koop en ons sit op ’n bankie by die see en lek en suig aan die roomyse.

Die Manne
Die Meisies
"Dankie vir die heerlike ete, Fanie en Elize"
 
Elize is betower deur Symi in die aand en ons meisies gaan stap ’n ent in die dorp. Dit is ’n gelukkige dorp met gelukkige mense. En ons is deel daarvan.

Symi. Symi Eiland.



1 Augustus 2016. Maandag.

Roete tot op datum
Panormitis tot Symi
 
Vandag gaan ons na Symi se hoofdorp, 36°36.937 N, 27°50.233 O, 12.2 myl. Symi het ’n indrukwekkende kuslyn. Hoë berge troon bokant die water uit. Skeure en valleie en ravyne reik tot aan die see en verdwyn, word deel van die onderwêreld. ’n Wêreld van nat en see.

Thessalona Baai op pad na Symi
 
Ons gaan om die draai en Symi kruip weg, skaam en sku. Ons vaar eers ’n ent vêrder en toe verwelkom die pragtige Symi ons met sy warm, pragtige kleurvolle huise en geboue. 

Symi

Die hawe is nogal leeg en daar is baie plek vir ons. Kyk, hierdie plek is ’n prima gekruisde anker gebied. Ons gooi ons anker en ons is vas. Elize en Fanie gaan sommer dadelik dorp toe, want Elize moet die hele dorp “doen”. Ek en Archie wag tot dit koeler is, wat eintlik nooit gebeur nie. Dit is 38° C in die dag en 32°C in die nag.

Ek en Archie gaan stap en klim by ’n klomp trappe op om ’n uitsig oor die baai te kry. Bo gekom word ons verwelkom deur ’n slangetjie. So klein as wat hy is, sis-blaas hy astrant vir my. Sy mond is gelukkig nog te klein vir ’n appel om my mee te verlei. Archie is veilig! Ek gaan hom nie probeer verlei nie.


Slangetjie
Uitsig oor hawe
Maja by die kaai (tweede van links)
Hawe
 
Die boek sê almal raak verlief op Symi en dit is die reine waarheid. Dit is ’n pragtige dorp. En ek kan sien Elize is klaar verlief. Die aand woon ek en Elize die konsert van die Symi Fees by wat eers 22:00 afskop. Dit is ’n uitstekende konsert en ons gaan eers na 00:00 huis toe.

Wat ‘n fees.


Tuesday, August 2, 2016

Panormitis. Symi Eiland. Elize verjaar.



31 Julie 2016. Sondag.

Tilos tot Panormitis
 
Elize verjaar vandag. Baie geluk en ons hoop jy gaan ’n heerlike dag en voorspoedige jaar hê.

Ons laat Tilos agter en vaar oor die see na Panormitis, 36°33.076 N, 27°50.798 O, 24.2 myl. Dis net ’n groot stuk see waaroor ons vaar en vaar. Gus is slegs ’n briesie en Maja se motor prrr ritmies voort. 

Fanie vaar

Dis ’n taamlike vervelige rit en Skillie swem verby. ’n Ou grote, wat ’n bietjie kleur en geur aan ons reis verleen. Hy het ’n effense seetuin op sy rug. Of miskien is dit meelopers wat ’n gratis rit kry.

Skille
 
Ons vaar by die baai in en soek ankerplek. Dis ’n pragtige baai en daar is baie plek. Baie mense besoek jaarliks die klooster vanPanormitis met sy kloktoring wat van die mooiste in die Aegean See is. Die klok weeg drie ton.

Panormitis Baai
Kloktoring
 
Die binneplein van die klooster bestaan uit swart en wit spoelklippies en Archie sit soos gewoonlik op die bankie in die plein. Dis ’n werkende klooster en in die somer word van die kamers aan pelgrims en vakansiegangers verhuur.

Binneplein
Panormitis klooster
 
Fanie koop vir ons elkeen ’n roomys om Elize se verjaardag te vier. Ons lek en suig en eet vreeslik lekker aan die roomys wat dadelik aan ons heupe vasklou.

Eet roomys
 
Dinkie kreun onder ons vier se gewig en by Maja gekom, kry ons so warm dat ons dadelik die blou waters invaar om af te koel. Noudat Gus bietjie rus, het die son sy plek ingeneem en brand fel op ons neer.

Die aand eet ons lekker vark om weer Elize se verjaardag te vier. Dis ons laaste anker saam met hulle en ons klink ’n glasie daarop.

Klink 'n glasie
Aandskoot