Thursday, July 7, 2016

Sarpdere Limanı



4 Julie 2016. Maandag. 

Çeşme tot Sarpdere
Is dit ’n blou Maandag?

Gus gaan vandag waai en waai. En ons waai ook na Sarpdere, 38°11.042 N, 26°31.035 O, 22.5 myl. Die marinaman kom help ons uit ons plek, stamp-stoot Maja in die regte rigting met sy dinghie, want die draaiplek is min en die wind sterk. Ryna hou die sake stip en effe benoud voor op die boot dop. Deon kyk ook maar … benoud? Daarna is dit weer werk werk werk en hulle tel al die fenders op en maak dit vas. En hulle dink hulle hou vakansie!

Marina man
Ryna op die uitkyk
Deon tel fenders op

Toe is ons uit Cesme Marina en verlaat die veiligheid van die marina op pad na die baie mooi baai met kristalhelder water.

Kaptein trek aan
Veilig toegerus

Natuurlik seil ons. Ons seil deesdae amper elke dag. Gumnuts se mense sal baie trots op ons wees. Deon is nou al gekonfyt met die seilspannery en al wat Ryna van konfyt weet, is om dit te eet. Ons verander van koers, verstel die seile en seil verder. Die blerrie Gus wil nie ophou waai nie, maar gelukkig nie van voor af nie. So, ons seil lustig voort vir 3h15min.

Die baai kom nader en ons vaar in. Ons gooi anker en maak seker dat hy byt. Ons wil nie in die nag deur die blasende Gus losgeruk word nie. Hy byt goed en ons is tevrede.

Deon en Ryna is mos duikers van formaat en hulle ondersoek die bodem van die see. Jy sien net paddapote. O gaats, dis mos eintlik nie paddapote nie, hulle noem dit vinne. Deon neem ook onderwater foto’s van die seelewe sodat gewone mense soos ons ook kan sien wat onder die water aangaan.
 
Waar is Maja se anker …
… hier is dit!

Gus begin erger te waai. Hy waai my hier en hy waai my daar en hy waai my hare sommer deurmekaar. Stadig oor die klippertjies, wil hy nie. Soos wat die nag vorder, vorder Gus ook. Hy waai al hoe sterker. Ons kry rukwinde in die baai tot 29 knope. Ek hoop en bid net dat die anker hou.

Daar is vier seiljagte, een groot boot en twee kleinerige motorboot geanker in die baai. Almal hou die sake maar dop.

Ons anker hou! Ek slaap natuurlik niks nie. Tot die kaptein is die helfte van die nag wakker. Ons beplan môre se roete, reisplanne word aangepas, want ons moet wegkom van hierdie wind af. Later gaan hy ook slaap. En Deon? Hy slaap soos ’n flippen baba!

Die nag was donker, die ure lank, die minute ure, die sekondes tik-tik een-een langsaam verby. Toe kom die dag en ons anker het genadiglik gehou.

En Gus? Hy hou nie opwaai nie.

Monday, July 4, 2016

Çeşme.



03 Julie 2016. Sondag.


Eskifoça tot Çeşme
 
Die Bybel sê: ”Gerugte van oorlog … . ” Volgens Poseidon is daar gerugte van sterk wind. Vandag is ’n lang dag van 41.7 myl na Çeşme, 39° 19.212 N, 26°18.085 O, ’n veilige marina.

Ons trek anker op en ou Arch sê daai anker het behoorlik vasgebyt. Maja en haar bemanning begin 05:30, voor son-op te vaar. Ook nie lank nie die kaptein en sy spanmaat die seile en on seil 4h15min. Maja kloof die water, want ons seil vinnig met die topspoed van 8 knope (net vir ’n sekond of drie). Die geseil is baie vinniger as vaar en die wind is lekker van agter. 

Kaapse berge?
 
