Thursday, July 7, 2016

Körmen Adası.


5 Julie 2016. Dınsdag. 

Sarpdere tot Körmen Adası

Waarheen nou!? In hierdie geweste voorspel hulle Fors 7 winde. Deon voel seker lekker uitgerus na die heerlike nagrus. Ons moet hier wegkom. Ons het twee opsies. Teos Marina, 20 myl, maar ’n stuk is wind-op, dit is noord-oos. Die wind waai ook daar, maar dit is ten miste in ’n marina. Die ander opsie is Körmen Adası 20 myl, ’n ankerplek, maar die winde is nie so kwaai daar nie. 

Deon was vensters

Archie besluit ons sal eers kyk hoe gedra Gus hom op pad na Teos Marina. As hy te erg waai, sal ons roete verander en na Körmen Adası gaan.

En daar trek ons en ou Gus waai. Die see voor op pad na Teos Marina lê blink gewaai voor ons. Ek kyk daai see net so en weet hier kom moeilikheid. Die optimistiese kaptein pak die water aan. Gus waai verwoed. Maja se spoed verlaag drasties met die sterk wind van voor. Die kaptein besef dat ons dit nie kan doen nie. 31 knope van voor is nie jou maat nie, dit kan Elize en Annette vir jou vertel! 

Fyn uitgevat
 
Ons verander rigting na Körmen Adası, 38°01.913 N, 26°52.0945 O, 21.8 myl wat suid-oos lê. Gus waai nou reg en die seile word gespan en ons seil lekker vinnig. Ons kan weer asemhaal en almal slaak ’n sug van verligting. Maja seil vir twee ure.  Ek en die kaptein konfedereer altyd oor seilspan en reef en so aan. Deon bekyk die sake net so en neem onwettig foto’s van die onderonsies. 

Onderonsie
Deon met sy slinger in die hand
Leerling bestuurder
 
Körmen Adası kom vinnig nader en ons waardeer die kalmte van die baai. Anker word gegooi en ons is skielik in die paradys. Hier is dit kalm, maar as jy net aan die ander kant van die rotse kyk, pomp daai see. Die deinings hardloop resies en die perde ry soos by die Durban July.

Die kant kalm, daardie kant rof
Körmen Adası se klippe
 
Ons geniet die water en gaan na die warmbron. Ai, maar die warm water is heerlik. Wat ’n lekker dag. 

Ryna spring
Deon se beurt
Vlieëndervis(ser)

Soos gewoonlik vertel ek en Ryna ’n paar grappies tydens die sundowners op die dek. Daar heers ’n atmosfeer van lag en genot met ’n tikkie “magic”. Nee, nie ’n tikkie nie, dit is “magic”.

Magic
 
Terwyl die arme gaste die skottelgoed was, raak ek en Archie tot ons skande op die dek aan die slaap en skrik eers wakker toe Deon en Ryna al in die vere is!

Sarpdere Limanı



4 Julie 2016. Maandag. 

Çeşme tot Sarpdere
Is dit ’n blou Maandag?

Gus gaan vandag waai en waai. En ons waai ook na Sarpdere, 38°11.042 N, 26°31.035 O, 22.5 myl. Die marinaman kom help ons uit ons plek, stamp-stoot Maja in die regte rigting met sy dinghie, want die draaiplek is min en die wind sterk. Ryna hou die sake stip en effe benoud voor op die boot dop. Deon kyk ook maar … benoud? Daarna is dit weer werk werk werk en hulle tel al die fenders op en maak dit vas. En hulle dink hulle hou vakansie!

Marina man
Ryna op die uitkyk
Deon tel fenders op

Toe is ons uit Cesme Marina en verlaat die veiligheid van die marina op pad na die baie mooi baai met kristalhelder water.

