Monday, July 4, 2016

Eskifoça.



2 Julie 2016. Saterdag.

Yenifoça tot Eskifoça

Ek wou nog kyk of Zafer en Nuran op die kaai is toe ons 8:00 vertrek, maar toe vergeet ek. Miskien het hulle kom waai…

Ons vertrek na Eskifoca, 38°39.874 N, 26°44.849 O, 14 myl. Eski beteken oud, so hierdie is die ou Foca.

Die see is vol deinings, maar hulle rol en rol en rol en ons rol saam. Vorentoe, altyd vorentoe. Ons vaar so ruk en die kaptein jeuk altyd vir seilspan en Deon, van Aliwal-Noord se wêreld, (wat nou “vêr in die wêreld Kitty” is) is sy spanmaat.  En ons span. Ryna sit nie in die pad nie, sy sit uit die pad. Sy is die beeldskone toonbeeld van “al seil die boere sit-sit so”. En daar is geen singende sigeuner aan boord nie.

Spanmaat
Sit-sit so!

Ons seil vir twee ure. Lyk vir my die manne wil ’n nuwe rekord vir die langste seil periode opstel. Ons gaan om die draai en vaar verby die interessante rotsformasies. Dit laat my so bietjie aan Goreme dink.

Interessante rotsformasie

Die baai is groot en diep en ons soek ankerplek. Daar is ander bote op boeie in die baai en ons kom te na aan hulle en ons moet weer ankergooi. Hy byt gulsig en ons is vas. Ryna en Deon gaad dadelik dorp toe. Hulle vermors nie ’n minuut nie. Langbeen Deon glo aan aksie en aktiwiteit en Ryna glo saam.

Ruïnes by baai se ingang
Dinkie word te water gelaat

Ek en Archie is nie met vakansie nie en ons moet eers ons werk klaarmaak voordat ons land toe kan roei . Ons stap heerlik, al langs die kaai en die kasteel. Hierdie plek het ’n heerlike atmosfeer. Mense verleen ’n ligte vrolikheid aan die strate en kafeetjies. 

Vissershawe
Eskifoça
Kasteel
Maja en haar bemanning, met gidshond

Ons stap na die windmeulens toe. Behalwe dat ek ’n kerkmens is, hou ek ook van windmeulens. Hulle staan met hulle lang wind-arms uitgestrek, met hul meul-gesigte in die son. 

Windmeul

Dit is ’n pragtige stil aand. Die Gullies kom sit aan vir aandete en verslind die ou brood. Die gaste kook vir ons heerlike hoender en  ons eet op die dek.

Die kokke sit suip
Die gullies eet gulsig
Kaai met windmeulens in agtergrond
Kasteel

Ons kyk hoe die laatmiddagson die kasteel en die windmeulens tint met ’n kwatsel gloedgeel. Ryna sê dit is ’n idilliese aand.

Toe begin die Noord-Oos waai …


Saturday, July 2, 2016

Yenifoça.



01 Julie 2016. Vrydag.

Bademli tot Yenifoça

Yeni beteken nuwe en Foça beteken rob. So dis ons bestemming vir vandag, Yenifoça, 38°45.006 N, 26°50.074 O, 17.2 myl. En ons het ’n afspraak met Zafer en Nuran. Ons gaan hulle 15:00 by die houthuisie met die baie vlae ontmoet. Ons hoop net hulle gaan opdaag en nie soos Nick, die Griekse Suid-Afrikaner van verlede jaar, vir ons laat wag en wag en toe nooit opgedaag het nie.

Ons gaan deur die vlak suidelike uitgang en vat die pad. Later gee die kaptein die opdrag om die seile te span. Vele hande, ligte werk en ons seil. Die kaptein en Deon glimlag breed. Dis vir hulle lekker om te seil. Ons motorseil vir 30 minute en seil vir 45 minute. Die seile pryk wit teen die blou lug en Maja lyk baie professioneel. En die bemanning lyk soos ervare seilers.

Visplaas
Seilers

Gus begin te waai en die deinings rol in. Die baai gee heerlike beskerming en ons anker stewig. Daai anker byt dat dit bars. 

Yenifoça
Yenifoça Baai

Deon en Ryna gaan land toe en later, toe dit tyd word, gaan ek en Archie ook vir die groot weerontmoeting. Gaan hulle daar wees!?

Ons loop na die afgespreekte plek en voor ons daar kom, kom hulle in die pad afgeloop. Ons waai soos windmeulens. Ai die vreugde om hulle weer te sien! Ons gaan drink koffie en gesels daaroor en dat. Nuran kan nie eintlik Engels praat nie en Zafer sukkel ook maar. Ons gesels land en sand en lag en verduidelik en sukkel soms om mekaar te verstaan, maar ons kuier heerlik. Hulle het 500 km gery om ons te sien. Yenifoça was op hulle reisplan, maar hulle sou eers oor ’n dag of drie hierheen gekom het. 

Archie, Nuran en Zafer
Reünie

Ons kry vir Deon en Ryna by die supermark en die twee gawe Turke stap saam. Hulle koop vrugte en ek en Nuran val mekaar om die hals en staan in die winkel in ’n koeksistergreep. Ons het mekaar lief.