Om die draai en verstel die seile en seil verder. Ons seil en seil en seil met bollende seile en min skeeflê. Die water shwie-shloes- verby Maja se romp. Die kaptein hou die helm en stuur sekuur. Dis seil waarvan ek hou en die ure snel verby. Die lang dag word vinnig korter, Gus word sterker en party van ons moeër. 

Slapende skone
 
Çeşme lê voor ons en Gus waai teen 20 knope. Nou is dit vir die vasmeer in die wind. Ek roep die marina en hulle kom aangejaag op die dinghie. Archie gee vir Deon en Ryna hul opdragte en ons vaar agter die marina manne aan. Hulle gee vir my die snoettou vanaf hul dinghie aan en ek en Deon maak dit vas. Agter werskaf die manne en ons is veilig. Ryna het die hele tyd oog gehou waar sy kan afstoot, maar dit was nie nodig nie. 

Veilig vas in Marina
 
Ons stap in die dorp en eet later weer van Ryna se lekker hoender. 

Stap dorp toe
Romeo en Juliet
Ridders by die kasteel muur

Vanaand kan ons heerlik rustig en veilig in die marina slaap, want Gus is nie van plan om gou te gaan lê nie. Hy gaan my vir die volgende paar dae tempteer.

Eskifoça.



2 Julie 2016. Saterdag.

Yenifoça tot Eskifoça

Ek wou nog kyk of Zafer en Nuran op die kaai is toe ons 8:00 vertrek, maar toe vergeet ek. Miskien het hulle kom waai…

Ons vertrek na Eskifoca, 38°39.874 N, 26°44.849 O, 14 myl. Eski beteken oud, so hierdie is die ou Foca.

Die see is vol deinings, maar hulle rol en rol en rol en ons rol saam. Vorentoe, altyd vorentoe. Ons vaar so ruk en die kaptein jeuk altyd vir seilspan en Deon, van Aliwal-Noord se wêreld, (wat nou “vêr in die wêreld Kitty” is) is sy spanmaat.  En ons span. Ryna sit nie in die pad nie, sy sit uit die pad. Sy is die beeldskone toonbeeld van “al seil die boere sit-sit so”. En daar is geen singende sigeuner aan boord nie.

Spanmaat
Sit-sit so!

Ons seil vir twee ure. Lyk vir my die manne wil ’n nuwe rekord vir die langste seil periode opstel. Ons gaan om die draai en vaar verby die interessante rotsformasies. Dit laat my so bietjie aan Goreme dink.

Interessante rotsformasie

Die baai is groot en diep en ons soek ankerplek. Daar is ander bote op boeie in die baai en ons kom te na aan hulle en ons moet weer ankergooi. Hy byt gulsig en ons is vas. Ryna en Deon gaad dadelik dorp toe. Hulle vermors nie ’n minuut nie. Langbeen Deon glo aan aksie en aktiwiteit en Ryna glo saam.

Ruïnes by baai se ingang
Dinkie word te water gelaat

Ek en Archie is nie met vakansie nie en ons moet eers ons werk klaarmaak voordat ons land toe kan roei . Ons stap heerlik, al langs die kaai en die kasteel. Hierdie plek het ’n heerlike atmosfeer. Mense verleen ’n ligte vrolikheid aan die strate en kafeetjies. 

Vissershawe
Eskifoça
Kasteel
Maja en haar bemanning, met gidshond

Ons stap na die windmeulens toe. Behalwe dat ek ’n kerkmens is, hou ek ook van windmeulens. Hulle staan met hulle lang wind-arms uitgestrek, met hul meul-gesigte in die son. 

Windmeul

Dit is ’n pragtige stil aand. Die Gullies kom sit aan vir aandete en verslind die ou brood. Die gaste kook vir ons heerlike hoender en  ons eet op die dek.

Die kokke sit suip
Die gullies eet gulsig
Kaai met windmeulens in agtergrond
Kasteel

Ons kyk hoe die laatmiddagson die kasteel en die windmeulens tint met ’n kwatsel gloedgeel. Ryna sê dit is ’n idilliese aand.

Toe begin die Noord-Oos waai …