Kaptein trek aan
Veilig toegerus

Natuurlik seil ons. Ons seil deesdae amper elke dag. Gumnuts se mense sal baie trots op ons wees. Deon is nou al gekonfyt met die seilspannery en al wat Ryna van konfyt weet, is om dit te eet. Ons verander van koers, verstel die seile en seil verder. Die blerrie Gus wil nie ophou waai nie, maar gelukkig nie van voor af nie. So, ons seil lustig voort vir 3h15min.

Die baai kom nader en ons vaar in. Ons gooi anker en maak seker dat hy byt. Ons wil nie in die nag deur die blasende Gus losgeruk word nie. Hy byt goed en ons is tevrede.

Deon en Ryna is mos duikers van formaat en hulle ondersoek die bodem van die see. Jy sien net paddapote. O gaats, dis mos eintlik nie paddapote nie, hulle noem dit vinne. Deon neem ook onderwater foto’s van die seelewe sodat gewone mense soos ons ook kan sien wat onder die water aangaan.
 
Waar is Maja se anker …
… hier is dit!

Gus begin erger te waai. Hy waai my hier en hy waai my daar en hy waai my hare sommer deurmekaar. Stadig oor die klippertjies, wil hy nie. Soos wat die nag vorder, vorder Gus ook. Hy waai al hoe sterker. Ons kry rukwinde in die baai tot 29 knope. Ek hoop en bid net dat die anker hou.

Daar is vier seiljagte, een groot boot en twee kleinerige motorboot geanker in die baai. Almal hou die sake maar dop.

Ons anker hou! Ek slaap natuurlik niks nie. Tot die kaptein is die helfte van die nag wakker. Ons beplan môre se roete, reisplanne word aangepas, want ons moet wegkom van hierdie wind af. Later gaan hy ook slaap. En Deon? Hy slaap soos ’n flippen baba!

Die nag was donker, die ure lank, die minute ure, die sekondes tik-tik een-een langsaam verby. Toe kom die dag en ons anker het genadiglik gehou.

En Gus? Hy hou nie opwaai nie.

Monday, July 4, 2016

Çeşme.



03 Julie 2016. Sondag.


Eskifoça tot Çeşme
 
Die Bybel sê: ”Gerugte van oorlog … . ” Volgens Poseidon is daar gerugte van sterk wind. Vandag is ’n lang dag van 41.7 myl na Çeşme, 39° 19.212 N, 26°18.085 O, ’n veilige marina.

Ons trek anker op en ou Arch sê daai anker het behoorlik vasgebyt. Maja en haar bemanning begin 05:30, voor son-op te vaar. Ook nie lank nie die kaptein en sy spanmaat die seile en on seil 4h15min. Maja kloof die water, want ons seil vinnig met die topspoed van 8 knope (net vir ’n sekond of drie). Die geseil is baie vinniger as vaar en die wind is lekker van agter. 

Kaapse berge?
 
Om die draai en verstel die seile en seil verder. Ons seil en seil en seil met bollende seile en min skeeflê. Die water shwie-shloes- verby Maja se romp. Die kaptein hou die helm en stuur sekuur. Dis seil waarvan ek hou en die ure snel verby. Die lang dag word vinnig korter, Gus word sterker en party van ons moeër. 

Slapende skone
 
Çeşme lê voor ons en Gus waai teen 20 knope. Nou is dit vir die vasmeer in die wind. Ek roep die marina en hulle kom aangejaag op die dinghie. Archie gee vir Deon en Ryna hul opdragte en ons vaar agter die marina manne aan. Hulle gee vir my die snoettou vanaf hul dinghie aan en ek en Deon maak dit vas. Agter werskaf die manne en ons is veilig. Ryna het die hele tyd oog gehou waar sy kan afstoot, maar dit was nie nodig nie. 

Veilig vas in Marina
 
Ons stap in die dorp en eet later weer van Ryna se lekker hoender. 

Stap dorp toe
Romeo en Juliet
Ridders by die kasteel muur

Vanaand kan ons heerlik rustig en veilig in die marina slaap, want Gus is nie van plan om gou te gaan lê nie. Hy gaan my vir die volgende paar dae tempteer.