In die supermark

Hulle stap saam met ons na Dinkie toe en ons neem weer hartstogtelik afskeid. Di twee figure bly op die kaai agter, terwyl ons drie na Maja toe roei. Ryna swem sommer soontoe. Ek gaan staan op Maja se snoet en waai gou vir oulaas en hulle verdwyn uit ons lewens. Miskien sien ons mekaar eendag weer. Koebaai, altyd koebaai!

Ons kuier gesellig op Maja se dek en nog ’n seildag saam met Deon en Ryna is te gou verby.

Friday, July 1, 2016

Bademli.


30 Junie 2016. Donderdag.

Ayvalik tot Bademli

En daar vertrek ons. Op Deon en Ryna se nooiensvaart. Elkeen kry hul werk, ons maak los en weg is ons na Bademli, 39°00.966 N, 26°48.283 O, 25 myl.

Die kaptein wil net hê dat Gus moet waai dat hy kan seil. Hy wil seker so bietjie met sy ou Majatjie spog. Ons vaar op die blou see en die gaste geniet dit vreeslik. Hulle oo en aa.Hulle speel model op Maja terwyl sy rustig voortvaar. Hulle glimlag breed, van oor tot oor. 

Nooiensvaart
Noois
 
Later, so tussen die gesels, kom Bademli nader. Hier is vlak water en Archie hou by sy GPS se pers lyn van twee jaar gelede. Die baai is nog leeg en ons kan kies en keur. Ons gooi netjies anker, hy byt en ons drink ons koue drankies om Deon en Ryna se eerste anker te vier. 

Bademli Baai
Olyfboord

Dis ook nie lank nie, of die klere waai en ons betree die koue, bloue water. Dis hulle eerste swem en dis heerlik. Deon, as diepseeduiker, lyk soos die Gemaskerde Wonder met sy snorkel. Hy moet hom wat verbeel om saam met twee sulke gawe meerminne te swem.

Gemaskerde Wonder en sy meerminne
 
Later durf hulle vir Dinkie en die roeispane aan en sit voet aan wal en stap die wêreld plat. Bly vreeslik lank weg. Ek en Archie bly tuis en werk so tussen deur die swem. 

Land toe met Dinkie
 
Ek en Ryna vertel so om die beurt grappies en ons kraai van die lag. Tot die mans dink ons is snaaks! Deon vertel een grappie en Archie geen grappie.

Vir aandete eet ons pangebraaide vis, slaai en sulke heerlike vetkoek brood wat Deon by die dorpie gekoop het. ’n Goeie manier om die dag mee af te sluit. Goeie kaptein, goedige Maja, goeie kos en goeie vriende.

Pangebraaide vis
Die dag is verby



Thursday, June 30, 2016

Ayvalik. Dag 2



29 Junie 2016. Woensdag.

My dogter, Michelle verjaar vandag. Baie geluk Michelle!

Ons gaan vandag die dorp op horings neem. In die marina kyk die manne en Ryna hoe haal hulle ’n boot uit die water en ons dink terug aan Cesme, twee jaar gelede, toe hulle ons uit die water gehaal het. Ek kry so klein koue rilling.

Deon kyk hoe boot gelig word
Nuuskierige agies
Op pad dorp toe
Ayvalik
 
Ayvalik is anders as twee jaar gelede. Dit neem ’n ruk voordat die dorp weer met my praat. Ons verkyk ons aan die mense wat phyllo deeg maak. So asof dit maklik is. Ek begin aanvoeling vir die plek kry. Ayvalik is ’n werkende dorp. Almal is aan die gang, produseer. Hulle bak en brou, maak skoene. Die manne hou hulle besig met houtwerk en staalwerk. Flukse ou klomp. Die perd staan en eet lustig aan sy voer.

Straat toneel
Straat toneel

Perdekar
Maak phyllodeeg


Archie stap in so nou straatjie in en ek stap agterna. Ons kom op Violetta, ’n klein ou winkeltjie af. ’n Baie vriendelike vrou help ons. Sy sê ons is haar eerste klante van Suid-Afrika. Ek koop die mooiste geskenkie vir ’n baie spesiale persoon in Suid-Afrika. Dis alles handgemaakte produkte. 

Violetta se winkel
 
Deon en Ryna is terug by die boot toe ons daar aankom. Sit en eet te lekker. 

Ons gaan vanaand Turkse kos eet. Ryna is vreeslik lus vit uitlandse smake en kosse. Ons tert op en weg is ons, na dieselfde restaurant waar ons in 2014 geëet het. Dis ’n plek waar plaaslike inwoners ook eet.

Ons gaan kies vir ons kos en ons besluit op gevulde courgette blomme en kofta. Dáárby saam ook gevulde soetrissies, beesvleis en ’n hoenderbesigheid. Maar my maggies, is dit lekker. Elke kriesel word opgeëet en die brood word in die sous gedoop en hulle vee die borde skoon met daai brood. Te gou is die kos op. 

Turkse feesmaal
 
Ons stap terug na Maja en eet vrugte as nagereg aan boord. Dis ons laaste aand in die marina van Ayvalik. Môre is dit Deon en Ryna se nooiensvaart.